Die dood van Zelda Jongbloed: ’n geleentheid vir erkenning aan bruin pioniers in die Afrikaanse media

  • 3

Die 16de vloer van die Naspers-gebou, nou die Media24-sentrum, in Kaapstad. Dis Junie 1993. Zelda Jongbloed gluur my, ’n eerstejaar-joernalistiekstudent, hier voor haar aan, ietwat geamuseerd. My hare is netjies aan die kante ge-fade en langs die slape ge-trim; dit beklemtoon my groot ore wat ek by my pa geërf het. Bo-op my kop is baie meer hare as deesdae. Wat aanleiding gegee het tot die situasie wat nou hier afspeel, is die hoofberig wat die voorafgaande Sondag op die voorblad van (die destydse bruin Sondagkoerant) Rapport-Metro verskyn het.

Heindrich as eerstejaarstudent

Die grootste deel van dié berig – oor swak Junie-eksamenuitslae en ander krisispunte in Kaapse bruin onderwys – is deur die verslaggewers Colin Cruywagen en Tonye Langenhoven geskryf, maar ’n berig wat ek as korrespondent ingestuur het oor probleme met rapporte in Atlantis, is ook by die storie ingewerk.

En nou kom dié klong die redakteur invra oor hoekom hy nie ook – in koeranttaal – ’n byline gekry het nie, hoekom sy naam nie óók, soos Cruywagen en Langenhoven s’n, by die berig verskyn nie?

Uit Heindrich Wyngaard se plakboek

“Maar jy nè,” het sy gesê. (Of iets in dier voege; dis darem nou al 25 jaar gelede.) Die beeld van die gesiene redakteur agter haar lessenaar bly my egter by: gesaghebbend en gemaak-geaffronteerd; iets daarvan is te sien in ’n foto op Netwerk24 by die eerste berig oor haar dood.

In ’n artikel vir die Oktober-November 2014-uitgawe van die tydskrif Plus 50 verwys Jongbloed na haarself as iemand wat “gapings sien, struikelblokke systap” en, voeg die artikelskrywer Marlene Malan by, “instinktief weet wat ’n lekker storie maak”.

Dit is dieselfde ingesteldheid wat my as nat-agter-die-ore-studentjie uit Caledon tot op die 16de vloer van die Naspers-sentrum in haar kantoor laat beland het.

Eweneens vind haar vroeë ambisie as ’n boorling van Groot-Brakrivier net soveel aanklank by my as medeplattelandse kind. “Ek was vasbeslote,” sê sy aan oudkollega Malan, “om buite die grense van my geboortedorp iets van my lewe te maak.”

Soos Jongbloed, het ook ék eers in matriek van die joernalistiek bewus geraak. Die Technikon Skiereiland (nou KSUT) is aan my as die beste tersiêre inrigting vir dié beroep aanbeveel, maar vir haar was opleidingskole op haar dag nog nie beskore nie. Sy kies derhalwe eers koes onderwys toe. ’n Advertensie vir ’n manlike kadetverslaggewer vir die (bruin) Cape Herald het haar egter gedryf om, soos sy dit aan Malan gestel het, “die kans [te vat] en ’n cheeky brief” aan die redakteur te skryf. Dié moes weet presies watse geleentheid hy sou misloop “om een van die beste potensiële joernaliste aan te stel” as hy haar aansoek sou afkeur.

Straks het sy, jare later, op die dag van my besoek aan haar Rapport-kantoor dieselfde soort “cheeky” houding in my raakgesien; dalk het dit gehelp dat sy my ook later onder haar moederlike vlerk geneem het.

Die res, vir haar en vir die generasie ná haar, is nie net geskiedenis nie. Die res is ’n boek werd. Of ’n spesiale uitgawe van een van die koerante waar sy haar merk gelaat het.

*

Jongbloed het haar rol as joernalis en redakteur beskou as een waar sy dien as ’n spieël vir die gemeenskap, ’n bouer van rolmodelle, ’n noodleniger vir sosio-ekonomiese behoeftiges en ’n politieke opvoeder.

Maar as vrou (nogmaals aangehaal uit Malan se artikel) moes sy twee keer so hard werk en haarself gedurig bewys in ’n omgewing wat manlik- (én wit-) oorheers was en tot ’n mate eintlik maar nog steeds is.

Die waardigheid, dog fermheid, in haar optrede, bly oudkollegas by.

Coenie Slabber, wat lank kultuurredakteur by Rapport was en later saam met Jongbloed in die Kaapse kantoor gewerk het, onthou veral die “bewonderenswaardige deug en vernuf” waarmee sy haar verhouding (dié kant) met haar personeel en (dáái kant) met “die base” bestuur het.

“Vir die personeel was sy ’n streng baas met hoë standaarde – hoë standaarde vir haarself wat hulle kon aanvoel en dan, dus geregverdig, hoë standaarde en streng eise wat sy aan hulle gestel het,” vertel Slabber per e-pos. Lojaliteit was haar ander uitstaande kenmerk. “Sy was baie lojaal teenoor haar personeel by die gesag hoër op. Gepas en verdiend het mens by haar personeel ook daardie lojaliteit teenoor haar opgemerk.”

Slabber se e-pos gee ook hierdie insig oor Jongbloed se aansien in die oë van haar (wit, manlike) seniors by die koerant: “Vir die base was sy ’n hoogs bekwame, betroubare, lojale redakteur/joernalis sonder dat sy ooit vals was en probeer voorgee het dat sy al hul politieke en maatskaplike sentimente deel. Altyd ’n eerbare mens ook in tye waar ’n senior soms as minder eerbaar sou kon geag word.”

“Ook in tye waar ’n senior soms as minder eerbaar sou kon geag word”: dat sodanige seniors as “minder eerbaar” beskou is, het te doen gehad met die indruk dat hulle as “skoothonde” vir grootbase sou optree wat op hul beurt weer die rol van “apologete” vir vingerswaaiende politici sou speel.

Maar nie sy wat Zelda Jongbloed is nie. In haar eie woorde: “Ek was altyd gewetensgetrou, sou eerder bedank as om my lesers te verraai.”

Omgekeerd – toegegee – was daar ook (wit) redakteurs wat begrip gehad het vir die moeilike balanseertoertjie wat die bruin redakteurs in die uitvoering van hul plig moes uitoefen. In sy bydrae tot die Naspers 100-boek verwys die eerste bruin redakteur van Rapport-Ekstra, Conrad Sidego, na ’n gesprek met sy destydse hoofredakteur by Rapport, Willem de Klerk. “Daar was van Naspers se direkteure wat op ’n Sondagoggend uit hul bed wou val oor die soort beriggewing en kommentaar wat hulle in Ekstra gelees het,” skryf Sidego. “Dit het hóm [De Klerk] weer onder druk gesit.”

*

Zelda Jongbloed

Jongbloed se loopbaan by Naspers het in 1981 begin nadat sy eers by die destydse Argus-groep werksaam was en ook saam met haar man, Bernard, hul eie koerant in die Suid-Kaap besit het.

Binne Naspers was haar plek, soos dié vir alle bruin joernaliste van haar era, in die Ekstra-uitgawes uitgesit; dit was die “aparte” deur, as ek kan aanhaal uit haar hoofstuk vir Lizette Rabe se boek oor die 100-jarige bestaan van die maatskappy, waardeur geloop moes word om toegang tot die Afrikaanse joernalistiek te verkry.

Uit Conrad Sidego, ook die eerste bruin joernalis by Die Burger, se bydrae tot die boek: “Dit was stroom-af. Maar eintlik ook stroom-op. (...) Daar was stroomversnellings, en soms moes ons skerp esse gooi om die versperrings te klop.”

Wat ’n mens opval in Jongbloed se bydrae, getiteld “Naspers en die bruin Afrikaanses: ’n Huis met baie vensters”, is hoedat sy soveel as wat dit moontlik is, wégskryf van haarself; hoedat sy nie vir haarself ’n sentrale rol opeis nie – al sou sy kon – behalwe waar die feite dit onafwendbaar maak.

Oor haar omgee vir veral ook jonger joernaliste, soos ook deur Coenie Slabber genoem, was daar geen twyfel nie. Behalwe dat sy hulle aangemoedig het om soms bo hul gewigsgroep te boks, sal ek nooit vergeet hoedat sy my op ’n dag geroskam het, moederlik, oor die aantrekkingskrag en romantisering van “happy hours” bywoon in kroeë in die Moederstad saam met senior redaksielede nie.

Dié seniors het groot geeste soos die ontslape Melvin Whitebooi en Freddie Hendriks ingesluit – die een ’n baanbrekende vermaakskrywer wat talentvolles soos jazzkunstenaar Jonathan Butler, die kinderster Ricardo en oom Bobby Hendricks en sy langarm-band help bekend maak het; die ander ’n sportskrywer wat jou die klei van die Roland Garros-bane en die gras van Wimbledon onder jou voete laat voel het wanneer jy sy tennisberigte lees.

Hulle was, vir die jong joernalis, leermeesters op verskeie gebiede, sowel in die kuns van ons professie as in die belangrikheid van paartie.

Totdat ek myself dié teregwysing deur Jongbloed op die hals gehaal het: “Jy moet ophou suip,” het sy die dag gesê. “Ek het al báíe talentvolle mense soos jy gesien wat hulle talent in hulle kele afgooi.”

Ons joernalistieke paaie sou later op so ’n wyse kruis dat ek uiteindelik saam met haar in Johannesburg in Tim du Plessis se Rapport-hoofredaksie gedien het (2003–2008) en ook van 2008 af as hoofredaksielede by Die Burger – onder die koerant se eerste bruin redakteur, Henry Jeffreys – totdat ek in 2010 bedank het om sabbatsverlof te neem.

Du Plessis sê tereg aan Netwerk24: “Zelda verdien ’n saluut van vele Afrikaanse joernaliste – bruin en wit – vir wie sy ’n leermeester en ’n redaksionele moederfiguur was. Haar insigte oor die komplekse interaksie en geskiedenis van wit en bruin Afrikaans dra ek vir altyd saam met my.”

Sidego, wat haar by Rapport aangestel het, loof Jongbloed se “vaardige skrywershand” as joernalis. Haar verlies vir die joernalistiek het die beroep verarm. Maar: “Ons is dankbaar vir haar bydrae tot ons joernalistieke sukses en die diens aan ons gemeenskap.”

Ongetwyfeld sou al hierdie lofuitinge deel uitmaak van die motivering vir die toekenning aan haar van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie.

Jongbloed aan Malan: “Ek het altyd geglo dat, hoe jy jou geleenthede benut, het niks met velkleur te doen nie. Jy’s ’n joernalis of nie, en die bruin of wit voorvoegsel maak nie ’n verskil aan jou prestasie nie.”

*

Nou het haar dood daartoe gelei dat ek met hernude belangstelling – én waardering – die geskiedenis van die Ekstras lees wat sy in ’n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en Oorgange opteken. Die eerste Ekstra is in 1968 uitgegee, eers in die Sondagblad Die Beeld (voorloper van Rapport) en toe in Die Burger, nou 50 jaar gelede.

Maar dit is ongetwyfeld Rapport-Ekstra wat die grootste impak gemaak het, bepaald omdat dit nie, soos byvoorbeeld Die Burger-Ekstra, binne die hoofkoerant aangebied is nie, maar wel as ’n volwaardige titel met sy eie voorblad wat die hoofkoerant toevou.

Waar die eerste redakteurs van hierdie uitgawes wit en manlik was en waar hulle inhoudsgewys gefokus het op “mooi meisies en sport”, het die latere bruin redakteurs (eers Conrad Sidego, later Jongbloed en ander) dit as ’n verdere rol beskou om politieke bewustheid te skep, rolmodelle te bou en ’n nuwe geslag intellektuele te vestig.

Blootstelling is gegee aan bruin kunstenaars (Goliath Davids, Shaleen Surtie-Richards, Neville Nash, Conrad Theys, Denise Newman), akademici en intellektuele (Richard van der Ross, Adam Small, Jakes Gerwel), kerkleiers (Allan Boesak, Russel Botman), politici (Allan Hendrickse, Jac Rabie, Abe Williams) en sportlui (David Samaai, Errol Tobias, Jantjie Marthinus, Hassan Howa).

Jy kon ook in dié koerante eerste lees oor skoonheidskoninginne uit die bruin gemeenskap (Mej Afrika-Suid, Pearl Jansen) en entrepreneurs of sakelui soos die finansiële ghoeroe Paul Jordaan en die mode-ontwerper Errol Arendz.

In Jongbloed se Rabe-hoofstuk verwys sy ook na Naspers-opgeleide bruin fotograwe wat “hoog aangeskrewe [staan] in die bedryf” en gereeld kompetisies wen, maar sy laat na om name te noem. Uit ’n Rapport-perspektief moet ’n mens begin met Sharief Jaffer en ook wyle Deon Valentine; by Die Burger het Ebrahim Pregnolato, Yunus Mohamed, Mujahid Safodien, Esa Alexander en Roger Sedres hul merk gemaak.

Maar daar is ’n ander aspek wat nie dekking kry in Jongbloed se hoofstuk nie, naamlik die geleentheid wat die Ekstras aan dorpskorrespondente van die anderkant van die treinspoor gebied het om hul berigte, foto’s én name in druk te kon sien. Dit het name ingesluit soos Simon Europa van Bredasdorp, Coenraad Joseph van Riversdal en Charles Beukes van Worcester. Ook Cecil Pearce van die Baai.

Dit is deur hierdie Ekstras van Die Burger en Rapport dat Jongbloed en ander bruin Afrikaanse mediapioniers aan die leserspubliek bekendgestel is: Conrad Sidego (wat ook aanvanklik ’n dorpskorrespondent was), Whitebooi, Hendriks, Ferdinand Tjombe, Peter Sidego, Aubrey Lategan, Lionel Jack, Mohamed Shaik, Avril Fillies, Mercy Morkel, Eduard Valentyn en Aubrey Hardine.

Valentyn was die eerste joernalis van Die Burger wat ek ontmoet het (in Mei 1992 by die Anglikaanse kerk op Caledon se debutante-bal); die skok van sy dood in dieselfde maand, ouderdom 31, en dié van Hardine in Augustus 1992, ouderdom 37, bly my by. En Tonye Langenhoven en Deon Valentine was die eerste joernalis en fotograaf van Rapport met wie ek kennisgemaak het, toe ek hulle in November 1992 vergesel het om ’n storie oor die geskiedenis van Tesselaarsdal, buite Caledon, te doen.

En as student en later redaksielid by Die Burger en Rapport was ek bevoorreg om met ander joernaliste, van wie sommige eens my berigte telefonies afgeneem het toe ek nog dorpskorrespondent was, te kon saamwerk en bevriend raak. Dit sluit onder andere in Andrew Koopman, tot onlangs nog redakteur van die poniekoerant Son en Son op Sondag (wat in werklikheid die rol van die ou Ekstras oorgeneem het), Lynette Francis (vandag radio- en TV-aanbieder), Anthea Warner (nuusleser by Kfm), Natheer Marshall (voorheen sportredakteur: Son), Shokat Hamdulay (tans by SAUK-nuus in Seepunt) en Colin Cruywagen (vandag ’n regeringswoordvoerder). Net Johann Maarman, destyds sportredakteur by Rapport-Metro en steeds meesterlik in die uitleg van bladsye, beklee nog 'n prominente posisie in die koerantwese, synde eindredakteur by Die Burger.

Uit Heindrich Wyngaard se plakboek

*

“Wat vir Naspers die ontginning van ’n nuwe lesersmark was, het terselfdertyd ’n verhoog, ’n uitlaatklep, geword vir ’n stemlose groep mense wat die stryd in hul eie taal kon voer,” aldus Conrad Sidego.

Die verkoopsyfer van Rapport het deur die Ekstra ’n betekenisvolle hupstoot gekry, terwyl Die Burger weens die Ekstra uiteindelik meer bruin as wit lesers gehad het.

Nog Sidego: “Die waarheid ís dat mense-moontlikhede toe begin ontgin is, segspersone en leiers in die onderskeie gemeenskappe is ’n mondstuk gegee, en frustrasies, vernedering en hartseer is met mekaar gedeel. Ook is hoop gebring en rolmodelle geskep. Dit was alles deel van die pakket voordele wat ontgin is, ondanks die platform van ‘afsonderlikheid’ wat vir baie in ons geledere end-uit onaanvaarbaar gebly het – en selfs ’n bron van bespotting vir dié van ons wat die eerste treë op hierdie paadjie moes oop trap.”

Dit kon net sowel oor “dié van ons wat die eerste treë op hierdie paadjies moes oop trap” wees dat Michael Jackson in sy liedjie “You were there” sing, opgedra aan die kunstenaar Sammy Davis jr:

You were there, before we came.
You took the hurt, you took the shame.
(...)
Yes, you were there, and thanks to you
There's now a door we all walk through.

*

Jongbloed sluit haar bydrae tot die Naspers-boek af met die belangrike vraag of mense soos sy so hard gewerk het “net om te sien hoe ‘ons’ koerante verdwyn?”. Haar antwoord dan: die Ekstras se rol “was uitgespeel, [het] hul doel gedien”.

Maar hieroor kan ek nie met haar saamstem nie, veel soos wat ek begrip het daarvoor dat sy as voorloper vir nierassigheid so voel – en Sidego en ander pioniers  waarskynlik haar standpunt deel. Die einde van die Ekstras was veronderstel om te beteken dat nuus geïntegreer moes raak, dit wil sê ’n mengsel van wat vir die totale leserspubliek belangrik is, maar helaas het dit nie heeltemal so uitgespeel nie.

Nuusdekking oor gebeure en kwessies in die bruin gemeenskap word sedert die beëindiging van die Ekstras dikwels in die hoofstroom Afrikaanse media hanteer as – die ironie! – “ekstra” nuus, ’n onderdeel van ’n geheel, eerder as ewe belangrik as sogenaamde “wit” nuus, of nuus oor gebeure en kwessies wat meer aanklank by wit lesers vind. Dit sluit ook die afwesigheid van “anderste” perspektiewe oor sake van die dag in.

In die proses word die “bruin” nuus of kwessies aan die poniekoerant Son oorgelaat en ook die vrouetydskrif Kuier, nou die grootste Afrikaanse vrouetydskrif in die land – en albei hierdie publikasies laat wel reg geskied aan hul onderskeie redaksionele missies. Hierdie missies is in pas met een aspek van die ou Ekstras se rolle, soos deur Conrad Sidego uitgespel, naamlik as mondstukke vir rolmodelle en vir die frustrasies, vernedering en hartseer van die lesersgemeenskappe wat bedien word.

Maar waar in ’n groot mate te kort geskiet word – nie dat ’n mens dit noodwendig op ’n poniekoerant en vrouetydskrif se brood wil smeer nie – is die dekking oor fokusse wat, naas eersgenoemdes, óók vir iemand soos Jongbloed belangrik was, te wete die meer ernstige kwessies, sosio-ekonomies en polities.

Hierin is dalk ’n geleentheid vir ’n nuwe publikasie opgesluit, iets soos ’n “Afrikaanse Mail&Guardian” waaroor Henry Jeffreys al in die verlede gepraat het; of dalk ’n Afrikaanse publikasie met ’n linkse aanslag, waaroor wyle Jakes Gerwel gedroom het.

Die titel (wat ek by Gerwel leen) van so ’n publikasie sou Hotnoot kon wees – ’n gepaste ode, reken ek, aan Zelda Jongbloed.

In my geestesoog sien ek nou hoedat sy my aangluur, terselfdertyd glimlaggend, geamuseerd en gemaak-geaffronteerd, nes daai dag in Junie 1993 in haar Rapport-kantoor op die 16de vloer van die Naspers-gebou.

 

Heindrich Wyngaard is een van die Nuusvinke-medewerkers van LitNet se susterwebwerf Voertaal en hy skryf tweeweekliks ’n rubriek in Rapport. Hy bied ook die gespreksprogram KLOP! op kykNET & Kie aan en is een van die ankers op KN Verslag op kykNET.

  • 3

Kommentaar

  • Charles Beukes

    Pragtige roerende huldeblyk aan ’n groot gees van Suid-Afrikaanse joernalistiek. Dankie Heindrich. Jy verwys na my deelname as dorpskorrespondent vir Worcester. Ek het later ook as bemarker vir Rapport City Press my lessenaar op die 16de vloer gehad en alhoewel my diensopdrag BEMARKING was kon ek net nie my voorliefde vir berigte skryf onderdruk nie.
    Om net ’n paar tree terug te gaan, ek was in 1978 voltydse verslaggewer vir Burger Ekstra onder redaksie van Jaques van Wyk met Mercy (Valentine) Morkel ons ( ek, Freddie Philander, Harold January en fotograaf Joe Heunis) se redaksie-sekretaresse.
    En kan ek goed identifiseer met Heinrich se ergernis oor ’n byline wat hy nie gekry het nie - naamlik toe ek op ’n Sondag gaan werk het om die Maandag se Hoofkoerant-voorbladstorie te doen (met foto’s) oor die koerantverkopers wat doodgebrand het in die Burger se afleweringswa waarmee hulle op pad was na hul straatverkooppunte. As "Ekstra" verslaggewer was my storie goed genoeg vir die Burger se voorblad, maar nie ’n byline nie.
    Hoekom ek die Burger inbring - dit was die jare nog te Keeromstraat 30 waaroor Conrad Sidego so lekker skryf in ONS KOM VAN VER waarvan ek een van die medeskrywer is. En dis waar ek na jare se vryskutwerk vir Rapport Ekstra in ’n lekker gemaklike Sondagleser-skryfstyl vinnig moes leer dat BURGERISME (’n beskrywing van taalkorrekte en polities korrekte skryfstyl) jou voorland is, indien jy as ’n joernalis erken wil word. Vir ons bruines was daar destyds selfs nog nie ’n Pentech-joernalisopleiding nie en was Burgerisme (alhoewel ek dit as ietwat Afrikaanse media "snobisme" beleef het) die enigste tipe "opleiding" om te skaaf aan jou skryfstyl.
    Maar my vertrek van Keeromstr 30 het vir Melly Whitebooi in die koerantjoernalistiek gebring.
    Ek onthou die jongman uit PE wat daar aankom vir sy eerste kennismaking geklee in ’n T-hempie suigend aan ’n stokkielekker. Kan nie onthou of dit vir die onderhoud was nie, maar daardie toneel sal ek nooit vergeet nie en het ek en Melly later ook lekker daaroor geskerts. Want om by so ’n formele instelling soos wat Keeromstr 30 was, so imformeel op te daag om ’n werk te soek was vir ons wat daar werksaam was ondenkbaar. Tog was Jacques van Wyk baie opgewonde oor Melly en toe ek daar uitstap neem Melly Whitebooi stelling in agter my lessenaar. En alhoewel Melly seker by enige ander koerant die geleentheid sou kry om sy onmiskenbare skrywerstalent te gebruik, het ek in ’n mate myself geag as een wat (ten minste die Burger s’n) aanvanklike die deur vir hom help open het. Die res van sy joernalistieke loopbaan is geskiedenis.
    Toe ek so 20 jr na ek by die Burger weg is, in 1998 by Rapport inval het ek en Melly se paaie weer gekruis maar is ek onkant gevang deur ’n opreg verbaasde Heindrich Wyngaard wat my daar raakloop en groet met " wat maak jy dan hier mnr Beukes?" Later sou ek agterkom sy verbasing was oor ek as ASA-atletiekadministrateur ’n bloedbek-geveg met die Establishment-media en atletiek-establishment oor ’n lang tydperk gevoer het waar my eiendom onder meer deur die balju gevat is vir hofkostes. En was dit dus ironies dat ek my nou binne dieselfde establishment-media bevind het as werknemer ...
    Maar soos gesê, alhoewel bemarker, het ek voortgegaan om die skrywer diep binne in my te voed met stories vir Ekstra en later Metro. Ek en Zelda wat redakteur was is albei weegskale en het ons ’n goeie vriendskap ontwikkel en ja, soos soveel ander kan getuig was sy altyd meer as bereid om jou die kans te bied om te skryf en ook wye insette by te dra tot haar tweeweeklikse middelblad-artikel in hoof Rapport.
    Een iets wat sy nagestreef het om te kon doen en wat seker net ek en ’n paar ander van geweet het, was om ’n tydskrif te begin wat veral sou fokus om meer bruin rolmodelle te ontdek en blootstelling te gee – in lyn met wat die Ekstra gedoen het, maar nie so gefokus op was nie.
    Sy het werklik gedroom om dit haar pet-projek te maak en ons het selfs ’n naam vir die tydskrif gehad Z – uitgespreek/geskryf Zee. Op ’n Sondagmiddag was sy, ek, Normaline Valentine, Franklin Sonn en miljoenêrsakeman Peter Swartz en natuurlik ook Sharief Jaffer saamgetrek by haar huis om die pros en cons van Zee te bespreek, gegewe die veranderende politieke klimaat, die noodsaaklikheid vir rolmodelle waarmee ons (dikwels rigtinglose) jong opkomende geslagte sou kon identifiseer. Die keuse van die groepie wat sy as klankbord gebruik het, het alreeds haar erns en doelgerigtheid reflekteer nl die sakeman, die gerespekteerde gemeenskapsleier wat toe ook al as ambassadeur in die VSA gedien het, die bekroonde fotograaf, die bemarker ens.
    Ek kan nie presies onthou nie, maar ek dink ons konsensus was dat dit ’n prima gedagte was wat kon slaag maar dat politieke sensitiwiteit oor "kleur en ras" fokus in ag geneem moes word. En indien dit nie slaag nie, niemand kon voorsien watter knou dit vir ons onderskeie reputasies kon wees nie. Uiteindelik het ons nie voortgegaan nie en dink ek dis toe KUIER sy verskyning maak, moes Zelda seker gewonder het ... what if ... Dit was een besondere droom wat ek bevoorreg was om met hierdie besondere en bewonderenswaardige dinamiet van ’n vrou kon deel en wat miskien nie so bekend was aan die derduisende met wie sy oor jare kommunikeer het nie.
    Rus sag vertroueling en vriendin.

  • Ingrid Potgieter

    The English translation is terrible! All meaning is lost in the gobbledygook used here.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top