Die bekendstelling van Sam-Annique Lowry se Forever yours

  • 0

“As jy ’n ark bou, glo dat die diere sal kom,” so sê Sam-Annique Lowry, skrywer van Forever yours, wat pas by Naledi verskyn het. Nagenoeg 70 mense het haar boekbekendstelling by From Shack to Sanctuary in Klerksdorp bygewoon. Oud en jonk. Lowry het 60 boeke op die aand verkoop!

Alhoewel sy nou eers publiseer, broei die boek lank reeds in haar. Sy het in 2012 die eerste paar hoofstukke neergepen, kort na haar skoolliefde tydens rekordeksamen oorlede is. Sy moes skielik grootword, want almal wou by haar sy laaste stories hoor. Sy moes dit deel al was dit hoe pynlik om dit elke keer te herleef. Gevolglik kon sy nie self deur die seer werk nie. Woorde op papier was haar manier om dit te doen.

’n Diep depressie het oor haar neergesak en Lowry het hierna daagliks met selfdoodneigings geworstel. Haar sorgvrye self was saam met hom begrawe.

Na jare se sukkel om aan te beweeg, het sy weer besluit om verhoudings aan te pak. Sy moes kies om op te hou lief wees vir haar skoolliefde en die lewe weer ’n kans te gee.

Toe sy haar trouman, Dean, ontmoet, het sy besluit om voluit te probeer. Dit was die geboorte van haar reëls. Sy het op 10 reëls besluit en sê dit gaan van persoon tot persoon verskil. Een van haar reëls is: In love is a feeling; love is a choice.

Toe sy in 2017 getroud is, het sy uiteindelik haar happy ending vir haar boek.

Ondertussen het sy vir meer as twee jaar aan Forever yours geslyp.

Die ark het Lowry in 2020 gebou toe sy en haar pa hulle gewig agter my droom gegooi het om ’n boekefees in Klerksdorp te begin. Bekendes soos Hykie Berg, Roelien Strauss en Chris Karsten het al die Sanctuary Boekefees (nou Klerksdorp Boekefees) bygewoon.

Die Sanctuary Boekefees is ook verantwoordelik vir saamskryf-projekte soos Op pad na Grysberg en Sewe keer sondig. Op pad na Grysberg is ’n roman waarin 22 skrywers elkeen ’n hoofstuk geskryf het. Twee-twee skrywers het saam aan een enkele kortverhaal vir Sewe keer sondig geskryf. Die fees se nuutste projek verskyn eersdaags. Dit is vier boeke in vier genres (Romanza, jeug, riller en krimi) deur vier gesoute skrywers (Felicia Snyman, Sunel Combrink, Christelle Wessels en Stefaans Coetzee), maar indien die vier boeke agtereenvolgend gelees word, vorm dit een storie. Die eerste boek, Hartslag, verskyn in September; die ander drie volg dan maandeliks.

Die fees is ook verantwoordelik vir die Sanctuary Slypskool, wat daarop gemik is om nuwe stemme te ontwikkel. Die Desmond Tutu-Gerrit Brandpryswenner 2024, Sandy Schoeman, kom uit die slypskool. Asook Petro Kotze-Odendaal. Kotze-Odendaal se boek, Wanneer die krieke stil word, was onder Maroela Media se toptien- beste memoires in die afgelope 100 jaar. Forever yours is die derde produk van die slypskool.

Die ark wat sy vir ander skrywers gebou het, is die een waarmee sy nou vaar.

  • Fotografie: Mejandra Fourie
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top