Die Antwoord – TEN$ION

  • 0

Indien jy reeds besluit het jy hou nie van Die Antwoord nie, gaan jy jou tyd mors met hulle nuwe album. Die groep het nie juis algemene pop sensibility nie. Die debatte wat hulle musiek, musiekvideo’s en optredes al uitgelok het, bewys dat mense óf gaande is oor hulle, óf hulle nie kan vat nie. Sommige mense sukkel veral met die zef waarvoor Die Antwoord so bekend is, maar as jy verby die zef kyk, kom jy af op musikale talent wat die hele wêreld aan die ore gegryp het, en met goeie rede. So as jy wel ’n aanhanger van die zefgroep is, gaan jy gek wees oor TEN$ION.

Hoewel sommige kritici aanvanklik gesê het Die Antwoord was 'n flash-in-the-pan, gaan die groep se nuwe album dié kritici verkeerd bewys. Flash-in-the-pan-kunstenaars – soos so baie populêre acts deesdae is – se musiek ontwikkel nie en hulle hou so lank as moontlik aan met die resep waarmee hulle deurgebreek het. Met TEN$ION wys Die Antwoord dat hulle nie herhalend wil wees nie, maar dat daar duidelike vordering is sedert hulle vorige album, $O$ (2009).

Wat vir my die opmerklikste was van die nuutste album, is dat Yo-Landi, wat aanvanklik redelik in Ninja se skaduwee gestaan het, baie meer prominent is op TEN$ION, veral wat betref haar rap-tegniek. Hierdie keer kry sy baie meer tyd agter die mikrofoon, en dié vordering het ’n sterk impak op die algehele gevoel van die album. Die snit "I Fink U Freeky" staan in hierdie opsig uit omdat Yo-Landi daarmee haar talente behoorlik wys – meer as ooit tevore. Dit beteken egter nie dat Ninja hierdie keer net agteroor gesit het nie. Hoewel hy nou minder in jou ore is as op $O$, slaan sy vlymskerp lirieke net so hard (indien nie harder nie) as wat dit jou gemoer het op $O$. Ninja se rap het ook verbeter, maar veral sy lirieke wys duidelik hoe Die Antwoord gevorder het. Die derde en minder bekende lid van die groep, vervaardiger DJ Hi-Tek, het baie meer gesteun op rave-klanke met die samestelling van die album. Sy tegniek is verfyn en besorg aan die album ’n hele klomp club-ready songs waarop daar beweeg gaan word op dansvloere die wêreld om.
Die nuwe liedjies is Die Antwoord soos ons hulle leer ken het – maar slimmer, en, soos dit maar gaan met blitsvinnige raplirieke, neem dit meer as een keer se luister om die skerper lyne en klanke te waardeer. "Fatty Boom Boom" het ’n goeie ritme en hier kan mens veral die suksesvolle wisselwerking tussen Yo-Landi en Ninja se raps hoor.

Waas die fokken dagga
Pass it to the left
To the Z
To the E
To the motherfuckin' F.
(Uit die snit “Fatty Boom Boom”)

Teen hierdie tyd weet almal dat Die Antwoord niks terughou as dit kom by vloekwoorde en skokkende temas nie. Diegene wat nie hiervan hou nie, moet maar soos met die groep se vorige album eerder wegbly. Dit is interessant om te hoor dat baie van die kru taal veral gegooi word in die rigting van Interscope (Die Antwoord se ou record label) en Jimmy Iovine (een van Interscope se grootkoppe), soos in “Fok Julle Naaiers”. Die Antwoord en Interscope se paadjies het einde 2011 geskei, omdat die platemaatskappy ná gerugte nie gaande was oor die eksplisiete aard van die lirieke op TEN$ION nie. As mens in ag neem dat dit juis die ongewone anti-pop sensibility was wat aanvanklik die aandag op Die Antwoord gevestig het, kan mens nie verbaas wees dat die groep eerder die paadjie alleen loop as om te buig voor kommersiële oorwegings nie. Miskien is dit ’n goeie ding, want die groei wat waarneembaar is op TEN$ION sou dalk getemper geword het onder die Interscope-vlerk. In ’n aanlyn-video gee Ninja ook ’n leidraad tot die spanning tussen die musiekgroep en Interscope wanneer hy verduidelik dat Die Antwoord nie sal buig voor politieke korrektheid nie, maar dat hulle gebruik van sekere woorde (soos faggot) juis aanhangers wil uitdaag om opnuut te dink oor die betekenis van hierdie woorde.

In sekere opsigte is TEN$ION nie net meer uitdagend nie, maar ook 'n baie persoonliker album. Ninja en Yo-Landi gee vir die luisteraar 'n bietjie van Die Antwoord se geskiedenis deur hulle eie oë. “Yo-Landi shows me two stripes on the fokken piss test/ broke ass ninja gonna be a daddy/ little baby Ninja gonna need some nappies/ gave it my best shot, never pressed stop/ thank god die moederfokken Antwoord went Pop”. So verduidelik Ninja in die snit “So What?” met slim woordspeling op die woord “Pop” hoe hy uitgevind het Yo-Landi is swanger met hulle kind, Sixteen. Terselfdertyd steek hy twee middelvingers in die lug vir diegene wat reken om populêr te wees is 'n slegte ding, en ook moontlik vir Interscope, wat reken Die Antwoord is nie aanvaarbaar genoeg om populêr te wees nie. Dit is intelligente lirieke soos hierdie wat toon dat daar baie meer skuil in TEN$ION as net vloekwoorde en eksplisiete tematiek: dit is gemik op almal wat gereken het Die Antwoord sal dit nie maak nie, maar dit is ook ’n bevestiging van die groep se selfvertroue in wat hulle doen.

As jy reeds ’n aanhanger van Die Antwoord is, hoef ek jou beslis nie te oortuig dat TEN$ION die moeite en geld werd is nie. Ek sal wel sê dat hierdie album waardevol kan wees selfs vir dié wat nog nie veel na hierdie groep geluister het nie – as jy net bereid is om te luister.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top