Die bloed in my are

  • 3

Foto: Unsplash

My ouma Nicolaas Grobler (gebore Grobler, en getroude van ook Grobler) was sexy. Mag ’n mens dit van ’n voorsaat sê? ’n Fyngeteelde merrie met nerveuse neusvleuels. Op foto’s van vroeg in die vorige eeu is sy rond van oog met ’n wolk donker hare, soel vel en hardkoppige mond. Die foto’s is bruin-en-wit, maar ek weet haar oë was geel en bruin soos tieroog en haar blasserige vel was sag soos seemsleer. Toe ek haar geken het, het sy soos ’n krimpvarkie gelyk: sout-en-peper haar met ’n effense krul, vierkantige handjies, maer arms en bene, ronde lyfie in crimplene. Sy was kort en besig, ’n patroon.

Op foto’s uit haar jeug lyk sy soos Camille Claudel, Rodin se minnares, ’n beeldhouer wat van haar kop af gegaan en die meeste van haar werk vernietig het. ’n Wildheid in die oog, ’n sinisme om die mond, iets kopsku wat kan opskrik.

Haar pa is voor haar geboorte op die slagveld dood en dit was sy wens dat die ongebore kind sy naam sou dra. Vandaar die Nicolaas.

Sy is op 16 getroud met haar neef Hendrik, ’n mooie man. Die Van Oudsthoorn-neefs het blykbaar beplan om hom te vermoor om haar in die hande te kry. Toe was sy al ’n kranige naelloper – haar stiefpa het haar oraloor na byeenkomste geneem, waar sy prysgeld losgehardloop het. Sy was altyd los voor. Sy het my vertel toe sy al ’n paar kinders gehad het, het sy die jong meisies uitgestof en by die wenpaal gestaan en kyk hoe hulle aangehardloop kom.

Hulle het in Ermelo se omgewing geboer. Op ’n familiefoto lyk hulle soos die Romanoffs, maar almal het destyds swierig en welgesteld gelyk op foto’s.

Haar eggenoot en neef Hendrik was baie gesog. Hy was aantrekliker as Clark Gable en het glo geleerdheid gehad, maar miskien was hy ’n outodidak. Hy het Shakespeare en al die klassieke boeke gelees en klavier gespeel. Die boere van die omgewing het kom luister en gesê: “Hindrik, speel vir ons daar die Blou Denoup.”

Hy was dodelik sjarmant en so sterk soos ’n bees. Hy kon ’n gedekte geelhouttafel met sy tande van die vloer oplig. Hy kon vier sakke mielies dra: een oor sy rug, een oor elke skouer en een met sy tande. Hy het op 15 weggeloop oorlog toe en op die slagveld 16 geword. Hy was spyt dat hy nie poeding op sy verjaardag kon eet nie. Op sy bruilof het hy in ’n kryt wat vir die geleentheid opgerig is, om die beurt 12 mans met uitklophoue verslaan.

Hulle het winters Swaziland (nou Eswatini) toe getrek met die skaap. Later het hulle plase daar gehad. My ouma Nicolaas (genoem Niekie) was gou swanger met Hans, ’n seun wat lewenslank effens geknak gelaat is deur sy groter as lewensgrootte-pa. Die kinders was almal óf verskrik óf arrogant. Hulle het op skool uitgeblink in akademie, sport en kultuur. Hulle pa, Hendrik, het vir hulle gesê: “Julle moenie dink julle is beter as ander nie. Julle moet dit weet.” Ek het hom nooit geken nie – hy is dood die jaar toe ek gebore is. Maar ek het sy skaduwee oor almal gesien.

Die tweede seun, Hendrik, het hom deur niks en niemand laat knak nie, maar hy het gedans op ’n wysie wat net hy kon hoor. Hy het altyd ’n natuur aan hom gehad; susters en niggies het glo geweet om voet in die wind te slaan. Hy is getroud met Lida wat amper so lank soos hy was (knap oor die ses voet) en ewe donker, soel van vel met ’n Italiaanse voorkoms. Hulle was gek oor mekaar. Hy het graag in nonsenswoorde gepraat en was altyd uitermate opgewek. Hy het haar Kalf genoem en sou dinge sê soos: “Kalf, jy’s ’n beker.” Dinge soos: “Dis ’n lylike djaimors.” Dit het hy gekry van sy pa, wat eendag vir ’n winkelier met halitose gesê het: “Jou neus sit te na aan jou towerkol.” Hendrik en Lida het ses seuns gehad, rowwe bliksems wat kranige rugbyspelers en groot kroegvegters was.

Hans, bedeesd en onseker, het met Cilla getrou, ’n aanvallige ongehude moeder wat manies godsdienstig geword het in die Apostoliese Kerk en oor alles gekla het. Haar dogter was liewer vir Hans as vir haar en het vir dae aaneen gehuil toe sy uitvind hy is nie haar pa nie. Cilla het hom ’n lewe gely. Sy het handskoene gedra en wou net in ’n Mercedes ry, ’n wit een met min myle op. In haar kerk het hulle na haar verwys as Suster Sights.

Daar was ook Sus. Toe sy al oud was, het sy vir my gesê sy was altyd bang vir haar pa en daarna was sy bang vir haar man. Sy het ’n droë humorsin en ’n wakker verstand gehad. Sy was ’n pastoriema met vyf kinders.

Ná Sus het Karlien gekom, ’n karakter. Sy was blas van vel, met klein, donker oë en ’n moedswillige humorsin. Sy was ’n storieverteller van formaat. Ek onthou toe ek baie klein was, het ek eenkeer ’n glips in haar badkamer gehad en daar gestaan en huil. Toe kom sy in en sê: “Jou tante Karlien het jou kom red.” Sy het die lekkerste hawermoutpap in die wêreld gemaak, met botter en bruinsuiker. Sy is met Paul Krog getroud, ’n briljante Krog met ’n groot neus en effens waansinnig – bomskok van die Tweede Wêreldoorlog, waar hy vegvlieënier in Italië was. Hulle het soos kat en hond baklei en mekaar vurig liefgehad. Hulle was albei kort en het mekaar te lyf gegaan. “Ons veg in dieselfde gewigsklas,” het hulle gesê.

Karlien was ’n roekelose bestuurder met min agting vir ’n motor. “Jy sal nog ry tot jy met die con rod tussen jou tande sit,” het Paul vir haar gesê. Hulle het baie gelag. Hulle het drie briljante kinders gehad, orrelpypies wat almal tragies vroeg dood is. Toe Karlien swanger was met die derde, sê Paultjie, die oudste, toe omtrent drie, vir haar: “Jy moet nou nie weer ’n bybie in jou maag kry nie. Ek is moeg vir kinders.” Sy het graag kaal geloop in die huis. Sy het ’n groterige maag en boude gehad. Paultjie was twee toe hy vir haar sê: “Klere bedek ’n menigte sondes.”

Daarna was daar Hermien, Sarie, Susan, Rina, Niklaas, Freda en Dingi, my ma. Toe was ouma Nicolaas al moeg. Nou leef net die elfde kind, my ma, nog. Almal was welskape en slim, passievol en met ’n streep.

Dit laat my dink aan die refrein van Jacques Brel se liedjie wat só in Engels vertaal is:

There was my grandfather, he was a young soldier
There was my grandmother, she was so much bolder
He knew how to do it
and she let him do it
They lived in sin, deliciously
Now they pray for my virginity.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top