Die bemarkingsmoontlikhede van e-boeke

  • 1

...
Ek kan nie die bemarkingsmoontlikhede wat e-boeke vir skrywers bied, miskyk nie. Veral as dit doelgerig aangewend word om lesers te kweek.
...

E-boeke, skryf Kerneels Breytenbach op LitNet (Boekprobleme, 2023-02-17), is besig om veld te wen ... Ek weet die gedagte – veral met die onwettige verspreiding van e-boeke per WhatsApp en Telegram-groepe – is kommerwekkend vir die ink-generasie.

Persoonlik glo ek papierboeke sal nooit uitsterf nie, maar ek kan nie die bemarkingsmoontlikhede wat e-boeke vir skrywers bied, miskyk nie. Veral as dit doelgerig aangewend word om lesers te kweek. Die selfoongenerasie is onafskeidbaar van hul selfone en skrywers/uitgewers moet dit kaap om hulle in te trek. Hulle is tog die lesers van môre.

Instagram-digters (by gebrek aan ’n beter woord) het dit raakgesien en plaas gereeld gedigte wat lesers kan “like”. Ek weet alte goed “like” sit nie brood en botter op die tafel nie, maar ek het ’n boekbekendstelling in Rustenburg bygewoon van ’n selfgepubliseerde Instagram-digter. Sy lewer nie dieselfde literêre werk as byvoorbeeld Tom Dreyer nie, maar haar gehoor geniet haar werk net soveel.

Ek voer nie hiermee aan dat ons keurverslae en proeflees in die water moet gooi nie, maar wat as uitgewers gedeeltes uit bundels vir bemarking aanwend? As lusmakers?

Dana Snyman het bewys dat lesers steeds sy boeke sal koop, al het ’n groot gedeelte daarvan elders verskyn. Trouens, sy Facebook-skrywersblad lok nuwe lesers. Ek self is een van sy Facebook-dissipels en hou daarvan dat hy ons aan die lees hou. ’n Jaar is darem lank om te wag vir een boek. Hanlie Retief is nog ’n goeie voorbeeld. Al lees ek gereeld haar Rapport-profiele, sal ek enigiets koop waarmee sy vorendag kom.

...
Onthou net, “kits” is die wagwoord. Dink Dana.
...

Gevestigde skrywers moet in hul kolligmaand behoorlik gloei om hul verkoopsyfers hoog te hou – hoekom nie die kolligtydperk verleng nie? Gebruik sosiale media vir bemarking daarvoor. Onthou net, “kits” is die wagwoord. Dink Dana.

Maar ook verder.

Die skrywer Chris Karsten se boek, Man uit die dode, het eers as ’n vervolgverhaal op Netwerk24 verskyn voordat dit publiseer is. Onthou net, Netwerk24-lesers is gewoond aan langer leesstof.

Melanie (nie haar regte naam nie) is 20 jaar oud en lees nie. Boeke, sê sy, is te dik. Hoe trek ons haar generasie in as ons nie ’n alternatief kan bied nie?

Skrywers/uitgewers se werk is om die boekkoek te vergroot, en ons kan dit nie doen as ons net op die skool steun nie. Ek erken dat Dalene Matthee my vir Afrikaans verloor het. The day of the Jackal (Frederick Forsyth) en The Bourne Identity (Robert Ludlum) het my vir Engels gewen. Dit was eers 20 jaar later dat Johan Jack Smith en Sidney Gilroy my vir Afrikaans teruggewen het.

Die grootste, en moontlik enigste, gevaar lê in die onwettige aflaai van e-boeke. Maar dit moenie as ’n afskrikmiddel gebruik word nie. As banke daarin kon slaag om ’n app saam te stel wat nie kan screen print nie, is groter sekuriteit vir boeke sekerlik ook moontlik.

Lees ook:

Boekprobleme

Tien kilogram boeke, asseblief

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top