Die Afrikaanse Taalraad herdenk die 91ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal

  • 1

Die 8ste Mei bied 'n geleentheid om nie net die bestaan van Afrikaans as amptelike taal te vier nie - 'n status wat die taal vanjaar reeds vir 91 jaar beklee - maar ook die ontstaan van Afrikaans as gedeelde erfenis.

Met hierdie dubbele viering wil die Taalraad dus enersyds die aanvaarding van Afrikaans as amptelike landstaal op 8 Mei 1925 kragtens die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika (Wet no 8 van 1925) herdenk;  andersyds wil ons ook die aandag vestig op die enorme kreatiewe heterogeniteit van Afrikaans. Christo van Rensburg se deeglike navorsing oor die gedeelde verlede van Afrikaans, onderneem in opdrag van die Taalraad, stel die veelvoudige en lewenskragtige voedingsare van Afrikaans pragtig ten toon. Enigiemand met 'n liefde vir die taal behoort sy boek, So kry ons Afrikaans van LAPA Uitgewers in die hande te kry.

Lees ook: LitNet Akademies-resensie-essay: Só maak Afrikaans ons

Dit is ook heeltemal van pas om 'n glasie te klink op een van die grootse prestasies van Afrikaans, naamlik haar status as een van slegs vier tale ter wêreld wat in die vorige eeu tot volwaardige wetenskapstale ontwikkel het. Die realiteit van hierdie eeu is egter dat die ontluikende monolinguistiese bestel op ons universiteite en skole en in publieke ruimtes tot die inkrementele marginalisering van Afrikaans en die uitrangering van haar hoër funksies lei; ook dat die ander inheemse tale hiermee die geleentheid ontsê word om uiteindelik ook tot wetenskapstale te ontwikkel.

Om Afrikaans se verjaarsdag as amptelike taal te herdenk, maak dus slegs sin indien die nuwe geslag Afrikaanssprekers hulle ook daadwerklik beywer vir die amptelike gebruik van die taal. Die vraag is hoe?

Die enigste volhoubare pad vorentoe behels die bou van veel wyer alliansies as in die verlede. Die erosie van die inheemse tale se posisie − net soos dié van Afrikaans – gaan immers gepaard met die kulturele, sosio-ekonomiese en politieke ontmagtiging van die meerderheid van hulle sprekers. Die verskeidenheid van belange wat hier geraak word, is eenvoudig net te wyd, die negatiewe impak van monolinguisme eenvoudig net te enorm om besluite oor taal aan tegnokrate en politici oor te laat.

As 'n nasionale stem vir Afrikaans en ál haar sprekers verbind die Taalraad haar dus opnuut tot versoening tussen die sprekers van al ons inheemse tale – almal wat entoesiasties voel oor taal en oor die skakeling tussen taal, kultuur en bemagtiging. Die tyd het aangebreek dat die sprekers van Afrikaans en van ons ander inheemse tale ons grondwetlik verskanste regte gesamentlik opeis en praktiese oplossings vir die toepassing daarvan op streeksvlak ontwikkel.

Beywer u dus vir die voortgesette amptelike gebruik van Afrikaans en beskerm haar hoër funksies, maar maak bowenal vriende vir die taal.

Conrad Steenkamp, Uitvoerende Hoof

Ria Olivier, Projekbestuurder

 

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Hier het ons die geykte ATR-benadering: versoening en veeltaligheid, met die variëteite van Afrikaans eerder as Standaardafrikaans wat beklemtoon word. Om nie-wit etnisiteite in die prentjie te bring, word die spekulatiewe oorsprong van Afrikaans bygesleep en beklemtoon, wat mense soos RSG se Magdaleen Kruger tot die polities korrekte gevolgtrekking laat kom het dat die wittes Afrikaans by die nie-wittes gesteel het.
    In die voorwoord by Van Rensburg se boek jubel Michael le Cordeur, toe die ATR-voorsitter, erg oordrewe: "Die doelwit was om eens en vir altyd die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by te lê." Hoewel Van Rensburg geensins op die finaliteit van sy weergawe aanspraak maak nie, is daar baie wat voortreflik is in sy boek. Lees gerus wat ek destyds daaroor geskryf het (LitNet 19.11.2012).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top