
Titel: Die beste sussie vir ’n babadraak
Skrywer: Fanie Viljoen
ISBN: 9780637009447
Uitgewer: LAPA
Van ’n eier op die deurmatjie na ’n draak-boetie. Te dik vir ’n daalder? Glad nie. As Flippie ’n vlieg kon word, is ’n drakie in doeke seker ook moontlik? Fanie Viljoen het sy bekende ouma-karakter met talente waarvan party superhelde maar net kan droom, toegerus. Zeldi se ouers wat nie vir ’n bababoetie of -sussie vir haar wou sorg nie, moes hom uitstekend gepas het. Dis duidelik dat hy baie pret daarmee gehad het om Zeldi se rol as ousus aan die spreekwoordelike diepkant te laat afskop.
Soos die titel aandui, wil Zeldi wel Die beste sussie vir ’n babadraak wees, maar sy vind gou uit watter harde werk dit is. Veral ook omdat sy hom eers vir haar ouers geheim hou. Hy moet eet, maak ’n groot gemors, ruik nie altyd lekker nie, maak soms ’n groot geraas en ken nie sy perke nie. Ja, soos die meeste drake, kan hy ook vlieg EN vuur spoeg. Skreeusnaakse chaos word gewaarborg.
Die beste sussie vir ’n babadraak beslaan 79 bladsye in 19 kort hoofstukke, en Viljoen en LAPA uitgewers het alles uitgehaal om hierdie boek so aanloklik en toeganklik as moontlik vir jong lesers te maak. Kort hoofstuktitels, soos “Die brandende snor” en “Die kat met vlerke” is in geel gedruk. Geluide, soos wanneer die eier krik krok en kraak en die klok TRIE-IE-IENG! is in blou gedruk. So ook is woorde wat intensiteit aandui, in blou gedruk. Met “Nou is sy in GROOT moeilikheid,” word groot byvoorbeeld in hoofletters en in blou gedruk.
Kommentaar op party woorde of sinsnedes, byna asof die skrywer homself in die rede val, is in rooi gedruk. Ná “Gelukkig verdwyn die vlam, maar die merk bly,” volg ’n rooi pyltjie wat wys na teks in rooi wat verduidelik, “Dit lyk of iemand die plafon met swart verf bygekom het.”
Verder word die eerste woord van elke hoofstuk vetgedruk om jong lesers aan te moedig dat nog ’n mylpaal bereik is. Woorde of sinne wat duidelik ook harder as die res voorgelees moet word, soos “GEEN BABA IN HIERDIE HUIS NIE,” en “JY WAS NOU BAIE STOUT, DORING!” word ook vet en in hoofletters gedruk. Dié kreatiewe en slim tipografie verseker toeganklikheid vir ’n breër teikengroep. Robert Graham Dersley se moderne en kleurvolle omslag en illustrasies dra by tot die humor van Viljoen se storie.
Fanie Viljoen se Die beste sussie vir ’n babadraak is ’n welkome toevoeging tot die beginnerleser- sowel as voorleesrak. Soos gewoonlik het Viljoen vir die voorleser ook ’n paar juweeltjies geplant. Mevrou Punt is die skoolhoof en ’n mens stry nie met haar nie. Meneer Halveer is die wiskundeonderwyser. En klein Doring kan, met sy een tandjie, nog nie sy naam reg uitspreek nie. Hy noem homself Roring.
Ek beveel Die beste sussie vir ’n babadraak met groot vrymoedigheid vir BEGINNERLESERS van NEGE jaar en ouer aan.
Ander boeke deur Fanie Viljoen waarna in die aanvangsparagraaf verwys word:
- Flippie word ’n vlieg
- Ouma Mollie en die mensvreter
- Ouma Mollie gaan terug skool toe
- Ouma Mollie se verkeerde verjaarsdag

