Die ATKV belê in klassieke musiek

  • 0

Die ATKV vereer jaarliks sangers en musikante van klassieke musiek. Op 8 September 2018 is die wenners van vanjaar se kompetisies aangewys by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow, Kaapstad.

ATKV-Muziq is ’n instrumentale kompetisie en ATKV-Muziqanto is ’n sangkompetisie. Beide se eindrondte het gesamentlik plaasgevind.

Die eersteplekwenners in albei kompetisies het weggestap met 'n kontantprys van R70 000. Die tweedeplek- en derdeplekwenners in elke kompetisie ontvang onderskeidelik R35 000 en R20 000.

Uit die sewe deelnemers in elke kompetisie wat Vrydag in die tweede ronde teen mekaar meegeding het, is drie gekies om Saterdagaand by 'n swierige geleentheid saam met die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van maestro Richard Cock, op te tree.

Brain Bae het die verrigtinge geopen met ’n pragvertoning van Tchaikovsky se klavierconcerto nommer 1 in B-mol mineur, Op. 23. Hy het uiteindelik tweede geëindig.

Paul Loeb van Zuilenberg het Wieniawski se vioolconcerto nommer 2 in D-mineur, Op. 22, gespeel en het derde gekom.

Die 21-jarige Cameron Williams het uiteindelik weggeloop met die louere vir sy vertolking van Glazunov se concerto vir saksofoon en strykorkes in E-mol mineur, Op. 109.

Luvuyo Mbundu (bariton) het “Avant de quitter ces lieux” uit Faust van Gounoud en “O Carlo, ascolto” uit Verdi se Don Carlo gesing. Hy het tweede geëindig.

Segomotso Shupinyaneng (sopraan) het “Chi il bel sogno” uit La Rondine van Puccini en “Caro nome” uit Rigoletto van Verdi gesing. Sy het derde gekom.

Bongani Kubheka (bariton) het “Nemico della Patria” uit Andrea Chénier van Giordana en “Votre toast” uit Bizet se Carmen gesing. Bongani het uiteindelik geseëvier in ’n baie taai stryd.

"Ons is baie bevoorreg om 'n direksie by die ATKV te hê wat 'n groot bewondering en passie vir klassieke musiek koester," sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV. Lemmer het die pryse oorhandig.

Lize Thomas, niestemmende sameroeper van die beoordelaarspaneel, het die wenners aangekondig. Lees die volledige persverklaring hier.

Van links is Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-direksie, Bongani Kubheka (wenner van ATKV-Muziqanto), Cameron Williams (wenner van ATKV-Muziq) en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

Bridgitte Mathews het ná die prysuitdeling met elke deelnemer gesels en vir hulle ’n druk gegee. “Verskoon my,” het sy gelag. “Ek hou van drukkies gee.”

Die beoordelaars was Albie van Schalkwyk, Lize Thomas (niestemmende sameroeper), Paul Boekkooi, Felicia Lesch, Marcus Desando en Richard Cock.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie RSG was weer vanjaar die mediavennoot van ATKV-Muziq en ATKV-Muziqanto.

’n Laaste sien van die wenglimlagte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top