
Titel: Die anderste meisie
Skrywer: Magda Schmidt
ISBN: 9781779871657
Uitgewer: Romanza
Ek het pas Magda Schmidt se Romanza, getiteld Die anderste meisie, neergesit nadat ek dit klaar gelees het. Magda was vir twee dekades ’n dosent in Afrikaans. Sy, ’n gebore romantikus, is nou afgetree en skryf voltyds stories. Liefste buurmeisie (2026), Diagnose: hart verloor (2025) en Saggies ontwaak my hart (2024) is van die Romanzas wat al uit haar pen verskyn het. Sy is glo dol oor liefdesverhale.
Die anderste meisie is ’n mooi romantiese storie; ek het heel genoeglik daaraan gelees. Dit onderskryf outydse waardes, die belangrikheid van vriendskap tussen man en vrou en ’n geleidelike hofmaakproses. Die skrywer lê hiermee klem daarop dat ’n paartjie mekaar eers goed moet leer ken en seker maak dat hulle vir mekaar bedoel is, alvorens hulle saam tussen die lakens inspring. Daar is niks mee verkeerd om te onderneem om tot die huweliksnag te wag met seks nie.
In Die anderste meisie leer die leser vir Petra Cloete en Wouter Dreyer ken. Petra, ’n boekwurm, werk sommige dae in die kampusboekwinkel, terwyl sy aan haar M-verhandeling in vergelykende letterkunde skryf. Daarvoor lees sy romans en memoires in Afrikaans, Engels en Frans wat oor dieselfde tema handel. Wouter werk by ’n ingenieursfirma en is besig met sy M in ingenieurswese.
Hulle vryf mekaar tydens hul eerste ontmoeting verkeerd op toe Petra, onder die indruk dat hy ’n opperste rokjagter met bedenklike morele waardes is, hom waarsku dat hy nie met haar jonger vriendin Estrie Havenga, ’n eerstejaar, se gevoelens moet speel nie. Sy wonder of daar iets meer in Wouter se kop aangaan as rugby, bier, meisies en seks. Hy reageer só daarop: “Nou is jy beledigend en buitendien veralgemeen jy gruwelik” (9).
Wouter het wel ’n reputasie as ’n man wat in aanvraag is onder die meisies en nie huiwer om dinge by geleentheid tot in die slaapkamer te neem nie. Maar hy maak altyd seker die meisie is gewillig en weet hy het beslis geen trouplanne nie – dáárvoor is hy te sinies ná sy ouers se egskeiding. Hy is egter nie onverantwoordelik en ’n gewetenlose hartebreker nie.
Ná hulle aanvanklike stormagtige ontmoeting, maak Wouter ’n punt daarvan om Petra te bevriend. Sy het aan hom haar lysie vir ’n ideale man voorgehou. Dié moet intelligent en interessant wees, gelowig, sterk en standvastig, met ’n onkreukbare karakter. En die belangrikste van alles is dat hulle geesgenote moet wees. Wouter gee onbewustelik vir homself punte op haar lysie en voel dat hy tekort skiet. Teen sy sin moet hy egter erken dat die anderste meisie hom boei en dat hy haar graag beter wil leer ken. Hy oortuig haar dat hulle vriende kan wees. Sy stem in tot ’n vriendskapskontrak op voorwaarde dat hulle nie vriende met byvoordele sal wees nie. Sy hou immers van hom, al keur sy nie sy alle fasette van sy leefwyse goed nie.
Bogenoemde skep die scenario vir ’n heerlike storie waarin man en vrou mekaar leer ken, tyd saam deurbring, kerk toe gaan en oor hulle belangstellings gesels. Hulle leer mekaar respekteer en vertrou. Stadig maar seker raak dinge ernstiger tussen hulle en ontwikkel daar ’n verhouding. Natuurlik raak hulle ook op ’n lyflike manier al meer geïnteresseerd in mekaar en kom teen die versoekings te staan wat menige paartjies ervaar. Daar is ook meningsverskille en misverstande. Hulle stem nie oor alles saam nie. Op ’n stadium lyk dit of hulle paadjies gaan skei.
Die storie ontwikkel teen ’n gemaklike pas. Die karakters se dialoog en handelinge is goed gemotiveer. Albei doen introspeksie en leer en groei uit hulle ervaringe. Die aantrekkingskrag en natuurlike bewuswording van mekaar geskied op ’n geloofwaardige wyse. Die interessante newekarakters en hulle onderliggende stories is behendig deur die hoofstorielyn vervleg.
Daar is wel ’n paar dingetjies wat my gepla het. Die feit dat Wouter vir Petra as ’n “anderste meisie” sien en haar selfs so noem, word tot vervelens toe herhaal en op ’n stadium noem sy hóm glads haar “anderste man”. Ek voel die oorbeklemtoning is oordoen en onnodig.
Dan word daar na Estrie, die eerstejaar en ’n vriendin van beide Wouter en Petra, verwys as onskuldig en klein. Woorde soos “meisietjie” (7), “fraai gesiggie” (17), “vriendinnetjie (21) het my op my tande laat kners. Dit het my telkens laat dink hulle verwys na ’n klein dogtertjie pleks van ’n jong vrou wat al ’n kêrel het.
Dit was egter verfrissend om ’n “stadiger” liefdesstorie te lees. Een waar ’n paartjie doelbewus besluit om mekaar eers te leer ken alvorens hulle ’n romantiese verhouding oorweeg. Die voorblad wys ’n paartjie wat saam tyd in die natuur deurbring. Hulle glimlag vir mekaar en deel duidelik ’n mooi oomblik. Ek dink dit som die storie perfek op.

