Die dinge van ’n kind in Februarie by HS Jan van Riebeeck ná COVID 2021-speelvak pootjie

  • 0

Nadat COVID-19-inperkingsmaatreëls die opvoering van Die dinge van ’n kind in Oktober verlede jaar gepootjie het, word die gewilde verhoogstuk wél van 23 tot 25 Februarie 2022 by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad opgevoer. Dié speelvak by die skool word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Suidoosterfees en Arena-produksiehuis.

In hierdie onderhoud met LitNet verlede jaar, het die skrywer, Marita van der Vyver, gesê: “Die speelvak by Hoërskool Jan van Riebeeck is fantastiese nuus! Ons hou duim vas dat ander skole dieselfde sal doen.” Maar voordat die stuk in Oktober 2021 op die planke kon kom, moes die opvoerings uitgestel word toe ’n nuwe vlaag infeksies Suid-Afrika getref het.

Robert Hamblin se produksiefoto van Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind.

Cintaine Schutte speel in die verhoogweergawe, wat deur Francois Toerien verwerk en deur Nicole Holm geregisseer is. Schutte, wat verlede vanjaar ’n Sinjatuurtoekenning tydens die kykNET Fiëstas ontvang het, het te midde van die grendelstaatinperkings al meer as 30 keer in Die dinge van ’n kind opgetree. “Daar was soveel kere wat ek gewens het ek kan hierdie produksie na tieners toe neem,” sê sy. “Dit is ’n groot voorreg om te weet ek kan dit nou by ’n skool opvoer. Vir tieners om in daai ouditorium te sit en tyd met hulleself te spandeer, is kosbaar en waardevol.”

Van der Vyver is verheug dat die speelvak uiteindelik hervat. “Ek is dankbaar en opgewonde oor Hoërskool Jan van Riebeeck se besluit om die toneelstuk aan te bied. As tieners nie teater toe gaan nie, moet ons teater na tieners toe neem – en Dinge is besonder geskik daarvoor, juis omdat dit oor tieners gaan.” Die roman het reeds in 1994 verskyn, maar die storie is vandag nog net so relevant soos destyds. Die dinge van ’n kind handel oor die traumas van grootword, swangerskap en selfdood, en word binne die konteks van Suid-Afrika in die sewentigerjare aangebied.

Pieter Rademeyer, Jan van Riebeeck se skoolhoof, het nie op hom laat wag toe die geleentheid vir ’n ekstra speelvak opduik nie. Die dinge van ’n kind is ’n gunsteling onder gehore, en nadat opvoerings verlede jaar by die Suidoosterfees blitsig uitverkoop het, was daar verskeie versoeke vir verdere vertonings. Brian Figaji, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, is in sy noppies oor die opvoering, omdat dit aansluit by die fees se mandaat om in ontwikkelingsvennootskappe te belê. “Ons is bly ons kan nou aan volwassenes en leerders van 16 en ouer wat nog nie die stuk gesien het nie, ’n ekstra geleentheid gee om dit te geniet.”

Die dinge van ’n kind is met die Aardklop-trofee vir beste solovertoning bekroon en was vir ’n Fiësta-toekenning genomineer. Die Aardklop nasionale kunstefees, NATi en die LW Hiemstra Trust het die produksie van die begin af moontlik gemaak en ondersteun.

Die toneelstuk het ’n ouderdomsbeperking van 16. Vertonings vind van 23 tot 25 Februarie om 09:00 en 12:00 plaas en kos R100 vir leerders. Besprekings kan per e-pos gedoen word by zulch@janvanriebeeck.co.za. Daar is ook twee vertonings vir die publiek teen R140, of R120 vir blokbesprekings van 10 en meer persone, op 23 Februarie om 19:00 en 27 Februarie om 14:00. Kaartjies vir dié vertonings kan by Computicket bespreek word.

  • Die fokusprent by hierdie artikel is deur Robert Hamblin geneem en aangepas; verskaf deur die Suidoosterfees.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top