Die Begin is ’n splinternuwe folk-groep wat vinnig opslae maak op sosiale netwerke. Jaco van der Merwe, ’n lid van die groep wat ook by die gewilde Bittereinder betrokke is, gesels oor dié projek.
Hallo Jaco, hoe's dinge?
Ag, maar dieselfde.
Verskoon hierdie vanselfsprekende vraag, maar ... hoe en waar het Die Begin begin?
In ’n graatsj in Brits. Die storie is eintlik klein bietjie meer interessant as wat ons partykeer voorgee. Liani en Jaco het saamgewerk aan toonsettings vir Tom Gouws (wenner van die 2011 ATKV-Veertjie vir sy digbundel) se gedigte, en dit toe gesing by 2011 se Woordfees in Stellenbosch. Min of meer in daai tyd het Jaco gehoor hoe mooi Liani sing, en besef hoe lekker hulle saam musiek skryf, en toe sommer haar hele familie (man, man se boetie, man se twee nefies) genooi vir een moerse jam in die motorhuis. Die liedjies het net aangehou om hulself te skryf. Interessant genoeg het Die Begin se eerste gig toe ook te doen met gedigte toonset – ons het gespeel by ’n Koos du Plessis Tribute Show by Café Barcelona en drie van sy liedjies gedoen. Die terugvoer van daai show was moerse encouraging, en ons besluit toe dis tyd om iets op te neem. Ons tweede show was toe deel van Oopmond by Oppikoppi 2012, waar ons twee van Danie Marais se gedigte getoonset en opgevoer het "on the spot". So die digkuns-toonset-ding loop blykbaar diep in Die Begin.
Volgens julle biografie bestaan die groep uit ’n swetterjoel familielede, en dan jy. Voel jy nie bietjie uit nie?
Ek is 100 persent adopted into the clan. Maar partykeer maak hulle grappies oor rugby en die prys van graan wat ek nie verstaan nie.
Julle Facebook-blad dui aan dat julle "Van die Karoo, die Noordwes en Pretoria" afkomstig is. Is dit nie ’n groot logistieke uitdaging om groeplede wat so ver uitmekaar is, bymekaar te kry om te oefen en op te neem nie? Hoe gaan julle dié dilemma takel wanneer dit tyd raak vir toer?
Wel, vir meer as ’n jaar was ons almal saam in Brits (baie onvoorspelbaar, maar die waarheid nonetheless), so dis waar ons saam geskryf en gedroom het. Maar tans is ons weer oor drie provinsies versprei, so ons gaan net gigs kan speel met moerse goeie fooie om ons petrol te dek. 🙂 Drie van die ses lede het ook al kinders, so ons is glad nie jou tipiese gig-elke-naweek-tiener-band nie. Ons sal maar nog moet kyk hoe ’n "toer" sou werk. Enige gig op hierdie stadium gaan vir een of meer van ons ’n toer wees.

Ek hoor soveel invloede as ek na die vyf tunes luister wat vrygestel is ... So ’n raps Edward Sharpe & The Magnetic Zeros, bietjie Bon Iver en selfs Radiohead skemer hier en daar deur ... Van watter kunstenaars trek julle inspirasie? Is daar plaaslike kunstenaars wat vir julle opgewonde maak (jy mag nie Bittereinder, van wie jy ’n lid is, noem nie!) en opgewonde gemaak het in die verlede wie se invloede duidelik is op die EP?
Plaaslik sou ek Fulka en Dawid Kramer moet noem, asook Die Skynmaagde (see what I did there?*), Matthew van der Want en Chris Letcher, Chris Chameleon, Riku Lätti. Ander bands wat ek graag na luister en as direkte inspirasie vir Die Begin sou beskou, sluit in Efterklang, Arcade Fire, Noah & the Whale (veral die eerste album – ons het dit gebruik as ’n mix reference), First Aid Kit, Sigur Ros, Mum, The Civil Wars, Fleet Foxes, Sufjan Stevens, My Brightest Diamond, Taxi Taxi, Regina Spektor ... Ja, enough already.
Gepraat van ander plaaslike kunstenaars: ’n groot waagstuk op die EP is ’n cover van Fokofpolisiekar se "Brand Suid-Afrika". Dit is die soort eksperiment wat óf hope fans kan wen óf die dorpenaars hul tuinvurke en fakkels kan laat optel. Wat het julle laat besluit om dit te doen, hoe het julle dit benader en hoe lyk die reaksie sover?
Wel, Fokof het dit gepost op Facebook met dié opskrif: "Wat dink julle hiervan?". Toe ek laas gekyk het, het 46 mense dit ge-Like, en so 35 mense lelike dinge gesê (party baie funny). Hunter het ook darem gesê hy hou daarvan – dis tog wat tel. En sover is dit by far ons mees populêre download. Ek't een keer vir Liani die song gespeel, sy't hom toe op die klavier gespeel en gesing en ek het letterlik begin huil dit was so mooi. Ek geniet ’n goeie cover wat ’n behoorlike herinterpretasie is, ’n sterk melodie of liriek wat in ’n ander konteks nuut word, en ek glo ons het dit met "Brand Suid-Afrika" reggekry.
Op daardie noot, hoe is die terugvoer sover wat gehore en luisteraars betref? Verstaan Die Begin en die gehore mekaar al, of sal dit ’n tydjie neem?
Party mense snap dit. Het vandag op twitter weer iemand gehad wat my sê ons herinner hulle aan Damian Rice en Lisa Hannigan (coincidentally het jy dit ook gesê, Henry). Maar ons het ook al gehoor ons is Steve- en Sonja-impersonators! Ek dink die neofolk-klank is nog nie regtig bekend in die wyer Afrikaanse consciousness nie. Maar ons maak maar musiek waarvoor ons lief is – as dit mooi klink en dit move ons, dan hou ons dit. Dis bietjie nerve-wracking, want dis baie eerlike en kaalgestroopte musiek, maklik om te mock, eintlik. Maar as jy daarvan hou, dan gaan jy diep daarvan hou, glo ons vas.

Die verskillende instrumente wat deur julle op die EP ingespan word, vloei soms op ’n amper disjointed, idiosinkratiese manier in mekaar in. Was dit die mikpunt, om dit so ’n unieke verhouding te gee? Wat van die instrumente wat wel ingespan is – wat hoor ons alles daar en hoe is daar juis daarop besluit?
Daar's bietjie klavier, kitaar, banjo, marimba, cajon (boksdrom), tamboeryn, shakers, trekklavier, klokkies, glockenspiel, voettraporrel en trekklavier op die album, as ek nou reg onthou. Ons het regtig nie veel van ’n "mikpunt" gehad nie – die drie maande van sporadiese studio sessions saam met Jacob Israel het eintlik maar baie organies gebeur, maar ons wou so ver as moontlik probeer hou by die "zero effects/gimmicks" approach, heel akoestiese klanke. Dit klink seker disjointed want ons speel maar so bietjie disjointed. 🙂
Bittereinder word al hoe meer gewild, veral by live optredes, en dié groep bring binnekort ’n nuwe album uit. Hoe hoop jy om jou betrokkenheid by die twee projekte te balanseer?
Die een is tog die begin, die ander iets van ’n einde. Ek kap hom maar so in die middel.

Noudat Die Begin begin het, hoe lyk die roete vorentoe? Begin julle met "the end in mind", of hoe sien julle die toekoms van die groep?
Ons het absoluut geen idee nie. Ons is vir seker nie in die game om geld te maak nie. Ons het ’n goeie verhouding met die Oopmond-mense, sal graag nog ’n paar shows saam hulle inwerk (die Melville Poetry Festival op 12 en 13 Oktober is klaar op die schedule), en hopelik ’n paar festivals ook inryg. Maar ons musiek werk eintlik beter by "sit-down" gigs, teaters en so. Die toekoms word eintlik maar vir ons bepaal, ons worry nie te erg nie. O ja, ons gaan wel ’n video vir "Vulkaan" in Oktober skiet.
* Die onderhoudvoerder is ’n lid van Die Skynmaagde.

