
Om te Skryf, 5–12:
Skryf met jou eie sintuie vir die leser se sintuie. Gebruik beelde, geure, klanke en teksture wat reeds in jou leser se “geheuebank” bestaan.
Benut regstreekse aanhalings waar jy kan. Die leser kan geprikkel word by die “hoor” van ’n outentieke stem. Moenie sonder rede tussen die spreker en die leser inspring nie. Lê as skrywer liewer laag en laat die karakters uit hul eie monde praat.
Die herskrewe weergawe se tempo neem veral na die einde van die verhaal in so ’n mate toe dat die leser meeleef saam met die karakters.
Met verwysing na die voorstelle vir verbeterde skryfwerk uit Om te skryf sou ek steeds aanraai dat die skrywer daarop let om die karakters in dialoog aan te haal. Veral aan die begin. Dit is belangrik dat die leser elke karakter se outentieke stem hoor.
Swannie wil aan Gerrie wys hoe Afrikaners leef, maar die leser weet eintlik niks van Gerrie se agtergrond nie. Hierdie gegewe kan maklik reggestel word deur Gerrie te laat “praat” in plaas daarvan dat die perspektiefverteller vertel wat hy sê.
Die einde van die verhaal het vir seker meer trefkrag as die oorspronklike verhaal. Hier word die sintuie van die leser beter ingespan en ervaar die leser saam met Swannie die gevoel van verraad, verlies en algehele teleurstelling, selfs die dood.
Karakters, veral die twee karakters wat by hulle aansluit, kan steeds beter uitgebeeld word. In die oorspronklike verhaal het ons dadelik by die juwelier met twee mans – ’n grote en ’n stiller persoon – te doen gekry. In hierdie teks word slegs die groot man, wat “donkerder as Patrick is”, aan die leser bekendgestel en later word daar na die stiller man verwys.
Dis belangrik dat die skrywer die twee karakters meer prominent uitbeeld. Hierdie aspek kan deur dialoog reggestel word. Beskrywings soos tans gebruik, werk wel in ’n mate, maar die twee sal in voorkoms en verskil in hul spraaksaamheid/taalgebruik beter aan die leser bekend word en ’n groter indruk laat.
Laastens wens ek die skrywer voorspoed toe met toekomstige skryfwerk.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

