Die antidemokratiese denkstroom by universiteite

  • 15

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Christi van der Westhuizen (foto: https://www.youtube.com/; kykNET)

Die diskoers van dekolonisering wat sedert die #RhodesMustFall-beweging verlede jaar by universiteite stoom opgetel het, bevat ‘n onrusbarende antidemokratiese denkstroom wat die hoofstroommedia óf miskyk óf sensasionaliseer vir eie gewin. In hierdie artikel poog ek ‘n skets van die omstandighede van die verwikkeling en ‘n kritiese beskrywing van sommige elemente wat blyk daarvan deel te wees. Maar laat ek eers beklemtoon dat die dekoloniseringsdiskoers uit veelvoudige, mededingende posisies bestaan en dat ander lede van die studente-dekoloniseringsbeweging die impuls wat ek hier probeer beskryf, aktief teenstaan.

Studente se dekoloniseringsdiskoers getuig van 'n diepgaande ontnugtering oor transformasie. Met “transformasie” word hier bedoel ‘n omvattende projek van nasionale verandering in navolging van die Grondwet wat sedert die eerste demokratiese verkiesing aan die gang is. Studente se betogingsaksies het die hardnekkige gapings in transformasie – soos vergestalt in verskillende vorme van uitsluiting (finansieel, kultureel) en geweld (seksueel, simbolies) – in hoëronderwysinstellings ontbloot.

Dit is van belang dat hierdie historiese oomblik na twee dekades van demokrasie verskyn. Die agtergrond is wêreldwye ekonomiese onstabiliteit soos die magte van laat kapitalisme weer hul voete na die finansiële inploffing van 2008 probeer vind. Uiteraard het die globale ekonomiese situasie ‘n beduidende impak op Suid-Afrika. Dit dra by tot 'n toenemende nasionale neerslagtigheid oor ‘n groeiende politieke en sosiale krisis wat spruit uit die oënskynlike onversetlikheid van ons geërfde probleme, veral sosiaal-ekonomiese ongelykheid, en die nuwes wat bygevoeg is.

Die tydbom van klasse-ongelykheid waaroor ek en ander ontleders al lank skryf, is besig om te ontplof, maar die ontploffing het onverwagte aspekte en blyk nou meer omvangryk as klas te wees. Dit is eerder soos ‘n klomp tydbomme wat tegelykertyd en aanhoudend ontplof. Die skerwe van patologieë in ons samelewing (rassisme, seksisme, marginalisering, uitbuiting, korrupsie, outoritêre impulse) spat in alle rigtings, verdwyn, herverskyn of word vervang deur selfs erger vorme. Materialisme en relatiewe deprivasie verskerp terwyl sosiale verhoudings polariseer en instellings verkrummel.

Heelwat hiervan speel uit by universiteite, veral die histories wit instellings. Midde-in die krisis tree die studente na vore as ‘n opnuut verpolitiseerde sosiale formasie, gebore te midde van die ontnugtering oor die postapartheid projek van transformasie. ‘n Seksie van die studente – oor verskillende kampusse heen – beskou transformasie blykbaar as 'n algehele mislukking. In reaksie slaan hulle ‘n antidemokratiese rigting in waarvan die omvang binne die groter dekoloniseringsdiskoers moeilik peilbaar is, gegewe die verskeidenheid van posisies en die mededinging oor wat dekolonisering nou eintlik beteken.

Dit is belangrik om ag te slaan op die antidemokratiese posisionaliteit, omdat dit inpas by die groeiende krisis van konstitusionalisme: ons gedeelde en groeiende onvermoë om die visie van die Grondwet lewend te maak op maniere wat verbeeldings steeds aangryp en ingrypende veranderings aan meer as net middelklaslewens aanbring. Hierdie onvermoë raak fataal wanneer lede van die opkomende intelligentsia deur outoritêre modelle van verandering oorrompel word.

‘n Onlangse voorbeeld van die verskynsel is die onderbreking van ‘n paneelbespreking by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) oor “The university and its worlds”, waar die filosoof Judith Butler, die politieke wetenskaplike Wendy Brown en die kritiese rasteoretikus David Theo Goldberg, al drie van universiteite in die VSA, saam met Achille Mbembe, die postkoloniale teoretikus van Wits, aan die woord was, onder leiding van Premesh Lalu, postkoloniale denker van UWK. Die gesprek het gehandel oor die globaal verdiepende krisis van universiteite, grootliks te wyte aan neoliberalisering. ‘n Groep studente het die funksie onderbreek omdat hulle kwansuis genoeg gehad het van wit buitelanders wat swart mense probeer voorsê en omdat waaroor gepraat word niks beteken vir die meerderheid Suid-Afrikaners wat steeds in “apartheid” lewe nie.

Xolela Mangcu, ‘n sosioloog van die Universiteit Kaapstad, het probeer ingryp, maar is verskree. Die studente het Mangcu en Mbembe as “sell-outs” en, volgens sosialemedia-weergawes, as “house niggers” uitgekryt.

‘n Soortgelyke voorval het onlangs by die Universiteit van die Vrystaat by ‘n seminaar van die studenteraad plaasgevind waarheen ek genooi is om oor wit bevoorregting te praat. ‘n Klein groepie studente het my onmiddellik ná my praatjie op aggressiewe wyse aangeval.

‘n Ander voorval was by ‘n onlangse opname van e.tv se The Big Debate, waarheen ek as gas genooi is. Lede van #RhodesMustFall en Andile Mngxitama se Black First, Land First was aan die woord. Dit het ‘n oefening in onverantwoordelike “joernalistiek” geword waarin ‘n ruimte vir die aanstigting van geweld geskep is.

Op grond van hierdie ervarings en ander voorbeelde by ander universiteite, insluitend die Universiteit van Pretoria, Wits en Unisa, poog ek om ‘n skets te gee van die buitelyne van die tendens, met verwysing na sewe elemente wat saam op ‘n antidemokratiese posisie neerkom:

(1) Die aandrang dat Suid-Afrika nie ‘n demokrasie is nie en dat die woord “postapartheid” ook nie gebruik mag word nie, want apartheid duur onaangeraak voort.

(2) Die aandrang dat die Grondwet die dokumentêre bewys is van hoe die huidige regeerders swart mense aan die voormalige wit regeerders uitverkoop het. Swart mense wat nierassigheid of die Grondwet steun, het ook aan wit mense uitverkoop.

(3) Dat demokrasie ‘n Westerse invoerproduk en nie “eg” aan “Afrika” is nie.

(4) ‘n Aandrang op ‘n essensialisering van witheid en swartheid.

(5) Dat die “revolusie” onvoltooid is en geweld die enigste manier is waarop geregtigheid in Suid-Afrika kan seëvier.

(6) Dat swartheid die enigste politieke en sosiale kategorie van belang in die stryd om sosiale geregtigheid is, en dus dat geslag, seksualiteit en ander kategorieë eenkant geskuif moet word. Kortom, die posisie is openlik antifeministies, patriargaal en homofobies, en verwerp eksplisiet die swart feministiese teorie van interseksionaliteit.

En dan die sewende element ...

(7) Die aanvoerders van hierdie argumente kom as meestal middelklas voor, ‘n relevansie wat debatteerbaar is, gegewe die teenstrydige rolle wat middelklasse histories in tye van verandering speel.

Weer eens moet ek beklemtoon dat hierdie skets net die buitelyne en nie die nuanses bevat nie, en dat al die elemente tans aan intense mededinging onderwerp word en hoegenaamd nie statiese posisies is of enige konsensus verteenwoordig nie. Dit word vurig teengestaan. Soos onlangs byvoorbeeld by Wits gesien is, loop swart feministe en queers die patriargale posisie trompop. By die UV-bespreking het swart SR-lede en ander studente hulle sterk ten gunste van robuuste, maar ook oop en inklusiewe gesprekvoering uitgespreek.

Die antidemokratiese argument gaan gebuk aan dehistorisering, soos in die aandrang dat apartheid onverstoord voortbestaan. Om te sê Suid-Afrika is vandag ‘n demokrasie, is nie om te ontken dat apartheid se nalatenskap voortduur nie, maar dien as erkenning dat ons in ‘n historiese oomblik is waarvan die omstandighede eienskappe van die verlede kanaliseer, maar waarin daar ook nuwe realiteite is wat meegebring is deur demokratisering. Dit is nie dieselfde as apartheid nie, want talle nuwe sosiale potensialiteite is beskikbaar gestel, en ons is in ‘n proses van politieke mededinging om daardie moontlikhede te verwesenlik, of nie. In dié sin is demokratisering ‘n voortdurende proses wat nooit ten volle afgehandel word nie.

By die UV het die groep my poging tot die historisering van witheid – die ontleding van die veranderende posisies van witheid sedert die 1980’s – affronterend gevind omdat dit inmeng met hul geëssensialiseerde weergawe van witheid en swartheid. Terselfdertyd is die aandrang dat wit mense moet stilbly.

Hoewel ek die posisie ondersteun dat wit mense, mans en straights in sommige situasies moet stilbly, is ‘n seminaar wat gereël is deur ‘n SR wat verteenwoordigend van ‘n universiteitsgemeenskap is, nie so’ ‘n situasie nie. Wit mense, mans en straights het ‘n plig om aktief deel te neem om wit heteropatriargie as magstruktuur af te takel en gelykheid en emansipasie te bevorder. Wat wel vereis word, is dat voorheen gemarginaliseerde persone die leiding moet neem in die bewerkstelliging van sosiale geregtigheid. Dít is die beginsel waardeur wit mense, mans en straights hulself moet laat lei in hul deelname aan hierdie prosesse.

Persone in bevoorregte posisies kan dus onder sekere voorwaardes deelneem. Om wit mense voor die voet stil te maak in gedeelde ruimtes, help ‘n politieke agenda aan wat die verskeidenheid in politieke posisies in wit geledere ontken.

Dieselfde truuk is by The Big Debate gedoen: ek, die VF+ se Corné Mulder, AfriForum se Monique Taute, die joernalis Rebecca Davis, Daily Maverick se Ivo Vegter en Sarah Godsell, die dogter van Bobby, word almal een. Alle wit mense deel een politiek; ditto alle swart mense. Uiteindelik was daar dus geen wit mense wat apartheid teengestaan het nie en was daar geen swart mense wat by apartheid gebaat het nie.

Terselfdertyd word witheid ‘n fantasmatiese objek wat almagtig staan in verhouding tot swartheid, wat tot slagofferskap gereduseer word, soos Mbembe argumenteer.

Hiermee probeer ek nie sê dat swart mense nie almal onder apartheid gely het nie – hulle het – of dat wit mense nie almal by apartheid gebaat het nie. Ek het by apartheid gebaat, en so ook elke ander wit mens, en dit was onregmatig. Wat ek wel sê, is dat daar ‘n groep wit mense was wat apartheid teengestaan het – sommige teen ‘n hoë prys vir hulself – en ‘n groep swart mense wat met die apartheid-regime saamgewerk het. Verder is dit so dat apartheid swart mense verontmenslik het, maar om die onderdrukker te gewees het, het ook wit mense húl menslikheid laat verloor.

Deur hierdie ingewikkeldhede en verwikkeldhede te ontken, ontken mens die morsigheid van die verlede en hede. Die omskakeling van koloniale terme (wit = sleg / swart = goed) is nie dekolonisering nie; dit is ‘n voortborduring op die koloniale logika. Dit kom neer op ‘n hernude poging tot verabsolutering (apartheid was die vorige poging) wat dit amper onmoontlik maak om openings te vind waar self en ander na mekaar kan uitreik. Ons moet juis ons vervlegtheid – dit wat apartheid ongedaan probeer maak het – erken, want dit is waar die potensiaal gevind kan word om saam ons menslikheid te herwin. Die enigste manier om dit te bewerkstellig, is om mekaar se menslikheid te erken.

Die essensialisering en dehistorisering wat onderliggend aan die antidemokratiese tendens is, het ook ander ongelukkige gevolge. Dit maak “swart mense” (asof van ‘n monolitiese blok gepraat kan word) as noodwendig outokraties af – en dis gewoon onwaar en teenstrydig met die bewyse oor prekoloniale-Afrika-stelsels, soos beskryf deur Mahmood Mamdani. En dit skep ‘n afstootlike korrelasie tussen swart mense en geweld wat erg herinner aan koloniale rassisme.

Nog ‘n effek van die antidemokratiese tendens is dat dit die deur oopmaak vir die Grondwet om uitgegooi te word. Saam met die antifeministiese en homofobiese element begin mens veral hier ‘n politieke agenda opmerk. Eerstens ontken die posisie die werklike politieke gevegte (fisiek en ideologies), gepaardgaande met die hoogste lewensverlies in die hele apartheidtydperk, wat uiteindelik die Grondwet geproduseer het. Die globale en plaaslike ingewikkeldhede, die ANC se werklike kapasiteit en ideologiese posisie, die NP wat ten spyte van sy beheer oor meganismes van staatsterreur moes afstand doen van ‘n wit veto, en die talle ander spelers en faktore word geïgnoreer. Die argument sentreer op die verskansing van eiendomsreg in die Grondwet, gelees as die teken dat die Grondwet swart mense uitverkoop. Aan die hand van pan-Afrikanistiese argumente van die middel-20ste eeu word daarop aangedring dat die grond teruggevat moet word op dieselfde wyse as wat koloniseerders die grond afgevat het. Hoewel die herstel van swart mense se grondbesit een van die belangrikste postapartheid doelwitte moet wees en die ANC klaaglik misluk het in dié verband, is dit opvallend dat die klem in die argument op die grond gelê word ten koste van alle ander regte. Die oplossing wat voorgehou word, is nie grondwetlike wysiging en versnelde grondhervorming nie. Die oplossing is: skrap die Grondwet. Gelees saam met die patriargale politiek van die posisie is die toekomsvisie dus ‘n “natuurlik outokratiese” patriargale staat met plek vir sommige swart mense. Daarom dat Mbembe in hierdie kring persona non grata is, want hy dring daarop aan dat dekolonisering hand aan hand met demokratisering moet verloop.

Die klem op grond skep die indruk dat uitwissing van sosiaal-ekonomiese ongelykheid van die hoogste belang vir die antidemokratiese posisie is. Maar opvallend het hierdie denkstroming min oor die neoliberalisering van hoër onderwys te sê. Neoliberalisering is 'n ideologiese tendens waarin universiteite weggedraai word van hul historiese rol as sentrums van denke wat toegewy is daaraan om sin van onsself en die planeet te maak. In die plek daarvan, aangestu deur 'n golf van anti-intellektualisme, kom 'n verskraalde instrumentalistiese visie van die universiteit as sakebedryf met die uitsluitlike doel om studente vir die arbeidsmark op te lei; die ryke omvang van menswees word tot kapitalistiese werktuig (werkos?) gestroop. Die tekort aan kritiek hierop stel verdere vraagtekens oor die politieke agenda aan bod.

Die oorbeklemtoning van witheid laat deelnemers aan die denkstroming toe om die swart olifant in die kamer (om 'n Engelse uitdrukking effens aan te pas) te ignoreer. Hoewel witheid as magstruktuur ongedaan gemaak moet word, sal selfs die verwydering van elke wit mens uit Suid-Afrika (Ferial Haffajee se gevaarlike provokasie) dit nie bewerkstellig nie. Die olifant wat aandag moet kry, is die agteruitgang van die ANC. Deel van die nasionale neerslagtigheid het te doene met 'n verdiepende teleurstelling oor die ANC, ook onder studente. Die party se greep op mag is om twee redes besig om te verslap: die onvermoë om apartheid se destruktiefste nalatenskap van klasse-ongelykheid betekenisvol te beredder, en die verlies aan die morele agting wat die party na die terugkeer uit ballingskap geniet het. Terwyl hierdie feite baie swart mense mismoedig stem, is daar wit mense wat met ‘n soort fatalistiese Schadenfreude hulself daarin verlustig.

Dit bring ons by sommige wit mense se medeaandadigheid aan die antidemokratiese tendens. Soos reeds gesien, werk swartheid en witheid as medekonstruksies – konstruksies wat self skep in verhouding tot ander. Die Schadenfreude-posisie is deel van ‘n verhardende witheid wat as medevervaardiger van die antidemokratiese swart posisie dien. Hierdie spesifieke wit posisie is ook wesenlik antidemokraties, essensialiserend en verontmenslikend. Die dinamiek wat aan’t loop gesit is, is pogings tot die afsluiting van wit identiteit wat pogings tot afsluiting van swart identiteit uitlok, en andersom. Dit werk na albei kante.

Ons het dringend individuele en kollektiewe herbesinning in Suid-Afrika nodig, met ‘n fokus op hoe om die Grondwet ‘n lewende dokument te maak. Voordat polarisasie verder verdiep en almal tussen die kortsigtige uiterstes van verhardende witheid en swartheid vasgeklem word.

* Christi van der Westhuizen (PhD) is medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria. Hierdie ontleding verteenwoordig haar sienings en nie dié van die Universiteit van Pretoria nie.

  • 15

Kommentaar

  • Avatar
    Cilliers van Niekerk

    "Hoewel ek die posisie ondersteun dat wit mense, mans en straights in sommige situasies moet stilbly, is ’n seminaar wat gereël is deur ’n SR wat verteenwoordigend van ’n universiteitsgemeenskap is, nie so ’n situasie nie."
    Is jy werklik blind vir die ironie, Christi?
    Laat ek dan verduidelik: Jý sluit op eie gesag en voorkeur, sonder nuans of argument des aansiens die on-/ te goed gewastes uit van gesprek; jou treiteraars (snuif, snuif) sluit jóú ewe onredelik uit. "Juste et fort", sou Camus sê, duidelik sonder vertaling!
    En wat, logies gesproke, het jou persoonlike "stryd teen apartheid" dekades gelede nou juis uit te waai met sake van die dag en aan die bas vir die swart studente? Veral as jy soos bo niks van nut te bied het nie behalwe tongklikkende en treurige aankondigings oor 'n heel bewuste verwerping van demokrasie as misluk en misleidend?
    En nou dat ons so handel in die ironie, het jy daarvan kennis geneem dat Julius juis jóú en die ANC se swartste skape, bekwame ou wit mans, gaan inspan om die EFF se munisipaliteite-te-wen so goed as onder Apartheid (hyg, hoes, swymel) of beter te bestuur?

    • Avatar
      Cilliers van Niekerk

      Naskrifironie: As jy en medekaders juis meer soos Julius gedink het oor in- en uitsluit het die swart jeug nie nou sulke goeie gronde tot radikale mishae gehad nie - julle planne sou tot uitvoering gekom het onder die hande van die ou, wit verworpenes! Pragtig, né?

  • Ek verskil gewoonlik van Christi, vind haar standpunte frustrerend en lees haar rubrieke met traagheid en ondeurdenkte negatiewiteit. Haar posisie lewer intellektuele pitkos wat heeltyd herkou moet word. Ek word gedwing deur haar beredenering om my eie vooroordele te konfronteer en 'n moontlikheid van 'n beter meer omvattende verstaan word hierdeur daar gestel. Hierdie stuk lig weereens die onderstrome tot helderheid en noodsaak verdere rasionele gesprek.

  • Avatar
    francois verster

    Ek dink baie van wat sy skyf het meriete, maar sy en al die ontleders waarvan sy praat skraap nog net vlak onder die vel, en seksisme, terloops kom oral voor, nes rassisme. So hoekom nie oraloor, gedurigdeur sulke konflik nie? Die kernvraagstuk bly iets dieper: hoe 'n derdewêreldmentaliteit by 'n snel-veranderende wereld kan aanpas? Zuma se "antwoord" is sosialisme, soos hy geleer is. En ons weet wat dit gaan meebring. Nog groter konflik, en ons weet ook wie die sagte teikens is.

  • Avatar
    Marius Muller

    Hoe op aarde moet gewone wit en swart mense hierdie akademiese gesprek verstaan? Al die hoë woorde. Gewone mense sal ’n spesiale woordeboek moet aanskaf om al die definisies van woorde te probeer verstaan, is daar so woordeboek? Die mens se grootste probleem kyk hy mis en probeer om self sy probleme op te los. Die mens skep sy eie gelowe soos politiek ,sielkunde ,wetenskap ens ,hy skep dan die groot woorde ,bepaal sy eie definisies wat net die skeppers verstaan en laat gewone mense glo dat net die ekspert akademici eintlik weet wat aangaan.
    Die bestaan van mensewysheid is so oud soos die mens self vanaf Adam en Eva, Plato ,Aristoteles ens tot vandag se Richard Dawkins, onlangse Darwins, Freuds , Hawkins, Sagan ens. Die mens se probleem is eenvoudig sy sonde. Daar is net een enkele waarheid met een enkele oplossing nl die aanbidding van die bybelse God en die mens se onderdanige gehoorsaamheid aan Hom. Natuurlik sal so stelling afgelag word, solank as wat mense op aarde dit nie glo en bedryf nie sal daar nooit samesyn, vrede of orde op aarde wees nie en so voorspel die woord van God dit ook. Al wat ons het is voortdurende argumente met geskepte woorde waaraan ons self ons subjektiewe betekenis gee met geen oplossing nie. Wat is die oplossing? Somigges sal selfs vra ,"wat is die probleem?" Daar is geen oplossing in so sisteem nie, slegs ’n hand vol mense sal die weg of ware "oplossing" vind, hulle wat finaal besef ons leef in ’n wêreld wat verdoem is tot totale verderf en sinnelose menslike wyshede en al wat oorbly na al die gepratery is net ’n verhouding met God deur Christus in eenvoudige onderdanigheid en om alles te glo en doen wat Hy beveel, soos ’n kind in eenvoud. Sien jy so iets gebeur? Verseker, maar ongelukkig sien net ’n ongelooflike klein minderheid dit ooit raak. Daar is geen antwoord in die wêreld nie, net subjektiewe opinies wat uitgeruil word deur nimmereindigende sirkelredenasies wat hopeloos en betekenisloos is. Die wêreld se ongelowige mens is soos ’n mier wat rondskarrel op soek na betekenis en dit nooit vind nie. Universiteite produseer net meer en meer van hierdie akademiese miere wat nie eers hulself verstaan nie en nog minder die wêreld of God. Wat ’n tydmors en gejaag na wind. Die kennis van God is die begin van wysheid en die res is leuens en selfverheerliking. Die wêreld se wysheid is twak in God se oë.

  • Dit is die mees gebalanseerde stuk oor die (moeilike, komplekse) onderwerp wat ek nog gelees het. Dit is lekker om dit boonop in Afrikaans te kan lees. Die uitwys van die reperkussies van die agteruitgang van die ANC is belangrik.

    • Avatar
      Johann Basson

      Max, ek stem saam.
      Christie: "Deel van die nasionale neerslagtigheid het te doene met 'n verdiepende teleurstelling oor die ANC, ook onder studente."
      Ja, toe ook maar net voete van klei en 'n DNS van korrupsie. Wat 'n teleurstelling.

  • Wel - dit lyk of die swaaie en oorboordgaan van polariserende opposisies ook vir Christi stof tot nadenke gebring het - miskien is dit goed dat wit-links soms ook bietjie wan-behandel word.
    Sy noem 'n hele reeks -isme-siektes en essensialiserings. Die kernvraag vir my is dit: wat het hulle almal ontologies in gemeen? Sodra 'n mens vroulikheid 'n absolute maak, lok jy manlike-chauvinisme verder uit; sodra jy swart 'n absolute maak jaag jy die wittes op 'n trop. Nou kom die groot moeilikheid - die groepe is nou antagonisties en skryf skuld toe: en dan kom die gevegte.

  • Stem saam, jy gebruik woorde wat bykans GEEN Afrikaner verstaan, wat probeer jy sê? Die slimste ouens het altyd die grootste woorde maar los selde die probleme op. Jou sogenaamde verduidelikings strek niks verder as ’n klein groepie sogenaamde slimkoppe nie. Kom aarde toe, die probleem lê hier. Jou hoe woorde bring ons nêrens, solank die wittes hulself bly regverdig en isoleer sal ons nêrens kom! Die swartman lewe steeds in wittes se skadu. Sien dit daagliks, was jy al ooit in ’n "squatter kamp, township of arm swart gemeenskap? Ek werk al 35 jaar daar, maar wat help dit om te praat?

  • Avatar
    Christo Ebersohn

    Goed gedoen en benoem Christi. Ek kan verstaan dat party GEWONE mense kla oor die ingewikkelde taalgebruik en daaroor wil ek net die volgende boodskap oordra. Die tegniek van behoorlik verwoord en omskryf en beskryf van enige probleem is die eerste stap in die rigting van 'n moontlike oplossing uitdink. 'n Mens moet die "ding" effektief en akkuraat kan benoem alvorens jy werklik kan begin om dit te verstaan en op te los. En ja die benoemming van ons land se baie probleme is moeilik en het onstaan uit die baie komplekse wisselwerking tussen historiese verdeelde groepe en drog beleide en gelowe. Ons sal maar moet leer om weer vlot en soepel in ons moedertaal te kommunikeer en die artikulasie van ingewikkelde begrippe met sintese en kompendium uit te spel. Hou so aan asseblief!!

  • Netjiese beredenering en handige terminologie in Afrikaans, dankie. Die Engelse terme word wyd genoeg in die media en in debatvoering gebruik sodat die artikel juis nie as akademikaans oorkom nie. Goed beredeneerd en insiggewend, ja.

  • Avatar
    Johann Basson

    Professor van der Westhuizen, 'n goeie insiggewende artikel.
    Suid-Afrikaners het in hoofsaak twee probleme: 1) Uiterste gebrek aan wêreldkompeteerbaarheid en 2) Historiese minderwaardigheids- en meerderwaardigheidskomplekse.
    Die harde werklikheid is dat Suid-Afrikaners deel is van 'n hoogs mededingende wêreldgemeenskap. Geen Grondwet en Handves van Menseregte bring pap in die dikderm nie. En presies hier begin die stryd om sondebokke te soek wat dan kwansuis die oorsaak sou wees dat die pap nie deur die gat in die gesig in die dikderm beland nie.
    En dan is daar die politieke opportuniste wat 'n nuwe Animal Farm wil vestig ter selfverryking.
    Daar behoort 'n Gantt-kaart opgestel te word met uitkoms "Suid-Afrikaanse wêreldkompeteerbaarheid". Hiervoor is eerbare opofferende leierskap 'n vereiste.
    Die alternatief is 'n eindelose stryd van soort soek soort ter oorlewing.

  • Dis lank gelede - ek het al vergeet hiervan. Christi praat deesdae gewoner. Terminologiese benoeming moet sekerlik goed gedoen word, maar deesdae is daar 'n vreeslike rondgooi van nuwe linkse termgebrou. Feit is - sy bly in die modus van linkse polariteite en daarom die sigbare ironieë. Die ondergang van rasionaliteit is die Moderne dialektiek - beide links en regs. Haak vas in die individuele versus kollektiewe; materieel-"konkrete" versus ideologies-abstrakte ("witheid" is onsin); linkse materialisme wat bou op regse kapitalisme - en so gaan dit aan. Metodologies is dit volledig mis - ook al dink Max dis knap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top