Die 2020-Bybelvertalingsproses as avontuur vir die taalkundige

  • 1

Die taalkundige Ernst Kotzé was betrokke by die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. LitNet het hom gevra om ’n oorsig te gee van sy belewing van dié sonderlinge vertalings-avontuur. Hy deel sy gewaarwordinge en insigte wat die proses meegebring het.

Ernst Kotzé (Foto: verskaf)

Besoek die invalsblad van die miniseminaar hier om al die bydraes te lees:

Miniseminaar: Die 2020-Bybelvertaling

1. Inleiding

Baie dankie aan LitNet vir die geleentheid om ’n oorsig te gee van my ervaring van die Bybelvertalingsproses as ’n taalkundige avontuur, soos dit in die uitnodiging tot deelname gestel is. Vanuit my eie perspektief as algemene en Afrikaans-taalkundige was dit inderdaad ’n avontuur in verskeie opsigte, waarvan ek dadelik wil sê dat die grootste impak wat dit op my gehad het, meegebring is deur betrokkenheid by die inhoud van die Bybelteks. Dit kon nie anders as om ’n diepgaande uitwerking op ’n mens se lewensbeskouing te hê en nuwe insigte te gee in die basis van ’n ingeligte geloof in die kernkomponente van die Skrif nie.

 

2. Uitdagings as geleenthede

In my bydrae wil ek graag, soos daar versoek is, die soeklig laat val op sekere uitdagings en verskynsels wat ek tydens hierdie proses teëgekom het. Die woord “uitdaging” word deesdae oorwegend as sinoniem vir “probleem” of “knelpunt” gebruik, maar ek wil dit graag primêr verstaan as ’n aansporing (Verklarende Afrikaanse Woordeboek) en ’n prikkel tot reaksie wat ’n mens noop om op ’n positiewe manier te reageer, iets wat jou uitdaag om jou beste te lewer. Vir die vertaalspan (waarby ek graag almal insluit wat ’n vakkundige inset gelewer het) was die vertaalopdrag sonder twyfel so ’n positiewe uitdaging.

 

3. Oorkoepelende indruk

Een kenmerk van die 2020-Bybelvertalingsprojek was die veelfasettigheid van die hele proses. Deur ’n mens se betrokkenheid by een aspek daarvan het die hele kaleidoskoop van kundigheid voor jou oë ontvou, en het jy toenemend beïndruk geraak deur die magdom van kennis en insig van kollegas wat brontaalkenners is, eksegete, vertaalkundiges, vertalers, taalgebruikskundiges, letterkundiges en kultuurhistorici oor die tyd waarin die tekste van die Bybel ontstaan het. Maar ook op ’n persoonlike noot het daar toenemende waardering gekom vir ’n oorkoepelende menslikheid wat individuele verskille oorspan het, deur noue samewerking oor ’n lang tydperk, wat gelukkig voor COVID-19 afgesluit kon word.

 

4. Skaduwee

’n Skaduwee oor die projek was die ervaring van menslike sterflikheid deur die oorlye van kollegas en vriende, op ’n stadium altesaam veertien, voor die afhandeling van die projek. Dit was ’n navrante, pynlike aspek van die werk, maar ook iets wat ’n mens onder die indruk gebring het van die ewigheidswaarde van hulle werk. Hulle voetspore lê versprei oor die bladsye van die 2020-teks, en soms is daar vondste en insigte wat ’n mens opnuut raaklees en wat ’n mens aan hulle bydrae herinner.

 

5. Die uitdagings

5.1 Sentrale taak

’n Belangrike uitdaging was die geleentheid en vereiste om met nuwe oë te kyk na wat die bronteks wil sê en die Afrikaanse kloutjie by die oor te bring, of dit nou Hebreeus, Aramees of Grieks was. In dié opsig was dit ’n strategie om verskille in tyd, kultuur en wêreldbeskouing te weerspieël, maar ook deur die medium van Afrikaans toeganklik te maak.

Vertalers moet naamlik, terwyl hulle vertaal, rekening hou met die eienskappe van die taal van die teks wat vertaal word, en terselfdertyd met die eienskappe van hulle eie taal. In hierdie vertaling is daar geprobeer om so te vertaal dat die gewone taalkenmerke van Hebreeus en Grieks uit die gewone taalkenmerke van Afrikaans verdwyn. In ’n goeie vertaling kan ’n mens nie in die Afrikaanse teks die eienskappe van die brontale sien nie.

Betekenis, dit wil sê die “inhoud” van die brontaal, vind op ’n baie spesifieke, en soms unieke, manier neerslag in die teks wat vertaal moes word. Die brontaalkenners is deskundiges wat geleer het om daardie inhoud deur die bril van Hebreeus of Grieks te verstaan. Die taak was nou om ’n Afrikaanse baadjie aan te trek deur ’n teks wat onmiskenbaar Afrikaans is, maar in die proses soveel as moontlik van die betekenisaspekte van die bronteks weer te gee. Die teks van elke boek in die Bybel bevat nie slegs ’n denotasie, of basiese betekenis, nie, maar weerspieël ook aspekte van die betrokke taalhandeling (konnotasies), byvoorbeeld die houding van die spreker teenoor die aangesprokene in ’n gespreksituasie, of van die skrywer teenoor die leser. En as ons die verskillende boeke van die Bybel met mekaar vergelyk, is daar groot verskille merkbaar tussen die wyse van aanbieding, of dan die styl en kenmerke wat tipies is van die tekssoort of genre waarvan dit deel vorm. Ook dié kenmerke moet in die Afrikaanse vertaling neerslag vind. Daarom was die insette van Afrikaanse taal- en letterkundiges van soveel belang. Waarvan ’n mens deur ’n noue betrokkenheid by die Bybelteks bewus word, is dan ook hierdie styl-, genre- en registerkenmerke van elke boek.

5.2 Teks- teenoor taalkenmerke

5.2.1 Tekskenmerke

In enige teks wat vertaal word, kan die vertaler sowel teks- as taalkenmerke onderskei. Oor die algemeen vertoon die teks die natuurlike eienskappe van die taal waarin die teks geskryf is, maar daar is ook besondere taalgebruik, wat eerder eienskappe van ’n spesifieke soort teks vertoon, en dié tekskenmerke kan en moet ook in die doeltaal weergegee word. By die vertaling uit die brontaal is daar dus altyd twee tipes eienskappe wat in ag geneem moet word by ’n teks, naamlik teksspesifieke eienskappe en taalspesifieke eienskappe. Taalspesifieke eienskappe kenmerk die taal as kode, maar teksspesifieke eienskappe word bepaal deur die teksgenre, byvoorbeeld of dit ’n narratief is, ’n geslagsregister, wysheidspreuke, of digterlike taal (soos die Psalms, Job, ens.).

As ’n mens na die Bybelteks kyk met die betrokke tekssoort in gedagte, is dit duidelik dat nie alle boeke vir alle lesers bedoel is nie. Dit is wel ’n versameling boeke, eintlik ’n biblioteek, met verskillende afdelings, en elke afdeling het ’n bepaalde fokus en geteikende lesersgroep. In die hedendaagse konteks sou sommige afdelings selfs ’n X-gradering kon kry, byvoorbeeld in Levitikus, wat taamlik eksplisiet is oor ’n aantal grusame aspekte van die menslike bestaan. Ander boeke bevat weer besonderse woordkuns wat hoë letterkundige waarde het en as poësie of kreatiewe prosa benader moet word, en ook fyn onderskeidingsvermoë vereis. ’n Voorbeeld van die talle tekskenmerke is die verskynsel van chiasme, waar die woordorde in ’n tweede sinskomponent omgekeer word om ’n saak te beklemtoon. In Matteus 19:30 staan daar byvoorbeeld: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” En in Genesis 9:6: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, deur die mens sal sy bloed vergiet word.”

Wat hiermee saamhang, is die algemene kenmerk van taalregister, naamlik ’n bepaalde soort taalgebruik: ’n Teks kan ingewikkelde taal gebruik, met lang sinne en plegtige of formele woorde, of juis heel eenvoudige taal met gewone woorde en kort sinne. Die tekste in die Bybel is in die bronteks soms in ’n betreklik hoë register geskryf, soms in ’n laer register.

Openbaring is byvoorbeeld in ’n eenvoudige taalregister geskryf, maar Efesiërs in ’n hoë register.

Openbaring 1:1: Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie.

Efesiërs 1:4: So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem.

5.2.2 Taalkenmerke

Taalspesifieke taalkenmerke het te doen met die wyse waarop die inhoud, of dan die gedagtes agter die woorde, in die spesifieke taal uitgedruk word – sintakties, morfologies en leksikaal (met ander woorde, op al die vlakke van taalbeskrywing) – en verskil van die wyse waarop dit in die brontaal gedoen word. So onderskei Afrikaans byvoorbeeld leksikaal tussen ’n stad en ’n dorp, terwyl Hebreeus slegs een woord, הָעִ֥יר ‘[haʔir], of ha-ier, vir die woordgoep die stad/dorp gebruik.

5.2.2.1 Sinsbou

5.2.2.1.1 Woordorde

’n Baie bekende sintaktiese of sinsbouvoorbeeld kom voor in Psalm 23, waarin die woordorde in die 2020-vertaling verskil van dié in die vorige vertalings. Dit is ’n taalspesifieke voorkeur van Hebreeus om in ’n geval soos dié ’n bywoordelike bepaling voor die werkwoord te plaas, en omdat dit versoenbaar is met die Afrikaanse sintaksis, word dit in hierdie vertaling, anders as in die 1953-vertaling, nagevolg, en lui dit so: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. In groen weivelde laat Hy my rus.” (In ’n vorige vertaling het dit gelui: “Hy laat my neerlê in groen weivelde.”) Dit is natuurlik nie altyd moontlik nie, en dit sou in Afrikaans onnatuurlik klink as ’n mens deurgaans die Hebreeuse volgorde sou volg. Een voorbeeld kom voor in Psalm 107:16, waar die Hebreeus (direk vertaal) lui: “Van bronsdeure Hy het stukkend gebreek want”, wat so vertaal is: “Want Hy het deure van brons stukkend gebreek.”

5.2.2.1.2 Vir voor direkte voorwerpe

Nog ’n tipies Afrikaanse taalkenmerk op die vlak van die sinsbou is die gebruik van vir voor direkte voorwerpe, ’n verskynsel wat nie in Nederlands of enige ander Germaanse taal voorkom nie. Die voorsetsel vir word meestal gebruik voor ’n indirekte voorwerp soos in “Gee die boek vir my”, maar anders as in byvoorbeeld Nederlands, kom dit veral in die informele praatstyl ook voor as direktevoorwerpsmerker (“Ek sal vir jou help” in teenstelling met “Ek sal jou help”). Omdat dit ’n informelestylkenmerk is, kom dit in die 2020-Bybelvertaling nie te dikwels voor nie.

Maar daar is een funksie waarvoor vir op ’n hele aantal plekke in die Bybel gebruik word, naamlik om dubbelsinnigheid uit te skakel. Dit kom veral voor wanneer die betreklike voornaamwoord wat gebruik word (in byvoorbeeld “die man wat dit gedoen het”). Normaalweg is hierdie wat nie dubbelsinnig nie, byvoorbeeld in “die volk wat in duisternis wandel”. Maar wat maak jy nou met ’n konstruksie soos “die mens wat God liefhet” – is dit die mens wat liefhet, of God? In die meeste gevalle maak die konteks dit in die bronteks duidelik wat bedoel word. In die Hebreeus is dit baie duidelik of die betreklike voornaamwoord onderwerp of voorwerp is, en dit word deur die betreklike voornaamwoord aangedui. Om “die mens wat God liefhet” sonder enige konteks ondubbelsinnig uit te druk, moet vir dus as voorwerpsmerker ingespan word – dus: “die mens vir wie God liefhet”, of “die mens wat vir God liefhet”. ’n Soortgelyke dubbelsinnigheid kom ook voor waar die meervoudige voornaamwoorde (ons, julle, hulle; ook u) deur wat gevolg word, soos in “dié wat ons/julle/hulle agtervolg het”. Ook hier kan vir gebruik word om die bedoeling duidelik te maak, soos in “vir wie” of “wat vir”. Daar is egter ook gevalle waar vir nie goed op die oor val nie, en onnatuurlik of kunsmatig klink. In sulke gevalle moet ’n mens noodgedwonge afwyk van die grammatiese struktuur van die bronteks en die lydende vorm in Afrikaans gebruik, soos in “die man deur wie ons agtervolg is”. Dit is een opsie. Maar daar is talle gevalle waar die dubbelsinnigheid uitgeskakel word deur die konteks, en dit dus nie saak maak of die sinsbou dan teoreties dubbelsinnig is of nie. ’n Voorbeeld sou wees Psalm 137:3: “Hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag.”

5.2.2.2 Geslag

Nog ’n belangrike verskil tussen Afrikaans en die brontale is grammatikale geslag, byvoorbeeld die keuse tussen hy en sy as onderwerp. Alle naamwoorde in Hebreeus is manlik of vroulik van geslag, en in Grieks is daar selfs ’n onsydige vorm, soos in Duits, ’n onderskeid wat nie in Afrikaans geld nie, waar die gebruik van geslagsaanduiding, net soos in baie gevalle in Engels, vir die leser primêr op biologiese geslag dui. In Afrikaans word daar byvoorbeeld deur middel van die voornaamwoord hy na ’n stad verwys, omdat dit die grammatikale verstekvorm is vir enige naamwoord, sonder dat daar ’n gedagte hoef te wees aan biologiese geslag, en dus bevoordeling van mans bo vroue. Daarom val dit soms vreemd op in die Bybelteks as daar na ’n stad verwys word met sy en haar – iets wat meermale voorkom. Dit is egter ’n tekskenmerk dat stede soos Jerusalem en Babilon in die Bybel metafories as vroue voorgestel word, met die beeldspraak wat daarby pas. In sulke gevalle word die tekskenmerk aangepas by die taalkenmerk, deurdat stede in Hebreeus ook grammatikaal as vroulik gemerk is, terwyl dit in Afrikaans natuurlik nie die geval is nie.

5.2.2.3 Aanspreekvorme

In die grammatika (wat betref die woordsoorte en woordvorme) is daar een terrein wat ’n keuse tussen vertaalekwivalente in Afrikaans nodig gemaak het, terwyl daar slegs een vorm in Hebreeus of Grieks gebruik word, en waarvan die betekenisnuanses deur die konteks bepaal word. Die gebruik van die direkte rede, dit wil sê gesproke kommunikasie teenoor ’n aangesprokene, vorm naamlik ’n belangrike deel van veral narratiewe tekste en profetiese uitsprake, briewe en ander geskrewe kommunikasie met rolspelers of veronderstelde lesers. ’n Goeie voorbeeld van hierdie scenario is die gebruik van aanspreekvorme, wat in Afrikaans formeel of informeel kan wees, of familiêr, óf met eerbied (pa/vader, ma/moeder), óf op gelyke voet, of ook asimmetries teenoor minderes. Eerbiedsbetoning kan in Afrikaans geskied deur middel van die sogenaamde sydelingse aanspreekvorm, deur die familiale titel te gebruik, soos in die Deuterokanonieke boek Tobit 5:1: “Alles wat Pa my beveel het …”.

Aanspreekvorme gee daarom ’n aanduiding van hoe die verhouding tussen sprekers en hoorders uitgedruk en ervaar word. Die wyse waarop Jesus aangespreek word, weerspieël dan ook die houding van verskillende groepe teenoor Hom. Omdat Hy as rabbi beskou is, word die hoflikheidsvorm U meestal gebruik. Maar wanneer Jesus voor die Sanhedrin verskyn, spreek die hoëpriester Hom in Matteus 26:63 as beskuldigde aan deur die gebruik van jy: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die Seun van God is.” Dit word ook in ag geneem wanneer diegene in die skare wat met Hom die spot dryf en Hom slaan, op ’n sarkastiese wyse die formele aanspreekvorm teenoor Hom gebruik: “Profeteer vir ons, wie is dit wat U geslaan het?”

In aansluiting hierby moes daar dan ook onderskei word tussen pa en vader, ma en moeder, skoonpa en skoonvader, ens, wanneer daar na familieverband verwys word, en nie slegs aanspreekvorme ter sprake is nie. In die redaksiekomitees is daar besluit dat daar in informele dialoog pa en ma gebruik word, maar andersins vader en moeder as daar nie ’n gemeensame konteks ter sprake is nie. In geslagsregisters lui dit dus: “Hy was die vader van X”, en nie “Hy was die pa van X” nie.

5.2.2.4 Hoofletters

Wat betref die ortografie, of meer spesifiek die skryfwyse, het die gebruik van hoofletters veral aandag geniet. Hoewel daar in Hebreeus geen hoofletters bestaan nie, en in Grieks slegs eiename met hoofletters geskryf word, soos in die eerste plek ook in Afrikaans, het daar ’n tradisie rondom die sogenaamde eerbiedshoofletters ontstaan wat gebaseer is op die ou Nederlandse Statenvertaling in die 17de eeu. Daarvolgens word nie net beskrywende name vir God, soos Almagtige, Skepper, ens, met ’n hoofletter geskryf nie, maar ook voornaamwoorde wat in die plek van die naam van God gebruik word, soos Hy, Hom en U as onderwerp of voorwerp. Dit is in die Afrikaanse vertalings voortgesit. Die enigste uitsondering is die besitlike voornaamwoorde sy en u, soos in “sy mag” of “u heerlikheid”, omdat dit ’n verhoudingswoord is, soos ’n voorsetsel. Vergelyk byvoorbeeld “God se volk” met “sy volk”, waar die verband tussen God self en iets of iemand anders aangedui word. Die besitlike voornaamwoord staan dus nie in die plek van die naam van God self nie. Aan die ander kant is dit nie ’n voorskriftelike reël vir alle gebruiksvorme nie, en dit sou byvoorbeeld nie verkeerd wees om in alledaagse skryftaal in ’n alleenstaande uitdrukking soos “Mag Sy liefde jou omring” Sy met ’n hoofletter te skryf nie. In die Bybelse konteks is dit egter gewoonlik baie duidelik van wie daar sprake is.

5.2.2.5 Leksikon

Op die vlak van die leksikon moes daar ook dikwels kritieke besluite geneem word wat veral verband hou met die leefwêreld van die betrokke skrywer. ’n Riglyn wat in die vertaalopdrag neergelê is, was dat die vertaling eksotiserend moes wees en nie verinheemsend nie.

5.2.2.5.1 Woorde/terme

Die eerste gebied het hoofsaaklik betrekking op kultuur- en tydspesifieke benamings. In die bronteks kom daar naamlik verwysings voor na mense en dinge wat vandag vir ons vreemd en onbekend is, en deel van die vertaalopdrag was om sulke verwysings nie te moderniseer of aan te pas by die leefwêreld van vandag nie – inteendeel. Om dit dan vir die leser toegankliker te maak, en om ’n beter begrip van die wêreld van die Bybel moontlik te maak, is daar oorvloedig van verduidelikende voetnote gebruik gemaak.

Voorbeelde van sulke kultuur- en tydspesifieke woorde sluit onder andere in die name van range of posisies wat destyds gegeld het, geldeenhede, lengtemate (prokurator, lepton, stadion, el), ens. Heelwat sulke benamings kom reeds voor in die WAT, hoewel dit soms gemerk is as “weinig gebruiklik” as gevolg van die beperkte gebruikskonteks. Daar word byvoorbeeld ook melding gemaak van ’n spesifieke soort regeerder, ’n tetrarg (afgelei van die Grieks tetra, “vier”), wat aangestel is oor een van die vier dele van die Romeinse Ryk. Die woord centurio (waar die c volgens die Latyn van die tyd as “k” uitgespreek word) vir die voorheen gebruikte hoofman oor honderd, is ook al opgeneem in die WAT (en is byvoorbeeld ook in die Engelse vorm Centurion as pleknaam bekend). Dit verwys na ’n bevelvoerder oor ’n centuria, afgelei van die Latyn centum (100), vir 100 man, hoewel die gemiddelde aantal in die eerste eeu van die christelike jaartelling ongeveer 80 was. Hoofman oor honderd sou dus nie ’n akkurate vertaling gewees het nie. Dit is ’n baie spesifieke benaming, en kom ongeveer 20 maal in die Nuwe Testament voor. In dieselfde kategorie vind ons die woord chiliarg, voorheen bevelvoerder oor duisend.

Die woord prokurator is ook ’n bestaande woord in Afrikaans, wat net minder bekend, maar histories spesifiek is. (Die WAT-definisie lui: “Administratiewe amptenaar in antieke Rome wat veral beheer oor burgerlike, finansiële en belastingsake en oor keiserlike grond en eiendom uitgeoefen het, en wat kleiner provinsies bestuur of regeer het: Die mag om die doodstraf op te lê, (het) slegs by die Romeinse prokurator berus.”) Pretorium was ook ’n militêre term, en het verwys na die generaal se tent of hoofkwartier, of die goewerneur se woning of paleis, asook die kwartiere waar die afdelings soldate (of kohorte) gestasioneer was. Kohorte was onderafdelings van ’n Romeinse leër wat bestaan het uit ’n spesifieke aantal soldate, dikwels ’n tiende van ’n legioen, wat van 3 000 tot 6 000 man sterk kon wees.

5.2.2.5.2 Idiome

Woorde en terme soos dié hier bo word op dié manier deel van die Bybelleser se woordeskat. Maar ook in die gewone taalgebruik kom daar taalspesifieke uitdrukkings voor, woorde en idiome wat nie altyd sonder meer in Afrikaans verstaan sal word indien die direkte ekwivalente daarvan gebruik word nie. ’n Idioom is naamlik ’n vaste uitdrukking met ’n nieletterlike betekenis. Dit was ’n verdere uitdaging, wat gewoonlik op een van drie wyses aangepak is.

Wat nou gemaak met die vertaling van tipiese uitdrukkings, soos idiome, in die brontaal? Een moontlikheid was ’n ekwivalente idiomatiese uitdrukking in Afrikaans, met dieselfde, of feitlik dieselfde, betekenis as in die brontaal. So staan daar byvoorbeeld in Eksodus 23:27: “Ek sal sorg dat al jou vyande die hakskene vir jou wys.” In die vorige vertalings het dit gewoon gelui “… al jou vyande vir jou vlug”, maar in die Hebreeus staan daar letterlik “… al jou vyande die nek gee”, wat inderdaad ooreenstem met die betekenis wat ons in Afrikaans heg aan “die hakskene vir jou wys”.

Indien die uitdrukking taamlik dikwels gebruik word, en redelik deursigtig is, kon ’n woordelikse vertaling gebruik word, met ’n verklaring in ’n voetnoot. Vgl Psalm 18:3: “Die horing van my redding, my toevlugsoord”, waar horing in ’n voetnoot verklaar word as ’n simbool van krag. Op hierdie wyse het daar deur vorige vertalings al heelwat Hebreeuse en Griekse idiome in Afrikaans beland, idiome wat die leksikon van Afrikaans verryk het, en waarvan die herkoms nie altyd bekend is nie. Voorbeelde is: “Moet op prinse nie vertrou nie” uit Psalm146:3, 1953-vertaling; “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor” uit Matteus 12:34; en ook Matteus 7:6 se “Moenie julle pêrels voor die varke gooi nie”, wat in die ou Nederlandse Statenvertaling uit die 17de eeu gelui het “Werpt uwe paarlen niet voor de zwijnen”, die vorm wat die basis van die Afrikaanse idioom gevorm het.

’n Derde moontlikheid was om die betekenis van die idioom in Afrikaans te vertaal, en dan die letterlike betekenis in ’n voetnoot te verklaar. ’n Voorbeeld hiervan is Sefanja 3:16: “Moenie dat jou moed jou begewe nie”, waarvan die letterlike betekenis in die voetnoot so weergegee word: “Moenie jou hande laat slap hang nie”; asook 1 Samuel 25:22: “as ek … een mansmens tot môreoggend laat oorbly”, waar “mansmens” die vertaling is van die neerhalende idioom in Hebreeus, “hy wat teen ’n muur urineer”.

5.2.2.5.3 Nuwe betekenisse

In sommige gevalle moes nuwe betekenisse aan bekende Afrikaanse woorde gegee word, byvoorbeeld aanleun (vir ete), pleks van aansit. In Bybelse tye het mense nie by maaltye op stoele gesit rondom ’n tafel nie, maar op die sy gelê. Hoewel die woord in die brontaal die moderne aansit voor die gees roep, is die werkwoordkomponent aangepas om semanties korrek te wees. ’n Voorbeeld kom uit Matteus 8:11: “Ek sê nou vir julle dat baie uit die ooste en die weste sal kom en saam met Abraham en Isak en Jakob aanleun om te eet in die koninkryk van die hemele”. Ou bekende woorde in Afrikaans wat presies inpas in die Bybelse konteks, maar nog nie vantevore in vertalings gebruik is nie, het ’n nuwe lewe gekry, soos in ’n verwysing na ’n alkoholverbod in Joël 1:5: “Skrik wakker, dronkaards, en huil, huil verdrietig, alle drinkebroers, oor die sap van druiwe, want dit is voor julle monde weggeruk!”

5.2.2.5.4 Eiename

Eiename is gewoonlik ’n unieke talige uitkenningsteken om byvoorbeeld plekke en mense te benoem. In vorige vertalings is eiename soms letterlik in Afrikaans vertaal. ’n Voorbeeld uit die 2020-vertaling is Ramat-Legi, die naam wat Simson gegee het aan die plek waar hy 1 000 Filistyne met die kakebeen van ’n donkie verslaan het. Dit is voorheen vertaal as Kakebeenshoogte, wat heel Afrikaans klink. In die nuwe vertaling is die Hebreeuse naam behou, met die betekenis in Afrikaans in ’n voetnoot. Op dié wyse is die verband met die naam van die omgewing, naamlik Legi, behou, waarna daar ook in die res van die vertelling verwys word.

In dieselfde teks kom ook die naam En-Hakkore voor, wat beteken “fontein van die roeper”. Voorheen is dit vertaal as Roepersfontein, daar waar God ’n fontein laat ontspring het toe Simson van dors kon gesterf en tot God geroep het. Dit word op dieselfde wyse hanteer as die vroeëre Kakebeenshoogte. Wat moontlik ’n wins is in hierdie verband, is dat die oplettende leser onbewustelik leer wat die betekenis van verskillende Hebreeuse plekname is (of ten minste waarna bepaalde woorddele in sulke plekname verwys), byvoorbeeld dat die woord En “fontein” beteken in talle ander name, soos En-gedi (“bokfontein”), waar Dawid vir Saul weggekruip het. In ander vertalings word En-gedi nie woordeliks vertaal nie. In dié opsig het die beginsel van konsekwentheid gegeld, waar die Hebreeuse transliterasie gepaard gaan met ’n Afrikaanse vertaling in die voetnoot. Aan die ander kant het sommige vertaalde plekname in die Bybel wat al in so ’n mate deel geword het van Bybellesers se ervaring van die Bybel dat die vertaalde naam, en nie ’n getranslitereerde vorm nie, wel in die teks gebruik word, soos Olyfberg.

 

6. Slot

Die Bybelvertalingsproses was ’n eenmalige ervaring in die lewens van almal wat daarby betrokke was, en op ’n besondere wyse vir iemand wat met ’n taalbril kyk na die teks wat daardeur tot stand gekom het. Benewens die geestelike inhoud wat aan die leser oorgedra word, is dit ook ’n versameling tekste wat ryk is aan kulturele, historiese en letterkundige skatte, en staan ’n mens verstom voor die rykdom aan taalkundige verskynsels wat by nadere beskouing aan die lig kom.

 

Lees ook op LitNet:

Christo H.J. van der Merwe: Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling?

Henning Snyman: ’n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (BDV – Die Bybel: ’n Direkte Vertaling)

Pieter GR de Villiers: Afrikaans se grootste topverkoper

  • 1

Kommentaar

  • Ernst, baie dankie vir hierdie skitterende en insiggewende artikel. Hiermee word die eise aan en uitdagings van die 2020-Bybelvertaling helder belig. Al die medewerkers verdien lof. Jou aandeel as uitmuntende taalkundige was onontbeerlik en voortreflik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top