Die direkte koste van die rent-a-riot #feesmustfall-veldtog: Wie befonds dit?

  • 3

Met die #RhodesMustFall-veldtog het ’n student tydens ’n protes van haar klere ontslae geraak in ’n Kaapse kunsgalery en oombliklike verskrikking gesaai. Die veiligheidspersoneel het nie mooi geweet hoe om ’n kaal protesteerder te arresteer nie. Sy het ’n opvallende, treffende tatoeëermerk oor haar een arm en skouer gehad.

’n Paar weke later het studente kaal geprotesteer by Wits. Een van die protesteerders het ’n identiese tatoeëermerk oor haar arm en skouer gehad. Om voor-die-hand-liggende redes was die student nie van voor afgeneem nie, en was haar gesig nie gewys nie. Die kanse dat twee verskillende persone dieselfde ink (en dieselfde protesmetode) sou hê, is uiters skraal. Kan dit wees dat dieselfde persoon aan twee verskillende protesaksies deelgeneem het?

Voor die mediumtermyn-begrotingstoespraak het bewerings die ronde gedoen dat 500 Wits-studente op pad Kaap toe is om met die protes te help. Of die getalle korrek is en of almal werklik ingeskrewe Wits-studente was, weet ek nie, maar dis wel bekend dat ’n groot groep persone op Wellington van ’n trein afgeklim het en blykbaar petrolbomme op die Boland Kollege-kampus gegooi het. Vermoedelik is hulle toe van daar Kaap toe. Daar is al heelwat berig gelewer oor die uiteinde van daardie protes.

Blykbaar was daar studente (of dan persone van studente-ouderdom) wat op die kampus van die Universiteit van Johannesburg eksamens ontwrig. Hulle is skynbaar nie ingeskrewe studente aan daardie universiteit nie, net soos wat die petrolbomgooiers in Wellington nie ingeskrewe studente by daardie kampus was nie.

Rent-a-riot is natuurlik niks nuuts of vreemds nie. In Grabouw, my tuisdorp, word daar al die afgelope drie, vier jaar protesteerders aangery om getalle op te stoot. In een hoogs gepubliseerde voorval het die rent-a-protesters gebots met inwoners, meesal vroue, wat die plaaslike skool beskerm het. Een van die huurlinge moes voor die ontstoke vroue uit vlug, en het by ’n kennis van my se huis gaan skuiling soek. Tydens die gesprek wat gevolg het, het die protesteerder my kennis meegedeel dat hulle elkeen R100 per dag betaal word om aan die protes deel te neem. Hulle vervoer na Grabouw toe was ook betaal.

Terwyl die gesprek anekdoties is, en waarskynlik nie sonder bevestiging in ’n hof aanvaar sou word nie, is dit wel so dat daar ’n aantal vreemde busse en taxi’s by die plaaslike taxi staanplek was.

Dit klink asof die tegniek nou ook aangepas en verfyn is vir die #feesmustfall-veldtog.

’n Paar vrae ontstaan dadelik: Hoekom sou enigeen mense wil invoer? Hoeveel kos dit hulle? Wie trek voordeel daaruit dat die land gedestabiliseer word? Wie befonds dit?

Die eerste vraag is maklik. Hoe groter die getalle, hoe ernstiger word die protes gesien, hoe meer publisiteit kry dit en van daar snowball dit. Die onderliggende implikasie is natuurlik dat die issue waaroor geprotesteer word, nie universeel ondersteun word nie. Dit moet dus kunsmatig opgeblaas word deur mense van buite te huur.

Die tweede vraag is ietwat meer kompleks: Wat is die markwaarde van ’n protes? Kom ons veronderstel dat die R100 waarna ek vroeër verwys het, vir inflasie aangepas is, en dat studente darem seker ietwat meer betaal sal word as werklose arbeiders. Kom ons veronderstel dus dat die studente R200 per dag betaal was om aan die begrotingsprotes deel te neem. Ons veronderstel verder dat hulle vir drie dae vergoed is, omdat hulle met die trein moes heen en weer reis, ens. Ons veronderstel verder dat daar wel 500 studente aangery was. Ons veronderstel verder dat die petrolbomme in Wellington ekstrakurrikulêr gegooi was, en dat niemand betaal word daarvoor nie. Dit beteken dan dat iemand R300 000 (drie honderd duisend rand) bestee het daaraan om persone Kaap toe te vervoer om die begrotingstoespraak te ontwrig. Dis net een enkele geleentheid, en ek vermoed my berekening is konserwatief.

Wat dan van al die ander proteste wat gedurende die #feesmustfall-veldtog gehou is? Indien selfs net ’n breukdeel van daardie protesteerders betaal was, en met inagneming van die uitgerekte tydperk waaroor dit plaasvind, dan is daar alreeds miljoene rande bestee. Dis direkte koste.

Ek neem glad nie eers die skade aan geboue in ag, of die koste aan verlore werksure, die inligting in rare boeke waarop geen prys geplaas kan word nie, die stres, die ontwrigting, die skade aan die ekonomie, die skade aan ons land en universiteite se reputasie, die verliese wat ouers ly terwyl hulle alreeds fooie betaal het, en die vele ander wyses waarop indirekte koste aangegaan is. Alhoewel aansienlik meer geld in die begroting aan hoër onderwys toegeken is, sal die grootste deel van daardie geld noodwendig gebruik word om beskadigde infrastruktuur te herstel.

Dis maklik en gerieflik om die blaam vir die onrus voor die deur van ’n politieke party met invloed onder die jeug te lê. Bitter min politieke partye is egter in staat om die tipe kapitaaluitleg te maak wat op die oog af nodig is om die momentum van die veldtog te behou.

Die les wat ons met Guptastan geleer het, is dat een enkele invloedryke familie ’n land kan lamlê.

Die vraag is nou: Wie trek voordeel daaruit dat die land in pandemonium verkeer? Wie trek voordeel daaruit om ’n woedende, ontnugterde jeug te laat vlamvat? Wat gebeur agter die skerms terwyl ons ons aandag laat aftrek deur die petrolbomme, die vernietigde biblioteke en die ontwrigte eksamens?

In die bekende Wizard of Oz kom Dorothy agter dat een enkele persoon agter die skerms met die druk van knoppies en die trek van hefbome oëverblindery op ’n hele gemeenskap gepleeg het.

Wie druk die knoppies en trek die hefbome agter #feesmustfall?

  • 3

Kommentaar

  • Bettina , baie dankie dat jy dapper genoeg is om hierdie kritiese vraag te vra. Hoewel dit oorwegend op omstandigheidsgetuienis en hoorsê gebaseer is, deel ek jou agterdog. By die laaste betogings op Stellenbosch het die betogers beslis 'n groot plastiese plakkaat gebruik waarop ten minste twee ander universiteite se name ooglopend swak doodgeverf is. Daar is dus 'n reuse--plakkaat wat toevallig die hele land rondswerf - van kampus tot kampus. Ek deel jou vermoede dat hier iemand met diep sakke agter die gekoördineerde , gewelddadige protes by ons kampusse sit. Die studente van Ikeys het tot in die appèlhof geprosedeer om hul interdikte tersyde gestel te kry. Wie betaal daardie astronomiese regskoste - beslis nie studente wat op gratis onderwys aandring nie! Hoekom kan ons intelligensiedienste of selfs privaatspeurders dit nie vir ons vasstel nie? Ons land kan nie hierdie sinnelose destabilisering van kampusse bekostig nie - daar moet beter maniere wees om hierdie probleem op te los as om infrastruktuur te vernietig en studente wat wil studeer van daardie reg te ontneem.
    Die antwoord op jou vraag mag dalk bewys dat die Wizard of Oz, net soos Animal Farm, nie net maar nog 'n ou storietjie is nie.

  • Walsiena Mort

    Inderdaad, Bettina, plus agents provocateurs op die personeel, die top-bestuur, orals. Dosente uit wie se kantoor strepe studente kom en skrik as hul iemand sien wat stil daar staan en fotostate maak by die masjien in die gang, omdat hul gesien is om uit dié dosent se kantoor te kom - tien, twaalf studente uit 'n kantoortjie waar skaars drie mense gemaklik sal wees.

    Glashelder duidelik ook uit styl, woordeskat reikwydte en sofistikasie, van briewe kwansuis deur studente-leiers van #Feesmustfall-beweging geskryf, dat die skrywer eerder in Oxford of Essex sit (befonds deur Beijing? ons volgende base?), as enigeen van 21-31 jr oud hier rond. 'n Mens wéét gewoon hul skryf nie so nie, kan nie spel nie, het nie daardie verwysingsveld nie.

    Vraag is wie, waar? In ieder geval duidelik universiteite waar dit gebeur (en dit lyk asof dit soos 'n ou suurdeeg dwarsdeur die land getrek het, volgens wat mens hoor by kollegas), is huise verdeeld in hulself - die een helfte veg teen die ander helfte.

    Die wurm sit in die appel ... en toneelspel oweral, ook van dosente en top bestuurslede, wil dit lyk, plek-plek.

    Deon Meyer eat your heart out ... die volgende plot lê voor jou deur ...

  • Ek het die aand van die protesaksie by die parlement oornag in die Southern Sun Waterfront. Buite gewag vir die shuttle na die V&A. Pragtige jongmense het met ons aan die gesels geraak. Opsomming: Hulle is van die Oos-Kaap. Een of ander Council of Churches het vir hulle vliegkaartjies gekoop en betaal akkommodasie in die hotel sodat hulle kan betoog. Hulle sal die volgende dag opgetel word by die hotel maar wou nie vandag gaan nie want dinge het bietjie rof geraak. Ek vra: Maar julle is darem seker nie vandaliste nie? Hulle antwoord trots: Ons het 'n gebou gebrand want daar word meisies verkrag en sekuriteit steel ons goed. Ek vra: So, is julle dus SR-leiers? Trots: Nee! Ons is darem leiers in ons departemente maar ons weet nie hoekom hulle ons gevra het nie maar hier is ons nou! Dalk sal ons more Parlement toe gaan, maar as dinge rof raak "we'll just hang out!"
    Hartseer was dat hulle met dieselfde trots hierdie stories aan al wat buitelandse toeris was ook vertel het. "Een of ander Council of Churches". Nou vra ek vir jou met trane in my oë.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top