Desert queen deur Janet Wallach: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Oorspronklike uitgawe: Desert queen
Uitgewer: Doubleday, New York, 1996
ISBN: 9780385474085

Duitse weergawe: Königin der Wüste
Uitgewer: Wilhelm Goldmann Verlag, München, 1999
ISBN: 9783442158898

Ek het die Duitse weergawe (derde druk, 2015) gelees en dus verwys ek na die bladsye van daardie weergawe. Aanhalings is deur my uit Duits in Afrikaans vertaal.

Gertrude Margaret Lowthian Bell was ’n Britse ontdekkingsreisiger, historikus, skrywer, argeoloog, bergklimmer, politieke raadgewer en lid van die Britse Geheime Diens tydens die Eerste Wêreldoorlog. In 1917 is die Orde van die Britse Ryk (Order of the British Empire, of OBE) vir haar prestasies aan haar toegeken.

Gertrude het onbekende terrein ingevaar en grense oorgesteek. Sy het vele reise onderneem. Haar wêreld was die Midde-Ooste – Arabië, Egipte, Sirië en bowenal Irak, waarop sy ’n beslissende invloed gehad het. Sy het sewe boeke geskryf. Haar artikels het in wetenskaplike tydskrifte asook in die Times verskyn. Verder het sy ’n verslag vir die Britse Laerhuis geskryf wat in regeringskringe as ’n meesterstuk beskou is.

Sommiges het Gertrude beskryf as die “ongekroonde koningin van Irak” en as “geheime raadgewer van Laurence van Arabië” (13). Ander het weer gemeen dat sy arrogant, dominerend, genadeloos en uiters ambisieus was.

Kom ons leer hierdie interessante vrou beter ken.

Janet Wallach het haarself diep in Gertrude Bell se lewe en werk ingegrawe en dit  neergeskryf. Haar boek bestaan uit twee dele: deel 1 getiteld “’n Victoriaanse vrou”, en deel 2 “Die Chatun”. ’n Chatun is ’n belangrike dame, of hofdame wat al haar aandag aan die belange van die staat wy.

Gertrude Bell kom uit ’n vooraanstaande familie van Britse nyweraars wat hul geld uit die ysterbedryf gemaak het. Haar pa, Thomas Hugh Bell, was die oudste seun van Lowthian Bell en het, soos sy pa, ’n deeglike opvoeding ontvang. Hy het skeikunde aan die Sorbonne in Parys gestudeer en in Duitsland organiese chemie en wiskunde. Hy was ook polities aktief en het liberale oortuigings vir daardie tyd gehad, veral ten opsigte van onderwys en gesondheidsorg. In 1867 tree Thomas Hugh Bell met die handelaarsdogter Mary Shield in die huwelik, maar sy is in 1871 kort na die geboorte van haar tweede kind, Maurice Bell, oorlede. Gertrude Bell was toe nog nie drie jaar oud nie. Sy was gelukkig om vertroosting in haar pa se liefde te vind. In die daaropvolgende jare is Gertrude en haar broer hoofsaaklik deur kinderoppassers grootgemaak. Haar pa het toe in 1876 met die skrywer Florence Ollife getrou.

Die familie het in die Victoriaanse tyd geleef toe “mans met moed en oortuiging die inisiatief geneem het”. “Vroue het prag aan hierdie wêreld verleen; hulle het by die huis gebly” en hul hooftaak was om kinders in die wêreld te bring” (34–35).

Meisies van Gertrude se sosiale stand is gewoonlik uitsluitlik deur privaatonderwysers onderrig. “Aangesien die heersende mening was dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves, het so ’n jong dame perd gery, geswem en tennis leer speel. Daar is ook van haar verwag om minstens twee addisionele tale te kan praat – verkieslik Duits en Frans. Verder moes sy kennis dra van letterkunde, kuns en musiek, in staat wees om ingewikkelde naaldwerk te doen, ’n bietjie te kan skilder en ’n musiekinstrument te kan bespeel” (35). Sjoe! In Duits het ons ’n mooi beskrywende uitdrukking hiervoor: “Eierlegende Wollmilchsau”. In Afrikaans sou die direkte vertaling “eierlêende wolmelkvarksog” wees, as ek ’n Germanisme mag gebruik. Dit is ’n voorwerp, of persoon, wat oënskynlik net oor voordele beskik, alle behoeftes bevredig en aan alle vereistes voldoen – en dus onwerklik is.

Gertrude se ouers het vroeg reeds besef dat hulle ’n intelligente en veeleisende dogtertjie het wat nie ingehok wou word nie. In 1884 word sy na Queen’s College, ’n meisieskool in Londen, gestuur. Sy het baie goed presteer. Haar gunstelingvak was geskiedenis. Sy was egter nie gelukkig daar nie en het alleen gevoel.

Dit was ’n ongewone stap vir welgestelde ouers in daardie tyd om hulle dogters na ’n meisieskool te stuur. Wat nog meer ongewoon was, was dat hulle dit vir haar moontlik gemaak het om vanaf 1886 aan die Universiteit van Oxford te studeer. In plaas daarvan om ’n huisvrou te word, sou sy die wêreld van mag en status betree, waar mans destyds byna uitsluitlik in beheer was. Sy skryf aan haar pa: “Ek het net een vrees: As ek eers daar is, sal jy my nooit weer daar wegkry nie!” (47).

“‘Oxford!’ het die opskrif gelui van ’n brief wat sy huis toe gestuur het” (50). Gertrude is in Lady Margaret Hall opgeneem. Sy en haar vroulike medestudente kon die lesings slegs as toeskouers bywoon en is gewoonlik deur goewernantes vergesel. In 1888, kort voor haar 20ste verjaardag, het sy die eerste vrou geword wat haar graad in geskiedenis met die hoogste lof geslaag het! Die eksamenuitslae is in die Times gepubliseer.

Nadat Gertrude in Oxford gekwalifiseer het, was sy veronderstel om by haar tante in Roemenië, Mary Lascelles, “afronding” te leer, want Gertrude moes ’n geskikte eggenoot vind. Sy is geleer hoe ’n jong dame grasieus en sjarmant optree. Sy het geleer “hoe om met ’n volstruisveerwaaier te flankeer, hoe om ’n sigaret vas te hou, kaviaar te eet, en sjampanje te drink” (59).

Sy het vier maande lank in Boekarest gedans en flankeer, maar steeds het niemand haar om haar hand gevra nie. Die verwagting was dat ’n vrou na afloop van drie balseisoene hierin sukses moes behaal, maar Gertrude se tyd was verby – daar was steeds geen potensiële eggenoot in sig nie en buitendien niemand met sy sou wóú trou nie. “Dit was nie dat sy nie die geselskap van jongmans geniet het nie. Maar haar skerp tong het die ego’s van die jong here gekrenk” (66). Sy het geweier om haar aan hulle te onderwerp.

Wat die liefde betref, kan ons dit kort hou. Daar was jongmans vir wie Gertrude lief was, maar dit het óf tragies geëindig óf uiteindelik nie uitgewerk nie. Omdat haar pa sy toestemming moes gee vir hulle om te kon trou, is sake erg bemoeilik deurdat hy nie tot die huwelik wou instem as die jongman nie aan sy vereistes voldoen het nie. En só is hoopvolle vryers stert tussen die bene weggestuur.

Om te reis was blykbaar die enigste oplossing om van haar beklemmende lewe te ontsnap. Sy het verre lande besoek, ’n tydjie vertoef, en dan weer teruggekom huis toe net om vir die volgende reis voor te berei. Tydens ’n avontuur in die Switserse Alpe het haar tone amper afgevries. Sy het na Engeland teruggekeer met haar voete nog opgeswel, maar dadelik haar reis na Delhi in Indië beplan. Sy het saam met haar stiefbroer Hugo in Indië aangekom en ná ’n funksie verder gereis na Singapoer, Sjanghai, Seoel en Tokio. Hulle het die Stille Oseaan oorgesteek en in Vancouver aan wal gegaan. Toe het hulle gaan bergklim in die Rotsgebergte (Rockies) en voortgegaan om deur die Verenigde State te reis. Chicago was ’n groot skok vir haar. Sy was ontstel deur “die verskriklike tonele, die vuil strate, die geraas en al die aakligheid” (117). Sy het toe die Niagara-waterval en Boston besoek en daarna uiteindelik huiswaarts gekeer.

In die Midde-Ooste het sy deur die woestyn gereis, waarvoor sy lief was, is sy na die sjeiks se tente genooi en kon sy vrylik tussen die woestynvolke (Bedoeïene) rondbeweeg, van wie sommiges vyandiggesind was. Sy het die sjeiks se tente binnegegaan deur die ingang wat vir mans bedoel was. Mans is as eregaste behandel en sy het verwag dat sy ook so behandel sou word. Sy was ’n baie gerespekteerde persoon onder die verskeie stamme en die sjeiks.

Met alles wat ons nou van Gertrude weet, sou ’n mens nie verwag het dat sy in Engeland lid van die antisuffrajetbeweging sou wees nie. ’n Suffrajet was ’n vrou wat haar vir stemreg vir vroue beywer het; ’n antisuffrajet was dus daarteen gekant. Dit is sekerlik ironies dat so ’n opgevoede, belese en goed ingeligte vrou lid van so ’n beweging was. Waarom neem ’n vrou wat so ’n onkonvensionele lewe gelei het, so ’n konvensionele posisie in? Wallach verduidelik dit so: Gertrude se onafhanklikheid het haar ware herkoms gekamoefleer. As kind van die Victoriaanse era het sy grootgeword in ’n tyd toe die mans wat aan bewind was, geen ander doel gehad het as om die Britse Ryk  uit te brei nie, terwyl vroue verantwoordelik was vir die voortbestaan ​​van die Engelse bevolking. So dapper soos wat sy haar in die Midde-Ooste gedra het, só geredelik het sy haar aan die tradisionele wette van die bevoorregte Engelse hoër klas tuis onderwerp. Sy was nie bereid om hierdie tradisie deur die onopgevoede werkersklas sonder eiendom te laat bevraagteken nie. Sy het baie van die vroue besoek en met hulle gesels. Sy het opgemerk dat hulle lewensmoeg was; uitgeput van al die harde werk, siektes, kinders kry en grootmaak. Elke dag het vir daardie vroue ’n stryd om oorlewing beteken. Hulle kon nóg lees nóg skryf, en was dus nie in staat om die land te regeer nie.

In deel 2 van die boek skryf Wallach oor Gertrude se werk in die buiteland. Dit is verstommend om te lees oor Gertrude se kennis van die Midde-Ooste. Sy het behoorlik navorsing gedoen oor lande, hulle geskiedenis, die mense en politiek, en sy het sterk dissipline aangewend om nuwe dinge aan te leer. Sy het verskeie tale leer praat. Haar addisionele tale was Frans, Italiaans, Duits, Persies, Turks en Arabies. In Bagdad het sy inligting en landkaarte versamel en gesorteer, lyste gemaak van die stamme wat daar woon en geheime verslae oor die belangrikste persone geskryf. Sy het die plaaslike leiers se mag en politieke bedoelings beoordeel. Haar werk was hoogs geheim. Sy was ’n raadgewer oor Arabiese aangeleenthede. “Haar huis het die sentrum van mag in Bagdad geword” (422). Gertrude was verder betrokke by die afbakening van die grense van die Koninkryk van Irak. Sowel die affiliasie of die oorspronklik beoogde outonomie van die Koerdies-bevolkte gebiede in die noorde as die grens na Ibn Saud (koning van Saoedi-Arabië) se invloedsfeer in die suide moes bepaal word. Sy was intensief betrokke by die onderhandelinge oor hierdie politieke kwessies en het gepoog om ’n sinvolle grenslyn te bepaal deur deeglike navorsing onder plaaslike mense, wat haar met respek El Chatun, die Hofdame, genoem het. “Die kroon op haar werk was die troonbestyging van koning Feisal” (475).

Haar bedrywige lewe het uiteindelik duidelike spore op haar gelaat. Sy was geestelik en fisiek uitgeput. Sy het klein en broos gelyk, “soos ’n blaar wat deur die volgende rukwind weggewaai sou word” (538). Depressie het bygekom. In die nag van 11 tot 12 Julie 1926, twee dae voor haar 58ste verjaardag, het sy as gevolg van ’n oordosis slaappille gesterf. Dit is steeds onduidelik of sy haar eie lewe geneem het. Sy is in Bagdad begrawe.

Hierdie biografie is ’n omvattende werk gebaseer op onder meer duisende briewe en dagboeknotas wat in die Robinson-biblioteek by die Universiteit van Newcastle bewaar word. Dit was ’n beduidende bron vir die skrywer, Janet Wallach. Waarvandaan kom al die briewe? Omdat Gertrude op skool so alleen gevoel het, het sy toevlug geneem tot die skryf van briewe. “Pen, inkpot en papier het haar konstante metgeselle geword” (44).

“‘Briewe is altyd ’n spesiale vreugde,’ het sy hoopvol aan haar pa Hugh geskryf. [...] Sodra sy pos ontvang het, het sy dit beantwoord. Vir haar was briewe die naelstring wat haar met haar invloedryke vriende verbind het” (256).

Gertrude Bell was meer as bewus van die belangrikheid van haar werk; sy het haar ouers gereeld daarop gewys dat haar briewe historiese rekords is.

Wallach se werk toon dat sy deeglik nagevors het. Sy het baie tyd saam met die Bedoeïene in die woestyn deurgebring, asook saam met argeoloë, diplomate, skrywers en joernaliste in Engeland, Kaïro, Damaskus, Jerusalem, Amman en Bagdad.

Ek het gedurende die lees van die 574 bladsye nooit verveeld geraak nie. Die boek is vol verrassings en avonture wat hierdie intelligente vrou beleef het. Die outeur het dit reggekry om die leser saam met haar diep in Gertrude se lewe in te dring en saam met haar te reis.

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top