Die brug op kykNET: ’n onderhoud met die regisseur

  • 2

https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-brug/seisoen/1/amptelike-voorskou-die-brug/video

Daar is baie realiteitsreekse op die TV. Wat op aarde is Die brug? Die regisseur van hierdie realiteitsreeks praat met Naomi Meyer oor die reeks, wat nou reeds volstoom aan die gang is.

Hallo! Jy is die regisseur van Die brug. Waar kom hierdie konsep van ’n realiteitsprogram vandaan? Wat is hierdie program?

Ek is Frederick Louw, reeksregisseur vir die program.

Die brug is ’n internasionale-formaat-program wat vir die eerste keer in Spanje vervaardig is. 

Die brug lyk dalk soos ’n werklikheids-TV-program oor ’n groep vreemdelinge wat ’n brug na ’n eiland bou met R1 miljoen op. Maar dit is eintlik ’n storie van vertroue.

Aan die einde, as hulle suksesvol is, sal die vreemdelinge vir net een van hulle stem om die brug oor te steek om die prys te gaan haal. Daardie persoon alleen sal besluit hoe om die R1 miljoen te deel.

Dit is nie ’n wedloop om ’n brug te voltooi nie; dit is ’n wedloop om vertroue te verdien.

Op die ou end, wie stuur hulle oor die brug? Iemand wat hulle kan vertrou? Of iemand wat hulle kan vertrou om die regte besluit te neem?

 

 

Watter mense het ingeskryf vir die reeks en hoe het julle bepaal wie sou deelneem? Ek sal nie hierdie onderhoud voor die eerste episode kan plaas nie, so dalk kan julle iets laat weet van elkeen van die deelnemers en dan kan ek die inligting plaas sodat die kykers weet wie hulle kan dophou in die komende paar weke.

Mense het ingeskry vir ’n "groot avontuur" waar hulle ’n miljoen rand kan wen. Hulle het geen idee gehad hulle skryf in vir Die brug nie; dit het hulle eers uitgevind op die tweede oggend van hulle "groot avontuur". Ons rolverdelingspan het gesoek vir doodnormale mense, soos ek en jy, wat elkeen hulle eie persoonlike metaforiese brug na iewers wou oorsteek. 

Om ’n brug te bou beteken daar moes ’n hindernis wees om te oorkom. Moes al die deelnemers kon swem? Moes almal ook vanuit verskillende omstandighede brûe kon bou na mekaar toe?

Lieflike vraag! Ja almal moes kon swem, vir veiligheidsredes. Larry en Avril het byvoorbeeld leer swem net om op die program te kan wees. En ja, die groep spelers was baie divers en vanuit elke hoekie in die land. Hulle het definitief baie brûe tussen mekaar gebou, en later gebreek, en toe weer gebou ... Die gekonkel tussen hulle was onophoudelik!

Foto van Frederick Louw: Instagram

Hoekom sal ’n program soos hierdie Suid-Afrikaners se verbeelding aangryp?

Anders as realiteitsformate soos Survivor is Die brug 100% onvoorspelbaar. Die spelers en die kykers weet nooit wat volgende kan (en sal) gebeur nie. Die karakters op Die brug, die spelers, is ook ongelooflike mense met boeiende persoonlike stories. Hoe die ervaring hulle gaan toets, gaan kykers op die rand van hulle stoele hou. 

Wat is op die spel? Wat kan deelnemers wen?

Op die eiland in die middel van die meer wag daar ’n skatkis met R1 miljoen. As die spelers die brug betyds klaar bou, gaan hulle stem vir een van hulle om oor te loop om die skat te gaan haal. Net daardie persoon gaan besluit of hy of sy die geld wál deel, en hoe.  

  • Die brug word op Donderdae-aande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai
  • 2

Kommentaar

  • Doreen Solomons

    Diee Brug is 'n fenomenale kopkrapreeks. Wie ooit aan hier konsep gedink het, was uniek, verbeeldingryk en toets mense se vertroue en skok tot die uiterste.
    Dit is uiters slim sette, onvoorspelbaar en skok jou uit jou geloof. Slim... baie slim. Ek sien uit na Donderdagaande op kykNet.

  • Groot aanhanger gewees van die brug. Selfsugtig van Rob om nie te deel nie. Almal het hard gewerk, insluitend Iana, Tina en Melanie. Hy kon hulle net bv elkeen R20 000 gegee het. Om in 'n vooraanstaande buurt te bly, is klaar 'n voorreg. Ek kon nie wag vir die volgende program nie. Einde? Wat n teleurstelling. Ja, hy het gewen maar nie op sy eie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top