Deur vuur en water deur Karin Combrinck: ’n resensie

  • 5

Deur vuur en water
Karin Combrinck
ISBN: 9780796321176
Lux Verbi

Hierdie roman is vanuit ’n oorheersend Christelike perspektief geskryf. Die titel suggereer reeds ’n vorm van loutering. Dit is egter moeilik om dit in ’n spesifieke genre te plaas, aangesien dit nie alleen ’n speurverhaal is nie maar ook ’n roman waarin liefdesverhoudings figureer en veral dieper kwessies in die samelewing aangeraak word.

Die akademikus Jennifer Grant kom terug na Suid-Afrika om by haar pa, Casper, in Kaapstad te kuier. Sy vind dat hy verdwyn het. Penelope, haar pa se vrou, is geheel en al ongeërg in verband daarmee en blameer die polisie dat haar man nog nie opgespoor is nie. Jennifer roep die hulp van ’n privaatspeurder, ene Fiona Farquhar, in. Fiona stem in, alhoewel sy eintlik net met korporatiewe sake werk.

Op ’n persoonlike vlak is Jennifer se huwelik aan skerwe en sy het haar geloof in God verloor. Sy word ten diepste geraak deur haar pa se verdwyning, maar ook deur sy geestestoestand. Dit word vir haar ’n lewensveranderende ervaring.

Dit is hier waar die verhaal groter kwessies deeglik belig. Daar is veelvuldige gesprekke en innerlike besinnings oor bipolêre depressie asook ander vorme van akute geestesongesteldheid. Die leser word vir seker hierdeur geraak en die skrywer slaag uitstekend daarin om empatie met die lyers van geestesiektes op te wek. Die abstrakte ruimtes van die roman word sterk benadruk deur die onheilspellende werklikheid van nie alleen depressie en verwante geestestoestande nie, maar ook van bejaardemishandeling. Die samelewing se wanpersepsies in verband met hierdie sake word ook beklemtoon. Juis dit wek by die leser begrip en meelewing.

Die verskillende verhaallyne is interessant en dit hou die leser se aandag. Spanning word grotendeels knap gehandhaaf. Die karakters, asook die konkrete ruimtes, word veral deur fyner besonderhede helder en volrond geteken. Hierdie besonderhede, alhoewel meesal hoogs interessant, raak egter soms te veel en kan die leser se aandag van die storie aflei. Die privaatspeurder raak verder so ’n boeiende karakter dat sy die kollig by Jennifer Grant wil-wil steel. Mens hoop eintlik jy hoor weer van Fiona Farquhar.

In hierdie roman word daar vanuit die perspektief of blikhoek van verskeie karakters gekyk. Moontlik te veel. Alhoewel dit verrykend vir die verhaal kan wees, veroorsaak dit soms leesweerstand in die teks. Hierdie vaardige skrywer kon by, op die heel meeste, drie perspektiewe gebly het. ’n Rykgeskakeerde verhaal soos hierdie vra na groter eenvoud in die aanbieding.

Karin Combrinck se taalgebruik is verfrissend en soos genoem, gee sy baie aandag aan besonderhede. Sy het ook ’n wye verwysingsraamwerk en het deeglik navorsing gedoen. Daarby trap sy nie in die strik om te veel inligting te dig aan te bied nie. Die leser raak gou vasgevang deur die karakters se intensiewe soektog na wat die waarheid is. Dit is hier waar Jennifer se stryd met God na vore kom. Haar lewensvrae is opreg uit die hart en sy beleef ’n stadige, besinnende openbaring oor God en wie Hy is. Die Christelike perspektief is selfs in Fiona se speurtog sigbaar sonder dat dit hinderlik is. Teen die einde filosofeer sy byvoorbeeld oor die volkome empatie met die medemens wat in die tweede gebod in verband met naasteliefde opgesluit is. Combrinck het ’n duidelike begrip van wat die Christelike roman behoort te wees. Dit moet naamlik, nes enige ander roman, aan die estetiese eise van die skryfkuns laat reg geskied. Met ander woorde, die Christelike oortuiging mag nooit net ’n sousie wees wat oor die gegewe gegooi is nie. In hierdie roman is die Christelike perspektief voldoende geïntegreer in onder andere die karakters en die ruimtes in die verhaal. Die lees daarvan was ’n goeie ervaring.

  • 5

Kommentaar

  • Ek het die boek ongelooflik baie geniet. Boeiend vanaf die eerste bladsy.
    Wel gedaan Karin Combrinck.

  • Karin,ek en my man het albei jou boek geweldig geniet.Dis logies beredeneerd, boeiend, leersaam en positief tov praktiese Christenskap en ek beveel dit sterk aan!

  • Margaret Koekemoer

    Hierdie boek kon ek nie neersit nie. Fantasties boeiend. Sal hom sekerlik aanbeveel vir leesgenot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top