Die Desember van die neefs

  • 0

Foto: Pixabay

Daar was al soveel Desembers in my lewe. Nege-en-vyftig om presies te wees. Die meeste daarvan het verdwyn in die woestynlandskap van die verlede. As ek oor my skouer kyk, sien ek hier en daar ’n duin: ’n nag op die strand by Boggomsbaai, jare se son, branders en vrugtekoek.

.......

Maar daar is een Desember wat my helder bybly. Ek was op skool. Vir eens het ons nie weggegaan nie. Dit het die hele maand gereën; sagte, deurdringende reën. My twee ouer neefs het kom kuier voordat hulle by Tukkies sou begin studeer. Die jongste het pas ’n jaar as stoker gewerk om geld te spaar. Hulle kinderdae was nie ’n piekniek nie.

........

Maar daar is een Desember wat my helder bybly. Ek was op skool. Vir eens het ons nie weggegaan nie. Dit het die hele maand gereën; sagte, deurdringende reën. My twee ouer neefs het kom kuier voordat hulle by Tukkies sou begin studeer. Die jongste het pas ’n jaar as stoker gewerk om geld te spaar. Hulle kinderdae was nie ’n piekniek nie.

Hul ma was my ma se suster Hermien, een van daardie vroue wat verlore is op die aarde. Sy was beeldskoon en het ’n liefdesteleurstelling gehad, waarna sy met hul pa getrou het – ’n psigopaat (so is daar in die familie gefluister) met ’n Ierse van. Sy het hom uitgeskop toe die seuns nog klein was. Hy het verdwyn en niemand het weer van hom gehoor nie.

Hermien het hard gewerk en die seuns streng grootgemaak. Sy het lank saam met ’n vrou gewoon, wat uitermate streng met die seuns was. Hulle het my een keer vertel hoe Marinda, toe hulle stout was, hul Kersgeskenke vir arm kindertjies gaan gee het. Die familie het oor daardie vriendskap ook gefluister, maar Marinda is later met ’n man getroud. Hermien het toenemend tragies gelyk, met haar bleek skoonheid soos fyn linne wat net effens kreukel, met haar dramatiese aard en ’n toenemende afhanklikheid van susmiddels. Sy was by die huis, maar die ligte was afgeskakel.

Die seuns het van jongs af gewerk. Hulle het iets van hulself gemaak. Maar toe was hulle nog op die drumpel van hul grootmenslewe. Willie, die oudste, was amper belaglik handsome soos ’n outydse moviester: lank, donker en dodelik aantreklik. Henk het soos ’n alien gelyk, soos sommige in ons familie: amper-Oosterse oë, hoë-hoë voorkop, vol mond. Hy het altyd deur die mis en half aan die slaap gelyk. Willie het vertel wanneer hulle (gereeld) by ’n nuwe skool ingeval het, het almal aanvanklik gedink Henk is ligweg gestrem. Tot hulle uitvind hy is briljant en presteer sonder om ooit op te let.

Henk was my held. Hy was vir my cooler as Bob Dylan, as enige rockster. Skaars en onafhanklik soos ’n kat het hy alles moeiteloos laat lyk. Hy was nie so ooglopend aantreklik soos sy broer nie, maar broeiend soos iemand in ’n kunsfilm. Hy het toe al lank straf gerook en sy stem was skor. Hy het min gepraat en alles wat hy sê het diep en raak geklink. Hy was elegant en het gevaarlik gelyk, soos ’n bergleeu in ’n kou.

Hy het my een keer, toe hulle uitgaan, gevra om sy jeans te stryk. Hy was altyd beleefd. Ek het nog nooit juis gestryk nie, maar het iets onthou van ’n platplooi voor. Toe stryk ek met groot moeite nie een nie, maar twee prominente platplooie voor op elke pyp van sy jeans. Hy was vir ’n oomblik stil toe hy die resultaat gadeslaan, toe knik hy. Cool, dit lyk verdienstelik.

Hulle besoek was nie sonder nagevolge nie. Êrens in die heelal het domino’s begin tuimel. Willie het ons (bitter aantreklike) buurseun se verloofde afgevry, of eerder iets met haar aangeknoop en toe wou die buurseun haar nie terugneem nie, tot sy skade. Dit het die hele loop van sy lewe verander. Van ’n paar lewens.

.......

Die klankbaan van daardie Desember was Simon & Garfunkel. Die broers het ons gesin se karige plateversameling deurgekyk (ek en my broers het nog nie self plate gekoop nie) en daardie een ’n knik van goedkeuring gegee.

........

Die klankbaan van daardie Desember was Simon & Garfunkel. Die broers het ons gesin se karige plateversameling deurgekyk (ek en my broers het nog nie self plate gekoop nie) en daardie een ’n knik van goedkeuring gegee. Ons het dit oor en oor gespeel. “Bridge over troubled water”. “The sound of silence”. “I am a rock”. “The boxer”. “Kathy’s song” (I hear the drizzle of the rain / Like a memory it falls / Soft and warm, continuing / Tapping on my roof and walls”). Terwyl dit aanhou reën en die kaggelvuur knetter. Willie was ’n ekstrovert wat graag gesels het, maar Henk se neus was maar altyd in ’n dik, beduimelde boek. Soms het hy norserig kitaar gespeel en rockballades in ’n soet, hees stem gesing. Hy was te cool om die woorde te ken.

Willie het later meer as een doktorsgraad verwerf en was ’n dosent. Henk was ’n suksesvolle prokureur. Ek neem aan hulle het al afgetree, want hulle is ten minste tien jaar ouer as ek. Ek het nie meer veel kontak met hulle nie. Vir Willie het ek as Facebook-vriend afgeskop omdat hy op alles, selfs ’n foto van my kat, die volgende kommentaar gelewer het: “Die skepping is lieflik en uitnemend, prys die naam van Jesus.” Henk was nooit familievas nie. Maar ek onthou hulle daardie Desember.

Wil jy weet van hul ma, Hermien, se liefdesteleurstelling? Sy was dolverlief op Toemie, ’n jong geoloog, en hulle het op trou gestaan toe sy hom aan haar suster Sarie, pas terug uit die buiteland, voorstel. Sarie het geskitter of lig weerkaats soos kristal. Sy was ’n operasangeres wat tot in Wene gesing het. Sy was die familie se oogappel. Toemie en Sarie is getroud en het in Australië gaan woon. Daar het sy eendag op straat, bitter jonk, ’n hartaanval gehad en is oorlede.

Hy en hul seuntjie het teruggekom en in die destydse Suidwes het ’n kwaai Duitse vrou hom vir haarself ingepalm. Hulle is getroud. Hy was ongelukkig. Hy het weer uitgereik na Hermien, maar sy het gesê nee dankie, sy bou nie haar geluk op ’n ander se ongeluk nie. Sy is jare later nog een maal getroud met ’n maer, nerveuse kaartman wat te dikwels geglimlag het, met skitterwit kunstande soos ’n tweedehandsemotorhandelaar. Maar eers toe die seuns al uit die huis was.

.......

Dis daardie dae en ure wat ’n mens vorm; stil Desembers voor die kaggel, Simon & Garfunkel se klanke, Henk se skor hoes, bladsye wat omgeblaai word, reën wat ritsel in die blare.

........

Dis daardie dae en ure wat ’n mens vorm; stil Desembers voor die kaggel, Simon & Garfunkel se klanke, Henk se skor hoes, bladsye wat omgeblaai word, reën wat ritsel in die blare.

Vyftig jaar later is die herinnering nog vars, soos ’n nuwe blaar: “And as I watch the drops of rain / Weave their weary paths and die / I know that I am like the rain / There but for the grace of you, go I.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top