Drie onlangse nuuswaardige gebeure het die benarde situasie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) opnuut belig. Die eerste is die klein begroting wat aan die SANW toegewys word, soos dit andermaal uit die parlementêre debat aangaande die verdedigingsbegroting geblyk het. Die tweede het te make met nuusberigte dat die soldate wat in die Wes-Kaap ontplooi is as deel van Operasie Floreer (Operasie Prosper) in haglike toestande leef en nie genoeg kos en klere het om hulle operasionele take na behore te kan uitvoer nie. Die derde het betrekking op oproepe van die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, dat die nasionale regering die SANW in die middestad van Johannesburg ontplooi om hulp te verleen met verskeie stabiliserings- en beveiligingstake.

© omarrrrrrrrrr (14 April 2022, Pixabay.com) (Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.)
Morero se versoek vir verdere binnelandse ontplooiing moet gelees word teen die agtergrond van die feit dat die SANW nie langer sy buitelandse verpligtinge as poitieke en diplomatieke vredesinstrument op die kontinent na behore kan nakom nie, maar tog toenemend aan die politieke verwagting moet voldoen om in verskeie binnelandse rolle te dien en nou veral ondersteuning moet bied met wetstoepassing, waaronder veral op die Kaapse Vlakte, wat deur bendebedrywighede en meegaande geweldgeteisterde gebiede gekenmerk word. Dit maak dat die verdedigingsportefeulje een geword het wat ’n gebrekkige fondament bied waarop die SANW sy operasionele verpligtinge kan uitvoer en gedurig om die verkeerde redes in die nuus is.
Waar en hoe het dinge vir die SANW skeefgeloop? Ek moes by twee baie onlangse konferensies – een by die Universiteit van Pretoria en die ander by die Universiteit Stellenbosch – hierdie vraag probeer beantwoord, en ek wil die kernaspekte van my aanbiedings graag hier deel. Albei was basies ’n kwalitatiewe historiese ontleding van hoe sake sedert 1994 ontvou het.
Sedert 1994 het die Suid-Afrikaanse regering die SANW toenemend gebruik as ’n veeldoelige instrument van sowel buitelandse as binnelandse beleid. Op streeksvlak het die SANW diep betrokke geraak by vredesbewaring- en vredesondersteuningsoperasies regoor Afrika, terwyl dit binnelands veral in die laaste twee dekades toenemend versoek is om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te ondersteun in misdaadbekamping en operasies ter handhawing van interne stabiliteit.
Die SANW was egter nooit ontwerp of befonds vir die omvangryke take wat dit tans moet uitvoer nie. Suid-Afrika se verdedigingsbeleid ná 1994 het voorsiening gemaak vir ’n tegnologies gevorderde konvensionele mag wat hoofsaaklik bedoel was om die land se soewereiniteit en territoriale integriteit te beskerm. Met verloop van tyd het politieke verwagtings egter verander, terwyl verdedigingsbesteding geleidelik afgeneem het, ofskoon dit reeds voor 1994 skerp begin afneem het. Die gevolg was ’n toenemende wanverhouding tussen magsontwerp, wydlopende operasionele verpligtinge en beskikbare hulpbronne – wat daartoe gelei het dat die SANW institusioneel verswak en ondoeltreffend geraak het. Kortom, die SANW kon toenemend nie meer sy uitgebreide verantwoordelikhede doeltreffend nakom nie.
Hierdie probleme het nie oornag ontwikkel nie en is die gevolg van faktore wat sedert 1994 – maar selfs in die vroeë 1990’s – oor ’n lang tyd negatief op die SANW as verdedigingsinstelling ingewerk het. Die Witskrif op Verdediging van 1996 het bepaal dat die SANW se magsontwerp uit ’n hoëtegnologiekernmag moes bestaan, geskik vir vredestyd, maar buigsaam en uitbreibaar om opkomende bedreigings die hoof te bied. Ter ondersteuning van hierdie benadering het die kabinet in 1998 besluit om nuwe militêre toerusting aan te skaf deur middel van wat later as die omstrede wapentransaksie bekend geword het. Die aankope het Gripen-vegvliegtuie, Hawk-opleidingsvliegtuie, ligte nutshelikopters, patrolliefregatte en duikbote ingesluit. Kritici het aangevoer dat verskeie van hierdie aankope ’n konvensionele en tegnologies intensiewe verdedigingsbenadering weerspieël het wat nie naatloos aangesluit het by Suid-Afrika se groeiende politieke nadruk op vredesbewaring, samewerkende veiligheid en streeksstabilisering in die post-1994 era nie.
Hoewel die SANW hoofsaaklik ontwerp is om Suid-Afrika teen buitelandse bedreigings te verdedig, het operasionele realiteite gou ’n ander wending geneem. Sedert die laat 1990’s het die SANW ’n belangrike instrument van Suid-Afrika se buitelandse beleid geword as een van die grootste troepebydraers tot die Verenigde Nasies (VN) se vredesteunoperasies in Afrika, veral in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). Laasgenoemde was in ’n stadium die grootste VN-vredesteunoperasie in die wêreld. Die SANW is ook ontplooi in operasies van die VN en/of die Afrika-Unie in die konflikte in Burundi en Soedan, om slegs die belangrikstes te meld. Meer onlangs was daar ook die SANW se ontplooiing in noordelike Mosambiek onder die politieke vaandel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Kortom, militêre funksies wat aanvanklik as sekondêre verantwoordelikhede beskou is, het toenemend sentrale of primêre operasionele verpligtinge geword en het groot finansiële uitgawes meegebring.
’n Groot probleem was egter dat die SANW se eksterne ontplooiings dikwels langdurig en sonder ’n duidelike politieke en militêre einddoel van stapel gestuur is. In sowel die oostelike DRK as noordelike Mosambiek was dit nooit heeltemal duidelik watse omstandighede sendingsukses sou verteenwoordig of ’n volhoubare onttrekking moontlik sou maak nie. Nietemin het politieke verwagtings rakende Suid-Afrika se streeksrol hoog gebly, wat die regering se volgehoue diplomatieke verbintenis weerspieël het om vrede en stabiliteit op die vasteland te bevorder – iets wat veral ingevolge oudpres Thabo Mbeki se destydse Afrika-Renaissance-ideale uitdrukking gevind en sterk momentum opgebou het.
Terselfdertyd het binnelandse politieke druk die SANW toenemend ingetrek by interne veiligheidsfunksies wat tradisioneel met polisiëring en burgerlike ondersteuning geassosieer word. Die Witskrif op Verdediging van 1996 het dit duidelik gestel dat openbare-orde-polisiëring die verantwoordelikheid van die SAPD moet bly. Tog het volgehoue geweldsmisdaad, druk op polisievermoëns, gebrekkige doeltreffendheid in die SAPD en politieke neigings om die SANW toenemend binnelands aan te wend gelei tot groeiende militêre betrokkenheid by binnelandseveiligheidsaangeleenthede.
Kortom, die SANW se ontplooiings het mettertyd gelei tot grensbewaking, ondersteuning van teenbendeoperasies op die Kaapse Vlakte, ondersteuning aan die SAPD tydens die akute binnelandse onrus van Julie 2021, die uitvoering van COVID-19-maatreëls, beskerming van strategiese infrastruktuur soos Eskom-fasiliteite, en operasies teen onwettige mynbousindikate en zama zamas, en aanvalle op vragvervoer tussen KwaZulu-Natal en Gauteng. Selfs hulp in die bekamping van renosterstropery in die Nasionale Krugerwildtuin was in ’n stadium aan die SANW opgedra.
In 2010 moes die SANW ook die verantwoordelikheid vir grensbeheer by die SAPD oorneem, insluitend die beveiliging van ongeveer 4 500 kilometer se landsgrense en ’n bykans 4 000 kilometer-kuslyn. Hoewel die stigting van die Grensbestuursowerheid (GBO) in 2023 sekere ondersteuning by grensposte gebied het, staar die SANW in dié opsig verskeie ernstige operasionele beperkings in die gesig, insluitend onvoldoende mobiliteit, beperkte vervoervermoë en swak grensinfrastruktuur.
Die onrus van Julie 2021 het veral die groeiende afhanklikheid van die weermag in situasies van binnelandse onstabiliteit benadruk. Grootskaalse geweld en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng het omvangryke ekonomiese skade veroorsaak en swakhede in die staat se vermoë blootgelê om openbare orde te handhaaf. Meer onlangs, in Februarie 2026, het pres Ramaphosa verdere SANW-ontplooiings aangekondig, en spesifiek om bendegeweld in die Wes-Kaap en onwettige mynbouaktiwiteite in Gauteng te help bekamp. Teenbende-operasies is later uitgebrei na die Oos-Kaap as gevolg van openbare druk uit openbare geledere in die provinsie. Hierdie verwikkelinge het die openbare persepsie versterk dat die SANW toenemend as ’n nuttige instrument binne Suid-Afrika se binnelandseveiligheidsomgewing aangewend kan word ter ondersteuning van die SAPD.
Hierdie uitbreiding van operasionele verantwoordelikhede het plaasgevind te midde van afnemende befondsing aan die SANW. Tussen 1995 en 1998 is die verdedigingsbegroting beduidend verminder, en sedert 2000 het verdedigingsbesteding oor die algemeen op tussen ongeveer 1,1 en 1,2 persent van die BBP gebly voordat dit in onlangse jare verder tot onder 1 persent gedaal het. Chroniese fiskale beperkings, tesame met swak ekonomiese groei en mededingende ontwikkelingsprioriteite het volgehoue druk op militêre gereedheid en instandhouding geplaas.
Die gevolge hiervan het toenemend sigbaar geword. Dit het finansieel eenvoudig toenemend onprakties geraak om die tegnologies intensiewe magstruktuur wat ná 1998 aanvaar is, op ’n hoë gereedheidsvlak te hou. Diensbaarheid en funksionaliteit het gevolglik beduidend verswak, veral met betrekking tot duur lug- en vlootvermoëns. In 2023 het die destydse minister van verdediging, Thandi Modise, bekendgemaak dat ongeveer 85 persent van die Suid-Afrikaanse Lugmag se vliegtuigvloot nie meer operasioneel is nie. Die vloot het soortgelyke probleme ervaar met betrekking tot die operasionele gereedheid van sy fregatte en duikbote. Uiteindelik het die SANW ook die vernedering ervaar dat sy soldate in die oostelike dele van die DRK voor die M23-insurgente geswig het en verskeie met hulle lewens geboet het, wat gelei het tot die politieke besluit om die SANW aan die DRK te onttrek.
Die SANW se dilemma weerspieël egter meer as bloot ’n eenvoudige begrotingsprobleem. Dit illustreer ’n breër strategiese onsamehangendheid tussen verskeie belangrike sake, waaronder magsontwerp, politieke verwagtings en operasionele realiteite. Die probleem is dat die Suid-Afrikaanse regering van die SANW verwag om konvensionele verdedigingsverantwoordelikhede na te kom, vredesondersteuningsoperasies uit te voer, grense te beveilig, binnelandse polisiëring te ondersteun en staatsinstellings by te staan – ten spyte van gebrekkige geldelike hulpbronne en verswakkende militêre gereedheid.
Verskeie breër gevolgtrekkings vloei uit hierdie ontwikkeling voort.
Eerstens het die SANW sedert 1994 geleidelik ontwikkel van ’n konvensioneel georiënteerde verdedigingsmag in die streek tot ’n veeldoelige veiligheidsinstrument wat sterk verbind is tot vredesondersteuning- en stabiliseringsoperasies regoor die vasteland. Nietemin is nóg die magsontwerp nóg die verdedigingsbegroting fundamenteel aangepas om hierdie oorgang te ondersteun.
Tweedens het langdurige fiskale beperkings militêre gereedheid, operasionele volhoubaarheid en toerusting se diensbaarheid toenemend ondermyn. Suid-Afrika se verdedigingsbesteding val tans ver onder die wêreldgemiddelde van bykans 2,5% van BBP, ondanks die feit dat die SANW steeds ’n wye spektrum veeleisende funksies verrig. ’n Verdedigingsbegroting van tussen 0,7% en 0,8% van die BBP is gewoon nie genoeg om die SANW te ondersteun in die verskeidenheid take wat aan soldate opgedra word nie.
Derdens het eksterne ontplooiings dikwels onbegrenste verbintenisse geword met ernstige implikasies vir magsvolhoubaarheid en langtermynbeplanning. Politieke ambisies rakende Suid-Afrika se leiersrol op die vasteland en die rol wat die SANW daarin moet speel, het grootliks onveranderd gebly, selfs terwyl militêre vermoëns geleidelik afgeneem het.
Vierdens het binnelandse ontplooiings toenemend breër swakhede in staatskapasiteit weerspieël, veral binne die SAPD en ander veiligheidsinstellings. Die SANW het geleidelik geïntegreerd geraak in interneveiligheidsfunksies waarvoor dit nie oorspronklik bedoel was nie, wat belangrike vrae laat ontstaan oor voldoende parlementêre toesig en die langtermyngevolge van die gebruik van die SANW as plaasvervanger vir ’n doeltreffende polisiëringsvermoë.
Laastens weerspieël die Suid-Afrikaanse verdedigingsdebat toenemend die klassieke “kanonne versus botter”-dilemma. Sedert 1994 het beleidmakers verstaanbaar prioriteit gegee aan dringende ontwikkelingsbehoeftes soos armoedeverligting, behuising, gesondheidsorg en onderwys. Tog het die operasionele verwagtings wat aan die SANW gestel word, bly uitbrei ondanks dalende verdedigingsbegrotings. Dit het ’n volgehoue spanning geskep tussen ontwikkelingsprioriteite en meegaande uitgawes en befondsing vir die instandhouding van ’n doeltreffende SANW, wat terloops nie iets is wat politici en politieke partye kan gebruik om stemme te werf nie, maar gewoon in die belang van goeie regering is.
In praktiese terme was die kumulatiewe uitwerking ’n geleidelike proses van institusionele verswakking en agteruitgang. Daar bestaan ook politieke verskille oor die verdedigingsbegroting – iets wat onlangs in die openbaar uitgespeel het in verskille tussen die minister van finansies en die hoof van die vloot. In sommige kringe word aangevoer dat Suid-Afrika verdedigingsbesteding moet uitbrei om militêre doeltreffendheid te herstel, terwyl ander ’n kleiner en ligter mag voorstel wat nader aansluit by die land se fiskale realiteite en strategiese omgewing. Hoe dit ook al sy, die huidige situasie is onvolhoubaar en roep om diepliggende hersiening.
Die sentrale uitdaging waarmee die SANW gekonfronteer word, is dus nie bloot een van ’n klein begroting nie, maar ook van strategiese onsamehangendheid en die doeltreffende aanwending van beskikbare fondse. Suid-Afrika gebruik sy weermag grootliks as ’n veeldoelige instrument van buitelandse beleid, binnelandse stabilisering, grensbewaking en ondersteuning aan staatsinstellings, terwyl die magsontwerp daarvan ná 1994 grootliks ingestel was op konvensionele territoriale verdediging.
Daar is al dikwels tereg geargumenteer dat Suid-Afrika sy strategiese ambisies met die beskikbare hulpbronne sal moet (her-)belyn en polities minder (hoë) eise aan die SANW sal moet stel. Alternatiewelik sal meer fondse aan die SANW beskikbaar gestel moet word. Terselfdertyd sal die generaals die beskikbare fondse ook beter moet benut. Herhalende nuusberigte dat generaals in weelde bevel voer terwyl gewone soldate met krummels moet klaarkom wat hulle moreel negatief beïnvloed, sal aandag moet kry. Indien nie, sal die huidige trajek van onrealistiese politieke verwagtinge, strategiese onsamehangendheid, swak gevegsgereedheid en institusionele agteruitgang voortduur en sal die SANW nie buitelands óf binnelands veel betekenisvolle waarde hê in die versekering van vrede en veiligheid vir Suid-Afrikaners nie.

