Die argitektuur van pyn: ’n kunskritiese beskouing van US Woordfees 2018

  • 4

Hoog bo, sentraal in die uitstalling van die feeskunstenaar Emma Willemse, getiteld Argiewe van verlies en verlange, hang ’n boot van hout met verflenterde seildoek om die karkas gespan bo-oor tafels wat in kruispadvorm gepak is. Hierdie boot, gebaseer op die antieke Egiptiese Khufu, ’n skuit wat die siel na die anderkant moes voer ná afsterwe, gaan duidelik nie vaar nie. Op die tafels, bedek met bruinpapier, is ’n uitstalling van 101 kunstenaarsboeke, gerangskik rondom ’n kleiner skuit waaruit ’n lang sepiagekleurde papierrol op die een as van die kruis uitstrek. Die uitstalling van die boeke verander volgens elke “kunsinstel” of aanbieding wat die kunstenaar doen. Teen die mure hang litografiese werke waar huise of geboue soos reuseballonne bo ’n vergrote duimafdruk sweef. Sommige van die opgestapelde huise hel oor en lyk asof hulle enige tyd soos kaarthuise inmekaar gaan tuimel. Ander se afgesnyde hoeke vertoon skerp, word metafories “monsters met vreemde monde” wat voel asof dit die kyker gaan verswelg. Daar staan ook uitstalkaste teen die mure, gevul met die kosbare porselein van parketvloerblokkies uit huise wat ontruim moes word of afgebreek is.

Argiewe van verlies en verlange

Argiewe van verlies en verlange

Die kunstenaarsboeke met harde houtomslae van herwonne parketvloere verteenwoordig die pynlike verlede van die kunstenaar se persoonlike verlies van huise, om ontwortel, ontheemd te voel, maar die simboliek daarvan brei ook uit na miljoene ontheemdes wêreldwyd. Die uitstalling in sy geheel roep die aktuele foto’s en berigte in die nuusmedia van emigrante uit Afrika wat die Middellandse see in oorvol skuite probeer oorsteek na ’n “beter lewe” in Europa op. Hulle verdrink meestal of word ontheemdes, vir ewig byna dobberend in die see van gesiglose massas hawelose mense, opnuut slawe van ’n ander omgewing en bestel.

Argiewe van verlies en verlange

Argiewe van verlies en verlange

Die feeskunstenaar, Emma Willemse, doen ’n kunsaanbieding waar sy in absolute stilte, met ’n sonbril op, die boeke van die verlede toeklap, soos bagasie verskuif en opnuut oopmaak en oprig om nuwe stories te skep. Daar is die “Weeping Book” waarin, van links na regs gelees, getekende huise se buitelyne vervaag totdat net ’n inkkol oorbly. Ander boeke bevat kaarte of skilderye in hulle binneblaaie. Sommige boeke is woordeloos of prentloos, slegs buiteblaaie van herwonne vloerplankies met deursigtige gaasverband verbind, die inhoud dus afwesig, deursigtig en daarom des te meer gelade met verlies, met die betekenis van verwonding en pyn en ontheemd voel. Dan is daar boeke wat só vernuftig aanmekaar gesit is dat hulle kan oopskarnier om soos barrikades te lyk of soos die breekwalle van dolosse gepak by hawens. Vier groot uurglase, wat ook tydens die kunsaanbieding rondgeskuif en verplaas word, herinner die kyker verder deurgaans aan die verloop van tyd, hoe verlede en hede soos ’n mens se geheue deurvloei en nie gestuit kan word nie, hoedat haar 101 wyses om na ’n huis te verlang altyd daar sal wees.

Hierdie uitstalling word verder toegelig deur die dokumentêre film, deur Victor van Aswegen, getiteld Displaced, wat ook by die Woordfees vertoon is en hopelik weer in die toekoms by kunsfilmsale sal draai. Dit het na my gevoel ook goed aangesluit by die film oor Ingmar Bergman, die Sweedse regisseur, se lewe op sy afgesonderde eiland, Trespassing Bergman. Die oseaan is oorgesteek en kunswerke in allerlei vorme kon met mekaar praat tydens die Woordfees 2018 te Stellenbosch. Die feeskunstenaar se Argiewe van verlies en verlange het geresoneer met verskeie ander produksies wat die tema van verlies aangepak het. Die digter en skrywer Achmat Dangor is ’n oudinwoner van Distrik Ses en tydens die gesprek oor sy boek Dikeledi is sy gedig “Bulldozer IV”, wat oor die destydse gedwonge verskuiwings uit hierdie buurt in die Bo-Kaap gehandel het, ook voorgelees, wat ’n emosionele reaksie ontlok het.

Achmat Dangor (Foto: Liné Enslin)

Ook verskeie dramas het oor die tema van verlies gehandel, soos die ontworteling en verlies van identiteit, waardigheid en menslikheid in Ons is almal freaks hier, ’n teks deur Ingrid Winterbach, of Moedertaal deur Nico Scheepers.

Eersgenoemde drama stel die vergrype en onreg van die verlede in die naam van kennisverwerwing aan die kaak en handel oor Sarah Baartman, die Khoivrou wat destyds weggevoer is na Europa, waar haar oorskot lank in ’n Franse museum uitgestal is en uiteindelik teruggebring is na haar geboorteland en in Suid-Afrika herbegrawe is. Die regisseur, Nicole Holm, het “aktiewe teater” probeer skep deur eksperimenteel om te gaan met die museumruimte waar die versameling van artefakte uitgestal word, asook deelname van die gehoor, maar nie alle teatergangers was ontvanklik daarvoor nie. Dit het trouens vir baie polemiek gesorg. Lees Mercy Kannemeyer se indrukke van die produksie hier.

Moedertaal se titel is misleidend, en tog ook nie, want alhoewel die eenvroustuk, met Sandra Prinsloo in die hoofrol, oor die dood van ’n kind aan ’n hartsiekte en die uiteindelike afsterwe van sy pa en haar eggenoot gaan, handel die drama simbolies ook oor die geleidelike verlies van taal en skeppingsvermoё.

Die drama Haal asem deur Ira Blanckenberg was ook ’n solostuk oor verlies deur ’n baie dapper aktrise, omdat dit gebaseer is op die persoonlike verlies van haar en die akteur Waldemar Schultz se seun wat hom dood geval het toe hy by Hermanus op rotse bo die ou hawe gegly het. Sy het destyds haar verdriet begin verwerk deur op flenters papier te skryf en later dagboek te hou van haar innerlike reis en rouproses. Flenters woorde, fletse geheue wat soos sand uitloop uit die uurglas van tyd of soos krysende meeue toesak en vreet aan menslike verdriet. Onder in die kaai by die ou hawe van Hermanus staan daar ook ’n installasie van ’n visserskuit vol klippe gepak van die feeskunstenaar Emma Willemse. Die klippe lyk van ver of bo-op die hawemuur beskou vir my na die koppe van mense. Ook hierdie skuit kan nie en sal nooit uitvaar nie.

Die Digtersparadys was maar swak bygewoon en voel telkens vir my soos die weeskind van die Woordfees, alhoewel die fees oorspronklik gegroei uit die idee van ’n “Nacht van de poёzie” wat elke jaar in Nederland gehou word. Maar ook hier het die feeskunstenaar se tema van verlies en ontheemding geresoneer en welluidend opgeklink.

Jolyn Phillips se gedigte in haar bundel Radbraak (Human & Rousseau, 2017) kielhaal die geskiedenis van slawerny, koloniste se volksplanting en die reg en onreg daarna gepleeg, ook teenoor die taal Afrikaans in ál sy variante. Haar beskrywings kla ons aan en ontstem ’n mens.

Clinton V du Plessis, wat sy bundels self uitgee, se poёsie sluit hierby aan en hy noem die hele boksemdaais van onkunde, verby mekaar leef, kultuurvertrapping en -vergryping wat tussen ons verskillende rassegroepe hier in Suid-Afrika lê, die “onding”.

Marlene van Niekerk, die digter oor wie daar ook ’n aanbieding deur die akademikus Louise Viljoen was, skryf in haar gedigte by die skilderye van die Nederlandse Jan Mankes, In die stille agterkamer (Human & Rousseau, 2017) dat sy ingetoë, realistiese skilderye ons dwing om gefokus “klein vrae” te vra. Hierdie Woordfees het my as feesganger verskeie kere gedwing om na die werklike wêreld van Suid-Afrika in 2018 te kyk en groot vrae oor baie persoonlike, maar ook universele belewenisse soos herkoms, pyn, verwonding en verdriet, maar ook oor die waarde van diskoers en kuns, te vra.

Wat is die waarde van kuns? Wat is die waarde van ’n fees soos die Woordfees? Het Afrikaans met al sy opgelaaide bagasie nog ’n plek, veral in Stellenbosch, in die Suid-Afrika van vandag, wat toenemend verengels onder die valse wanindruk van inklusiwiteit? Hoort Afrikaans nog, Afrikaans wat die hartstaal van baie mense in die Wes-Kaap is, wat die Woordfees moontlik maak deur die volgehoue skeppings daarin, Afrikaans wat presteer as akademiese en kultuurtaal en tog deur sy eie mense verguis word?

Dit bly ope vrae, onbeantwoord, maar nog steeds vrae wat gevra moet word, veral nou in die gekommersialiseerde wêreld wat soek na kitsantwoorde en waar kommunikasie te maklik gereduseer word tot SMS-taal. Dit laat ons anders kyk na die wêreld, verbande trek wat buite ons onmiddellike ervaringsvelde lê, die wêreld beleef deur die oё van die “ander”, die buitestander binnelaat, ook in die binnekamers van ons gedagtes en emosionele wêreld. Dit laat ons die wêreld “saam met mekaar anders maak”, soos wat Breyten Breytenbach al op ’n vorige Digtersfees bepleit het, of ons hopelik laat konsentreer op ons menslike bestaan, ons “humanity” soos wat Achmat Dangmor op hierdie Woordfees in 2018 opnuut gevra het.

Die kunskurator Alex Hamilton moet geluk gewens word met sy kuratorskap en die uiteenlopende kunstenaars wat hy onder die tema Kennis byeengebring het, maar veral met die feeskunstenaar vanjaar. Emma Willemse se vernuftige uitstalling van parketvloerblokkies wat kunstenaarboeke word het vir my meer as al die diskoerse gefokus op “humanity”, die wêreld van menslike emosie binnegedring en getransendeer. Sy het ons bymekaar gebring en die moeilike vrae in die oë laat kyk. Daarin lê die waarde van kuns, so verander kuns mense se uitkyk.

Foto's: Naomi Bruwer, tensy anders vermeld

  • 4

Kommentaar

  • John-Frederich Swart

    Nicole Holm is die regisseur van Ingrid Winterbach se "Ons is almal freaks hier".

  • Ek het gevind dat die opvoerings en musiek wat meer positief van aard was, soos bv "Fotostaatmasjien", baie beter bygewoon is. Miskien moet ons as Afrikaanssprekendes minder fokus op verlies en meer fokus op die positiewe?

  • Ben Raubenheimer

    HoekomhetdieagbarekunstenaarniedieEngelseoorlogseontheemdingvanAfrikaners/Boereookgebruikenaandiegrootklokgehangnie?

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Dankie vir die vasvang van die tydelike. 'n Briljante stuk oor kunsvorme (of liewer uitdrukkings) in daardie feesmomente waardeur die goue draad van VERLIES so treffend loop.

    En dan hoe die belewenis van die waarnemer/verteller/resensent uitloop op iets wat my baie na aan die hart lê. Soos Breytenbach het ek 'n liefde-haat verhouding met my alma mater. 'n Gevoel van ontheemding van meer as net die fisiese, die materiële. 'n Noodwendigheid veroorsaak deur deur chronos, maar veral deur die inherente boosheid van mede-tydgangers, ek natuurlik inkluis.

    Ek kon die ekshibisie* vir die eerste keer intens ervaar sonder dat ek daar was. 'n Stukkie ewigheid en dus waarheid weergegee deur 'n resensent wat nie die groen grassies van interpretasie afvreet nie.

    * Latyn: ex - uit, habare - hou

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top