Die dood van Sokrates

  • 1

Bron van Sokrates-standbeeldfoto: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Bayreuth,_Eremitage,_Statue_des_Sokrates-001.jpg

Sokrates van Athene was die eerste martelaar in die Weste vir sy filosofiese oortuigings. Hy het sy filosofie nie self op skrif gestel nie en ook niemand gevra om dit namens hom te doen nie. Só vorm Sokrates sy eie ewebeeld met Jesus van Nasaret. Maar in beide gevalle is hulle idees deur ander opgeteken, idees wat die wêreld sou omvorm het in ewige onsterflikheid.

Sokrates se wysgerige denke is in ongewone volledigheid opgeteken deur sy briljante student Plato in ’n Apología (die Verdedigingsrede vir Sokrates) en 26 Dialoë waar die einste Sokrates altyd die hoof gespreksgenoot is (behalwe in die heel laaste een, naamlik sy Leges (“Wette”). Die nalatenskap van Plato se werke is inderdaad ’n ongewone erfenis uit die oud-Griekse verre verlede.

Omdat hy self niks neergeskryf het nie, het geleerdes al beweer dat Plato se Sokrates net ’n fiktiewe literêre karakter is wat ons ook by Xenophon, die geskiedskrywer, en Aristophanes, die komedieskrywer, vir hulle eie redes, aantref. Die historiese Sokrates kan egter vandag duidelik uitgewys word, al het John Burnet (Greek Philosophy, vol I, p 128) gesê dat al was Sokrates ’n fiktiewe karakter, is hy nogtans belangriker as die meeste mense van vlees en bloed.

Sokrates is teen 470 vC gebore, pas ’n dekade nadat die Atheners die Perse finaal verslaan het met die seeslag van Salamis in die Sardoniese Golf in 480 vC. Dit was toe die aanvang van die groot oud-Griekse anabíôsis, oftewel Aufklärung. Aanvanklik wou Sokrates glo ook ’n beeldhouer word soos sy vader Sophroniskos, maar hy het dié aspirasie al gou verruil vir die skerper beitel van die filosofie.

Op gevorderde leeftyd is Sokrates getroud met Xanthippe (“Vosmerrie”) wat ’n spreekwoordelike rissiepit was. Hulle sou heel waarskynlik ’n paar “dialoë” kon gehad het, het  ’n kommentator elders opgemerk, wat Plato in gebreke gebly het om te rapporteer. Sokrates sou naamlik meer berugtheid huis toe gebring het as brood. Oor die brood van môre het Sokrates hom immers nie bekommer nie, want die filosofie van die dag  het hy as sy lewenstaak beskou. Armlik gekleed het hy daagliks die strate van Athene bewandel op soek na geselskap. Tog het Sokrates ook Xanthippe se voortreflike eienskappe besing, vertel Xenophon ons in sy Memorabilia Socratis.

Sokrates was net so lelik na die uiterlike as wat gesê word hy mooi was na die innerlike.  Volgens oorlewering had hy ’n uiters komieklike voorkoms. Hy was kort en geset, had ’n bolmaag, ’n breë, plat wipneus, dik lippe en uitpeulende oë (wat hy ook op kenmerkende wyse kon rol). Sy voorkoms was vergelyk met dié van ’n Sileen of sater, en hy het ook, volgens Aristophanes, die windmakerige stap van ’n waterhoender gehad – die ideale voorkoms vir ’n komedieskrywer om die spot mee te dryf. Maar vir sy student Plato was Sokrates ’n edel mens, die beste, wysste en regverdigste man wat hy ooit geken het. In hom was verenig ’n kombinasie van voortreflike gawes sonder weerga in enige mens. Sy hoogheid van inbors, sy wilsmagtige selfbeheersing, sy onwrikbare lewensoortuiging, sy dapperheid, sy liefde vir die skone en die goeie, sy fyn aanvoelingsin, sy onverstoorbare opgewektheid en humor, sy diepe religieuse natuur, sy buitengewone intellektuele vermoëns, en sy grootmenslikheid het hom ’n man enig van sy soort gemaak. Binne die definisie van Pelagius, die Ierse monnik van die vierde eeu AD wat die Christelike dogma van die erfsonde bestry het, sou Sokrates ook ’n “heilige” gewees het vóór die koms van Jesus Christus se Soendood.

Sokrates was nie alleen ’n uiterste rasionalis nie, maar ook ’n mistikus, ’n man wat daarop aanspraak gemaak het dat hy ’n daimónion, ’n inwendige goddelike stem, gehad het wat hom altyd gewaarsku het wanneer hy op die punt gestaan het om iets verkeerds te doen. Dit was die stem van sy gewete, sou ons vandag kon aanneem. Die klassikus Eduard Zeller het dit eens “eine Artgeistigen Selbsterhaltungsinstinkts” genoem.

Plato het Sokrates as denker en nugter soeker na die waarheid soms heel dramaties geteken in sy Dialoë deur die skeppende vryheid van hom as ’n literêre kunstenaar. Immers, hy was aanvanklik die spreekbuis van Plato se eie gedagtes en oordele. Volgens Cicero het Sokrates die wysbegeerte van die dag van die hemel af na die aarde toe gebring. Aan die kosmologie van die natuurwetenskaplikes van die tyd het hy min erg gehad. Dit was die antroposentriese, die mens en sy (etiese) gedrag, wat hom eerder geïnteresseer het. By alle menslike gedrag vorm kennis die deug. Deug is kennis en kennis is deug, het Sokrates gesê. Dit is deur louter onkunde dat ’n mens die verkeerde ding doen en dan onder die gevolge daarvan moet ly. Dit was vir Sokrates se edel gemoed ondenkbaar dat iemand die regte ding sal weet en dan die verkeerde ding sal doen. Dit staan vandag bekend as die Sokratiese determinisme, en is in miskenning met wat die Apostel Paulus so duidelik vir die irrasionele eie-aard van die menslike denke en voorneme uitgespel het in sy Brief aan die Romeine 7:15 (“Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek” – waar hy drie verskillende werkwoorde vir “doen” gebruik, naamlik katergázomai, prássô en poiô).

Sokrates het op homself die uiterste introspeksie toegepas en so ook sy medemens skerp-snydend ontleed. Gnôthi seautón (“Ken jouself”), lui Solon se Delphiese spreuk. Vandaar dan ook Sokrates se beroemde uitspraak (opgeteken is Plato se Apología, 38a):  “’n Lewe wat nie deeglik ondersoek is nie, is vir die mens die naam lewe nie werd nie.” (in die oorspronklike Grieks is daar ’n woordspeling wat dikwels in tweedehandse vertalings verlore gaan: ho dè anexétastos bíos ou biôtòs anthrôpô[i]).                                                 

Plato vertel ook in sy Apología dat een van Sokrates se studente, Chaerephon by name, op ’n keer vir die Orakel by Delphi gaan vra het wie die wysste man op aarde is, en dié toe inderdaad geantwoord het dat dit Sokrates van Athene is. Toe hy dit hoor, was Sokrates se eie antwoord daarop dat hy alleen maar bewus is van sy onkunde (“Ek weet dat ek nie weet nie.”: oîda hòti ouk oîda). Vir Sokrates het die begin van die mens se kunde juis gelê in die besef van sy eie onkunde. Die mens moet steeds, dag vir dag leer, want kennis is deug.

Sokrates, in sy ontlokking van kennis, het keer op keer gebruik gemaak van die truuk en toepassing van doelbewuste eirôneía, dit is, geveinsde onwetendheid. En deur die wysgerige wisselgesprek (dialoog) het hy telkens tot die waarheid uit ’n ander se mond probeer kom. Só het hy homself beskou as ’n vroedvrou wat kennis by ander geboorte laat gee. Hy het dit as sy roeping gesien om sy medemens van alle skynwaarhede te verlos. Dit was sy latreía, oftewel volksdiens, aan Athene én God. En hierdie diens het hy gratis uitgedeel vir die wat daarvoor gevra het, sowel as vir die wat nie daarvoor gevra het nie. Sokrates het self gesê dat hy die ou steekvlieg (múôps) was wat die slim manne van die dag deur ondervraging, soos die Sofiste wat daarop uit was om mense te leer hoe om wit/swart te praat, se ballonne af te blaas. Dit was die Sofiste wat die waarheid relatief gemaak het deur te sê dat die (indiwiduele) mens die maatstaf van alle dinge is (ánthrôpos métron pántôn): dit wat vir my reg is, is reg, en dit wat vir jou reg is, is reg – jy is (sintuiglik) daardie mens, en ek ook.

Sokrates het kennis verabsoluteer. Kennis, het hy gesê, bestaan in die kennis van begrippe, begrippe eerder gegrond op noëtiese konsepsie as sintuiglike persepsie. En die órganon, oftewel instrument, waardeur begrippe werk, is die menslike noûs, dit is, sy rede. So het Sokrates tot die waarheid deur induksie probeer kom, dws deur “die een in die baie te soek”, in die taal van die oud-Griekse wysbegeerte. Só kan ’n mens alleen tot die uiteindelike wete en essensie van alle dinge kom. Dit het gelei tot  ’n volkome revolusie in die Westerse denke. Sokrates se kenteorie het die idealisme gebaar, veral dan vir begronding van die menslike etiek van wat mooi en goed is, en van wat sleg en boos is.

Op sy oudag, toe hy 70 jaar oud was, is Sokrates in Athene aangekla van asébeia, oftewel irreligie, as sou hy die erkende staatsgodsdiens (wat buitendien pro forma was) nie aanvaar het nie, en dat hy in die proses die jeug van die dag sedelik bederf het. Natuurlik het Sokrates alle vorms van oorgeërfde tradisie (parádosis) bevraagteken ooreenkomstig sy standpunt van “waarheid deur die rede (noûs) alleen”. Maar ons weet vandag dat Athene, na hul nederlaag teen die stoere Spartane in die Peloponnesiese Oorlog van 431 – 404 vC ’n sondebok gesoek het om te offer. ’n Hofsaak is gehou, en Sokrates is skuldig gevind. Sy aanklaers, wat die risiko van ’n swaar boete op die hals kon loop as hy, volgens die Atheense reg, onskuldig bevind sou word, het die doodstraf aangevra. En die jurie het hom ook (heeltemal ten onregte vandag, weet ons) skuldig bevind met 281 stemme teen 220. Nou het die Atheense regstelsel vindingryk bepaal dat hy, die aangeklaagde, homself ’n (aanvaarbare) alternatiewe vonnis kon oplê, soos byvoorbeeld ’n groot boete of selfs ballingskap. Die jurie moes dan noodwendig tussen dié twee strafoplegginge kies. Met die voorstelling van ’n alternatiewe straf het Sokrates gemeen hy sou in beginsel toegee dat hy skuldig was. Die “straf” wat hy homself toe opgelê het, was vrye verblyf in die Atheense prutaneîon, dit is, die presidensiële paleis. Uiteindelik het sy vriende hom oorreed tot ’n boete van 30 mnaî, oftewel ’n halwe tálanton, nadat hyself aanvanklik maar ’n nominale boete van één mnâ voorgestel het. Dit is as minagting van die hof beskou deur sommige lede van die jurie en Sokrates se doodstraf is bekragtig, hierdie keer met 19 meer stemme.

Omdat dit die tyd van die jaarlikse Fees van die Deliese Apollo was, en geen verontreinigende teregstelling in Athene mag plaasgevind het nie, is Sokrates se teregstelling vir ’n volle maand vertraag. Hy had intussen (op aandrang van sy vriende) die geleentheid gehad om te ontsnap uit die gevangenis, maar het besluit om by die (grondwetlike) hofuitspraak, reg of verkeerd, te hou – absolutisties soos hy altyd geredeneer het.

In Maart 399 vC het Sokrates die gifbeker (tò pharmákom tò kôneion), op ’n dag soos bepaal, met sonsondergang gedrink. En toe die gif sy voete bereik, het hy gaan lê om te sterf. Plato se Phaedo, seksies 116-118, vertel hierdie verhaal in sekerlik een van die roerendste passies in die ganse wêreldliteratuur, ’n werk wat handel oor die lewe na die dood. Aan die einde van Plato se Apología (33.42) kry ons Sokrates se afskeidswoorde wat hy aan sy regters gerig het:  “Dit is dan nou tyd vir ons om te skei, vir my om te sterf, vir julle om te bly lewe. Wie van ons die beste deel tegemoetgaan weet niemand nie, behalwe God alleen (ádêlon pantì plên ei theô[i])”. En hy het ook nog ’n hoenderhaan (as offerande) aan Asklepios, die god van alle Genesing, geskuld, wat hy gevra het dat dit namens hom betaal moes word.

Daar is in die Britse Museum ’n brief wat (paleografies gesproke) teen die einde van die eerste eeu AD geskryf is. ’n Siriese vader, Mara-ben-Serapion, het vanuit die gevangenis aan sy seun geskryf en hom aangemoedig om die regte weg te bewandel deur altyd slegs die wysheid na te jaag. In sy brief wys hy daarop dat hulle wat in die verlede die wyses vervolg het, nog altyd deur ongeluk ingehaal was, en gee as voorbeelde die name van Sokrates,  Pithagoras en Jesus, die Messias van die Jode (vgl hier FF Bruce, The NT Documents: Are they reliable?, p 114).

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top