Die aanlyn-argivering van Suid-Afrikaanse teater

  • 0

 

Temple Hauptfleisch, voormalige hoof van die Sentrum vir SA Teaternavorsing (SESAT, 1979-1987), voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Departement Drama (1995-2005) en direkteur van die Sentrum vir Teaternavorsing aan die US, is tans emeritusprofessor en navorser in die departement en die mederedakteur van die South African Theatre Journal (wat hy en Ian Steadman in 1987 gestig het). Die afgelope 40 jaar het hy reeds meer as 80 publikasies die lig laat sien en sy huidige navorsing sluit in die aanlyn-Encyclopaedia of South African Theatre (ESAT).

Naomi Meyer het hom oor hierdie navorsings- en argiveringsprojek uitgevra.

Hallo Temple, en dankie vir ’n geleentheid tot gesprek oor jou omvattende en in-wording aanlynnavorsingsdokument oor die Suid-Afrikaanse teater, ESAT. Ek beskryf dit nou maar as ’n navorsingswerk oor teater, maar in die inleidende paragraaf is dit duidelik dat hierdie materiaal so ver terug strek as min of meer die begin van tyd. Dalk kan jy begin deur met ons lesers jou idee/filosofie agter hierdie navorsingsprojek te deel.

Naomi, ja, die filosofie – as mens dit so kan noem – agter ESAT is in wese baie eenvoudig: ‘n blote begeerte om alle inligting oor die betrokke onderwerp in een nuttige formaat byeen te bring en beskikbaar te stel vir gebruik deur teaterpraktisyns, studente, kritici, navorsers en teaterliefhebbers. Dit is seker dieselfde konsep wat onderliggend is aan alle ensiklopedieë oor die eeue heen. Maar een van die grootste dryfvere hiervoor lê vir my in ’n begeerte om, terwyl ons die teater en sy mense vier en boekstaaf, ook te probeer verhoed dat ons sal vergeet. Om te keer dat ons dalk die prooi word van ’n soort aggressiewe kulturele amnesie, waarin mens begin glo dat net dit wat op een of ander stadium as bekend, opspraakwekkend, nuut en/of vernuwend beskou, aangeprys en veral opgeteken is, van waarde kan wees.

Die kunste – en by uitstek die uitvoerende kunste – is per definisie eintlik hoogs vervlietend, immer veranderend, onsubstansieel selfs, en dikwels nieverbaal, met wortels wat diep in die verlede en ver verspreid lê oor kulture en kunsvorme heen. Om daardie essensie van die lewende teater vas te vat moet ons méér weet as net wie (vir ’n betrokke oomblik, in ’n spesifieke konteks) belangrik genoeg geag is om op tradisionele wyse geboekstaaf te word. Dié kwessie is veral van belang in ‘n tyd soos die hede, waarin daar nie net ’n geweldige kultus van die nuwe en die gevierde (“celebrated”) bestaan nie, maar daar ook ywerig probeer word om die geskiedenis so te herskryf en aan te pas dat voorheen vergete en geïgnoreerde aspekte van die geskiedenis ook aandag kan kry.

Enige kulturele aktiwiteit (elke menslike aktiwiteit) maak uiteraard deel uit van ’n komplekse polisisteem van menslike aktiwiteite, en die hele sisteem moet sover enigsins moontlik in jou ensiklopedies en geskiedenisse gereflekteer word. Dus moet bestaande kennis van almal en alle dinge wat hoegenaamd met op- en uitvoerings te make het, daarin opgeneem word – ook dinge uit die verre verlede - en dit moet alles saam deel uitmaak van die uiteindelike en groter geskiedenis van die Suid-Afrikaanse teater.

Hierdie soort strewe is natuurlik uiters ambisieus en kan seker uiteindelik net ’n droom bly, want geen argief, geen biblioteek, geen museum en derhalwe geen publikasie kan ooit werklik volledig (of selfs finaal) wees nie.

Waar kom die idee vir so ’n omvangryke ensiklopedie, spesifiek oor die Suid-Afrikaanse teater, vandaan?

Die gedagte het ‘n redelik lang geskiedenis, want die feit is dat daar nog nooit ’n werklik volledige geskiedenis van die totale Suid-Afrikaanse teater geskryf is nie, en daar kon eintlik ook nie ooit so iets aangepak word nie, want niemand het nog al die inligting byeen gehad nie – en ons het dit steeds nog nie – ten spyte van talle pogings om die dokumente rakende teater en aanbiedings in die land te vergaar en argiveer en om opvoerings te dokumenteer. (Ek kan jou in hierdie verband lank vermaak met stories van al die pogings om teaterargiewe en -museums op die been te kry en aan die gang te hou.)

Maar meer nog, die navorsers is deurgaans aan bande gelê deur ons ontwikkelende land se menige diversiteite, ideologieë en vooroordele. Soveel van die opvoerings en aanbiedings oor die eeue heen is nooit eers opgeteken nie (of in menige gevalle selfs nie eers deur buitestanders gesien nie), terwyl ander werk doelbewus geïgnoreer of eenvoudig as onbelangrik afgemaak is, en die kritici en geskiedskrywers van die tyd het dus net gekonsentreer op dit wat hulle ken, wou aanvaar of oor kon lees, maw meestal die Europese tradisie van Nederlandse (en later Afrikaanse), Franse, Duitse en Engelse teater sedert 1652. (Die monumentale en onontbeerlike werk van FCL Bosman is ‘n pragtige voorbeeld hiervan.) Pogings van menige navorsers (myself ingesluit) om dit sedertdien reg te stel en uit te brei na ’n beskouing van alle inheemse tradisies en alternatiewe vorme en gebruike, het hulle soortgelyk vasgeloop teen verskeie probleme, insluitend die tekort aan konkrete data, die geweldige omvang en diversiteit van ons teaterbedryf (die blote getal opvoerings en die talle mense daarby betrokke), die menige tekortkominge van ons dokumentasiestelsels en media – en, seker onafwendbaar, persoonlike ideologiese waardesisteme en gekose teoretiese raamwerke.

Dis uit dié soort besinning, veral tydens my dae as hoof van die Sentrum vir SA Teaternavorsing (SESAT) by the RGN, gepaard met ‘n sterk bewustheid van die omvang en beperkings van ons eie RGN-argief op daardie stadium, dat daar by my en die personeel van SESAT ’n gevoel begin ontstaan het dat ons die saak dalk heel anders sal moet benader. Ons is veral daartoe geïnspireer deur iets wat wyle John Kannemeyer in die vroeë 1980’s by ’n vergadering gesê het (tov ‘n voorstel van wyle Charles Malan dat ons by die RGN ’n geskiedenis van die totale Suid-Afrikaanse letterkunde in alle landstale saamstel). Sy standpunt was dat dit net vir ons moontlik is om parallelle geskiedenisse te skryf oor die verskillende letterkundes in die land, en dat die tyd nog nie ryp was vir die skryf van een omvattende geskiedenis nie. Sy voorstel was dat ons eerder moet begin deur eers die data oor al die “subletterkundes” in ensiklopedie-vorm te versamel en dít dan as die rou data te gebruik vir ‘n globale geskiedenis. Daardie idee het by my en van my kollegas vasgesteek en toe ek na Stellenbosch skuif, het die idee van so ’n ensiklopediese optekening van alle data oor die teater in ons land die sentrale en langtermynfokus van my navorsingsprogram geword – en het dit nou uiteindelik (ten minste gedeeltelik) digitale gestalte gekry as ESAT.

Jy is bekend vir die samestelling van navorsingsmateriaal aangaande feeste. Ek dink hier in die besonder aan een van jou werke oor internasionale feeste – Festivalising! Wat is vir jou anders omtrent hierdie ESAT-projek as enige van jou vorige navorsingsprojekte?

Wat hierdie projek uniek en so uitdagend vir my as navorser gemaak het, was die feit dat die onderwerp self so ensiklopedies van aard is, as mens dit so wil stel, want die begrip teater (eintlik die uitvoerende kunste of “performance”, om dit nog wyer te stel) beslaan eintlik ‘n menigte verwante aktiwiteite en vakgebiede, van feeste en dans tot die elektroniese media. En dink dan aan die verskeidenheid uiteenlopende aktiwiteite betrokke by enige opvoering – daar is natuurlik die teks, maar dan ook die skrywer, die regisseur, die teater, elkeen van die ses spelers, die verhoogbestuurder, stelontwerper, beligtingspersoon, klankpersoon, kostuummaker, bemarkingsmense, teaterbestuur, voorhuisbestuur, die gehoor, fotograaf, plakkaatskilder, kritici wat die stuk resenseer (en die publikasies waarin die stukke verskyn), die fees waar die stuk plaasvind, die uitgewers wat die stuk publiseer, ens, ens. En elkeen van hierdie items hoort in ‘n ensiklopedie oor die teater.

Om te illustreer: ‘n program van die eerste opvoering van PG du Plessis se bekende Siener in die Suburbs sou seker vir ons tussen 20 en 30 nuwe inskrywings of lemmas vir die ensiklopedie kon genereer oor die bogenoemde aspekte – en dan, as mens daarmee klaar is, word elkeen van die inskrywings weer op hulle beurt bronne van verdere inskrywings, en die programme van elke verdere opvoering van die stuk óók.

Benewens die spektrum wat hier bo beskryf is, is daar ook nog ’n uniekheid aan teaterstudies, naamlik die feit dat ’n ernstige navorser baie wyer as net die veld van die sg toneelkunde, dramakunde of teaterwetenskap moet gaan kyk – want van die belangrikste inligting en navorsing oor ons vak kom nie noodwendig daar voor nie, maar in geskrifte oor ander verwante sake, soos die letterkunde, musiek, kuns, geskiedenis, antropologie, sosiologie, sielkunde, opvoedkunde, kommunikasiekunde, en les bes die ekonomie. (Van die beste werk oor die feeste in die onlangse tyd kom juis uit die departemente ekonomie by Stellenbosch, Rhodes en Potchefstroom.)

Die ware uniekheid van hierdie enorme (en gewis langtermyn-) taak lê dus in sy vermoë om al hierdie uiteenlopende materiaal maklik en vinnig toeganklik te maak vir navorsers. Dit is eintlik die soort projek wat byna onmoontlik was in die dae voor die koms van die rekenaar-databasis, en het my lank nogal aan bande gelê - maar vandag het dit moontlik geword om uiteindelik die materiaal beskikbaar te kan stel, omdat die Universiteit Stellenbosch beskik oor die Wiki-program en gewillig was om hierdie projek daardeur te help dryf as een van die US Biblioteek se Libopedia-projekte, in samewerking met die Sentrum vir Teaternavorsing by Drama. Die projek is oor die jare gesteun deur fondse van die Nasionale Navorsingstigting (NNS/NRF) en die Universiteit Stellenbosch. Die resultaat is ’n ensiklopedie oor Suid-Afrikaanse teater wat presies werk soos die internasionale Wikipedia – met dieselfde gerief, toeganklikheid en interne skakelsisteme – en gemaklik vanaf die internet oral in die wêreld bereikbaar is.

Dis onafwendbaar om oorweldig te voel as ’n mens ’n ensiklopedie van hierdie omvang oopslaan. Die onderwerpe is legio: ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse teater, terminologie, teaterpersoonlikhede, teatergroepe, dramas, ’n kronologie van Suid-Afrikaanse teater en optredes ... Waar begin ‘n mens? Wie nooi jy uit om hier in te loer – en wie nooi jy uit om deel te neem (en hoe)? En wat is jou oogmerk en werkswyses hier?

Jy is reg, dis ’n enorme (en gewis ’n langtermyn-) taak. Naïef genoeg was die aanvanklike idee eintlik baie beskeie – dit sou ‘n blote Companion to South African Theatre and Performance, of COMSAT, wees, geskoei op die lees van Phyllis Hartnoll se bekende Oxford Companion to the Theatre, wat konvensioneel deur ‘n uitgewer gepubliseer sou kon word. Daarin sou ek (aanvanklik met die hulp van sowat 50 medewerkers) sinvolle data uit bestaande dokumente en publikasies opsom en byeenbring onder rubrieke. Die idee was dat ons nie evalueer of kommentaar skryf nie, net in ’n kort inskrywing die basiese feite oor die persoon, teater, teks, gebeurtenis, edm weergee. Aanvanklik wou ek keur – maar het gou genoeg besef dat jy nie kan bloot oorvereenvoudig nie. Die ding moet oop genoeg wees om plek te maak vir almal, al is dit net ’n paar reëls of ‘n naam wat opgeneem word. En dis steeds ons werkswyse.

Maar die gevolg van hierdie beleid was dat die hele babaprojek bitter vinnig soos ‘n jong tiener opgeskiet en uit al die babaklere gebult en gegroei het, sodat die manuskrip in volume en in omvang mettertyd baie ver buite die bereik en belangstelling van selfs die grootste internasionale uitgewer beweeg het. Die eksponensiële groei van die inhoud het ons teen einde 2009 by sowat 2 000 bladsye teks (met ’n oorsigtelike historiese blik as inleiding, ’n volledige bibliografie en ‘n 100-bladsy-kronologie van gebeure ingesluit) te staan gebring. En met daardie databasis van nagenoeg 25 000 inskrywings is ek na die uitgewers ... en vind dat ‘n vinnige “nee” deurgaans die enigste antwoord op my publikasievoorstel is, alhoewel die COMSAT-databasis (soos dit later bekend sou staan) van onskatbare waarde as bron vir my en verskeie kollegas en studente was.

Gelukkig was dit juis die tyd waarin die konsep van aanlyn-argivering toenemend in gebruik begin kom het – ter lande asook in die buiteland. Dus het ek ten einde raad uiteindelik gaan gesels met die mense by die universiteit oor ’n Wiki-ensiklopedie – en hulle het inderdaad toe ’n lekker oplossing.

Die projek is hierna formeel herdoop na ESAT (Encyclopaedia of South African Theatre and Performance), en die reeds beskikbare materiaal is vanaf middel-Junie 2010 op die Wiki-program gelaai en ons kon begin ernstig redigeer. Teen einde-2011 was sowat twee derdes van die kerndata gelaai en het ons besluit om ‘n volgende fase binne te gaan.

Om die publiek (en veral mense in die bedryf) by die navorsingsproses te betrek, is die gelaaide data as ‘n proeflopie aan die begin van 2012 internasionaal op die internet vrygestel in die vorm van ‘n Wiki-gedrewe aanlynpublikasie. Alle lesers kon nou vrye en gratis toegang kry tot die resultate van 20 jaar se argivale en bibliografiese navorsing bloot deur na die webwerf by ESAT te gaan. Dit word duidelik gestel dat die materiaal gewis nie volledig of foutloos is nie – baie daarvan is eintlik nog redelik ongeredigeer – maar ons het gevoel ons kan nie langer daarop sit nie. Lesers en gebruikers word dan uitgenooi om met ons te skakel as hulle foute sien, nuwe of bykomende inligting het, of selfs nuwe rubrieke of temas wil voorstel. Enige kommentare, regstellings of voorstelle kan aan [email protected] gestuur word, sodat ons dit kan inwerk by dit wat ons reeds het.

Vir my as werknemer by LitNet is ’n aanlyn-argivering van materiaal natuurlik van besondere persoonlike belang, omdat ons óók voortdurend hiermee besig is (soos byvoorbeeld die geakkrediteerde artikels wat in LitNet Akademies verskyn, die ATKV biografiese projek en ons LitNet-spens). Is dit ’n projek wat julle alleen doen, of is daar dalk planne om met ander soortgelyke programme saam te werk?

O gewis laasgenoemde! Die projek was van sy aanvang nog altyd ’n samewerkingsprojek – dis andersins ondenkbaar. Van die grootste uitdagings is eintlik die oorlewing van die projek by sy stigters se lewens verby – en dit kan slegs deur institusionele samewerking verseker word. Daar is plaaslik, nasionaal en internasionaal werklik interessante digitale argiewe en navorsingsprogramme, waarvan enkeles reeds ook hulle belangstelling in medewerking aangedui het. Sedert die bekendstelling van die webwerf is reeds met verskeie individue en instansies geskakel oor moontlike samewerking – oa met enkele van die feeste en die twee nasionale letterkundemuseums – en ek self vind baie nut en veel te leer by ander aanlynprojekte soos LitNet, Arts Link, TheatreSA, edm. Ek hoop juis om later vanjaar te begin kyk na sisteme vir data deel. Maar nou is ons aandag nog by die oplaai van al die afgehandelde materiaal, die redigering van dit wat ons reeds sover gelaai het – en natuurlik die openbare reaksie daarop.

Lees nog oor ESAT.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top