Die daggadebakel: uit ’n mediese oogpunt

  • 18

Dit is met skok en afgryse dat die mediese beroep en alle professionele groepe wat gemoeid is met dwelmverslawing reageer op die jongste uitspraak van die Konstitusionele Hof wat die private besit, kweek en gebruik van dagga onder bepaalde omstandighede wettig. Die gebruik van dagga (kannabis) vir medisinale doeleindes moet wetenskaplik teenoor die potensiële mediese en maatskaplike risiko’s opgeweeg word.

Die Suid-Afrikaanse Psigiatriese Vereniging (Sasop) is met reg bekommerd oor die publieke persepsie dat dagga ’n “skadelose” plant is, en het sterk standpunt ingeneem teen hierdie uitspraak. Kannabis is ’n bewese dwelm en dus verslawend en mag die weg baan vorentoe vir ander gevaarliker dwelms. In ’n gesaghebbende verslag is gerapporteer dat kannabis die algemeenste primêre substans van misbruik is vir persone onder 20 jaar wat by behandelingsfasiliteite in Suid Afrika aanmeld. Dit word geraam dat 1 uit 6 tienderjariges wat met dagga eksperimenteer, daaraan verslaaf raak.

Die gebruik van kannabis in adolessensie verhoog die kans op psigotiese siekte van hierdie onvolwasse en ontwikkelende groep geweldig. Blootstelling aan fitokannabinoïde (kannabinoïde afkomstig van die kannabisplant) gedurende hierdie kwesbare periode ontwrig die proses van breinontwikkeling en affekteer aspekte van geheue, konsentrasie, en intelligensie. Ons psigiatriese hospitale se sale loop oor as gevolg van dwelmgeïnduseerde psigotiese toestande. Dit is ook bekend dat kannabisgebruik gedurende die adolessente periode aanleiding kan gee tot tot blywende kognitiewe agteruitgang, selfs ná volhoubare onthouding. Ons moet ons kinders koester – ouers moet die model wees.

In ’n onlangse oorsigartikel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word die gevolgtrekking gemaak dat kannabis bydra tot die ontwikkeling van skisofrenie in adolessente. Daar is tans onvoldoende inligting beskikbaar om die langtermyngevolge te bepaal van die wettiging van die gebruik van kannabis onder bepaalde omstandighede. Dit is te veel gevra dat die onvoldoende-opgeleide polisiebeamptes op ’n toneel moet besluit of die besit van dagga aanvaarbaar is en of misdaad betrokke is. Bestaan die nodige oordeel vir korrekte wetstoepassing, ondersteunende gesondheidsorg, beskerming van minderjariges, asook maatskaplike en beradingsdienste? Die beskikbare bewyse ondersteun nie die sterk publieke mening en anekdotiese verslae ten gunste van die medisinale gebruik van kannabis nie, benewens miskien die voordelige invloed op kroniese pyn, spastisiteit van veelvuldige sklerose en gewigsverlies wat geassosieer is met MIV. Daar bestaan veiliger geregistreerde medikamente vir die behandeling van laasgenoemde toestande.

Daar is egter oortuigende bewyse van die newe-effekte van kannabis, soos verwardheid, duiseligheid, diarree, euforie, uitputting en hallusinasies. Enige potensiële voordele van kannabis moet opgeweeg word teen die risiko van verslawing, psigose, kognitiewe agteruitgang en ’n 2,6 keer groter moontlikheid van motorvoertuigongelukke. Geneeshere is bekommerd oor die ontluikende bewyse dat kannabisgebruik die risiko van akute miokardiale infarksie sowel as beroertes kan verhoog. Die Medieseberoepsraad se aanbeveling is dat die gebruik van kannabis vir medisinale gebruik op grondige wetenskaplike getuienis moet berus en beperk moet word tot geregistreerde geneeskundiges vir individue waar daar aanvaarbare regverdiging beskikbaar is.

Die besluit van die Konstitusionele Hof om ons reg op “vryheid” te respekteer gaan lelik boemerang. Vryheid gaan altyd saam met verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid. In ’n samelewing soos ons s’n wat reeds gekenmerk word deur omvangryke misdaad (wat dwelmmisbruik insluit), asook uitermatige geweldsvlakke teen kwesbare minderjariges, heers tereg ernstige kommer oor die toepassing van die nuwe uitspraak. Ons sit reeds met ’n hele geslag op die Kaapse Vlakte wat met tik vernietig is. Dit skep ’n vrugbare teelaarde vir gewetenlose georganiseerde misdadigers om dwelmverslawing aan te vuur. Daar is wêreldwyd kommer oor die destruktiewe gevolge van kannabis. ’n Internasionale studie skat dat twee miljoen jare van lewe met ongeskiktheid toegeskryf kan word aan kannabisgebruik.

Die vraag is: Kan ons dit bekostig om binne die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing saam te stem met die juigbrigade van tradisionele geneeshere, Rastafariërs en ander voorstanders van die wettige gebruik van kannabis? Enige verandering in die wetgewing wat die gebruik van kannabis reguleer, moet onderneem word in konsultasie met al die verbandhoudende belanghebbendes; dit moet berus op geldige wetenskaplike bewyse en ook in aanmerking neem die beskikbaarheid en toeganklikheid van die bestaande middelverslawingbehandelingsfasiliteite in Suid Afrika.

Ons gaan nog lang trane huil oor hierdie ondeurdagte besluit.

DP van Velden
MB, ChB, MPraxMed, MPhil (Joernalistiek)

  • 18

Kommentaar

  • Die gebruik van dagga (kannabis) vir medisinale doeleindes moet wetenskaplik teenoor die potensiële mediese en maatskaplike risiko’s opgeweeg word.

    Die artikel fokus op die moontlike mediese probleme wat daar met dagga gebruik kan gaan en ignoreer in totaal die finansiële, maatskaplike en geregtelike effekte van `n dagga-verbod. Jy kan nie ’n komplekse saak slegs uit een oogpunt aanspreek nie.

  • As a retired mental health care practitioner with 27 years of experience, this fills me with dread and a feeling of impending disaster.
    In our practice we dealt on the daily basis with what the toxic mixture of mental illness and cannabis leads to! It did not end up good for the patient but especially for the family who had to live with the end results.

  • Dankie vir hierdie artikel. My gesin en my lewe is verwoes deur hierdie "onskadelike" dwelm. My man en seun ly nou albei aan skisofrenie. Ek is so onsteld oor hierdie oningeligte besluit van die regering. Glo my, ek het die donker kant gesien en mens wil nie dat 'n geliefde soontoe gaan nie.

  • Eensydige artikel wat net op een kant van die muntstuk fokus. Jammer vir die wie se familie negatief beïnvloed is deur die gebruik van dagga, maar dit het net 'n onderliggende probleem uitgewys, dis definitief nie die plant se skuld nie. Ek ken persoonlik maklik 'n honderd mense wie almal rook en almal suksesvolle volwasse mense is met niks van die kwale nie.

  • Ek stem saam met alles wat Van Velden sê, maar my vraag is waar was die medici toe die saak aangehoor is? Daar is nou feitlik niks aan te doen nie. Dit is nie asof die kwessie skielik opgeduik het nie. Sedert regter Davis se agteroorleun om dagga te wettig (hy het vanaf die regsbank ingegryp om 'n verlore saak te red), is dit nou al jare aan die gang.
    Gerhard sê:
    "Die artikel fokus op die moontlike mediese probleme wat daar met daggagebruik kan gaan en ignoreer in totaal die finansiële, maatskaplike en geregtelike effekte van ’n dagga-verbod. Jy kan nie ’n komplekse saak slegs uit een oogpunt aanspreek nie."
    Op watter wyse kan gif se finansiële, geregtelike en maatskaplike effekte ooit sterker weeg as Van Velden se betoog?

  • Prof WJ du Plooy

    By ’n groot tersiêre hospitaal het n baba van twee dae positief getoets vir kannabis (dmv passiewe oordrag borsvoeding of sekondêre rook). Die groot nadeel is dat cannabis baie vetoplosbaar is en dring die ontwikkelende breinselle in met al die die gevolge.

  • Ag julle almal is oningelig. Jul is seker dieselfde tipe mense wat sal stry dat alkohol beter is vir mens as kannabis. Gaan doen jul eie navorsing en hou op glo wat in groot media se opskrifte staan. Die plant is al vir 1000'e jare gebruik vir verskeie mediese redes.

  • Die gebruik van dagga in skole gaan bitter baie probleme veroorsaak soos dit reeds gebeur en dit sal net erger raak want nou sal daar nie meer daarteen opgetree kan word nie.

  • Dawie,
    Die onlangse verandering in wetgewing het my aangespoor om navorsing te doen en sodoende hopelik die dagga kwessie beter te verstaan. Alhoewel ek nog nie veel nader is aan 'n opinie nie is dit wel duidelik dat die kwessie heelwat komponente het wat oorweeg moet word.
    Dawie,
    Die onlangse verandering in wetgewing het my aangespoor om navorsing te doen en sodoende hopelik die daggakwessie beter te verstaan. Alhoewel ek nog nie veel nader is aan 'n opinie nie is dit wel duidelik dat die kwessie heelwat komponente het wat oorweeg moet word.
    Ongelukkig moet ek jou meedeel dat die eensydigheid van jou artikel die indruk skep (moontlik verkeerdelik) dat die teenstand teen die nuwe wetgewing nie al die feite oorweeg nie en eerder ten doel het om 'n bestaande bestek ten alle koste te verdedig. Gegewe jou agtergrond en ervaring dink ek jy kon 'n baie groter bydrae gelewer het tot 'n meer deurdagte en objektiewe gesprek en my hoop is dat jy dit dalk nog steeds sal aanpak?
    Dis duidelik dat daar moontlike newe-effekte is tot die gebruik van dagga en dan ook meer so tydens sekere fases van ontwikkeling. Die vraag is hoeveel verskil dit van voorskrifmedisyne. Daar blyk heelwat goeie navorsing te wees dat dagga se impak, afhanklikheid en nadele in sommige gevalle minder is as die van aanvaarbare voorskrifmedisyne. Dit blyk ook dat ander hoogs gevorderde lande soos België, Australië, Amerika, Kanada, Denemarke, Finland, Duitsland, ens op grond van goeie navorsing ook in die proses is of reeds klaar dieselfde wetsverandering in plek gestel het? Indien dit korrek is is jou " juigbrigade van tradisionele geneeshere, Rastafariërs" beskrywing grootliks misleidend.
    Ons weet verder dat die koste van mediese behandeling dramaties verhoog elke jaar. Suid-Afrika se jaarlikse besteding aan medisyne is na raming R50 bil en +-87% van die bedrag word bestee deur 8,8 mil pasiënte met mediese versekering. Dit laat my wonder tot watter mate die nuwe dagga wetgewing groot pharma-maatskappye finansieel gaan beïnvloed.
    Wat gaan die effek wees op die mediese bedryf wanneer pasiënte hulself eers begin behandel vir sekere siektetoestande met 'n natuurlike produk wat vrylik tot hulle beskikking is voor hulle 'n geneesheer besoek?
    Objektiewe advies om eerder te onderrig hoe om moontlik dagga korrek aan te wend self in moontlike samewerking met jou geneesheer sal waardevol wees.

    Ongelukkig moet ek jou meedeel dat die eensydigheid van jou artikel die indruk skep (moontlik verkeerdelik) dat die teenstand teen die nuwe wetgewing nie al die feite oorweeg nie en eerder ten doel het om 'n bestaande bestek ten alle koste te verdedig. Gegewe jou agtergrond en ervaring dink ek jy kon 'n baie groter bydrae gelewer het tot 'n meer deurdagte en objektiewe gesprek en my hoop is dat jy dit dalk nogsteeds sal aanpak?

    Dis duidelik dat daar moontlike newe-effekte is tot die gebruik van dagga en dan ook meer so tydens sekere fases van ontwikkeling. Die vraag is hoeveel verskil dit van voorskrif medisyne. Daar blyk heelwat goeie navorsing te wees dat dagga se impak, afhanklikheid en nadele in sommige gevalle minder is as die van aanvaarbare voorskrif medisyne. Dit blyk ook dat ander hoogs gevorderde lande soos Belgie, Australia, Amerika, Kanada, Denmark, Finland, Duitsland, ens. op grond van goeie navorsing ook in die proses is of reeds klaar dieselfde wetsverandering in plek gestel het? Indien dit korrek is is jou " juigbrigade van tradisionele geneeshere, Rastafariërs" beskrywing grootliks misleidend.

    Ons weet verder dat die koste van mediese behandeling dramaties verhoog elke jaar. Suid Afrika se jaarlikse besteding aan medisyne is na raming R50 bil en +-87% van die bedrag word bestee deur 8,8 mil pasiente met mediese versekering. Dit laat my wonder tot watter mate die nuwe dagga wetgewing groot pharma maatskappye finasieel gaan beinvloed.
    Wat gaan die effek wees op die mediese bedryf wanneer pasiente hulle self eers begin behandel vir sekere siekte toestande met 'n natuurlike produk wat vrylik tot hulle beskiking is voor hulle 'n geneesheer besoek?

    Objektiewe advies om eerder te onderrig hoe om moontlik dagga korrek aan te wend self in moontlike samewerking met jou geneesheer sal waardevol wees.

  • Dit is juis die swakkeres in die gemeenskap wat weerloos staan teen al die aanslae, so reg van duiwel uit die hel! As cannabis dan so 'n groot bydrae tot die mediese behandeling van sekere toestande kan bring, hoekom word agterplaasbedrywe dan gewettig en nie getoetste medikasie nie? My hart bloei vir mense soos Lina.

  • prof du Plooy

    Om pedanties te wees: Om te Google of op te lees is nie navorsing nie.

    Ons werk en sien die pasiente: Die "oningeligtes" sal beter verstaan as hulle die skade aan pasiente sien.

    Die feit dat iets 1000e jare gebruik is beteken nie dit is reg of goed nie.
    Veelwyfery was ook 1000e jare gebruik!

    Vir die onigeligtes ons doen al lankal sinvolle wetenskaplike navorsing met kannabis.

    Lekker rook.

  • Ek stem 100% met jou saam. My man is reeds as skisofreen gediagnoseer - sonder dat hy ooit dagga gerook het. My jongste dogter en haar lewensmaat rook dit beide. Hulle het my enigste kleinkind en ek vrees dat hy dit dalk ook sal begin rook.Al my vermanings en waarskuwings het niks gehelp nie.

  • Ek lei aan lewenslange, onomkeerbare komplikasies van 'n endoskopiese torakale simpatektomie, waarvan ek nie ingelig is voor die operasie deur die sjirurg nie. Die uitval van die hele insident was enorm en dit het my lewe en kwaliteit van lewe onherroeplik verander. Geen behandeling (of simpatie) is beskikbaar en THC is die enigste ding wat my laat beter voel en dit moontlik maak om my PhD te voltooi met 'n mate van gemak. Niemand sal dit van my wegneem nie - ek verdien ook om die lewe te geniet.

  • Waarom die skrywer als uitmekaar trek as die opskrif dit duidelik maak dat die artikel geskryf is uit 'n mediese oogpunt. Dit word wel deeglik uit 'n mediese oogpunt deur 'n artikel gepubliseer deur die Mayo kliniek onder https://www.mayoclinic.org/drugs-supplements-marijuana/art-20364974.
    Alle verslawing begin klein en nie alle mense beskik oor die nodige wilskrag om verslawing in watter vorm ook al te verbreek nie. 'n Mens sou dink dat dit redelik maklik sou wees om bv op te hou rook.
    Uit ondervinding weet ek dat dit nie so maklik is is nie en dat strawwe rokers ook ly aan dit wat bekend staan as “prospective memory loss”, dit wil sê dat jy geneig is om te vergeet van dinge wat jy nog wil doen in die kort termyn ... sê 'n dag.
    Was natuurlik altyd 'n handige verskoning.
    As jy dus dagga begin gebruik vir watter doel ook al, maak dan seker dat jy oor die nodige wilskrag besit om op te hou wanneer jy besef dat jy besig is om verslaaf te word. Gewoonlik dink ek is dit te laat en het dit 'n hewige stryd gekos om myself van nikotienverslawing te bevry, maar dat my longe beslis 'n knou gekry het ,het selfs my geneesheer bevind.
    Dit is nou amper 25 jaar maar nog steeds as ek die reuk van skoon suiwer tabak kry, is die versoeking nog steeds daar, want 'n sigaret en 'n yskoue bier het altyd goed afgegaan na strawwe oefening.

  • Dankie vir jou skrywe.
    Dagga rook onder tieners in openbaar is skokkend. Hul rook in hul skooluniforms op straat en slinger rond onbewus van wat om hul aangaan. Dagga rook is 'n dwelm wat vele lewens verwoes, ek weet ek ken sulke gevalle, meeste jongmense begin met dagga en gaan dan oor na harde lewensverwoestende dwelms.
    Dagga-olie is 'n ander saak en kan help met vele onbehandelbare siektes bv kanker en vele meer.
    Nes alkohol verwoes daggarokery lewens daagliks.
    Om alle dagga wettig te maak was ondeurdag.

  • Hanno Niem, ek is baie bly dat die gebruik van Canabis vir jou verligting gebring het.Dis nou, as ek al jou groot woorde reg verstaan het. Dit verander steeds weinig aan die onomkeerbare skade aan my gesin. Sterkte met jou verdere studies.

  • Meer navorsing is nodig oor die geneeskundige gebruik van dagga, maar dit is beslis nie 'n middel vir rekreasie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top