Die beeldsending van verhore: publieke belang of Reality TV v 2.0?

  • 4

Foto: Youtube

Die OJ Simpson-jaagtog is regstreeks uitgesaai. Toe die verhoor. Nie lank daarna nie het Judge Judy haar eie televisiereeks gekry, en daarmee is die volgende fase van reality tv, die uitsaai van hofsake, gevestig in die land of the brave and the free.

Ons het eers onlangs wakker geword vir die feit dat daar geld te make is uit die uitsaai van verhore. Dis seker nie verbasend dat daar wye belangstelling in die Osca Pistorius-saak sou wees nie. Pragtige blonde model, paralimpiese atleet wat teen alle odds in roem verwerf het, met allerhande celebrity endorsements. Die gevalle Blade Runner. Dis in die openbare belang dat die verhoor regstreeks uitgesaai word, is in hofstukke aangevoer.

Daar is skramsweg gekyk na die slippery slope-argument, maar dit was seker onvermydelik dat daar ’n bevel gemaak sou word om televisiekameras binne-in die hof toe te laat. En joernaliste is toegelaat om hul selfone te gebruik om tweets uit te stuur. Op hierdie manier kon sterflinge wat nie die verhoor kon bywoon nie, deel uitmaak van die verrigtinge uit die gemak van hul La-Z-Boys, met lekker Ouma-beskuit en koffie, of in sommige gevalle biltong met brannas en Coke. Nou hoef jy ook nie meer vyf jaar te studeer om regskennis op te doen en ’n oorwoë regsmening uit te spreek nie. Nee wat, ’n halfuur voor die televisie en almal is regsgeleerdes. Vergete is die dae van die hofverslaggewer wat sketse maak van die postuur van getuies en dit dan in die volgende oggend se koerant kon verskyn. Vergete is die dae van nugtere, sobere, objektiewe benadering tot die saak. Elkeen is ’n ekspert.

Spoed is belangriker as korrektheid. Daar kan mos altyd agterna ’n verskoning diep in die koerant geplaas word as daar iewers ’n ou foutjie insluip. Maak nie saak of lewens intussen verwoes is nie. Die joernalis se reg op ’n scoop, en die koerant se reg om al meer en meer uitgawes te verkoop, is belangriker as feitelike korrektheid of onbenullighede soos die reg op waardigheid en die reg op privaatheid. Is ons dan verbaas dat fopnuus met soveel spoed versprei? As dit op Facebook verskyn, moet dit waar wees, dan nie?

Die probleem met hierdie benadering is egter juis nou weer uitgelig met die Sunday Times-debakel oor die rogue unit-beriggewing. Lewens is vernietig. Vir wat?

En sedertdien het die slope inderdaad geslip.

Hierdie afgelope paar weke was dit besonder opvallend hoedat grense verskuif het, en na mening nie ten goede nie. Die Christine Blasey Ford-getuienis is wêreldwyd uitgesaai op televisie en radio. YouTube-grepe het gevolg, met memes op Instagram en Facebook wat blitsvinnig volg. Sommige radioprogramme het luisteraars uitgenooi om in te skakel en terwyl Ford haar getuienis lewer, ook hulle #MeToo-verhale te deel. Dalk was dit katarsis vir die persone wat ingeskakel het. Ek weet nie. Ek twyfel of langdurige trauma so maklik opgelos kan word. Net die tyd sal leer of dit effektiewe aktivisme tot gevolg het. Die enigste direk meetbare gevolg is die getal luisteraars, en gepaardgaande inkomste vir die radiostasies, wat vermeerder het.

Die era van verkragtingsgetuienis wat vir entertainment gebeeldsend word, maak nie saak hoe ernstig dit op die oppervlak aangebied word nie, is ingelui. Gepaardgaande daarmee word die sirkusdeure oopgemaak. Kampies vir haar en teen hom, of andersom, word vinnig opgeslaan, en van daar vind skermutselingse tussen die keyboard warriors plaas. Die meer opgevuurdes is fisiek teenwoordig en dam mekaar sommer by die verrigtinge by.

Nie te lank terug nie was getuienis waar minderjarige getuies of beskuldiges betrokke is, in kamera aangebied. Hier was nog nie ’n toets plaaslik waar beeldsending van sulke getuienis oorweeg is nie, maar dit is net ’n kwessie van tyd.

Die identiteit van verkragting-survivors is ook nooit bekend gemaak nie. Die redes daarvoor is velerlei, en beslis nie die onderwerp van hierdie rubriek nie. Tot die Port Elizabeth-aanval en die besluit van die survivor bekend as Alison om haar identiteit bekend te maak. Weer ’n slippery slope, en ek is nie seker of Alison self dit kon voorsien het nie. Deesdae word survivors se name as roetine bekend gemaak, teen wil en dank.

Hierdie week, met die beeldsending van die getuienis van Cheryl Zondi in die Omotoso- verhoor, is ’n nuwe era ingelui: die beeldsending van die getuienis van ’n verkragting-survivor. En die gepaardgaande memes op sosiale media.

Die kombinasie van ’n sassy getuie vol selfvertroue en ’n onsensitiewe, toondoof verdedigingsregspan is seker onweerstaanbaar. En as die staat se regspan hulle keuses reg gemaak het, sou hulle die beste getuie heel eerste inspan om sielkundige voordeel te verkry. Maar wat van enige ander getuies wat nog moet getuig en intussen die sirkus op sosiale media en by die hof gadeslaan? Hoe word daardie getuies deur hulle trauma gehelp? Om ’n regsproses deur te maak, om in ’n ope hof in die teenwoordigheid van jou aanvaller te getuig en te ondervind hoedat jou getuienis uitmekaar geskeur word en jy op elke hoek en draai as leuenaar uitgemaak word, is traumaties genoeg. Maar om te weet dat jou getuienis boonop gebeeldsend en getweet en gememefy word?

Dit kan getraumatiseerde getuies laat oorweeg om eerder nie vorendag te kom in sake waar daar die geringste sweem van mediabelangstelling kan wees nie. En omdat niemand vooraf weet waar mediabelangstelling lê nie, behalwe uiteraard in die geval van ’n celebrity beskuldigde, gaan baie survivors dalk nou twee keer dink om klagtes te lê.

Dit in ’n land waar die onderrapportering van verkragtings alreeds ’n reuseprobleem is.

En watse belang het die publiek regtig om die grafiese besonderhede te weet van wat tydens ’n aanval gebeur het? Is ons nie besig om te vergeet dat terwyl dit popcorn entertainment vir ons is, dit die herlewing van die verskriklikste ervaring van die klaagster se lewe is nie? Waar is ons compassion? Is ons besig om te vergeet dat aan die ander kant van die storie ’n vlees-en-bloed-persoon is, en nie net ’n storie nie? Is ons nie besig om pyn en trauma te kommersialiseer nie? En deur dit te doen, is ons nie besig om survivors te objektiveer op dieselfde manier as wat hulle oorspronklike aanvallers dit gedoen het nie?

Veel meer as dit, is ons nie besig om so gedesensitiseer te word dat ons morele kompas nie meer weet wat true north is nie?

Ek weier om mee te doen. Ek weier om op televisie die verhore te volg, in koerante die grafiese besonderhede te lees, die memes te like en te share. Ek weier by voorbaat om die onvermydelike boeke wat gaan volg, te koop.

Hierdie is my streep in die sand. Ek kies compassion, en dignity. So what as ek dan nie op hoogte is met die herleefde trauma in daai mense se lewens nie?

  • 4

Kommentaar

  • Ek is n aanklaer, en ek vind dit skokkend dat slagoffers so geviktimiseer en ge-objektiveer word. Daar is net geen empatie vir mense en hul families wat benadeel is nie. My hart gaan uit na daardie jong vrou wat, in die bestel waar sy veronderstel is om beskerm te word, weereens getraumatiseer is.

  • Chris Marnewick SC

    Lees maar wat Regter Nantes Castel in Redelike Twyfel (by Protea) dink van die regstreekse uitsaai van hofsake. Die idee dat getuies, advokate en self 'n regter "normaal" gaan optree as die kameras op hulle gerig word is 'n waansin. Kyk maar na die optrede van die senatore (regsgeleerdes) wat vir Brett Kavanaugh probeer kruisverhoor het. Ek skryf, "probeer", want hulle het net op die kamera gelet and nooit 'n goeie vraag kon vra nie.
    Ennieway, 'n storie uit die RP van Natal (soos dit destyds was) se eksperiment met die uitsaai van die moordsaak teen Piet Grundlingh en Charmaine Phillips. Phillips het almal links en regs gevloek, en nie eers die regter ontsien nie. Die advokate het erg deurgeloop. En dit was die laaste keer totdat net die uitspraak in die Schabir Shaik saak lewendig uitgesend is. Regter Squires het ons regsadministrasie goed laat lyk met 'n weldeurdagte en elegante uitspraak in perfekte, idiomatiese Engels.
    (Grundlingh is tereggestel en Phillips was jare lank in die tronk.)

  • Chris Marnewick SC

    Ek vind dit moeilik om te verstaan waarom hierdie saak uigesaai word. Daar is ook verskeie hofsake wat die grense van kruisverhoor neerlê, oa Gidi, Tshona en Azov. En daar word dit duidelik gestel dat dit die hof se plig is om die getuies – insluitende en miskien veral die beskuldigde – te beskerm teen die minagting, geboelie en beledigings wat Zondi moes ervaar. Daar is ook spesiale beginsels van toepassing op kruisverhoor in verkragtingsake en sake waarin kinders betrokke is.
    Die kruisverhoor wat ek gelees het is die van 'n onervare kruisvraer wat net blindweg in alle rigtings skop en slaan. En niks weet van die interne fisiologie van 'n vrou se skede nie. Die vraag oor die diepte van penetrasie was "spectacularly inappropriate" en is na my mening die onnoselste vraag wat vir 'n lang tyd in 'n SA hof gevra is.
    NS: Ek moet egter bely dat 'n regter op 'n warm dag in Durban 'n beswaar teen 'n vraag wat ek gevra het afgemaak het met, "Ag, juffrou Wild, as hy 'n intelligente antwoord soek sal hy 'n intelligente vraag vra."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top