
...
Connie Luyt skryf roerende verhale wat in Afrika afspeel. Sy het ’n besondere affiniteit vir Kenia en sy skryf oor daardie land en sy geskiedenis soos ’n Suid-Afrikaanse Elspeth Huxley of Karen Blixen.
...
Titel: Die drie lewens van Hannli Human
Skrywer: Connie Luyt
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380060
Connie Luyt skryf roerende verhale wat in Afrika afspeel. Sy het ’n besondere affiniteit vir Kenia en sy skryf oor daardie land en sy geskiedenis soos ’n Suid-Afrikaanse Elspeth Huxley of Karen Blixen.
Lang skaduwees in Afrika (2008) handel oor die Boere se trek na Oos-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog en die Mau-Mau-terreur wat hulle uiteindelik daar weggedryf het.
In Waar onthou begin (2020) maak ons kennis met Veda wat vroeg in haar lewe aan geheueverlies ly. Sy lees die boek wat geskryf is deur die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou wat baie swaarkry beleef het, sien ooreenkomste in haar en Mary Moffat Livingstone se lewens en herwin stuk-stuk haar geheue. Veda trou met Michael en sy verskyn in die opvolgboek Die drie lewens van Hannli Human (2022), as haar boesemvriendin.
Dwarsdeur haar lewe kan Hannli aanvoel as daar skade, teenspoed of dood in die vooruitsig is. Sy kry onrus wat in haar “fladder”. In haar eerste lewe is sy Hannli Human, in die tweede lewe mevrou Vermaak en in die derde lewe mevrou Stead.
Die roman is in drie dele verdeel. Deel 1 speel af in Kenia en Pretoria. Dit begin in 2020 by Hannli se huis by Salt Rock aan die Noordkus van Natal. Rynhardt en sy dogtertjie Klara kom daar aan tydens ’n storm en hy sal ’n belangrike figuur in Hannli se lewe word. Van hier af stroom die herinneringe van haar verlede vol hartseer maar ook heelwat geluk weer terug.
Ons lees van Hannli se grootwordjare op die plaas Asante Nzuri in Njoro, Kenia. Die betekenis van asante is “dankie” en nzuri beteken “goed of sleg”. Dit was gelukkige tye waar sy vriende gehad het soos Juma, wat ons later in die boek weer teëkom. Die Mau-Mau-terreur dwing die setlaars om te emigreer en Hannli-hulle keer terug na Suid-Afrika. Sy verlang altyd terug na die plaas in Kenia. In Linden in Johannesburg woon sy in die week by haar ouma, wat ’n groot invloed in haar lewe het, en naweke gaan sy na haar ouers se kleinhoewe. Haar ouma vertel haar dat sy haar heldersiendheid geërf het. “Jou voorwete maak jou soms angstig.” Maar sy sal uiteindelik gelukkig wees. Ons sien ook dat Hannli ’n vreeslike geheim met haar ouma deel. Selfs ná ouma Hannie se dood is sy steeds in die gees by Hannli.
By Tukkies ontmoet sy die vrouejagter Buks Vermaak met wie sy trou en by wie sy haar dogter Nell kry. Die huwelik is ongelukkig. Veda verskyn weer in haar lewe.
Daar vind deurgaans heelwat plek- en tydspronge in dieselfde hoofstuk plaas en die leser moet konsentreer om dit te volg.
Christine van Kenia kom in Johannesburg aan en sy en Hannli verstewig weer hulle vriendskapsbande. Met albei gebeur desturi, die Swahili-woord vir dinge wat gebeur wat nie verklaar kan word nie, oftewel onverwagse tweede kanse. Christine en haar man Craig bestuur saam met sy halfbroer die lodge Ngaro Sero en sy nooi Hannli, wat steeds nostalgie vir Kenia het, om daar te gaan kuier.
Deel 2 begin weer met Hannli se lewe in Natal, by haar strandhuis. Sy ontmoet dokter Jamie Stead, wat haar tweede man word. Hy is amper te goed om waar te wees, geduldig soos Job, liefdevol, romanties, en hy verstaan haar. By hom is sy die gelukkigste.
Nadat sy verskeie terugslae moet oorkom, onder meer haar eie siekte, kan sy hom uiteindelik na Kenia neem. “Party dinge vergeet ’n mens nooit,” sê sy. “Die aroma van Afrika ...”
Dit is die Kenia van die verlede wat Hannli weer wil sien. Sy beskryf Kenia voor die Mau-Mau-terreur: die lewe van Karen Blixen van Out of Africa-faam, en die mans wat sy liefgehad het. Hannli sien egter nou ’n nuwe Kenia en besef sy het haar verlede moontlik oorromantiseer. “Is dit wat nou van Afrika gaan word? Oorbevolking, hongersnood, korrupsie, siektes, armoede?” (113). In Nairobi kom sy weer haar kindervriend Juma teë, maar hy is in ’n erbarmlike toestand.
Sy en Jamie gaan besoek haar grootwordplaas en sy is ontnugter deur die verval. Hulle gaan na Christine-hulle se lodge en daar ontmoet Hannli ’n vrou wat haar sterk sal beïnvloed. Dit is Kuki Gallmann, wat deur haar Gallmann Foundation bewarings- en opheffingswerk doen. Sy is die skrywer van I dreamed of Africa (wat ook verfilm is), wie se man en seun dood is en op haar plaas Ol Ari Nyiro begrawe is.
In Deel 3 is Hannli weer in Natal. Geïnspireer deur Kuki Gallmann stig sy en Veda Future Hope om opheffingswerk te doen, maar dit verg uiteindelik te veel opoffering van haar.
Sy sien weer vir Kuki Gallmann as dié ’n prys in Italië kry en haar en Jamie nooi om die geleentheid by te woon, waarna hulle na haar plaas en die skouspelagtige Mukutal Retreat gaan. Hier kry die ontnugterde Hannli darem iets van die magiese van Kenia terug.
Dit is Kuki wat vir haar sê: “Mense kom oor jou lewenspad op presies die regte oomblik en ’n mens moet oop wees vir wat hy of sy tot jou lewensgeluk gaan toevoeg” ( 235).
...
Luyt het heelwat navorsing gedoen oor Kenia, die mense en hulle geskiedenis en die Swahili-taal, wat uiters interessant is om te lees.
...
Vanaf Kenia spring die plekke na Natal, Etosha in Namibië, dan weer Natal. Gebeurtenisse word vinnig beskryf en afgehandel. Politieke woelinge word genoem, die storms in Natal, en vele rampe en verliese.
Ouma Hannie het haar ingeneem en versorg en sy doen dieselfde met haar getraumatiseerde kleindogter. Dit blyk dat die kind ook heldersiendheid geërf het.
Dan is ons in die jaar 2018. Luyt beskryf die koronavirus en die invloed daarvan op almal se lewens. Mary Moffat Livingstone se boek en haar geskiedenis word weer in die verhaal ingebring, soos in die vorige boek, Waar onthou begin (2020).
Luyt het heelwat navorsing gedoen oor Kenia, die mense en hulle geskiedenis en die Swahili-taal, wat uiters interessant is om te lees. Hannli se drie lewens speel af oor ’n paar dekades in Kenia en Suid-Afrika. Daar is swaarmoedige temas soos verlies en hartseer, siekte en swakhede, verval en ontheemding. Daar is egter ook geluk, vervulling, passie en liefde. Aan die einde is daar ’n verrassing, ’n openbaring.
Hoewel die tyd- en plekspronge soms te veel gevoel het en amper verwarrend kon wees, is dit ’n pragtige roman wat diep delf in die psiges en emosies van die karakters. ’n Mens lag en huil saam met Hannli. Mense wat die ontheemding en vervreemding van gedwonge emigrasie en verlies van die tuiste wat hulle liefgehad het, ervaar het , sal hulle kan vereenselwig met die verlange en nostalgie wat Luyt so mooi en roerend beskryf.
Die drie lewens van Hannli Human is ’n meesleurende roman, in keurige Afrikaans geskryf.


Kommentaar
Goeie resensie. Nou is ek éérs oortuig ek moet die boek gaan koop!