Die Charter of Compassion 12 jaar later

  • 4

Bettina Wyngaard

..........
Ons lees van ’n student wat op ’n ander student se besittings urineer. By dieselfde universiteit word ’n student in die koshuiskamer van ’n ander student verkrag. ’n Akademikus en politieke kommentator word in die openbaar trompop geloop en gevloek.
..........

20 Mei 2010 is die Suid-Afrikaanse Charter of Compassion deur wyle aartsbiskop Desmond Tutu bekendgestel. Die Dalai Lama sou saam met hom die bekendstelling behartig het, en saam sou hulle die eerste ondertekenaars in die land wees.

Die Dalai Lama se visum is geweier deur die regering, die eerste teken van hoe broodnodig barmhartigheid in ons land is. Die Arch was sigbaar ontsteld daai koue aand in Kaapstad, alhoewel die regering se besluit nie ’n verrassing kon gewees het nie. Daar was nie een enkele politieke figuur teenwoordig om die Charter te onderskrywe nie. Die gehoor, wat ook die eerste Suid-Afrikaanse ondertekenaars sou wees, het bestaan uit geloofsleiers en gewone mense.

Ek wens ek kan sê dat dit my verbaas het, maar dan sou ek moes lieg. Etiese oorwegings was nog nooit hoog op die prioriteitslys vir ons leiers nie. Boonop het die Arch se kritiek van die regering hom melaats gemaak in die oë van die politieke swaargewigte.

Ek weet nie of enige van ons politici sedertdien die Charter onderteken het nie. Ek glo nie. Hulle sou seker gemaak hat dat dit op die voorblad van elke koerant is vir maksimum politieke kapitaal.

Nou is dit twaalf jaar later. Die Arch is nie meer met ons nie. Ons lees van ’n student wat op ’n ander student se besittings urineer. By dieselfde universiteit word ’n student in die koshuiskamer van ’n ander student verkrag. ’n Akademikus en politieke kommentator word in die openbaar trompop geloop en gevloek.

In die res van die wêreld gaan dit nie beter nie. Die oorlogsvergrype in Oekraïne word daagliks erger. In die VSA stem die opposisieparty teen hulpverlening net omdat hulle nie wil sien hoedat die regerende party enigiets regkry nie. Hulle stem daarteen dat hulp verleen word om aan hul eie burgers babaformule te verskaf, terwyl hulle terselfdertyd hul bes probeer om vroue in ongewenste swangerskappe in te dwing. ’n Jongman gaan met ’n aanvalsgeweer ’n koswinkel binne en maai elf mense af.

In feitlik al hierdie voorbeelde is die aggressors wit mans. Die verkragter se identiteit is nie openbaar gemaak nie, maar in elkeen van die ander gevalle is die aggressors wit mans. En in elkeen van die gevalle is daar onmiddellik ’n falanks van meesal wit vroue wat gereed staan om hulle gedrag te probeer regverdig.

Is daar ’n deernisgebrek onder wit mans, een wat gevoed word deurdat hulle beskerm word teen die gevolge van hul dade?

Die kommentaar op sosiale media sal die indruk laat dat die deernistekort selfs groter is as wat ons vermoed.

..........
Maar terselfdertyd is daar beweging vanaf gewone mense om mekaar te help. Gewone mense neem standpunt in teen vergrype. Gewone mense ruk op in hul massas om protes aan te teken teen onregverdigheid.
..........

Maar terselfdertyd is daar beweging vanaf gewone mense om mekaar te help. Gewone mense neem standpunt in teen vergrype. Gewone mense ruk op in hul massas om protes aan te teken teen onregverdigheid.

Dit bring die weegskaal effens terug na die ander kant.

Die politici laat ek eers buite rekening, want anders is die deernistekort ’n afgrond in plaas van die klein skeur wat ons nou sien. Van ’n opposisieleier wat Oekraïne gaan besoek maar nie die moeite kan doen om in die provinsie waar sy party regeer, geweldgeteisterde gebiede te besoek nie, tot ’n minister wat miljoene aan ’n vlagpaal wil bestee terwyl mense vir wie sy portefeulje verantwoordelik is, omkom van die honger, is die gebrek aan deernis skreiend. Laat eerder die gesondheidsminister wat tydens ’n pandemie sy eie departement besteel buite rekening.

Op voetsoolvlak is die vergrypers hierdie week wit, maar op nasionale vlak? Meesal swart. Maar in albei gevalle steeds oorweldigend mans. Kleur is skynbaar minder belangrik as geslag waar deernistekorte ter sprake is.

Dalk het die tyd aangebreek dat vroue moet regeer. In elke land waar vroue aan bewind is, van Afrika tot Europa, word gesinne sentraal geplaas. Daar word omgegee vir kinders, daar word beleid ontwikkel wat die ekonomie beskerm, wat gesondheidsdienste prioritiseer en wat veiligheid sentraal stel.

Maar laat ons begin deur van elke voornemende politikus te verwag om hul omarming van die Charter of Compassion uit te leef.

  • 4

Kommentaar

  • Watter vroue in Suid-Afrika inspireer ons nog, wie is jonk genoeg om te lei?

    Beslis nie een vrou in die regering nie.

  • Barend van der Merwe

    Dit is goed dat daar aangedring word op gelyke regte vir mans en vroue. Dit is gewoon omdat vroue en en mans gelyk behandel behoort te word. Die idee dat vroue beter sal regeer as mans is egter 'n illusie. Of 'n vrou beter sal regeer as 'n man hang van die spesifieke persoon af, nie van hulle gender nie.

    Dis baie soos die klomp wette wat ons skryf in Suid-Afrika. Met elke dooie wet kan ons mos terugsit en sê daar was geen kostebepaling gedoen nie. So kan ons ook die leierskap se gender verander, dit sal nie noodwendig ons situasie verbeter nie, maar uiteindelik sal ons darem die sisteem self kan blameer, waaraan niks verander word nie.

    Maar kom ons wag en kyk. Minister Dlamini-Zuma het amper die president geworre en Lindiwe Sisulu blyk nogal ook baie gewild te wees om oor te neem. So daar is die moontlike vooruitsig...

    U noem in u artikel van al die vroulike leiers in Afrika, en hulle uitmuntende regerings. Ek sou graag voorbeelde daarvan wou sien. Daar was wel so klompie vroue wat presidente was in Afrika. Die bekendste is sekerlik Ellen Johnson Sirleaf van Liberië, teen wie ook maar heelwat kritiek bestaan het weens die korrupte regering daar. Daar was ander ook. Mauritius het 'n vrou as president gehad van 2015 tot 2018, wat bedank het tydens 'n finansiële skandaal. Daar is lande waar politici nog bedank weens skandale, anders as hier. Ethiopië het ook 'n vrou as president, maar hulle president is 'n nie-uitvoerende president, en is dus nie die regeringshoof nie. Malawië se Joyce Banda was skynbaar 'n relatiewe goeie president, maar ook nie juis uitstaande nie. Daar was nog so klompie tussentydse vroulike presidente, wat te kort regeer het om juis 'n impak te kon maak.

  • Ai Bettina, jy sê dat al die aggressors in die voorbeelde feitlik wit mans is. Onthou tog asseblief, dis JOU voorbeelde en JOU 'studie-gevalle'. Glad nie op ware, feitelike statistiek gebaseer nie. Moenie nog olie op die vuur gooi deur wit mans te "label" as aggressors nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top