|
Opsomming
Marié Heese se roman Vuurklip (2013) word bestudeer met behulp van die leesstrategieë van die nuwe materialisme en om te bepaal watter waarde of verruimende perspektief te vind kan wees in die spesifieke voorstellingswyse van die landskap in hierdie roman. Met landskap word die mens se subjektiewe ervaring van en vormgewende proses ten opsigte van materiële elemente geïmpliseer. Die nuwe materialisme is ’n intellektuele beweging in opposisie met die sogenaamde linguistiese draai (linguistic turn) wat geassosieer word met die postmoderne teorieë van die poststrukturalisme en dekonstruksie, waarin ’n abstrakte tekstuele siening van die werklikheid voorop gestel word en wat lei tot die dematerialisering van die wêreld tot linguistiese en sosiale konstruksies. Ekokritici wat die materiële draai (material turn) aanhang, oftewel die ommekeer in die guns van materialiteit, bepleit ’n wegkeer van ’n uitsluitlik vertekstualiseerde werklikheidsbeskouing om weer die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid te erken. Die toepassing van die teoretiese beginsels van die nuwe materialisme in Vuurklip lewer ’n skerp blik op die vergestalting van die vitaliteit en dinamies handelende rol van materie, die mens as deel van ’n interaktiewe geheel van materialiteit, en die vervloeiing van die sfere van die lewende en nielewende. Dit lei ook tot die ontdekking van die omkering van konvensionele subjek-objek-verhoudings wanneer die nielewende se stem dié van die mens oorheers, en werp lig op die kragte van beïnvloeding wat aan tradisioneel nielewende dinge toegeken word in die roman. Die wyse waarop die landskap in Vuurklip tot stand kom uit die mens se wisselwerking met en vormgewende persepsie ten opsigte van materiële elemente kan bydra tot ’n bewustheid van, en ’n sin van skakeling met, die materiële wêreld. Die objektivering van die natuurwêreld en die verdwynende interaksie met die lewende en nielewende entiteite daarvan dra by tot die mens se houding van beheer en verbruik; Vuurklip bring egter verruimde insig ten opsigte van die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan.
Trefwoorde: Marié Heese; materiële dimensie van ons bestaan; nuwe materialisme; objekgeoriënteerde ontologie; uitbeelding van landskap; Vuurklip.
Abstract
The all-encompassing material dimension of existence: aspects of new materialism in Marié Heese’s Vuurklip
Marié Heese’s novel Vuurklip (2013) is an important addition to the small corpus of literary accounts in Afrikaans dealing with the life circumstances of the indigenous people in South Africa’s earliest times. Making use of the reading strategies rooted in new materialism, this study of Vuurklip seeks to establish what value or broadening of perspectives may be found in the specific ways landscape is portrayed in the novel. In so doing, it assumes that landscape implies an external world mediated by or shaped through subjective experience. At the same time, this article sheds light on significant dissimilarities which the novel offers regarding historical literary texts that have, thus far, focused on the variety and complexity of human relations, and on the socio-political effects of our anthropocentric existence.
New materialism is an intellectual movement opposing the so-called “linguistic turn”, the view that language constructs reality. Over the last several decades theorists like Jacques Derrida, Julia Kristeva, and Michel Foucault have focused on the power of language to define and constitute our world by providing us with the concepts for these structures. They claim that reality consists of a system of language symbols.
According to Iovino and Oppermann (2012:76) one of the key points of the “material turn” is a pronounced reaction against some radical trends of postmodern and post-structuralist thinking that “dematerialised” the world into theoretical and linguistic constructions. Ecocritics like Cheryl Glotfelty (1996:xxiv) and Karen Barad (2003:308) favour the material turn, emphasising the need to move away from abstract textual theories to recall the concreteness of existential fields and accept the important ways in which material reality affect both human and nonhuman dimensions of life. Their concern goes beyond opposing the separation between object and its representation by means of language. They strongly call into question not only the supremacy of language above the material object itself, but also the trend of allowing linguistic structures to determine our shaping and understanding of the world, and through which the intrinsic functioning of materiality is subverted (Barad 2003:802, Smith 2014a:755). Iovino and Oppermann(2012:76) describe the concern of new materialism as “focus(ing) attention on bodily experiences and bodily practices, where ‘body’ refers not only to the human body but to the concrete entanglements of plural ‘natures’, in both human and more-than-human realms”.
Matter, the basic principle underpinning ecology’s view of the coexistence of all things, is the substance of all living and non-living things and of all material formations, including“human and nonhuman bodies, organic and inorganic substances and forces” (Oppermann 2013:71). Bennett (2010:121) argues that the human attitude toward control and consumption of the natural world has its roots in the inability to notice the broader spectrum of nonhuman forces in and around him. Supporters of new materialism emphasise “the agentic contributions of nonhuman forces, operating in nature” (Bennett 2010:xvi). Nature is not seen as a passive social construct, but rather as a mediating force effecting interaction with, and change in, other elements, including human beings.
Referring to the intermixing of diverse entities, both human and nonhuman, Haraway (2008:161) writes of “the partners in infoldings of the flesh”. Morton (2010b:3) confirms these ideas from the theoretical viewpoint of object-oriented ontology: human and nature are one object, humankind exists right within, and forms part of, a massive, constantly changing object in which all things coexist. This leads to focusing on the reversal of the roles of subject and object and of human and matter, and to the decentralising of humankind (Morton 2011:165).
In studying Vuurklip, applying the reading strategies of new materialism means focusing attention on the way human characters are depicted as part of material existence as a whole. The search is concerned with representations of matter as a vital and dynamic force affecting other elements, even humankind, and on the physical intertwinement and interplay between all forms of life, as well as the interactive involvement between living and non-living things. The article focuses on human and nonhuman roles in the novel, and on the reversal of roles and the roles of dynamic activity and influence played by nonhuman characters.
By using new materialism as a lens through which to study Vuurklip, vivid traces of the literary expression of ideas about the fading away of the conventional division between the spheres of the living and non-living can be found. Gripping manifestations of interchanges and interconnections between various bodily natures serve to emphasise the material interconnections of human corporeality with the more-than-human world. Human qualities portrayed in the nonhuman confirm the idea of human agency having some “echoes in nonhuman nature” (Bennett 2010:xvi), and there is evidence of the ongoing interplay between human and nonhuman characters, affirming their interdependent and interactive coexistence as part of a singular and all-inclusive object.
Vuurklip offersvarious examples of the dynamic force and influence of agencies traditionally considered as non-living but now depicted in active roles. Enormous material consequences in the world they share with humans and other nonhuman presences are unleashed. The novel provides us with presentations of the narrative power of matter; of how nonhuman substances can construct their own productions of meaning in the narratives engraved in human minds and legends. The characters involved are those whose living conditions and understanding of life are moulded by the natural forces that combine human and nonhuman lives in the processes of evolution. Vuurklip is a vivid account of situations that illustrate the inversion of conventional relations between subject and object. Nonhuman voices dominate those of the human characters, opening new insights into the relationship between humans and matter, and between human beings and the environment.
This study sheds light on the way new materialism brings about a new way of reading texts, enhancing awareness of material exchange, and promoting a sense of connection with the material world. The current processes of objectifying the natural world and the decreasing interaction between its living and non-living entities have contributed to humankind’s attitude of control and consumption. The reading strategies of new materialism may stimulate a change in perceptions and actions. Following these strategies turns Vuurklip into a mind-broadening reading experience, illuminating the all-inclusive material dimension of existence.
Keywords: Marié Heese; material dimension of existence; new materialism; object- oriented ontology; portrayal of landscape; Vuurklip.
1. Inleiding
Vuurklip (2013), Marié Heese se derde Afrikaanse roman, verskyn drie dekades na haar trefferroman Die uurwerk kantel (1976), en is opnuut ’n bewys van haar veelsydigheid. Die uurwerk kantel en Tyd van beslissing (1983) is opgevolg deur drie Engelse historiese romans met die antieke wêreld as tematiese gegewe: The double crown (bekroon met die Statebondsprys vir die beste boek in Afrika in 2010; De Vries 2010:12) en die tweeluik The colour of power (2009) en A triple-headed serpent (2012). Nadat Heese haar in die meer onlangse verlede besig gehou het met ’n reisjoernaal, Die honger reisiger (2010), ’n kinder-e-boek, The storyphant (2012),1 en ’n jeugroman, Karoo-kantate (2013), keer sy terug na die genre van die historiese roman. Sy waag haar hand aan die heel vroegste Suid-Afrikaanse verlede met Vuurklip, op die bladomslag beskryf as “’n roman van die oertyd”.Hierin word die lotgevalle uitgebeeld van die land- en seestamme aan die suidkus van Afrika sowat honderdduisend jaar gelede, en word besondere uitdagings gekonfronteer ten opsigte die daarstelling van ’n soort taal wat die beeld van hierdie vervloë tyd vasvang.2 Vuurklip het ’n positiewe ontvangs geniet – dit word beskryf as ’n boeiende reis op etnografiese, argeologiese en narratiewe vlakke, deur ’n landskap van taal, betekenis en identiteit (Vosloo 2014); ook as ’n “besonderse roman deur ’n uitstekende navorser én storieverteller”, een wat “imponeer” as besinning oor die geskiedenis, ras en taal (Hambidge 2014:11).
Op Vuurklip se voorblad verskyn ’n mensefiguur, verdwerg deur die seelandskap rondom. Die figuur word deur die foto-ontwerp deel gemaak van die donker, spoelende water en klip in die voorgrond. Tog, aangesien die silhoeët terselfdertyd klein afgeteken staan teen die laaste liggloed van die dag, word die indruk geskep dat die gestalte oorskadu word deur die weidsheid van die landskap. Deur hierdie voorbladontwerp word gespeel met suggesties ten opsigte van die plek van die mens in die groter natuurgeheel – die figuur is sentraal en skerp afgebeeld op die foto, maar terselfdertyd omarm deur en ingetrek by die landskap wat oënskynlik domineer en waarvan die onmeetlikheid die leser se indrukke oorheers.
Die moontlikhede ten opsigte van die interpretasie van die voorbladontwerp is natuurlik talryk. ’n Ander leser sou dalk méér wou aflei uit die sentrale posisie van die mensfiguur en minder aandag skenk aan die rol wat aan die landskap toegeken word in die foto-ontwerp. Hier het ons te doen met Genette se konsep van die parateks, daardie versameling van inligting wat die inhoud van ’n boek omring en uitbrei met die doel om die inhoud, die teks, op ’n sekere wyse aan te bied en aan die teks ’n bepaalde teenwoordigheid te gee in die wêreld waarin dit ontvang word (Genette 1997:1). Onder paratekstuele inligting tel die boektitel, naam van die skrywer, voorwoord, voor- en agterbladontwerp, illustrasies ens. Genette (1997:2) beklemtoon dat die parateks geen grens is nie, maar ’n drumpel tot die teks, “a vestibule that offers the world at large the possibility of either stepping inside or turning back. It is [...] a zone without any hard and fast boundary on either the inward side (turned toward the text) or the outward side (turned toward the world’s discourse about the text.” Hoewel die paratekstuele effekte en boodskappe dus deur die skrywer en uitgewer gekies word met die doel van beïnvloeding en om ’n positiewe ontvangs van die boek te verseker, is die parateks ’n “threshold of interpretation” waarmee die leser vry kan omgaan (Genette 1997:2, 9).
Ongeag die verskillende interpretasies wat aan die paratekstuele boodskap rondom die mensfiguur op die voorbladfoto gegee sou kon word, aktiveer hierdie omslagontwerp uit die staanspoor vrae oor die landskap wat so ’n dwingende teenwoordigheid uitoefen. Wie se landskap is dit waarmee die leser in hierdie roman gekonfronteer word? Uit watter oogpunt word dit uitgebeeld en met watter doel? Hierdie is juis die kernvrae wat Werner Bigell se bespreking rig in ’n artikel waarin hy onlangs opnuut kyk na die betekenis van landskap. In “The meanings of landscape: Historical development, cultural frames, linguistic variation, and antonyms” argumenteer Bigell (2014:84) dat vroeëre pogings om die invloed van landskap op kultuur te beskryf voortdurend hersiening verdien in die lig van die hedendaagse, voortgesette belangstelling daarin om die kwessie van landskap te deurgrond. Hy (2014:102) gebruik die term landskap as “a versatile and adaptable term to frame the dynamic human relations with their specific environments”. Hiermee word gemaklik aansluiting gevind by Cosgrove (1998:13) se siening van landskap as “the external world mediated through subjective human experience”, waarin ook die uitgangspunt van onder andere Darian-Smith (1996:3) en Schama(1996:10) verreken word, naamlik dat wat ons landskap noem, uit ruimte oftewel materiële (geografiese) elemente tot stand kom deur die mens se vormgewende persepsie.3
Bigell (2014:85) se vrae oor wie die bewoners van, en die waarnemers in, die uitbeelding van landskap is, lewer interessante antwoorde met die lees van Vuurklip. Die roman betrek ’n tyd- en ruimtelike konteks waaroor Heese in ’n onderhoud met Botha (2013a:5) sê: “Sover ek weet, is daar nog nie ’n roman geskryf oor hierdie tydperk (in Suid-Afrika) sonder die tussenkoms van ’n derdepersoonsverteller nie.” Die karakters wat om die storievuur sit met die aanvang van die roman, is bewoners van die grotte en diep oorhangkranse aan die suidelike kus van Afrika in ’n era so ver terug in tyd dat daar uit argeologiese navorsing ’n verbeeldingsproduk ten opsigte van hulle taal en lewensomstandighede tot stand moes kom. (Sien die slotaantekeninge van die roman, ble. 343–4.) Linda Rode verwys op die agterblad Vuurklip na “die magie en misterie van dit wat ons hedendaagse mense, deur ons op die bevindinge van die antropologiese wetenskap te verlaat, maar net kan vermoed van ons oerbestaan”.
Vroeg in die roman, wanneer die mans van die vuur af weggeroep word deur die tyding van ’n uitgespoelde walvis waaraan lede van ’n ander seestam begin sny het, word aan die landskap gestalte gegee deur ’n eerstepersoonsverteller4 en die vormgewende persepsie van Ama, die jong vrou wat die mans na die strand volg. “Ek ruik die asem vannie Windgees” (22), sê Ama, en haar sintuie vertel haar dat dit die tyd is “vannie baie klein minwater ennie baie groot grootwater” (22). Hierdie waarneming lei tot die konstruksie van landskap soos dit bestaan het in ’n era wat onontginde terrein is in die (Suid-) Afrikaanse letterkunde, en op ’n wyse wat uniek is as gevolg daarvan dat in die eerste persoon stem gegee word aan die belewing van die oerlandskap deur inheemse mense.
Hierdie teks vertoon sekere ooreenkomste met die Amerikaanse skrywer Jane M. Auel se Earth’s children-reeks. Die reeks bestaan uit ses boeke wat in die tydperk 1980–2011 gepubliseer is, en word beskou as een van die grootste suksesverhale in boekverkope in die laaste dekades (De Villiers 2011:2; Brady 2011:6). Soos in Vuurklip fokus die vertelling in hierdie reeks boeke veral op een jong meisie, genaamd Ayla, wat in ’n prehistoriese tyd tussen grotbewoners grootword. Ayla is ’n jong meisietjie wanneer haar homo sapiens-familie in ’n aardbewing in die Ystydperk sterf en sy word deur Neanderdals aangeneem. Hoewel Auel skryf oor ’n heelwat meer onlangse tydperk as Heese, sowat 35 000 jaar gelede, en Auel se verhaal in oer-Europa afspeel, is daar noemenswaardige parallelle te vind. Net soos Ama, die eiesinnige jong vrou in Vuurklip wat graag die rol van haar stam se storie- en moetievrou wil oorneem, beskik Auel se Ayla-karakter oor uitsonderlike vurigheid en individualisme, en oor wonderlike gawes van geheue, taal en genesing. So ver as wat Ayla gaan, genees sy siektes deur haar kennis van kruie. Op soortgelyke wyse as met Vuurklip word die leser van die Earth’s children-boeke geboei deur helder beskrywings van prehistoriese stamlewe en -avonture, en ingelyf in die oeroue leefwyse en gebruike van karakters wat hulle woning in oorhangkranse en grotte vind. Albei verhale is gegrond op die skrywers se spekulatiewe idees en vermoedens oor menslike vermoëns en interaksie baie duisende jare gelede (Glenn 2002:34). Literêr-histories is dit dus sinvol dat hierdie gesprek tussen (Suid-) Afrikaanse en Amerikaanse letterkunde erken word.
Vuurklip is ’n waardevolle toevoeging tot die handvol literêre weergawes, in Afrikaans, van die lewensomstandighede van inheemse mense in vroeë tye in ons land. Hier word gedink aan tekste soos Eilande (Dan Sleigh), Pieternella van die Kaap (Dalene Matthee), Die kremetartekspedisie (Wilna Stockenström), Een teen Adamastor (Francois Verster) en enkele romans uit André P. Brink se pen: Houd-den-Bek, Die eerste lewe van Adamastor, Bidsprinkaan en Philida. Hierdie artikel sal egter lig werp op betekenisvolle verskille wat Vuurklip bied ten opsigte van genoemde historiese tekste, waarin tot dusver hoofsaaklik gefokus is op die veelheid en kompleksiteit van menslikeverhoudingsituasies asook op die sosiopolitieke effekte van ons antroposentriese bestaan.
’n Interessante kwessie wat hier vlugtig die aandag verdien, is die feit dat, hoewel Vuurklip nie soos bogenoemde tekste op die koloniale geskiedenis van Suid-Afrika fokus nie, die roman onwetend dalk wel verbande inhou met kolonialisme en kolonialistiese beskouings. Die skrywer kan poog om, met haar situering van die romangebeure in ’n veel vroeër era, aan die gesprekke, opvattings en lewensbeskouings van haar eie tyd te ontkom, maar dit kan onderliggend wel meespeel in haar interpretasie en hantering van haar verhaalstof en in die aanbieding in die roman. Dieselfde eietydse denkwyse kenmerk natuurlik ook die interpretasie van die leser. Dus mag die vraag by lesers ontstaan of stemgewing nie dalk as ’n moontlike vorm van koloniale toe-eiening in hierdie roman benut word nie. ’n Punt wat dikwels in hedendaagse debatte gestel word, is immers dat wanneer daar uit die perspektief van ’n ondergeskikte mens – of, soos in Vuurklip se geval, ’n oermens – geskryf word, dit toe-eiening van daardie mens se stem impliseer. As ’n teenargument sou egter met dieselfde stelligheid beweer kon word dat, ten spyte van die aanklag, hierdie werkwyse die enigste manier is om aan sekere mense stem te gee. As daar nie self die woord gevoer kan word nie, as gevolg van ongeletterdheid, uitsterwing of wat ook al, word daardie stemlose bestaan immers gerespekteer en onder die breër aandag van die publiek gebring deur skrywers soos Heese. Daarom hoef die kwessie van stemgewing aan oerkarakters, soos dit in Vuurklip plaasvind, nie uitsluitlik negatief beredeneer te word nie.
’n Vraag wat Bigell (2014:83) belangrik ag, is: Met watter doel vind die uitbeelding van landskap op ’n spesifieke wyse plaas? Dit is hierdie vraag wat die prikkel verskaf het vir die ondersoek wat volg, omdat die omslagontwerp van Vuurklip reeds, ondanks die verskillende interpretasiemoontlikhede van die paratekstuele gegewens op die voorblad, vrae en gedagtes loswoel rondom die mens en die groter geskape geheel en ook ’n vervloeiing van die rolle van mens en natuur kan suggereer. Subjek en objek, oorheerser en oorheerste: wie of wat vertolk watter rol in hierdie roman? Om vas te stel hoe die subjek- en objekrolle gevul word en verwissel tussen die lewende en nielewende in Vuurklip, asook met watter doel dit gebeur, word gebruik gemaak van ’n teoretiese benadering wat konsentreer op strategieë soos die uitdaag van die tradisioneel aanvaarde, gesentraliseerde toestand waarin die mens hom bevind, en die lees van ’n teks om die interaksie tussen menslike en niemenslike, asook tussen die lewende en nielewende, te ontdek. Hierdie benadering heet die nuwe materialisme.
Die nuwe materialisme is ’n intellektuele beweging wat in die afgelope jare die aandag van navorsers in ’n wye spektrum van dissiplines afdwing, veral in die geesteswetenskappe. Iovino en Oppermann (2012:75) verwys na die renaissance van die nuwe materialisme wat volg op ’n era waartydens materialiteit verwerp is as die resultaat van die sogenaamde linguistiese draai, die beweging gegrond op die standpunt dat taal die werklikheid skep. In die literatuurstudie word die “linguistiese draai” geassosieer met die postmoderne teorieë van poststrukturalisme en dekonstruksie wat die literêre toneel die afgelope aantal dekades oorheers het, en waarin ’n abstrakte tekstuele siening van die werklikheid voorop gestel is (Barad 2003:801).5 Dié rigting waarin genoemde postmoderne teorieë die afgelope dekades beweeg het, naamlik om die klem uitsluitlik op abstrakte diskoersteorieë te laat val, hou in dat diskursiewe of linguistiese fundamentalisme op die voorgrond gestel is. Relke (1999:322-33) waarsku dat hierdie tendens lei tot 'n verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan en dat, waar teks en tekstualiteit so sterk op die voorgrond gestel word, die materialiteit van die omringende wêreld en van die mens self baie min of geen aandag ontvang nie. Haar oortuiging is dat “the reintegration of material embodiment into theories of culture opens up the possibility of exploring the limitations of current discourse theory and literary criticism”; sy motiveer haar argument só: “Matter matters. I [...] became convinced that what’s missing in Foucault, Lacan, and Derrida – founding fathers of postmodernist theory – is a structured system other than the system of signs” (Relke 1999:288–9).
Een van die sleutelaspekte van die materiële draai, oftewel die ommekeer in die guns van materialiteit, is dus die skerp reaksie teen die neiging in die postmoderne en poststrukturalistiese denke om die wêreld te dematerialiseer tot linguistiese en sosiale konstruksies, in die geloof dat die werklikheid en kultuur ’n sisteem van tekens is, oftewel ’n struktuur wat op taal gebaseer is (Iovino en Oppermann 2012:76). Ook Campbell (1996:133–4) kritiseer die werklikheidsbeskouing waarin abstraksie en tekstualiteit verhef word tot absolute gesag, en bepleit ’n terugkeer na die fisiese, tasbare wêreld wat ons omring en na ’n teorie wat in gesprek tree met en interaktief betrokke is by hierdie konkrete werklikheid, weg van abstraksie en tekstualiteit. Hy sê, verwysend na voorheen genoemde postmoderne teorieë:
Theory sees everything as textuality, as networks of signifying systems of all kinds. Foucault sees an idea like madness as text, Lacan sees a human being as a text; Derrida argues that everything is text in the sense that everything signifies something else.6 But ecology insists that we pay attention not to the way things have meaning for us, but to the way the rest of the world – the nonhuman part – exists apart from us and our languages.
Ekokritici soos Cheryl Glotfelty (1996:xxiv) en Karen Barad (2003:803) stel baie duidelik wat die kernbeswaar is teen die abstrakte teoretisiteit van Derrida en die poststrukturaliste: die skeiding van teorie en die tasbare werklikheid bring mee dat die materialiteit van die mens en die omringende wêreld feitlik geïgnoreer is en die vitaliteit van materie ontken word. Hulle bepleit, net soos Campbell (1996:134), ’n terugkeer na ’n teorie waarin die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid, wat interaktief inwerk op beide die menslike en die niemenslike wêreld, erken word. Smith (2014a:756) beklemtoon die sin van hierdie pleidooi as sy aanvoer: “Representasie en die produksie van kennis hang saam met die materialiteit van dit wat geken word [...]. Ons bekom nie kennis deur buite die wêreld te staan nie; ons weet omdat ons ván die wêreld is.” Smith vind hier aansluiting by die argument dat dit nie net gaan oor die skeiding tussen objek en die voorstelling daarvan deur middel van taal nie, maar oor die oppergesag van taal bo die materiële objek self, waardeur die inherente werking van die materialiteit ondermyn is. “Taal is belangrik; kultuur is belangrik; diskoers is belangrik. Maar hoe het dit gebeur dat taal meer betroubaar geword het as materie, dat wat ons oor iets sê meer betroubaar is as die fisiese saak self?” Met hierdie vraag beklemtoon Smith (2014a:755), soos ook Barad (2003:802), die waarskuwing wat Friedrich Nietzsche reeds lank gelede uitgespreek het teen die foutiewe tendens om linguistiese strukture toe te laat om die vorm van en ons begrip van die wêreld te bepaal. Die idee dat die menslike en die niemenslike oor inherente eienskappe besit wat uitbeelding (in taal) voorafgaan, word deur Barad (2003:802) benadruk as ’n metafisiese voorveronderstelling wat ten grondslag van die teorie van uitbeelding lê.
Knickerbocker (2012:3) beskou die nuwe bewussyn van materialiteit as teenvoeter vir postmoderne teorieë, waardeur die oormatighede van poststrukturele taalteorie ingekort word. Barad (2003:801) meen eweneens dat ’n teenvoeter nodig is vir die radikale tendense in postmoderne en poststrukturele denke:
Language has been granted too much power. The linguistic turn, the semiotic turn, the interpretative turn, the cultural turn: it seems that at every turn lately every “thing” – even materiality – is turned into a matter of language or some other form of cultural representation.
Smith (2014a:752) wys egter ook op die waarskuwing van kritici soos Knickerbocker (2012:3) en Evernden (1996:103) dat die oorreaksie op tekstualiteit deur ekokritiek politiese omgewingsaksie beklemtoon terwyl dit tred kan verloor met die estetiese (en by implikasie tekstuele en taalgerigte) ervaring. Smith (2014a:752) meen: “Ten spyte van bepaalde tekortkominge bied ’n fokus op materialiteit en die objek ’n verruimende blik wat ’n belangrike bydrae tot ekosentriese teorie lewer.”
Samevattend kan gesê word dat die ondersteuners van die nuwe materialisme poog om die konkrete liggaamlike dimensie, asook nietweeledige objek-subjek-verhoudings, terug te bring binne denkraamwerke. Dit behels die bevraagtekening en die opheffing van die dualisme tussen die liggaamlike en die gees of denke, tussen taal en die materiële ding wat deur taal verteenwoordig word, met as motivering die ekologie se aandrang op die erkenning van die wyse waarop die natuur net soveel bydra tot ons konstruksie as mense as wat die tekens wat vir natuur en plek instaan, dit kan doen (Smith 2014a:758). Dus verteenwoordig die nuwe materialisme ’n wegkeer van ’n uitsluitlik vertekstualiseerde werklikheidsbeskouing om weer aandag te gee aan die fisiese materialiteit van die werklikheid – Iovino en Oppermann (2012:76) verwoord dit as “focus(ing) attention on bodily experiences and bodily practices, where ‘body’ refers not only to the human body but to the concrete entanglements of plural ‘natures’, in both human and more-than-human realms”.
Wat met hierdie ondersoek beoog word, is om Vuurklip te lees en te interpreteer met behulp van die toepassing van leesstrategieë wat voortvloei uit die fokus van die nuwe materialisme. Dit behels die toespitsing van die aandag op die wyse waarop die mens in hierdie roman as deel van die geheel van materialiteit uitgebeeld word. Die doel van my fokus op materie en die wisselwerking tussen die menslike en niemenslike in die roman is om die sin en waarde vas te stel van hierdie spesifieke wyse waarop die mens weergegee word binne konteks van die saambestaan van alle dinge. Wat word hierdeur vermag, in die sin dat nuwe of verruimende perspektiewe op aspekte van landskap en landskapbeelding geopen word?
In die volgende afdeling word eerstens ’n bondige bespreking gebied van die belangrikste teoretiese begrippe waarmee die nuwe materialisme werk. Daarna volg ’n toepassing van hierdie teoretiese beginsels ten opsigte van die lees en interpretasie van Vuurklip.
2. Die nuwe materialisme en sy kernbegrippe
Oppermann (2013:71) sien die nuwe materialisme se beskouing van die konsep materie as fundamenteel in die benadering tot ekologie as die saambestaan van alle dinge. By materie word ingesluit “human and nonhuman bodies, organic and inorganic substances and forces”. In ’n artikel waarin Smith (2014a:755) ondersoek instel na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais, ’n baie deeglike studie ook ten opsigte van die teoretiese agtergrond en terminologie van die nuwe materialisme, beskryf sy, in navolging van Alaimo en Hekman (2008:1), materie as ’n meervlakkige konsep wat die materialiteit van sowel die menslike liggaam as die natuurlike en nienatuurlike wêreld insluit en nie beperk word tot die eng dualisme van natuur/kultuur, lewend/nielewend en menslik/niemenslik nie.
Beide Smith en Oppermann gebruik as riglyn Jane Bennett se idee dat om aan materie as leweloos te dink, inherent problematies is en bydra tot die mens se houding van beheer en verbruik. Dit laat die mens nie toe om ’n wyer spektrum niemenslike kragte om en in homself waar te neem nie. Volgens Bennett (2010:121) is die menslike “material self” altyd ineengevleg met die niemenslike: “One can invoke bacteria colonies in human elbows to show how human subjects are themselves nonhuman [...]. One can note that the human immune system depends on parasitic helminth worms for its proper functioning [...] to show how human agency is always an assemblage of microbes, animals, metals, chemicals, [...] and the like.” Haraway (2008:161) verwys na hierdie vermenging van diverse entiteite, beide menslik en niemenslik, as “the partners in infoldings of the flesh”.
Die ekofilosoof Timothy Morton vertrek ook vanaf die standpunt dat alle materie, menslik en niemenslik, interaktief verbind en dat ons nie enkelvoudige en onafhanklike wesens is nie, maar “made of other things”. Hy verwys na die suurstof in ons longe, die kos wat ons liggame verbruik; ook na die feit dat die mens byvoorbeeld 98% van sy genome met sjimpansees en 35% daarvan met affodille deel (Morton 2010a:6). Hy sê: “Ecology is profoundly about coexistence” (Morton 2010b:4). Die algemene siening van die natuur as iets daar buite – “in the distance, under the sidewalk [...], preferably in the mountain, in the wild” (Morton 2010b:3) – strook nie met sy siening van die natuur as ook binne-in die mens nie. Hy beskou mens en natuur as een objek en meen dit is nodig dat ons onsself begin sien as deel van die objek, as die objek self. Ons leef binne-in die objek; ons bevind ons in ’n massiewe, gedurig veranderende objek waarin alle dinge saam bestaan. Hierdie gedagtes vorm deel van die teorie van die objekgeoriënteerde ontologie (object-oriented ontology), geskep deur Graham Harman en verder ontwikkel deur Morton,7 waar dit as een van die kernargumente geld dat Natuur en Materie (met hoofletters om die idee van vervreemding van of verwyderdheid van die mens aan te dui) verwerp word (Morton 2011:165). Die objekgeoriënteerde ontologie, wat op noue wyse met die nuwe materialisme skakel, beklemtoon ook die ommekering van bepaalde rolle en posisies, spesifiek die rolle van subjek en objek. Die objek kry ’n sentrale posisie; die stel van die mens se bestaan bo dié van niemenslike objekte word verwerp. In hierdie standpunt ten opsigte van die gelykheid van objekverhoudings word antroposentrisme sterk teengestaan (Morton 2011:165).
Binne die teoretiese raamwerk van die nuwe materialisme word die natuur nie gesien as ’n passiewe sosiale konstruksie nie, maar eerder as ’n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente teweegbring, ook van die mens (Alaimo en Hekman 2008:7, Smith 2012:892). Oppermann (2013:72) stel dit só:
The new materialists perceive nature as an active, signifying force; an agent in its own terms [...]. Being thus liberated from its previous conceptualizations as a blank, silent resource for the exploits of culture [...] nature is discussed as a significant participatory force field in the entanglement of meaning and matter.
Die idee dat materie ’n mag van beïnvloeding (agentic power) uitoefen, ook oor die mens, lei tot Bennett (2010:xvi) se beklemtoning van “the agentic contributions of nonhuman forces, operating in nature, in the human and inhuman bodies” en dat “human agency has some echoes in nonhuman nature – to counter the narcissism of humans in charge of the world”. Saam met die idee van materie as vitale krag hoort ook Barad (2003:822) se voorstel dat materie nie as vaste substansie gesien word nie, maar eerder as substansie in ’n intra-aktiewe staat van wording. Vir Barad is materie “not a thing, but a doing, a congealing of agency [...], a stabilizing and destabilizing process of iterative intra-activity”. Die proses van aanhoudende intra-aktiwiteit is verantwoordelik vir die (voort)bestaan van materie en dit beklemtoon “die lewende, wordende, vitale aard van materie” (Smith 2014a:755).
Iovino (2012:144) beskou die belangrikste aspek van samewerking tussen die nuwe materialisme en die ekokritiek, wat deur Glotfelty (1996:xviii) gedefinieer word as “the study of the relationship between literature and the physical environment”,8 as die klem wat beide plaas op die noodsaaklikheid daarvan om die grense van die menslike te herdefinieer en om ’n meer inklusiewe perspektief van aardse dinamika te ontwikkel. Volgens Iovino en Oppermann (2012:79) stel die materiële ekokritiek twee maniere voor om die krag of werking (agency) van materie te interpreteer. Eerstens kan gefokus word op die wyse(s) waarop die krag en werking van materie of die natuur beskryf en uitgebeeld word: literêr, kultureel of visueel. Tweedens kan die aandag val op die verhalende krag van materie om gestaltes of samestellings van betekenis te skep wat saam en in interaksie met menslike lewe bestaan (Opperman 2012:79). Op die begrip verhalende materie sal later uitgebrei word wanneer die vergestalting daarvan in Vuurklip geïdentifiseer en bespreek word.
Wanneer die nuwe materialisme in die volgende afdeling as leesstrategie ingespan word, impliseer dit ’n soektog na materialiteit: na die uitbeelding van gestaltes van fisies vervlegde bestaan en interaktiewe verbintenisse van die lewende en dit wat tradisioneel as nielewend gesien is, asook na voorstellings van die mag van handeling en beïnvloeding waaroor materie beskik. Om aspekte van die nuwe materialisme in Vuurklip op te spoor, sal my aandag dus gerig wees op die weergawe van verskillende vorme van interaksie tussen die menslike en niemenslike, op die subjek-objekverhoudings in die teks en op die toekenning van rolle van dinamiese aktiwiteit en beïnvloeding aan niemenslike karakters in die verhaal.
Soos reeds gesê, is die sinvolheid van hierdie lees “vir natuur, vir materie, vir die wisselwerking tussen fisiese substansies, beide menslik en niemenslik”, soos Smith (2014a:760) dit stel, gekoppel aan ’n groter doel. Hierdie doel is om vas te stel watter antwoord die roman bied op die kernvraag wat in Bigell (2014:85) se onlangse besinning oor landskap en die betekenis daarvan gestel is, naamlik wat die motivering is vir die bepaalde voorstellingswyse van landskap in ’n teks. My ondersoek behoort my dus te lei om ook te begryp watter waarde of verruimende perspektief te vind kan wees in die spesifieke voorstellingswyse van die landskap – waar landskap die mens se vormgewende proses ten opsigte van materiële elemente impliseer – in Vuurklip.
3. Vuurklip gelees met die nuwe materialisme as teoretiese raamwerk
3.1 Die interafhanklike, interaktiewe saambestaan van alle dinge
In die poging om die materialiteit in Vuurklip raak te lees, word eerstens gesoek na die wisselwerking tussen fisiese substansie, beide menslik en niemenslik, en biologiese liggame waardeur skeidings tussen lewensvorme en materiële entiteite opgehef word.
Vroeg in die roman onthou Ama, jongvrou van die Walvisstam, die tyd toe sy in die “bloedskerm” met die Grondgees9 “gebind” is (27). In die tyd van haar “maanbloed” moes sy in die skerm bly wat uitgevoer was met droë gras, maar saans moes sy uitkruip om die bloeddeurweekte gras langs die skerm te begrawe. Ama beskou dit as ’n baie belangrike daad: “Dit is ’n offer aan die Grondgees. Dit maak die plante sterk. Sonner die plante kan ons nie lewe nie” (28). Die idee dat die mens se bloed opgeneem word deur plante om dit sterk te maak en dat plante weer deur die mens opgeneem word ter versterking van homself, kan geïnterpreteer word in direkte aansluiting by Stacy Alaimo se konsep van transliggaamlikheid (transcorporeality). Iovino (2012:137) verstaan transliggaamlikheid as “the flow of substances across bodies, reconfiguring the boundaries between the self and the environment, as well as between all material substances in material contexts”. Alaimo (2010:2) verbind transliggaamlikheid met “the interchanges and interconnections between various bodily natures”, met “movement across bodies” en met “the material interconnections of human corporeality with the more-than-human world”. Die leser sou literêre vergestalting van hierdie konsep kon vind in die toneel waar Ama die bondeltjies “bloedgras” in die sanderige grond toekrap terwyl sy die voortvloeiende aard van fisiese substansie in die groot biologiese sisteem bedink: “Neem hierie offer van bloed en maak daaruit nuwe lewe, bid ek. Altemit, dink ek, kan die Grondgees sommer heelparty plante en diertjies maak, want ons het nuwe lewe baie nodig” (31).
Die idee van die vervloeiing van die sfere van die lewende en nielewende het vele gestaltes in Vuurklip. Die mens word aan die einde van sy lewe “ingeasem” deur die Al (15, 99). Mens, plant en dier leef vervleg en interaktief. Ama hoor: “Jy moet ammelee onthou die klere is ok ’n gawe vannie Grondgees, want die bokke wei op die plante ennie plante is vannie Grondgees en sonner die goeie gawes vannie Grondgees het die mense lankal afgedood” (97). Maouma, die Moetievrou en Storievrou van die Walvisstam, gee deur haar verhale dikwels uitdrukking aan die beginsel van transliggaamlikheid soos dit in Alaimo (2008:238) se vroegste teoretisering daaroor gedefinieer word as “the time-space where human corporeality, in all its material fleshiness, is inseparable from ‘nature’ and ‘environment’”. Ama weet sy is “’n kind vannie Grondgees, soos allie mense op hierie aarde is” (226). Hierdie kennis is gegrond op Maouma se vertellings, wat dit eerstens duidelik stel dat die mens materiële voortbrengsel uit die aarde is, geskep uit “die stof vannie grond”, en tweedens in aanskyn geroep is om in die aarde se behoefte te voorsien. Maouma vertel dat die Grondgees se eensaamheid gelei het tot die idee om ’n mens te skep – “en hy sal ’n stem het en hy sal vir jou en met jou praat,” het die Groot Gees verklaar (30).
Vuurklip verbeeld ’n durende gesprek tussen die mens en die aarde. Natuurelemente van tradisioneel nielewende aard, soos die son, “praat” met die mens in ’n sintuiglike wisselspel waarvan Ama duidelik bewus is: “Die boomblare blink soos [...] liggies wat die Songees uitstrooi” (301). Vitale handelinge soos die “strooi” van lig deur die son, die “speel” met wolke deur die wind “se asem” (300) en die verheffing van die see se “stem” (301), wat alles deur Ama se aandag vasgevang word, beklemtoon die interaktiewe teenwoordigheid van die niemenslike in Vuurklip. Wanneer Klipman Ama in die Walvisgrot kom haal en hulle twee oordans na die Visarende se grot, is daar weer eens vitale handeling van die niemenslike in “antwoord” op Ama se vreugde: “[E]nnie Seegees skiller die lug rooi [...] voor hy innie water wegsak” (305). Op ’n baie duidelike wyse ontvang Ama en haar mense boodskappe uit die “groot, groot omte” (300) waarvan hulle deel is, byvoorbeeld dat daar beter tye voorlê: “Die Grondgees ennie Reëngees ennie Songees, hulle lief hulle kinders. Hulle het weer kos gemaak, daar waar dit op was” (293). Deur die uitbeelding van afwisselende handelinge tussen die mens en die niemenslike word die wisselwerking op subtiele wyse in stand gehou.
Op hierdie punt lyk dit nodig om die ontsluiting van die roman met behulp van die teoretiese beginsels van die nuwe materialisme vir ’n oomblik ter syde te skuif en aandag te gee aan wat beskou mag word as ’n problematiese aspek in die uitbeelding van die karakters. Daar sou geredeneer kon word dat Vuurklip gelees moet word saam met die ander Afrikaanse romans oor die vroegste Suider-Afrikaanse periodes, byvoorbeeld Eilande van Sleigh en Brink se slaweromans. Teen die agtergrond van hierdie verwagting sou kritiek kon ontstaan teen wat as ’n verromantiseerde voorstelling van diekarakters in Vuurklip beskou sou kon word, aangesien hulle in ’n byna onproblematies eenvoudige verhouding met die natuur uitgebeeld word en selfs aan die idee van die sogenaamde noble savage kan herinner. Dis egter belangrik om in ag te neem dat Vuurklip se karakters wel ’n ruimtelike situering met die karakters in Sleigh en Brink se romans deel, maar hoegenaamd nie die tydkonteks nie. ’n Konsep soos dié van die edel(e) barbaar kan beswaarlik beskou word as van toepassing op Vuurklip, aangesien hierdie geïdealiseerde konsep van “man uncorrupted by the influences of civilization” ontstaan het in die 17de eeu en binne die konteks van Europese koloniseringspraktyke (Barzun 2000:43).10 Dit gaan in Vuurklip oor ’n era veel verder terug in die tyd, oor oermense van voorhistoriese tye op wie terme uit die 17de eeu en die historiese konteks van kolonisering geen betrekking het nie en oor wie se bestaanswyse daar selfs by die skrywer slegs vermoedens en spekulasies kon bestaan. “Oermens”, die benaming vir die karakters wat deur die skrywer gebruik word in haar “Aantekeninge rondom taal”, wat ná die slothoofstuk ingesluit is, word deur die HAT (2009:768) verklaar as “natuurmense van voorhistoriese tye”. Uit die prominensie van die gedagte van skakeling met die natuur in hierdie definisie word juis iets vermoed omtrent ’n betreklik ongekompliseerde belewing van die mens-natuur-verbintenis.
In die beoordeling van die karakters in Vuurklip is dit van groot belang om kennis te neem van die skrywer se versoek, in die slotaantekeninge van die roman, dat die leser die raad sal volg wat Samuel Taylor Coleridge bied by die lees van onwaarskynlike verhale en wat hy noem “the willing suspension of disbelief for the moment”. Heese (2013:346) doen ’n beroep op die lesers van Vuurklip om hul skeptisisme tydelik op te hef: “Kom ons speel dis alles moontlik. Dan vertel ek vir jou ’n storie.” Hambidge (2014:11) oordeel dat hierdie opheffing van ongeloof juis goed werk in Heese se roman. Sy vergelyk die skrywer met ’n dirigent voor ’n groot orkes wat “die bladmusiek ken en haar eie interpretasie gee van ’n bekende simfonie”. Hierdie aspek dra, volgens Hambidge (2014:11), juis by tot wat sy beskryf as ’n boeiende vertolking van die oerbron.
Iets van Morton (2010b:3) se siening van die mens en die natuur as een omvattende objek, dus van die mens as binne-in sowel as deel van dié objek, vind weerklank in Ama se woorde: “Die Groot Gees heers oor die lug wat oor die grond span en oor die hele omte waar ons woon en oor die see en alles vannie see en alles wat onner die grond is” (29). Daarom leef die mense van die seestamme volgens die riglyne wat hierdie “omte” hulle bied: “En as mens moet trek, oorlat die kos min word, moet jy loop met die strand langes, solat die sononner aan jou eethand se kant is. Jy moet die sterre vannie afvlerk-een sawens die hele tyd voor jou oë hou” (20). Daarom lê hierdie mense hulle neer by die “taboe” wat bepaal: “Jy mag nie omdraai nie” (20). Hulle respekteer ook ander “taboes” wat die mens se interafhanklike plek in die groter sisteem erken. ’n Walvis mag byvoorbeeld nie benut word sonder die ritueel van die “offerdans” nie, want dit is die “dankbaardans” waarmee die mens die offer van die seedier aanvaar (24).
Wanneer Klipman vir die sjamaan van die Walvisstam vra of ’n taboe ooit verbreek kan word, antwoord laasgenoemde: “Dinge kan annerlik raak. So annerlik lat daar altemit besluit moet word ...” (296). In hierdie antwoord is iets te vind van die gedagte wat ook in die objekgeoriënteerde ontologie aangetref word, dat die mens hom, saam met alle dinge, deel bevind van ’n massiewe, maar gedurig veranderende objek. Die geloof in die saambestaan met die niemenslike op niehiërargiese vlak word verder verwoord in Sjamaan se finale antwoord aan Klipman. Dis ’n antwoord in die vorm van ’n verhaal waarin die les wat ’n hiëna ten opsigte van keuses leer, as riglyn vir Klipman se besluit kan dien (297). Wat voorgehou word deur hierdie verhaal waarin ’n dierekarakter figureer, is dat die mens uit die dier se ervaring sou kon put in een gedeelde skeppingsgeheel.
Nog ’n besonder duidelike demonstrasie van hoe die karakters in Vuurklip hulleself interpreteer as interafhanklik deel van die geheel van materialiteit, word gevind in die assosiasie van elke seestam met ’n spesifieke seedier of -voël. Die aard van hierdie voël of dier word deel gemaak van die spesifieke stam se karakter, soos blyk wanneer Ama met Klipman “saamgebind” word as “Ama vannie Visarende” (311), en met die arend leer assosieer deur die aanleer van die Visarendlied:
[D]is ’n lied, sonner woorde, wat vertel van sweef, [...] ennie vang vannie vis, ennie opswiep en klap vannie groot voël se vlerke. [...] Hierie lied lat jou sterk voel, [...] jy sal nie skrik vir moeilikgeit nie, jy sal die moeilikgeit vasvat soos die arend ’n vis innie water vasvat, en jy sal vlieg. (311)
Die toe-eiening van die eienskappe van die arend deur die mens en vir menslike situasies herinner aan Morton (2010b:3) se siening dat die natuur nie iets daar ver of buite die mens is nie; dis ook binne-in die mens. Tereg sien Klipman ook veel van ’n skilpad in Ama: “Nes jy skrik, trek jy alles onner die dop in – kop, bene, alles” (314).
3.2 Dinamies handelende rol aan tradisioneel nielewende dinge toegeken
Die eerste bladsye van die roman verraai reeds die rol van aktiewe, kragtige handeling en beïnvloeding wat aan die landskap toegeken word. Die leser vind hier die verhaal van die oergebeure waartydens alle lewe op aarde, menslik en niemenslik, dramaties beïnvloed is. ’n Berg bars brandend oop, “spoeg die vuur hoog” en strooi kokende vuurklip wyd oor die wêreld (15). Dit “brand die mense ennie diere, die grotes ennie kleintjies” (18). Die aslaag wat ontstaan, bedek die wêreld “met ’n grootgroot karos” en skuif voor die son in; dit bring koue en ys, “water wat so koud kry lat dit klip”, en alles wat nie doodgebrand het nie, word “so koud, so koud, dit dood ok” (19). Die landskap word dus uitgebeeld as lewend en vitaal, ’n krag wat menslike en niemenslike lewe fisies beïnvloed sedert die vroegste tye. Iovino en Oppermann (2012:80) sê: “Things have not only a natural and wild vitality, but even possess proto-personal traits, thus exhibiting agentic power [...] able to unchain unexpected material consequences in the world they share with humans and other nonhuman presences.”
Die nuwe materialisme probeer nie slegs lig werp op die wyse waarop die materialiteit van die natuurlike wêreld weergegee word in literêre tekste nie, maar ook op die verhalende krag van materie self en op hoe materie as beïnvloedende mag self sy eie narratiewe ingrif in die gees van die mens (Iovino en Oppermann 2012:83). Wanneer daar in Vuurklip beelde tot stand kom van die berg wat “spoeg” wanneer “die kliphart diep in sy binneste” ontbrand (15), en van die Songees wat uit verlange na die wêreld trane produseer wat “drup deur die (rook)wolk en dit word ys” (19), is die materiële wêreld self die skepper van die verhaalgebeure. Die natuurmagte en -elemente is hier, in Iovino en Oppermann (2012:81) se terme, produseerder van die teks van ’n eie materiële verhaal van onvoorspelbaarheid. In Maouma se oorlewering tree die mens terug en word eerder herken as die verhaalde, sy gees op duidelik wyse omskep deur die impak van die niemenslike. Eeue later het hierdie natuurhandelinge steeds so ’n groot teenwoordigheid in die gees van die groepie uit die Walvisstam wat rondom Maouma saamhurk dat hulle herhaaldelik “Aieeeee!” kerm by die gedagte aan die enormiteit daarvan. Hulle kan maar net verlig “Ahê” prewel by die besef dat hulle voorouers, die mense aan die see se kant van die Groot Berge, “uitgesoek (is) om die asem te hou” (19), want “baie mense het afgedood, baie, baie” (18).
Vuurklip illustreer dus op unieke wyse die konsep van verhalende materie – van die materiële objek as dinamies teenwoordige wat die narratief oorheers. Die woedende berg, die kokende vuurklip, die “wit klipwater” wat alles oordek (18, 19) is kragtig werksame materiële substansies van niemenslike aard wat hulleself in Maouma se vertelling projekteer as tekstuele vorme van materie en wat die skeppers van hulle eie verhaal word in die materiële verbeelding van die menslike oorleweraars. Materiële verbeelding11 is ’n konsep wat Iovino en Oppermann (2012:81) gebruik in hulle verwysing na hoe die mens se verbeelding geboetseer word deur grootse natuurmagte wat die saambestaan van menslike en niemenslike lewe binne die prosesse van evolusie tot verhaal maak. In Vuurklip vind nielewende materie op fassinerende wyse gestalte as ’n mag wat alle menslike pogings uitdaag om die beheer daaroor te vind, ’n onsterflike “karakter” in wisselwerking met menslike figure en ’n vitale krag ingegrif in die lewens en legendes van die mense tot wie se geheues dit steeds terugkeer, sodat hierdie mense leef in ooreenstemming met die orde wat deur die mag daarvan bepaal is.
Nog ’n belangrike heenwyser na die dinamiese en handelende aard van materie in Vuurklip is die identifiseerbare “stem” wat aan nielewende dinge gekoppel word. Die mense in die seestamme is bekend met die stem van die Seegees wat hulle aan die einde van die lewe “roep” (99, 278, 330). Hierdie stem is binne hulle religieuse belewing ’n kragtige gegewe waarop Ama met ontsag reageer. Wanneer sy tweelingbabas kry en besluit om een te hou in plaas van om albei, volgens die gebruik van die stam, aan die Seegees te offer, erken sy: “Ek bang elke dag lat die Seegees haar sal roep” (278). Sy probeer onderhandel: “Ek het vir die Seegees geblo [...]. Ek het ’n offer geblo” (287). Verdere erkenning aan die invloed van die niemenslike oor die mens word gegee in die ritueel van die “geboredans”, waartydens die Grondgees se seën oor Ama se oorgeblewe baba gevra word: “Hou haar veilig [...]. Keer gevare van haar af weg” (289). Uiteindelik moet Maouma antwoord op die “stem” van die Seegees en haarself in die golwe werp as offer in die plek van die baba wat behou is (336).
Die “stem” en verhewe (persoons)aard wat in Vuurklip toegeken word aan die aarde, son, maan en natuurelemente om hulle te vereer as die Grond-, Son-, Maan-, See-, Reën- en Windgees, is demonstrasie van animisme, oftewel die religieuse praktyk om ’n siel toe te ken aan dinge wat groter beleef word as die mens. Volgens Booyens (1984:108) is die personifikasie van die son, maan en reën praktiese voorbeelde van die animisme wat die religieuse belewing van die Khoisan12 kenmerk.13 In hierdie praktyk is baie vroeë aanduidings opspoorbaar van die lewensbeskouing wat ook ten grondslag lê aan Iovino en Oppermann (2012:82) se uitspraak, binne die konteks van die materiële ekokritiek, dat die vermensliking van natuurelemente nie aanduidend is van antroposentriese en hiërargiese beskouing nie, maar dat die doel eerder kan wees “to stress the agentic power of matter and the horizontality of its elements and [...] reveal similarities and symmetries between the human and nonhuman”.
In die religieuse ervarings van Ama en haar mense sou daar, buiten die vermenging van die natuurlike en bonatuurlike,14 ook meermale demonstrasie gevind kon word van die beginsel wat Alaimo binne die denkraam van die nuwe materialisme transliggaamlikheid noem, “the material interconnections of human corporeality with the more-than-human world” (Alaimo 2010:2). Daar word aan Ama verduidelik dat babas se ontstaan gekoppel is aan die stand van die maan (231); die mens vervloei ná sy afsterwe uiteindelik weer met die natuuromgewing. Dit gebeur ten opsigte van die gees (“Daai asem is nou weg na die groengroen velde waar daar kuddes bokke loop” (118), maar ook op liggaamlike vlak. Wanneer Ama se broer, Moro, deur die Seegees ge-“roep” word, vra Sjamaan die Seegees om die gestorwene weg te voer en op te neem as deel van die see, “solat die diere vannie see sy liggaam kan verteer. [...] Solat sy oë skulpe word, sy gebeente rotse, solat hy helemal [...] een (word) met die wêreld vannie see” (117). In hierdie oermense se geloof omtrent die ontstaans- en afskeidsmomente van die mens vind ons vroeë manifestasie van Alaimo se idee van die verwisselbaarheid van en die deurdringbare grense tussen die menslike liggaam en die materiële natuurwêreld. Die leser herken herhaaldelik in Vuurklip situasies wat verbindbaar is met die beginsel van “the porosity of human and nonhuman realms” en “the interchanges between human and nonhuman bodily natures” (Tuana 2008:188, 213).
’n Selfs kragtiger voorstelling van die tradisioneel lewelose as dinamies en handelend word in Vuurklip gevind wanneer natuurelemente “reageer” op Ama se vrypostige gedagte dat haar “herd-man”, met al sy planne om klip tot werktuie te omvorm, “die owerste van klip” is (318). Die volgende dag bars ’n storm los waarin Ama groot woede lees: “Ennie Windgees word [...] wreed. [...] ruk en pluk en klap [...]. Hier kom ’n hele boom, wortels en al!” (321). Die elemente span uiteindelik saam: “Nou maak die Windgees ennie Reëngees saam amok. Dis die manreën wat uitstort [...] en hard met sy voete stamp op die sand ennie grond [...]. Die Windgees huil ’n skree-huil sonner ophou ...” (321–2). Die personifikasie in Ama se beskrywing gee weer gestalte aan die belewing van die horisontale verhouding tussen die menslike en niemenslike; daarin is aanduidings te vind van Oppermann (2013:71) se idee van materie – “human and nonhuman bodies, and organic and inorganic substance and forces” – as ’n aktiewe krag. Die effek van dinamies handelende materie op die mens word op direkte wyse vergestalt in Ama se berou oor haar hovaardige gedagtes in verband met Klipman se gesag oor klip en vuur: “Altemit moet ’n mens nooit dink jy is owerste van iets nie” (318). Finale vernietiging van die illusie van die mens se gesag oor niemenslike en nielewende dinge word uitgebeeld deur die romangebeure van ’n vernietigende natuur-“reaksie”: die storm bou op tot ’n tornado, die “woedende waterboom” wat uit die see voortstorm oor die strand en wat rotse en bome op-“suie”, op-“slurp” en op-“sluk” (323). Ama wonder beangs: “Sal daar nuwe berge opgestapel word [...], sal daar vlaktes gelykgeveeg word, sal daar weer klowe oopskeur?” (322). Met hierdie natuurhandelinge word die konvensionele subjek-objek-verhouding omgekeer; dit blyk onteenseglik dat die nielewende se stem dié van die mens oorheers. Die opheffing van die mens (subjek) se sentrale posisie is een van die kerngedagtes van die objekgeoriënteerde ontologie, soos dit in afdeling 2 bespreek is, en daardeur word ’n verbintenis van respek met die niemenslike (ontdaan van die objekrol) beklemtoon.
In Vuurklip word die idee van menslike gesag uit die staanspoor bevraagteken. Daar is van meet af die uitgesproke besef van die mens se ondergeskikte rol in die geskapenheid: “Sonner die Songees kan ons nie” (19). Die mens in hierdie objekrol, vol respek en ontsag ten opsigte van die nielewende, handelende dinge in die natuurwêreld, word in verskeie rituele uitgebeeld. In die oorgangsritueel waarmee Ama se lewe as jongvrou ingelei word, bied sy die aarde haar bloedoffer en vra sy die Grondgees om die aanvaarding van haar as jongvrou, want “Die Grondgees wil nie elke meisiekind het wat in ’n skerm bly nie” (28). Met Ama se huiwerige gedagte: “Mag ek hier is?” (28) lê sy haar neer by die groter gesag in die kosmos, kort voordat sy ook haar interafhanklike betrokkenheid verklaar ten opsigte van die aarde “wat alle lewe voed”, hoopvol dat daar nuwe lewe uit die offer van haar bloed sal voortkom (31). In dieselfde gees van dankbaarheid geskied die wyding van Ama se baba aan die aarde: “[H]ier is die kleinste van ons kleintjies, die nuutste gawe vannie Grondgees wat ons ontvang het” (288). Hierdie kind word op vertrouende wyse in die sorg van die Grondgees geplaas: “Seën vir Iba vannie Walvisstam. [...] Hou haar veilig innie skuilings, hou haar veilig oppie trekroetes” (288–9).
Die klinkklaarste demonstrasie van die ervaring van die ondergeskikte mens en van die kragtige invloed van die niemenslike in ’n aktiewe rol word gevind aan die einde van die roman, nadat Maouma die “gruulike ding” gedoen het om een van Ama se tweelingbabas te spaar (274). Dit impliseer die verbreking van ’n “groot taboe”, aangesien tweelinge in die seestamme volgens tradisionele geloof die see toekom. Maouma se “bloruil” aan die Seegees behels dat sy uiteindelik haarself afwerp van die staanplek hoog teen die krans, waar die offers gebring word, en dan deur die see weggesleep word, die dieptes in (336–7).
4. Gevolgtrekking
Met die aanvang van die bestudering van die roman is gevra: Wat word vermag deur die besondere wyse waarop landskap hier deur subjektiewe menslike ervaring en vormgewing uit materiële elemente tot stand kom? Die antwoord lê in die kragtige bydrae wat hierdie uitbeeldingswyse kan lewer tot die kweek van ’n bewustheid van en ’n sin vir skakeling met die materiële wêreld. Deur die teoretiese raamwerk van die nuwe materialisme te betrek in die bestudering van die roman, is ’n helder blik gevind op die uitbeelding van die vitale, aktiewe en interaktiewe aard van materie; verder ook op die literêre vergestalting van die ommekeer van die tradisionele subjek-objek-posisies om die verheffing van die mens se bestaan bo dié van niemenslike objekte te verwerp.
Wanneer Vuurklip met behulp van die teoretiese beginsels van die nuwe materialisme ontsluit en beskryf word, illustreer die roman ’n klemverskuiwing vanaf ’n geobjektiveerde beskouing van die niemenslike wêreld (voortspruitend daaruit dat menslike interaksie met die natuur se lewende en nielewende entiteite tot niet gaan, sodat ons bykans nie meer daaraan kan dink as lewend en handelend nie) na ’n beskouing wat voorsiening maak vir die bewustheid van ’n lewende materialiteit, waarby die mens interaktief betrokke is en waarvan hy fisies deel is. Die perspektief op die niemenslike en nielewende elemente rondom ons wat in Vuurklip uitgebeeld word, stel die leser in staat om na die narratief daarvan te luister, die rol van die menslike self te verstaan binne ’n groot, interaktiewe geheel van objekte. In ons tyd het so ’n denkskuif groot waarde, gegewe die waarskuwings dat die begrip natuur toenemend gestroop voorkom van alle lewe en as sodanig ’n leë abstraksie of leë spasie geword het, slegs daar vir die mens se benutting en om daaraan betekenis toe te ken soos dit die mens self pas (Smith 2014a:757, Alaimo 2010:1). Vooraanstaande literatuurkritici op internasionale vlak maak melding van die kommerwekkende verskynsel dat die gegewe van die druk waaronder die aarde se lewensonderhoudende sisteme verkeer, steeds so ’n geringe impak op die literatuursisteme het. Dit wil voorkom of vakkundigheid steeds akademies en teoreties ingestel bly “in the sense of scholarly to the point of being unaware of the outside world” (Glotfelty en Fromm 1996:xv).15 Ons staan gekonfronteer met die vraag: “Het dit nie tyd geword dat ons literatuurteoretiese uitgangspunte in voeling kom met die tasbare werklikheid wat ons as mense omring nie? [...] (O)m die onaantasbare uit te daag deur die tasbare en om [...] die sentrale posisie van die mens te bevraagteken nie?” (Smith 2014b).
Literêre werke waarin objekgesentreerde waarneming en ingesteldhede in die plek van menssentriese beskouings geïllustreer word, laat die leser wéér kyk en nuut kyk; “omgekeerd word die mens luisteraar, aan die rand, wat die stem van die natuurlike wêreld raak hoor” (Smith 2014b). Dit maak ’n teks soos Vuurklip betekenisvol, want waar die hart en verstand aangeraak word en die denke omgekeer word of in beweging gebring word, het ’n verskil reeds ingetree – op watter geringe vlak ook al. Die ideologie van afsonderlikheid, wat ’n kiem dra van ekologiese geweld, onkunde en selfs vernietiging, kan plek maak vir “’n ideologie van wisselwerking, insluiting, saambestaan en vervlegting [...] met die dinge om ons waarvan ons deel is” (Smith 2014a:770).
As gevolg van die kragtige wyse waarop die narratief in Vuurklip die verbeeldingsaandag na materiële dinamika lei, word die moontlikheid in die hand gewerk van ’n betrokkenheid by die wêreld op ’n heeltemal ander manier as in vorige Afrikaanse tekste waarin die lewensomstandighede van ons vroeë, inheemse mense binne die verhoudings- en sosiopolitieke konteks van ’n antroposentriese bestaan belig is. Vuurklip bring tydige en welkome insig ten opsigte van die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan.
Bibliografie
Alaimo, S. 2008. Trans-corporeal feminism and the ethical space of nature. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.
—. 2010. Bodily natures. Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.
Alaimo, S. en S. Hekman. 2008. Introduction: Emerging models of materiality in feminist theory. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.
Alaimo, S. en S. Hekman (reds.). 2008. Material feminisms. Bloomington en Indianapolis: Indiana University Press.
Barad, K. 2003. Posthumanist performativity: Toward an understanding of how matter comes to matter. Signs. Journal of Women in Culture and Society, 28(3):801–31.
Barzun, J. 2000. From dawn to decadence: 500 years of Western cultural life, 1500 to the present. Londen: HarperCollins.
Bennett. J. 2010. Vibrant matter: A political ecology of things. Durham: Duke University Press.
Bigell, W. 2014. The meanings of landscape: Historical development, cultural frames, linguistic variation, and antonyms. Ecozon@, 5(1):84–103.
Booyens, J.H. 1984. Die San en Khoesan vandag. Potchefstroom: Pro Rege.
Botha, A. 2013a. Die oordaad van ’n Marié Heese. Rapport, 6 Oktober, bl. 5.
—. 2013b. Kom nader. Dis verteltyd. Bylae by Beeld, 29 November, bl. 8.
Brady, M. 2011. Earth’s children: End of the beginning. Mail and Guardian, 7 April, bl. 6.
Buell, L. 1995. The environmental imagination: Thoreau, nature writing, and the formation of American culture. Cambridge en Londen: Harvard University Press.
—. 2005. The future of environmental criticism. Malden, MA: Blackwell Publishing.
Campbell, S. 1996. The land and language of desire: Where deep ecology and post-structuralism meet. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.
Cosgrove, D. 1993. Social formation and symbolic landscape. Madison: University of Wisconsin Press
Darian-Smith, K. 1996. Introduction. In Darian-Smith e.a. (reds.) 1996.
Darian-Smith, K., L. Gunner en S. Nuttall (reds.). 1996. Text, theory, space: Land, literature and history in South Africa and Australia. Londen en New York: Routledge.
De Villiers, J. 2011. Laaste treë deur die oertyd. Rapport, 3 April, bl. 2.
De Vries, W. 2010. Vrouefarao besorg Heese Afrika-prys. Beeld, 14 Maart, bl. 12.
Dolphijn, R. en I. van der Tuin. 2012. New materialism: Interviews & cartographies. Michigan: University of Michigan Library, MPublishing. http://hdl.handle.net/2027/spo.11515701.0001.001 (15 Augustus 2014 geraadpleeg).
Everitt, M. 2005. Jack Sprat and his wife: Symbiosis in Douglas Livingstone’s A littoral zone. English in Africa, 32(2):53–67.
Evernden, N. 1996. Beyond ecology: Self, place and the pathetic fallacy. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.
Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of interpretation. Cambridge: Cambridge University Press.
Glenn, L. 2002. Auel’s epic saga back at last. Library Journal, 127(3):34–8.
Glotfelty, C. 1996. Introduction: Literary studies in an age of environmental crisis. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996.
Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene: University of Georgia.
Hambidge, J. 2014. Heese se vertolking van oerbron boeiend. Die Burger, 13 Januarie, bl. 11.
Haraway, D. 2008. Otherworldly conversations, terrain topics, local terms. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.
Heese, M. 2013. Vuurklip. Kaapstad: Human & Rousseau.
Iovino, S. 2012. Steps to a material criticism. The recent literature about the “new materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.
Iovino, S. en S. Oppermann. 2012. Material ecocriticism: Materiality, agency, and models of narrativity. Ecozon@, 3(1):75–91.
Knickerbocker, S. 2012. Ecopoetics. The language of nature, the nature of language. Amherst en Boston: University of Massachusetts Press.
Lategan, E.H.W. 1981. Die Hottentotte (Khoi-Khoin). Johannesburg: Perskor.
Morton, T. 2010a. Ecology as text, text as ecology. The Oxford Literary Review, 32(1):1–17.
—. 2010b. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.
—. 2011. Here comes everything. The promise of object-orientated ontology. Qui Parle, 19(2):163–90.
Nienaber, G.S. 1989. Khoekhoense stamname. Kaapstad: Academica.
Odendal, F.F. en R.H. Gouws (reds.). 2009. HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 5de uitgawe. Kaapstad: Pearson Education.
Oppermann, S. 2013. Feminist ecocriticism: The new ecofeminist settlement. Feminismo/s,22:65–88.
Oscarson, C. 2010. Where the ground responds to the foot: Kerstin Elkman, ecology, and the sense of place in a globalized world. Ecozon@, 1(2):8–21.
Parker, L.J. 2002. The San of Africa. Minneapolis: Lerner Publications Company.
Raes, P. 2000. Erwin Straus over de ruimte van het landschap en de geografiese ruimte. Tijdschrift voor Filosofie, 62:313–40.
Relke, D.M.A. 1999. Greenwor(l)ds. Ecocritical readings of Canadian women’s poetry. Alberta: University of Calgary Press.
Schama, S. 1996. Landscape and memory. Londen: Fontana Press.
Sleigh, D. 2005a. Kaapse groepe had vele name. Kultuurkroniek: Bylae by Die Burger, 25 Junie, bl. 12.
—. 2005b. Groep sonder naam. Kultuurkroniek: Bylae by Die Burger, 18 Junie, bl. 15.
Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928. https://www.litnet.co.za/assets/pdf/Smith_9_3.pdf.
—. 2014a. Ekokritiek en die nuwe materialisme. ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies,11(2):749–74. https://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf.
—. 2014b.Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme. LitNet-Poolshoogte. https://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-tasbaarheid-en-die-onaantasbaarheid-van-literatuurteorie-ekokritiek (27 Oktober geraadpleeg).
Tuana, N. 2008. Viscous porosity: Witnessing Katrina. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.
Volkman, L. (red.). 2010. Ecocritical perspectives in the new English literature. Amsterdam en New York: Rodopi.
Vosloo, F. 2014. Vuurklip deur Marié Heese. LitNet Biebouw-resensies. https://www.litnet.co.za/Article/vuurklip-van-mari-heese (21 Julie geraadpleeg).
Wannenburgh, A. 1984. The Bushmen. Kaapstad: Struik Publishers.
Eindnotas
1 Vroeër het ook ander kinderboeke uit haar pen verskyn: Die Pikkewouters van Amper-Stamperland (1983), The box kite summer (1984), Avonture in Amper-Stamperland (1985) en Ons geheim (1993).
2 In die slotaantekeninge van die roman, “Aantekeninge rondom taal”, verduidelik Heese dat die besluit om slegs eerstepersoonsvertellers in die roman te gebruik, voorafgegaan is deur die veronderstelling dat die karakters in daardie era reeds taal magtig geraak het – ’n betreklik gesofistikeerde taal wat ook abstrakte begrippe kon hanteer. Sy verduidelik verder hoe haar aannames omtrent die taalvermoë van die karakters in Vuurklip gesteun word deur die jongste argeologiese navorsing. Op sinvolle wyse verklaar sy die gebruik van die spesifieke, “annerlike” taalgebruik wat in Vuurklip aangetref word en op watter wyse sy uit Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans geput het, maar ook self geïmproviseer het ten opsigte van die skep van ’n taalvorm en woordeskat wat geloofwaardigheid aan die karakters en hulle era sou verleen (Heese 2013:343–6).
3 Die terme landskap en plek word dikwels teoreties verbind. Darian-Smith (1996:3) verklaar dat ruimte getransformeer word tot plek en geografiese terrein tot landskap deur “the cultural process of imagining, seeing, historicizing and remembering”. Erwin Straus (in Raes 2003:313) stem saam: geografiese ruimte het volgens Straus te doen met ’n gesistematiseerde en geslote waarneming. Dit is ’n homogene ruimte, soos aangetref op ’n kaart, waarin geen enkele punt meer waarde het as ’n ander nie, en waargeneem vanuit ’n objektiewe oog. As waarneming oorgaan tot gewaarwording ten opsigte van die geografiese ruimte, is daar sprake van die skep van plek of landskap (Raes 2003:313–40). Ook op die gebied van die ekokritiek word plek op dieselfde wyse as landskap gedefinieer. Lawrence Buell, ’n toonaangewende ekokritikus, sê: “Place is succinctly definable as space that is bounded and marked as humanly meaningful through personal attachment, social relations, and physiographic distinctiveness (Buell 2005:145). Oscarson (2010:10) sluit by Buell se siening aan wanneer hy verwys na die produksie van plek as interaksie tussen menslike ondervinding, emosionele verbondenheid en materiële omgewing.
4 Die kwessie van stemgewing aan die oermense in Vuurklip verdien hier aandag. Die keuse van ’n eerstepersoonsverteller sou bevraagteken kon word op grond van die subjektiwiteit van hierdie vertelvorm met behulp waarvan die verteller duisende jare later aan die gebeure in die roman gestalte probeer gee. Die gebruik van ’n bepaalde perspektief en vertellerstem berus uiteraard by die oordeel van die skrywer en Heese laat blyk dat sy wel die vertelsituasie goed oorweeg het voordat sy teen die derdepersoonsverteller besluit het. In “Aantekeninge rondom taal” agterin die roman verwys sy na die Amerikaanse Earth’s children-reeks, wat sekere ooreenkomste met Vuurklip toon, en waarin die skrywer, Jean Auel, “kort-kort as derdepersoon-alwetende verteller groot hompe wetenskaplike inligting op die leser af(laai)” (Heese 2013:344). In ’n onderhoud met Botha (2013b:8) beklemtoon Heese: “Ek wou nie dat ’n derdepersoonsverteller tussen die karakters en die leser kom staan nie.” Die keuse om in die eerste persoon stem te gee aan haar karakters is gemaak selfs ten spyte van die groot uitdaging wat dit meegebring het om vir hierdie karakters dan ook ’n gepaste taalvorm te moet skep, asook die navorsing wat hierdie proses sou verg ten opsigte van die oorsprong van taal (Botha 2013b:8; Hambidge 2014:11). Die gebruik van die eerstepersoonsverteller in Vuurklip blyk dus ’n goeddeurdagte besluit te wees.
5 Teoretici wat fokus op die krag van taal om die werklikheid te skep, eerder as dat taal beskou word as ’n weerspieëling van die werklikheid, is onder andere Julia Kristeva, Luce Irigaray en Michel Foucault.
6 Smith (2014a:758) verduidelik: “Vanuit die nuwe materialistiese teorie word geredeneer dat as Derrida in sy seminale stelling ‘there is nothing outside the text‘ argumenteer dat alles teks is, in die sin dat alles na iets anders verwys, hy daarmee bedoel dat die konteks en alles wat buite die teks lê, deel van die teks is. Die teks verwys voortdurend na iets anders as deel van ’n netwerk van verwysende sisteme.” Ekokritici beklemtoon egter die natuur se bydrae tot ons konstruksie as mense en beskou die wêreld as veel groter en ouer as ons normale persepsie daarvan. Campbell (1996:133) beskou Foucault se siening in The order of things dat die mens as sentrum van intelligensie en gees derhalwe ook die sentrum van waarde is, as ’n historiese siening wat aan die verdwyn is. Ons is lede van en landbewoners op aarde, deelnemer en waarnemer binne die eeue oue kontinuum van alle dinge, nie heersers van die planeet nie (Smith 2014a:758).
7 Die tekste waarin Morton Harman se teorie oor die objekgeoriënteerde ontologie (object oriented ontology) verder ontwikkel, is onder andere Ecology without nature (2007) en The ecological thought (2010).
8 Buell (1995:7) voeg ook ’n etiese dimensie tot die definisie van ekokritiek toe wanneer hy dit omskryf as “the study of the relationship between literature and the environment conducted in a spirit of commitment to environmentalist praxis”. Everitt (2005:59–60) doen dieselfde wanneer sy Douglas Livingstone se poësie vanuit ekokritiese perspektief benader en ekokritiek in haar “working definition” beskryf as “an analysis of literature’s expression of humanity’s place on Earth, our oikos or home”. Wat gesuggereer word, is ’n etiese element in die mens se posisie ten opsigte van die aarde.
9 In die lys van karakters voorin die roman verskyn daar, naas die teenswoordige karakters en die voorouers, ook die geeste: die Groot Gees, die geeste van die hemelliggame (son en maan), asook dié van die grond, see, reën en wind. Hierdie karakterlys weerspieël die animisme wat die religieuse belewing van die Khoisan kenmerk, volgens Booyens (1984:108) en Parker (2002:42). (Raadpleeg ook eindnota 12 verder aan oor die benaming van die Kaapse inheemse groepe.) Booyens (1984:108) noem die personifikasie van die son, maan en reën praktiese voorbeelde van animisme, oftewel die godsdiens wat aan dinge groter as die mens ’n siel toeken. Parker (2002:42) voeg by dat die San binne hulle tradisionele geloofsbelewing ook aan sekere diersoorte ’n gees of siel toeken – byvoorbeeld aan die eland, wat as ’n spesiale boodskapper uit die geesteswêreld beskou word.
10 Die benaming “good/noble savage” is die eerste maal gebruik in die konteks van berisping van die Europese beskawing in die tyd van hewige stryd, die sogenaamde savage wars, wat gevoer is ter uitbreiding van die grondgebied vir die Christelike geloof. Dit hou direk verband met die Europese skuld ten opsigte van kolonialisme, byvoorbeeld oor die behandeling van die Indiaanstamme in Amerika deur die Spaanse veroweraars in die 17de eeu. Die konsep kom voort uit die lofprysing wat ontstaan het vir die eenvoudige leefwyse van die destydse inheemse Amerikaanse bevolking en die idealisering van die “wild-but-good-man who lives with the animals” (Barzun 2000:43).
11 Iovino en Oppermann (2012:81) benut die term materiële verbeelding in navolging van Gaston Bachelard wat dit gebruik om te beskryf hoe die materiële wêreld deur literêre skrywers en wetenskaplikes verbeel word. Volgens Bachelard in die Franse teks La Terre et les rêveries dela volonté word die verbeelding self dikwels geboei of bekoor deur die wêreld wat dit verbeel, dus dui materiële verbeelding die snypunt aan tussen “the materiality of imagining and the imagination of the material” (Iovino en Oppermann 2012:81).
12 Oor die gebruik van eiename vir die Kaapse inheemse groepe duur daar steeds ’n debat voort. Nienaber (1989:7) grond sy verduideliking van die versamelnaam Khoisan wat vir die Khoi- en Sangroepe gebruik word daarop dat beide groepe die sprekers van klaptale is, ’n “olyfkleurige gelaat” het en kleiner van gestalte is as swart mense. Volgens Sleigh (2005a:12, 2005b:15) is die benaming Khoisan egter nie korrek nie, aangesien nie een van die twee groepe (die Khoi-Khoi of die San) fisiologies as ’n eenheid gekategoriseer kan word nie. Die inheemse groepe van die mees suidelike streke in Afrika (die omgewings van die Kaap en Groot Karoo) word volgens Sleigh die beste in ekonomiese terme en volgens hulle produksiestelsels beskryf: seeversamelaars (strandlopers), herders (veebesitters) en jagversamelaars-struikrowers. In Vuurklip word verwys na die “land- en seestamme” aan die suidkus van Afrika en na ’n tydperk veel vroeër as wat vir Sleigh moontlik sou gewees het om in sy argivale studies te betrek. Daarom kan die verklarings vir die gebruike van hierdie mense slegs losweg gebaseer word op navorsing oor die sogenaamde Khoisan, wat afstammelinge van die see- en landstamme in Vuurklip moet wees, en is hier geen beslissing oor die gebruik van die benaming Khoisan nodig nie.
13 Enige verbande tussen die oermense van die roman en die vroegste inheemse groepe van die suidelike streke in Afrika, soos laasgenoemde se leefwyse gedokumenteer is in die historiese bronne wat die navorser benut, is uiteraard spekulatief. Ook mag inligting wat in die 20ste eeu uit argivale studies opgeteken is oor Suid-Afrika se inheemse groepe uit ’n veel vroeër era (byvoorbeeld deur Nienaber, Lategan en Parker – die bronne waarvan die navorser gebruik maak), na die benutting van twyfelagtige stellings lyk.
Wanneer historiese bronne betrek word, aangesien die moontlike bestaan van die verbeelde mense en hulle verbeelde optrede hierin bevestig word, impliseer dit geen poging om aan die verbeelde romankarakters ’n werklikheidsaard te probeer gee nie. Die historiese bronne word bloot gebruik om die konteks waarbinne die karakters sou kon bestaan het, effens meer voorstelbaar te maak en om iets van die sinvolheid van die leefwyse en optrede van die verbeelde karakters in Vuurklip te illustreer, al is die verbande tussen hulle en die Khoi en/of San vaag en berus dit op bespiegeling.
Wat hier van groot belang is, is die skrywer se openlike verklaring ten opsigte van die onwaarskynlikheid van die verhaalkarakters en hulle optrede. Sy stel dit byvoorbeeld duidelik dat haar aannames oor die taalgebruik van die karakters in Vuurklip spekulatief is (“Aantekeninge rondom taal”, 343–6) – sy “vervaardig” die unieke taalgebruik van hierdie mense en skep woorde waarvan die betekenis “hopelik uit die konteks blyk” (345). Sy gee selfs toe dat “verskillende lesers verskillende woorde onoortuigend (mag) vind” (346). Daarom haar beroep op die lesers en hulle “willing suspension of disbelief for the moment” (346). Die slotwoorde in “Aantekeninge rondom taal” is immers: “Kom ons speel dis alles moontlik. Dan vertel ek vir jou ’n storie” (346).
14 In navorsing oor die geloofs- en rituele lewe van sowel die San- as die Khoigroepe word beklemtoon dat die skeidslyn tussen die natuurlike en die bonatuurlike, of wat Westerlinge as bonatuurlik sou beskou, vaag is (Booyens (1984:107–13); Lategan (1981:34–7); Parker (2002:42); Wannenburgh (1984:53)).
15 Smith (2014b) gee toe dat literêre sisteme, beide plaaslik en internasionaal, ’n toenemende belangstelling in omgewingskwessies toon, maar argumenteer dat ekokritiek steeds nie een van die groot rigtingwysers in die literatuurstudie is nie. Wat die Afrikaanse letterkunde betref, ontbreek die bewustelike ontginning en aanwending van ekokritiese wetenskapsbeginsels in die literatuurbeskouing en teksontleding nog grootliks. Daarmee ontken Smith (2014b) nie dat natuursentriese tekste reeds van die vroegste tyd af deel vorm van ons literêre korpus nie. Sy verwys onder andere na Eugène Marais se sterk natuursensitiewe stem en die beoefening van die plaasroman waarin daar oor dekades heen gefokus is op kwessies oor grond, identiteit en ideologie. Dis vir Smith (2014b) egter duidelik dat ekokritiese ondersoekmetodes wat verruimend kan inwerk op die huidige literatuurteoretiese klimaat in die Afrikaanse letterkunde, weinig aandag geniet.