![]() |
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Vandeesweek iets oor die interessante kwessie van die eiening van iemand se handskrif in 'n hofsaak. Wat hierdie aangeleentheid interessant maak, is dat mense se handskrifte soms vervals word – byvoorbeeld op 'n tjek of, nog erger, op 'n testament.
Mense se handskrifte verander ook oor jare heen: gaan kyk maar na jou eie handskrif van so tien jaar gelede en besluit dan of jou handskrif vandag nog dieselfde is as tóé. 'n Mens se handskrif kan ook in 'n betreklik kort tyd drasties verander – sê nou maar vanweë siekte of 'n besering of selfs emosionele spanning. Ek onthou byvoorbeeld goed dat daar na die Watergate-skandaal in Amerika 'n artikel in Time verskyn het oor die drastiese verandering in president Richard Nixon se handtekening gedurende die jaar of twee wat die skandaal geduur het. Voordat Nixon se knoeiery op die lappe gekom het, was sy handtekening dié van 'n trotse en selfversekerde president van Amerika, maar na gelang sy geloofwaardigheid verkrummel het en die strop nouer om sy nek getrek is, het sy handskrif merkbaar agteruitgegaan totdat dit aan die einde van sy presidentskap 'n skaars herkenbare gekrap was.
Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak: 'n uitspraak1 van die destydse Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof op 20 Augustus 1973.
'n Sekere mnr Lansdown het 'n eis teen mnr Wajar ingestel vir die betaling van drie van mnr Wajar se tjeks wat deur sy bank onteer is – met ander woorde, die bank het geweier om dit te betaal. Daar was nie 'n direkte transaksie tussen mnr Lansdown en mnr Wajar nie. Die tjeks was oorspronklik getrek ten gunste van 'n firma genaamd Cleaning Centre en dit is uiteindelik aan mnr Lansdown verhandel. Mnr Lansdown kon dus slegs – kragtens die wisselreg – op die tjeks teen mnr Wajar optree en nie op grond van, byvoorbeeld, kontrakbreuk nie.
Mnr Wajar se verweer was dat sy tjekboek gesteel was en dat sy handtekening op die tjeks vervals is. Mnr Lansdown het swaar aan dié storie gesluk en toe mnr Wajar se bankbestuurder as 'n getuie geroep. Die bestuurder – ene mnr Van Tonder – het mnr Wajar se proefhandtekeninge uit die bank se lêers gaan haal en dit met die handtekeninge op die tjeks vergelyk. Hy was van mening dat die beweerde vervalste handtekening op die tjeks inderwaarheid dieselfde was as die proefhandtekeninge en daarom het hy gemeen dat dit wel mnr Wajar se eie handtekeninge was. Dit is belangrik om te onthou dat mnr Van Tonder op geen stadium gesê het dat hy mnr Wajar se handskrif persoonlik geken het nie. Trouens, hy kon nie sê of hy ooit voorheen mnr Wajar se handskrif en handtekening gesien het nie.
Nou, as jy die regter was, wat sou jou standpunt oor mnr Van Tonder se getuienis gewees het? Sou jy dit aanvaar het? Sou jy beslis het dat die handtekeninge op die betrokke tjeks wel mnr Wajar s'n was? Per slot van rekening: mnr Van Tonder was tog 'n ervare bankbestuurder en het hy seker duisende tjeks gedurende sy loopbaan gehanteer.
Die hof het mnr Van Tonder se getuienis verwerp, bloot omdat hy nie bevoeg was om die handtekeninge op die drie tjeks met die proefhandtekeninge in die bank se besit te vergelyk en dan tot die gevolgtrekking te kom dat dit dieselfde was nie. Die hof was van mening dat hierdie soort getuienis slegs deur 'n handskrifdeskundige gelewer kan word en daar was geen getuienis dat mnr Van Tonder oor enige besondere deskundigheid met betrekking tot handtekeninge beskik het nie.
Die hof het mnr Wajar se getuienis dat sy tjekboek gesteel is, aanvaar en beslis dat mnr Lansdown hom nie van die onus, die las, gekwyt het om te bewys dat die handtekeninge op die drie tjeks inderdaad mnr Wajar s'n was nie. Hierdie soort getuienis sou volgens die hof net deur 'n deskundige gelewer kon word. 20 Augustus 1973 was dus nie vir mnr Lansdown 'n besonder gelukkige dag in die hooggeregshof in Pretoria nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.



Kommentaar
Ek op soek na handtekeningdeskundige wat kan tel in die hof.