
Die ATKV-Crescendo het die twaalf finaliste aangekondig wat deurgaan na die volgende rondte van die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram.
Die Mentorskapprogram het dit sedert 2014 ten doel om talentvolle liedjieskrywers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om die kompeterende Afrikaanse musiekindustrie aan te durf. Om in aanmerking te kom vir die program, moes deelnemers 'n oorspronklike liedjie inskryf. Daar is oudisies oor die land gehou, maar digitale inskrywings is ook aanvaar. Musikante word aangemoedig om dit in hul eie dialek te skryf en te sing om 'n nuwe vloei van talent, liedjies, stemme en klanke na die bedryf te verseker.
Twee-en-twintig deelnemers is in samewerking met Expression Session aangewys om die Mentorskapprogram wat van 23 tot 27 Maart in die Paarl gehou is, by te woon.
Die week het uit uurlange sessies met kunstenaars en kenners, soos Anna Davel, Melissa van der Spuy, Danie du Toit en Deon Meiring, bestaan. Tydens hierdie sessies moes deelnemers soms binne 'n uur hul eie liedjies komponeer en uitvoer ter voorbereiding van die finale uitdaging om 'n liedjie tydens die sluitingskonsert te sing.
"Die Mentorskapprogram plaas groot klem op menslike ontwikkeling," verduidelik kursusleier Robin-Dean Fourie. "Die opleiding is gebaseer op die kernwaardes van karakter en integriteit. Ons wil ook graag kennis en ervaring oor entrepreneurskap en selfbestuur aan die deelnemers oordra sodat hulle ook finansieel selfonderhoudend sal wees."
Die mentors en industriekenners gaan na afloop van die Mentorskapprogram steeds saam met die deelnemers werk. "Dit gaan oor soveel meer as net die ontginning van nuwe talent. Die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram bied aan finaliste die platform om hul eie musiek uit te voer terwyl hulle opgang in 'n hoogs-kompeterende bedryf maak," sê Robin-Dean.
Na 'n week van senutergende uitdagings is twaalf finaliste aangewys om die finale werkswinkel in Stellenbosch tydens die Oktober-skoolvakansie by te woon. Lede van die publiek kan die finale konsert van die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram tydens 'n luisterryke ATKV-Crescendo produksie ervaar.
Die finaliste is:
- Chresville Adendorf, Worcester (24)
- Leigh-Muir Booysen, Worcester (23)
- Annika Boshoff, Kaapstad (31)
- Marsha Bothma, Bellville (27)
- Suné Damons, Worcester (24)
- Athina Sue Chanté Jansen, Brackenfell (28)
- Alzanley Noome, Centurion (23)
- Leandi Schmidt, Olifantsfontein (28)
- MJ Scholz, Middelburg, Mpumalanga (24)
- Renée Van Niekerk, Somerset-Wes (22)
- Selby Williams, Worcester (29)
- Aidam-John Zekoe, Worcester (24)
Vir meer inligting aangaande ATKV-Crescendo en opkomende projekte, besoek https://atkv.org.za/nuus/categories/atkv-crescendo.
Sosiale media
Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo
Instagram: https://www.instagram.com/atkv.crescendo/

