Die liedjieskrywer en sanger Dewald Wasserfall gaan van krag tot krag, en het pas ’n Sama-toekenning ingepalm. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Dewald. Hoe's dinge?
Baie lekker, dankie. Ons is besig om die konserte vir 2015/2016 aanmekaar te sit, en ek is baie opgewonde.

Eerstens, geluk met die onlangse Sama-toekenning vir beste kontemporêre album. Het jy verwag dat jy dié toekenning sou losslaan? Ontsettend baie werk gaan natuurlik in die samestelling en uitreik van ’n album in – voel dit of daardie werk aan Ek en jy nou geregverdig is? Of hoe beskou jy toekennings se rol in die bevestiging dat ’n mens op die regte pad is as musikant?
Baie dankie! Ek was taamlik geskok, aangesien die kompetisie baie straf was. Om mee te ding teen groot geeste soos Chris Chameleon, Dozi, Pieter Koen en Adam Tas is reeds ’n groot voorreg. Om met die louere weg te stap was vir my ’n ongelooflike eer. Om ’n Sama te wen was een van my grootste drome sedert ek die musiekbedryf in 2006 betree het. Ek dink toekennings is nodig, mits dit regverdig is. Dit moet voor ’n paneel van deskundiges geskied en nie ’n gewildheidskompetisie wees nie. Ek kry gereeld erkenning – by my vertonings en op sosiale media. Om ’n beeldjie of trofee te ontvang, is ’n oorwinning vir ons hele span, en nie net vir my nie.
Jy het in die afgelope paar jaar groot sukses begin behaal as solokunstenaar, maar was voorheen deel van die groep Wasserfall en het ook vir ander bekende kunstenaars liedjies geskryf. Wat was die keerpunt vir jou om te besluit dat jy solo wil gaan? En in hoe ’n mate voel dit anders, of dalk selfs vreemd, om as solokunstenaar op te tree nadat ’n mens lank in ’n band was? Mis jy die band-gevoel soms?
Ek en Larry Pullen, my voormalige vennoot in Wasserfall, het mettertyd baie meer begin verskil in die tipe musiek wat ons wou maak. Ons benadering tot musiek was ook baie verskillend. Dit het net ’n natuurlike bruispunt bereik in 2009, waar ek moeg was vir musiek en die musiekbedryf. Ek het die groep ontbind en myself vertel dat ek die musiekbedryf finaal gaan verlaat. Ek kon egter nie vir lank wegbly nie en het stilweg aan my soloprojek begin werk. Ek kan nie sê ek is enigsins spyt oor die besluit nie, al het ek baie geleer by Larry, en hy uit eie reg ook briljant is met wat hy doen. Ek tree nog gereeld met ’n orkes op, en ek en my tegniese span is baie goeie vriende, so die kameraadskap van ’n orkes is darem nie verlore nie. Al wat verskil, is dat ek nou spasie het om my eie besluite te neem, sowel as my eie foute te maak.
Die kuns van liedjies skryf wat beide substansie het en ook kommersieel suksesvol kan wees, is natuurlik nie ’n maklike een nie. Ek sou raai as ’n mens vir ander kunstenaars skryf met die uitsluitlike doel dat dit vir die groter mark aantreklik moet wees, is dit een ding, maar as jy beplan om dit self uit te voer, dit ’n ander saak. Is dit wel die geval? Hoe verskil jou liedjieskryfproses as jy vir ’n ander kunstenaar skryf, teenoor wanneer jy beplan om dit self uit te voer? En wat is jou tipiese liedjieskryfrituele, indien enige?
Ek moet bieg dat ek nie naastenby soveel tyd aan ander kunstenaars se liedjies spandeer as aan my eie nie. ’n Liedjie wat ek self vir die volgende tien jaar gaan opvoer, moet ’n boodskap hê, en dit moet iets beteken vir my, selfs wanneer ek dit vir die agtduisendste keer opvoer. Ek begin normaalweg my liedjies by die “hook” of konsep. Dis immers die deel van die liedjie waarmee mense hulself vereenselwig, en dus die kern van die lied. Van daar brei ek dit uit, en skryf gewoonlik die verse tweede laaste, net voor die brug. Musiek kom gewoonlik eerste, en dan lirieke. Ek het al lirieke in die ateljee geskryf, twee minute voor dit opgeneem word.
In die biografie-afdeling van jou webwerf word jy as volg aangehaal: "Gehore kan en moet krities en veeleisend wees." Dis ’n interessante stelling – vind jy dat dit wel in die breër sin so is met (Suid-) Afrikaanse gehore? Verskil dit van venue tot venue? Hoe vergelyk die skoenlappers op die maag byvoorbeeld tussen ’n feesvertoning met duisende mense teenoor ’n kleiner venue en ’n meer aandagtige gehoor? Watter van dié (en ander) scenario's verkies jy, en waarom?
Suid-Afrikaanse gehore het baie slim geraak. Veral met die aankoms van digitale media. Mense leer onderskei tussen swak en goeie gehalte. Hoëgehalte-musiek is deesdae meer en meer bekombaar, en die luisteraar hoor nou makliker die verskil tussen CD-kwaliteit en ’n laegehalte “mp3 download”. Ek verkies klein gehore, maar daar is iets onbeskryflik aan die hoendervleisgevoel van voor 60 000 mense uitstap, en hulle sing jou liedjies saam met jou. Klein gehore maak my senuweeagtig, maar ek verkies die uitdaging. ’n Intieme akoestiese vertoning is waar jou aanhangers jou sien soos jy is, kaal, rou en sonder pretensie.
As ’n mens kyk na die kalenderafdeling op jou webwerf, lyk dit of jou dagboek besonder besig is, met optredes binnekort wat laerskole, kerke, groot geleenthede soos Afrikaans is Groot en ook privaatfunksies insluit. Hoe behou ’n mens jou sinne met so ’n besige skedule? En waar kry ’n mens tyd vir liedskep?
Ek beskou myself as ’n voltydse musikant, en soos enige ander mens vyf dae per week werk, moet ek ook vyf dae per week besig bly. As mens dit so benader, dan lyk my dagboek eintlik soos enige ander werksweek. Liedjieskryf is gelukkig nie gebonde aan ’n kantoor nie, so ek skep baie van my liedjies op die pad. Die stilte van die langpad gee mens kans om baie idees te slyp, voor jy by ’n finale produk uitkom.
Jy het onlangs op Facebook verklap dat jy die stel van 7de Laan aangedoen het en in Junie in ’n episode sal wees, as musikant wat optree. Sommige kritici sal meen ’n mens boet ’n mate van selfstandigheid in met sulke ooreenkomste, ander reken daar is geen skade met so iets nie. Hoe belangrik is hierdie soort bemarkingsgeleenthede vir Suid-Afrikaanse kunstenaars? En sal jy – soos talle gewilde Afrikaanse sangers – ’n akteursloopbaan kan of wil aanpak?
Met dié dat betaalde advertensiespasie op TV deesdae amper onbekostigbaar is, is ’n vinnige optrede op 7de Laan van onskatbare waarde. Die sepie is Suid-Afrikaanse volksbesit, en om deel uit te maak daarvan, selfs al is dit net vir ’n klein oomblik, is ’n ongelooflike voorreg. Wat die akteursloopbaan betref, voel ek nie dat dit werklik my roeping is nie. Suid-Afrika spog met honderde uiters talentvolle akteurs wat hul lewe gewy het aan die kuns, en vir my om ’n rol te kry bloot net omdat ek ’n bekende sanger is, voel vir my effens onregverdig. As die geleentheid opkom, en die rol is reg, sal wilde perde my egter nie kan weghou nie. ’n Mens moet al die geleenthede gebruik wat oor jou pad kom.
Jy het al ’n magdom optredes agter die blad ... Enige spesifieke gebeurtenisse wat uitstaan as hoogtepuntherinneringe? Enige plekke wat jy eerder nie weer sal besoek nie, om welke rede ook al? Of onvergeetlike staaltjies wat op die pad opgetel is?
My akoestiese optredes by Die Blou Hond, Rhapsody’s en baie ander kuierplekke vroeg in my loopbaan sal my altyd na aan die hart bly. Dis hier waar ek my kuns geleer het. Hoe om te sing sonder om moeg te raak, hoe om kitaar te speel, hoe om ’n gehoor te lees. Voeg daarby my heel eerste Ghoema-toekenning, my Sama, my Huisgenoot Tempo, Afrikaans is Groot en Innibos 2014 en jy het ’n lys van my hoogtepunte tot dusver. Daar is geen plek wat ek nie weer sal besoek nie, alhoewel ek een maal bespreek is by ’n kwaitofees in Musina wat nie baie uitgewerk het nie. 🙂
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Dewald Wasserfall in, in soverre jy dit kan beheer?
In die nabye toekoms gaan ek weer bietjie Europa toe vir ’n blaaskans en vars inspirasie. Ek gaan sedert 2009 elke jaar oorsee om my kop skoon te kry en die muse ’n kans te gee. Daar is ’n nuwe album op pad in 2016 wat min of meer al my aandag gaan vereis.
Oor die verre toekoms is ek nie heeltemal seker nie. Ek probeer in die oomblik te leef. Maar ek het darem verlede jaar ’n lewenspolis uitgeneem.
Wat is die sin van die lewe?
Om te lewe, en nie net te bestaan nie. Om elke dag die dinge te doen waarvoor jy lief is. Om lief te hê, en om lief gehê te word.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

