Die DA se demografie binne sy leierskapstrukture

  • 1

Is dit veilig en regverdig om te vra hoekom invloedryke posisies in die DA vir wittes en die seremoniële posisies sonder invloed vir gekleurdes gereserveer word?

Dié vraag is relevant na die verkiesing van Ivan Meyer as die eerste bruin Wes-Kaapse DA-leier verlede maand. Asook die nominasies vir die nasionale posisies binne die DA wat einde vandeesmaand op dié party se federale kongres verkies gaan word.

Ironies genoeg is Theuns Botha, wat vir Meyer plek gemaak het as leier, tot die nuwe posisie van onderleier verkies. Om dié stap moontlik te maak is die Wes-Kaapse DA-grondwet gewysig en sodoende is Botha se toekoms in ’n magsposisie verseker.

Hoekom word ’n pos as onderleier vir die Wes-Kaapse DA geskep terwyl ander posisies, soos voorsitter (wat nog steeds deur ’n wit persoon beklee word), en drie ondervoorsitters bestaan? Hoekom was ’n onderleier nie nodig toe Botha die leier was nie?

Dié vrae kon nooit reguit deur ’n Wes-Kaapse DA-woordvoerder beantwoord word nie; net dat die uitvoerende komitee vir operasionele doeleindes vergroot is.

Botha se verkiesing tot onderleier lyk vir my te veel na ’n gekonkel deur die wit magsblok in die DA om die mag met Meyer te deel. Sodoende sal Botha aanhoudend oor Meyer se skouer loer. Dit terwyl die drie ondervoorsitters net seremoniële posisies sonder mag is.

Dit is ’n absolute skande, veral gegewe die feit dat die meeste Wes-Kapenaars bruin is en dat die DA hul bewind in dié provinsie aan bruines te danke het.

Op nasionale vlak word die dominasie van wittes voortgesit; dit terwyl die meerderheid mense wat vir die DA in die laaste verkiesing gestem het niewit is.

Al die magsposisies op nasionale vlak, soos leier, voorsitter van die federale raad, voorsitter van die finansiële komitee en voorsitter van die regskommissie, word tans en sal na die kongres nog steeds deur wittes beklee word.

Gekleurdes soos Wilmot James beklee as nasionale voorsitter ’n oninvloedryke en seremoniële posisie. Volgens die DA se federale grondwet is die nasionale voorsitter slegs die voorsitter van die federale kongres wat elke tweede jaar vergader. Ironies genoeg gaan James teengestaan word deur die (swart) DA-LP Masizole Mnqasela, wat veral krities staan teenoor die DA-leier Helen Zille.

Alhoewel die DA volgens sy federale grondwet op ’n federale grondslag organisatories funksioneer, is die leierskap van die DA in Zille en (die wit) James Selfe, voorsitter van die federale raad, gesetel.

Selfe is die DA se nommer twee en het magte soortgelyk aan dié van die ANC se sekretaris-generaal. Hy behartig ook die daaglikse bestuur van die DA.

Alhoewel Lindiwe Mazibuko die parlementêre DA-leier is, is ongeveer 90% van haar skaduministers in die koukus wit. Hoekom die DA iemand soos die voormalige joernalis Dianne Kohler Barnard bo die oudpolisieman en regsgeleerde Lennit Max as skaduminister van polisie aangestel het, gaan my verstand te bowe.

Ek wonder altyd wanneer die DA gaan wakker skrik en besef om ’n ware nierassige party te word, moet die party die demografie van die land binne sy leierskapstrukture reflekteer.

  • 1

Kommentaar

  • Ou

    Dit lyk vir my jy het ’n “tjip” op jou skouer.  In omtrent al jou skrywes gaan dit oor hoe bruin mense kamtig deur blankes te na gekom word.  Die beste persoon vir die posisie behoort die leuse te wees, nie wat ’n persoon se velkleur is nie. 

    Dit wil vir my voorkom  jy gaan nie tevrede wees tensy die bruinman, of te wel kleurling,  die DA volkome beheer nie, en dit slegs op velkleur. Wel jy is in vir ’n surprise my “Tjaaina”  Die DA gaan mettertyd deur swartes, en nie bruin of blankes beheer word, en dit is die DA se uiteindelike doelstelling. So om hulle as rassisties uit te kryt maak jy net ’n gat van jou naam.

    Jou uitinge verskil weinig van die blanke Afrikaner-gekkegrens.  Meet die twee op met mekaar is die sieninge eenders, altwee is ras gedrewe. Help eerder om ’n gemene veelrassige Afrikanervolk daar te stel, dan doen jy iets tot stigting.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top