Die Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman

  • 3

Die Burger 100: Sy mense en hul stories
Bun Booyens en Aldi Schoeman
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427963

Danksy die honderde duisende koerante wat die afgelope eeu ses dae per week uitgegee is, is Die Burger vandag ’n huishoudelike naam.

Die boek diep van die merkwaardigste gebeure, groot en klein, op wat sy joernaliste beleef het – van die Groot Griep en die twee wêreldoorloë tot Chris Barnard se eerste hartoorplanting en Nelson Mandela se afsterwe in 2013. 

Skandes en skandale, natuurrampe, persoonlikhede in die nuus, belangrike sportmomente – die boek is nie net ’n belangrike optekening nie, maar het ook groot nostalgiewaarde. Die “onthou jy nog?”-faktor word versterk deur hope foto’s én spotprente. Enkele hoogtepunte:

  • Lindie Koorts skryf oor DF Malan, eerste redakteur
  • Dana Snyman ondersoek die oorsprong van DJ Opperman se bekende gedig, Klara Majola – ’n Burger-berig in 1950
  • Johann Maarman deel sy indrukke van Jakes Gerwel
  • Leopold Scholtz beskryf die val van die Berlynse Muur
  • Francois Verster vertel van Die Burger se spotprent-tekenaars – DC Boonzaaier, TO Honiball en Fred Mouton
  • Bun Booyens was in Kazakstan vir Mark Shuttleworth se reis as eerste ruimtetoeris in 2002

Bun Booyens was redakteur van Die Burger van 2010 tot 2016. Hy was onder meer die stigtersredakteur van die reistydskrif Weg! en ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement. 

Aldi Schoeman het haar loopbaan in 2007 by Beeld begin en daarná vir sewe jaar by Die Burger gewerk, waar sy onder meer nuusredakteur was. Sy is tans ’n joernalis by Rapport

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    francois verster

    Ek is seker ietwat bevooroordeeld, maar dis werklik 'n lieflike boek - visueel gesproke en wat die teksinhoud betref. Jonathan Ball verdien applous daarvoor.

  • Bun, as ’n ywerige leser laat ek nie ’n lekker boek verbygaan nie. Alhoewel, voor ek dit self kon koop gee goeie familie dit vir my as ’n verjaarsdaggeskenk.
    Wat ‘n lekker lees was dit nou net nie! Dit het my van die geskiedenis tot my eie jeugjare tot my volwasse lewe op ‘n aangename rit geneem.
    Oom Bun sal baie trots op jou gewees het. Aldi verdien ook lof.
    Ek reken egter daar kon gerus darem iets te sê gewees het oor die mense wat op die agtergrond gefigureer het. Mense, soos bv die setters, die sirkulasie-mense, afleweraars, verspreiders van die gedrukte koerant, koerantverkopers [joggies], skoolkinders wat aflewerwerk gedoen het. Les bes die manne soos ek wat ‘n lekker sakgeldjie kon verdien deur die Byvoegsel op Vrydagaande/nag in die hoof- Burger in te voeg. Behalwe daarvoor - 99%. Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top