Die Dr Jekyll en Mr Hyde van motorfietskultuur

  • 0
Kommentaar deur Gerrit Rautenbach op Danie Jordaan se artikel, Motorfietskultuur is Suid-Afrika: Van leefwyse tot leefstyl.

Wat ’n formidabele artikel is dit nie! Ek is self ’n motorfietsryer en ’n reisstorieskrywer – maar akademikus, nee, dat ben ik niet. Die analogieë en verwantskappe wat hy kon identifiseer, is indrukwekkend. Ek sien myself as motorfietsryer in ’n heel ander lig na dese.

Daar is egter vir my tog twee aspekte wat nie aangespreek word nie. Die eerste verg net ’n kort stukkie kommentaar, maar die tweede is, wat my betref, die belangrikste.

Eerstens is leefwyse- teenoor leefstylontwikkeling nie beperk tot motorfietse nie. ’n Enkele (en straks die mees illustratiewe) voorbeeld hiervan is die hedendaagse viertrek-kultuur. Oorspronklik is die soort voertuie wat deur slote, gate, modder en allerhande versperrings kon ry, ontwikkel uit ’n millitêre oogpunt. Dit was 100% funksioneel en lewensbelangrik om die vyand te kon uitoorlê. Later het jag, en daardeur boerdery, ook deel daarvan geword. Dus had dit puur ’n bestaansreg uit ’n leefwyse-oogpunt.

Maar kyk deesdae. Die viertrek-voertuie word al hoe duurder en luukser en sien al hoe minder modder, stof of heg-en-steg. Tog is dit ’n superflorerende leefstylkommoditeit. Dis so ’n bietjie soos die storie van perde (ons kom nou by die ysterperde) wat by die draai van die 20ste eeu ’n noodsaaklikheid was vir elke mens se vervoer. Vandag is daar meer perde op aarde, meer geld daarby betrokke, maar dis bloot ’n luukse element van die elite se leefstyl.

Genoeg hieroor. Kom ons praat oor die onderwerp van die artikel: motorfietse. Die een vermiste in ’n andersins goeddeurdagte stuk is wat met mense gebeur wanneer hulle op ’n konstruksie met twee wiele en ’n enjin gaan sit. Dis soos die karakter in Robert Louis Stevenson se boek The Strange Case of Dr Jekyll and Mr Hyde.

Nou die dag sit ek by Kalfies in Franschhoek, daar waar al die manne op twee wiele kom koffie drink en brekfis eet as hulle die pas afkom ná hul breakfast run (Danie het ook nie oor dié konsep geskryf nie, besef ek nou). Voor my trek ’n paar manne met hulle ysters in. Die onbetwiste voorloper het ’n rooi-en-wit leerpak aan met die naam Ducati oor sy bors. Heel te verwagte is daar ’n Ducati tussen sy bene. ’n Supermooi en superrooi 1098. Splinternuut. Jy kan sien hy weet hoe om hierdie yster te ry as jy kyk na die skuurmerke op sy leerbroek se knieë. Maandagoggend ry einste Mark Gilbert in sy Porsche GT3RS om sy beleggingsbank se deure te loop oopsluit. Daar waar hy genoeg geld maak om dié dure fiets en al die bybehore te kan bekostig. Fiets, klere en helm het hom anderkant die R200 000 gekos.

Wat noem ’n mens hierdie tendens? Ontsnapping? Van wat? Jou daaglikse lewe? Jouself?

Daar is baie voorbeelde van hulle. Daar is die voorsitter van ’n bekende motorfietsklub wat naweek vir naweek elke saamtrek najaag, lekker uithaak en dan Maandae-oggende die hof volstaan as gerespekteerde staatsadvokaat. Sy klub heet die Pielkoppe ... Daar’s die ortopedis wat in die week ander motorfietsryers aanmekaarwerk met staalpenne en skroewe en Sondae self die pad vat op sy BMW. Ontmoet ook vir Dave Venter, argitek met sy eie firma, twee KTM-motorfietse en ’n Yamaha Super Tenero. Simon Rosholt, prokureur en ontwikkelaar van Kleine Zalze net buite Stellenbosch en ryer van ’n Aprillia, Ducati of Harley. Ian Erlank, senior fasiliteitbestuurder by Sanlam wat tot selfs Killarney-baanresiese jaag met sy Honda Superfiets. Nie een van hulle is bikers of outlaws nie. Gerespekteerde steunpilare van die samelewing wat ’n ander kant wys in die leerpakke ...

Iewers deur die jare heen het ’n stigma aan motorfietsryers begin kleef. Dis ouens wat te veel vloek, te veel drink en te veel ou olie onder hulle naels het. Daai manne wat in 1979 met die Buffalo die plek verwoes het. Ja, jy sal altyd ’n klomp ouens kry wat, wanneer jy hulle bymekaar sit, botterbulletjies word. Maar selfs die wildste wilde klonge het sagte hartjies. Gaan kyk maar wie ry elke jaar net voor Kersfees in die Toy Run, ’n saamtrek waar derduisende motorfietsryers speelgoed aanry vir minderbevoorregte kinders. Dit lyk nogal oulik om so ‘n bullebak-gatstamp Harley te sien met ’n ryer met ’n swastika-bekroonde pot op sy kop, ’n hangsnor, toutjieleerpak aan en ’n reuse-teddiebeer agterop as passasier. Dan word Mr Hyde weer Dr Jekyll ...

As gevolg van die stigma waarmee motorfietsryers saamry, laat baie kampeerplekke hulle nie toe nie. Tog word die brandewynbrigade toegelaat. Ouens met dikwielbakkies, braaiskottels en groot yskaste wat luidkeels voorbrand maak vir ’n sekere rugbyspan terwyl hulle tot selfs ’n vlag sal hys en hul lieflingsliedjie oorverdowend oor en oor speel. Braaitang in die een hand, iets met eish ja in die ander en boepens wat skadu maak vir die boerie in die skottel kyk hulle wie die vuilste grap kan vertel.

Nou ja, om terug te kom na dr Jekyll en mnr Hyde. Beteken dit ware motorfietsryers lei aan gesplete persoonlikhede? Dalk moet ’n mens vir Jung hier inroep. Of Robert Pirsig se Zen and the art of motorcycle maintenance ... Is dit ’n geval van die jin en jang? Die ligte kant en donker kant van elke karakter? In die week jin jy, naweke jang jy? Of is dit bloot die geval van BMW vs KTM?

Sielkundiges gebruik ’n tipe terapie wat hulle mindfulness meditation noem. Mindfulness  beteken om in die moment te leef met totale bewustheid daarvan. Kom ons noem dit momentfokus. Dus is momentfokus-meditasie ’n tegniek waar jy geleer word om alles om jou uit te skakel en net op die nou te konsentreer. Jy kan enige aksie vat, soos byvoorbeeld jou asemhaling. Dis al wat in die nou oorbly. Fokus daarop en die res word onbelangrik.

Is dit nie presies wat hierdie motorfietsryers doen nie? As jy ry, kan jy nie dink aan ander dinge wat op ander vlakke en plekke gebeur nie. Daai draai; jou lyn; verplasing van gewig. Dit is die moment. Jy leef 100% in die nou. Wanneer jy anderkant kom, is jy skoon. Sterk. Reg vir die week wat voorlê. Reg vir môre se groot uitdagings by die werk.

Die enigste vraag wat nou oorbly: Is bogenoemde toepassing nou leefstyl of is dit leefwyse?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top