
Op Saterdag 22 Augustus 2026 het die ATKV se takke in Despatch ’n Boekmakietie gehou.

Verskeie takke het meegedoen.

Janecke Schuin het die verrigtinge geopen met sang en musiek.

Die saal is lieflik versier en daar is geweldig moeite gedoen om die boektema oral te beklemtoon.

Al hierdie vlaggies is met die hand geknip.

Die tafels is versier om by die geleentheid te pas.

Skrywers se foto’s is op die tafels geplaas.

Hannes Visser, van Kersligmedia op Oudtshoorn, is gevra om die geleentheid te bestuur, met baie hulp van die ATKV se taklede. Visser is ’n digter uit eie reg en die oggend is geopen met ’n gesprek oor sy nuutste bundel, Tussen asem.

Daarna is ek, Hannes Visser en Nico Schamrel (op die foto), van NS. Skrywershuis, gevra om te gesels oor die uitgewersbedryf, die stand van die Afrikaanse boek en die moontlikheid van die publikasie van beginnerskrywers.

Ek het daarna met Stefanus Vivier gesels oor sy roman Die spoegvanger.

Riana Serfontein het met Tertius Janse van Rensburg (op die foto) gesels oor sy romans Wat Werner doen met sy driemiljoen en Aurora.

Riana Serfontein

Hannes Visser het met Mike Bolhuis en Lieb Liebenberg ’n gesprek gevoer. Die twee is die samestellers van baie suksesvolle boeke oor valskermsoldate en ander springgekwalifiseerdes, waaronder spesmagte en die polisie se spesiale eenhede.

Bolhuis was self ’n valskermsoldaat.

Liebenberg, ook ’n oudvalskermsoldaat, het as ’n afstuurder gewerk – hy was dus in beheer van die spronge wat plaasgevind het.

Daar is goediglik gespot met Bolhuis se manlike beeld, en hy het meegedoen. Hy beweer dat hy altyd sy bekende haarstyl versorg met ’n pienk borseltjie wat eens aan sy dogter se pop behoort het.

Hannes Visser het ook met Vincent Oliphant oor sy digkuns gesels.

Nico Schamrel het met Sandra Skinner ‘n onderhoud oor haar roman, Die skuld wat bloed betaal, gevoer.

Carina Stander het die middag afgesluit met ’n lesing oor die Bergengel-reeks wat sy geskryf het.

Ná ’n pouse, vir die rugbykykers, het Hannes Visser en Chris Botes, die wewenaar van Annelie Botes, die aand se verrigtinge afgeskop met ’n kort gesprek oor Annelie se lewe en skryfwerk, asook die drama Duiwelsbrood wat sy geskryf het.

Chris sê hy vind dit jammer dat Annelie nooit haar eie toneelstuk op die planke gesien het nie.

Dit was nou donker en die saal is lieflik met liggies versier .

’n Glasie sjerrie het die laatwinteraand effens warmer laat voel.

Duiwelsbrood is opgevoer deur die ATKV-tak PEAAT. Marlene Pieters het die regie behartig.

Die drama handel oor ’n vrou wat aan dobbelverslawing ly en alles verloor. Sy beland dan in ’n losieshuis, waar sy stadigaan haar lewe weer in oënskou moet neem.

Mercia de Lange het die hoofrol vertolk.

Vinita Gouws was die eienaar van die losieshuis.

Dit is ’n goeie stuk en die toneelspel was uit die boonste rakke – soos ons al van PEAAT begin verwag het.

Hier is die span wat die suksesvolle Boekmakietie aangebied het. Van links: Trudie Swanepoel, Sakkie Kinghorn, Alida Kinghorn, Hannes Visser, Carol Reynecke, André Reynecke, Adel Greeff. Voor: Christie Swanepoel Rossouw.

