Die braambos bly brand: Nieteoloë se perspektiewe op Bybelverse – Pieter Malan en Chris Jones (reds): ’n lesersindruk

  • 0

Die braambos bly brand: Nieteoloë se perspektiewe op Bybelverse
Samestellers: Pieter Malan & Chris Jones
Naledi, 2018
ISBN: 9781928426295

Die braambos bly brand is ’n boek wat ek maklik in vier woorde sal kan opsom: Dis my tipe boek. Baie Suid-Afrikaners het grootgeword met die Bybel. Ons wil graag begrippe soos god en die Bybel assosieer met regverdigheid, eerbaarheid, sinvolheid, en alles wat edel is. Maar alles was nie altyd kosjer met betrekking tot die Bybel nie. Trouens, as mens die Bybel se spoor deur die eeue volg, dan kom jy by ongemaklike plekke uit. Plekke waar die kerk geweier het om die Bybel in enige ander taal as Latyn toe te laat. Waar die kerk ’n monopolie op die interpretasie van die Bybel probeer handhaaf het – laasgenoemde loop hand aan hand met die monopolie van Latyn. Plekke waar die Bybel misbruik was as ’n wapen van onderdrukking.

Die wêreld wat ons voorafgegaan het, is vandag haas ondenkbaar.

Vir diegene wat niks van godsdiens af weet nie: Die braambos is die bos waarin die Judese oppergod aan die antieke Israeliete se leier Moses verskyn het. Moses was die Israeliete se groot “dominee” en leier in die Bybel. Of Moses werklik bestaan het of nie, is ’n vraag waarmee argeoloë hulleself besig hou, maar Moses word allerweë as ’n grootse nasiebouer en godsman in herinnering geroep, nie net deur Israeliete nie, maar sommer deur baie soorte mense wat godsienstig is. In die jare van Moses, voordat die Bybel nog die Bybel geword het, het fragmente van die Bybel reeds in antieke Judea ontstaan. Dit is veral op diervelle geskryf in ’n vorm van Oerhebreeus. En later het die Bybel ontstaan en is dit vir eeue deur die kerk gebruik. Voordat die Hervormers die Katolieke se gesag so uitgedaag het, was daar eintlik maar net een Christelike kerk. Vandag is daar egter duisende denominasies, want nou kan elkeen die Bybel gaan lees, en mense verstaan die Bybel verskillend. Die Bybel is dus ’n boek met tonne bagasie. Valse doktrines is bo-op die Bybel geformuleer, wat onherstelbare skade aangerig het aan die mensdom en die mens se nugtere interpretasie van dié boek verwoes het. Dit duur selfs vandag nog voort.

Maar al hoe meer mense skud die Bybel vandag sommer tjoef-tjaf af. So kry die Bybel sommer nuwe lewe. In Die braambos bly brand is daar ’n indrukwekkende versameling van mense wat elkeen ’n beurt kry om ’n essay aan te bied, met ’n Bybelvers as vertrekpunt. Daar is onder meer bekende figure soos Dawie Roodt, Pik Botha, Koos Kombuis, Flip Buys, Dana Snyman en Piet Croucamp, om maar enkeles te noem. En die onderwerpe is so divers as wat die skrywers is. Daar is te veel om oor hierdie boek te sê. ʼn Mens sou oor elkeen van die 36 bydraes kommentaar kon lewer. Oor sommige natuurlik heelwat meer as ander, maar elke bydrae verdien eintlik ’n stukkie kommentaar, al is dit nie moontlik nie.

Sommige van die bydraes begin met ’n Bybelvers, maar die stuk handel dan eintlik weinig oor godsdiens. Ander wemel weer van godsdiens. Eintlik is die Bybel maar slegs ’n vertrekpunt vir elke bydrae, kan mens sê. Een van die hoogtepunte in die bundel was vir my Christine Barkhuizen-Le Roux se bydrae getiteld “Sit Paulus, ek luister”. In hierdie stuk word daar meesterlik op die teenstrydighede van die Bybel gewys. Trouens, die Bybel en teologie is so vol teenstrydighede dat god eintlik onversoenbaar is met wat mens dikwels in die Bybel aantref.

Op bl 204 skryf Christi van der Westhuizen: “Afrikaners en kolonialiste elders het hulself as uitverkorenes soortgelyk aan die Israeliete van ouds verklaar om grondgebied vir hulself toe te eien en hulself as verhewe bo gerassifiseerde anderes te verklaar.” Dit is ’n verskriklik wilde stelling om te maak hierdie. Ek wonder watter “Afrikaners” hier na verwys word. Dit is natuurlik so dat daar nog altyd hierdie soort van denke bestaan het onder sekere groepe Afrikaners. Maar dis ’n gruwelike veralgemening om alle “Afrikaners” met hierdie kwas te smeer. Inteendeel. Beleidstukke soos “Ras, volk en nasie”, waarmee die NG Kerk in 1974 rasseskeiding bepleit het, maak geen melding daarvan dat die Afrikaners ’n uitverkore volk is nie. Dit verklaar eintlik die teenoorgestelde. Dit is selfs gevaarlik om te wil argumenteer dat alle Israeliete hulleself as uitverkore gesien het. Trouens, dit illustreer ’n reuse-denkfout wat gedy onder mense, en dit is dat die Bybel as ’n geskiedenisboek van antieke Israel gesien moet word. Ook onder Israeliete bestaan daar uiteenlopende tradisies oor hoe daar gedink word oor god – dit was so oor al die eeue, en dit is vandag nog so.

Op die ergste sal ek bostaande maar as ’n klein jakkalsie afmaak. Want alles in ag genome is Die braambos bly brand ’n verfrissende boek. Willem Landman lewer ’n goeie pleidooi vir genadedood in sy bydrae getitel “Mooi is die lewe, en die dood is mooi”. Die ekonoom Dawie Roodt het dit teen onteiening sonder vergoeding, en daarvoor span hy die tien gebooie in, spesifiek die opdrag “Jy mag nie steel nie”. Nathan Trantraal se “One love” is in sogenaamde Kaapse Afrikaans geskryf – ’n variasie van Afrikaans waarin daar gerus meer gepubliseer kan word. Dana Snyman se “Fragment van ’n reis” is ek baie seker het ek al voorheen in die media gelees. Dit vertel van sy reis na Bloemfontein in die dae na sy verloofde se onverwagse heengaan.

Danksy al hierdie en nog ander uiteenlopende bydraes bly Die braambos bly brand deurgaans ’n boeiende boek. Elke skrywer bring ’n ander perspektief en onderwerp. Ek sal daarvan hou as hierdie boek ook opgevolg sal kan word met ’n tweede volume, want die Bybel kan tog vol nuwe betekenisse wees indien die mens bereid is om dit op nuwe maniere te lees, gestroop van al die eeue se teologiese bagasie. So kan die Bybel, wat ietwat gesterf het op die kansel, dalk weer nuwe betekenis kry op die markplein.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top