Foto: In Oktober 2017 deur Jonathan Ball Uitgewers (toe NB-Uitgewers) aan LitNet verskaf |
|
Sêgoed van Derick van der Walt Waar het hy inspirasie vir ’n nuwe werk gekry? “Miskien maar doodgewone mense wat hulle in hierdie wêreld bevind sonder dat hulle ’n sê gehad het en moet swem of sink.” (Vrouekeur, 22 Januarie 2018) Watter elemente was vir hom die belangrikste in ’n goeie boek? “Geloofwaardige karakters en goeie dialoog.” (Vrouekeur, 22 Januarie 2018) Hoekom het hy fiksie vir jong volwassenes geskryf? “Ek het nie die vaagste benul nie. Ek het nooit beplan om ‘jeugfiksie’ te skryf nie. Dit het net oornag gebeur. Ek het drie seuns en ek dink ek verstaan tieners se koppe. Dit het waarskynlik ’n rol gespeel. Maar vyf jaar op hoërskool is wel ’n angswekkende tyd. Jy moet uitvind wie jy is. Gaan jy die koekie of die clown in hierdie lewe wees? En jy kom agter vry is lekker. […] Jy kom agter jou pa en ma is toe nie noodwendig die oulikste mense op aarde nie en jy moet nog besluit wat jy met die res van jou lewe gaan aanvang. Skrikwekkend – hoe op aarde oorleef ’n mens dit? Tog dink ek nie ’n mens skryf anders vir jong lesers as wat jy vir ouer lesers skryf nie. Die ouderdom van my karakters en dié van die mense wat dit lees, is vir my bloot toevallig. Ek dink nie daaroor nie.” (LitNet, 27 Mei 2014) “My hele lewe word deur spertye geregeer. Tussen die mielies en die skape deur is die skrywery vir my wonderlike ontvlugting.” (Rapport, 13 Mei 2012) “Wanneer daar ’n storie in my kop is, bereik dit ’n stadium waar die dam breek en waar ek letterlik fisiek ongemaklik begin voel en nie van die skryfproses kan afskakel nie. Vir die skrywery gebruik ek g’n plan of skema nie. Ek duik net in.” (Rapport, 13 Mei 2012) Hoe het hy by jeugboeke beland? “Ek het een Saterdagoggend uit die bloute met ’n jeugstorie in my kop wakker geword. Ná baie sweet, trane, vertwyfeling, verdriet (en wyn) het dit toe ’n jaar later ’n regte boek geword. Lien se lankstaanskoene het tot my uiterste verstomming ’n groot treffer geword en my lewe op sy kop gekeer.” (Huisgenoot, 24 September 2015) “Ek het absoluut geen skryfstelsel van enige aard nie. Ek beplan nooit vooruit wanneer ek ’n boek skryf nie, maar het gewoonlik ’n tema in gedagte en die karakters kom taamlik gou. Ek weet dadelik min of meer hoe die storie gaan eindig. Ek skryf die einde dikwels eerste, hoewel ek natuurlik later baie daaraan skaaf. Oor hoe ek daar gaan kom, het ek gewoonlik nie ’n koekie se clue nie. Maar dis die lekker van skryf vir my – dat dit ’n heerlik avontuur is.” (Vrouekeur, 26 Januarie 2018) “Dit verras my elke keer as daar ’n boek heelhuids anderkant kom. Maar dit is bitter en harde werk, jy wil nie weet nie. ’n Mens is só blootgestel as die boek verskyn het. Enigiemand kan met groot, plat voete op jou hart trap. Ek het geleer om my instink te vertrou en ek bekommer my nie meer oor ’n afwesige stelsel nie.” (Vrouekeur, 26 Januarie 2018) “As ek klaar is met ’n storie, is dit verby. Ek neem afskeid en beweeg aan en sien dadelik uit na iets nuuts.” (Vrouekeur, 26 Januarie 2018) Oor kritiek: “’n Vriendin of twee en dan natuurlik die uitgewers is die eerste mense wat my manuskripte onder oë kry. Ek is nie gevoelig vir kritiek as dit vanuit uitgewersgeledere kom nie en het al geleer om hulle te vertrou. Kritiek in die media is egter ’n ander storie. Gelukkig het ek tot dusver nog nie te sleg deurgeloop nie, maar ’n mens voel afgehaal as iemand iets negatiefs sê, veral as jy glo dié persoon is verkeerd. Ons skrywers dink mos maar altyd ons word misverstaan as iemand ons kritiseer!” (Vrouekeur, 26 Januarie 2018) Lees jongmense nog boeke? “Ek dink nie so nie. Tóg sê die juffrouens en menere dat jy steeds kinders kry wat met ’n boek onder die arm op die speelgrond rondloop. My boeke Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol is voorgeskryf en ek raak regtig bewoë as skole my nooi om oor dié boeke te praat en die kinders sê vir my hoe baie hulle hierdie stories geniet het. Dis hoofsaaklik Engelssprekende tweedetaalleerders van Afrikaans wat deur my voorstedelike Afrikaans moes worstel. ’n Mens voel dan dat daar tog ’n punt aan die geskrywery was. Dit was nie sommer maar net lekker ou storietjie-storietjie nie.” (LitNet, 21 Januarie 2020) |
Gebore en getoë
Derick van der Walt is op 14 Julie 1958 in Virginia in die Vrystaatse Goudvelde gebore. Die gesin het later na Johannesburg verhuis, waar hy sy laerskooljare deurgebring het.
Aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 26 Januarie 2018) vertel hy dat nadat hy in standerd 3 ’n skryfwedstryd gewen het wat destyds deur die SAUK-radioprogram Jongspan-ateljee aangebied is, hy geweet het dat hy dalk in die toekoms sou begin skryf.
Hulle verhuis aan die begin van sy hoërskoolloopbaan na Pretoria, waar hy aan Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) matrikuleer.
Verdere studie en werk
Ná skool het Derick hom aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf vir ’n graad in kommunikasiekunde. Hy het later sy honneursgraad in kommunikasiekunde aan Unisa verwerf, asook ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan Tukkies.
Derick het vir ’n hele klompie jare in die korporatiewe kommunikasiebesigheid gewerk. Hy het ’n baie wye kennis van die landbousektor gehad, aangesien hy vanaf die dae van landboukundige bemarkingsrade by hierdie bedryf betrokke was.
Hy was die eienaar van Green Pepper Communication in Pretoria, ’n firma wat in die produksie van korporatiewe publikasies spesialiseer. Hy was ook deel van die span wat die SA Publikasie Forum gestig het. Hulle het hulle daarvoor beywer om korporatiewe publikasies te promoveer en te verbeter.
Hy is getroud met Lenie, ’n inligtingbronaankoper by Unisa se biblioteek, en hulle het drie seuns, Tjaart, Werner en André. Hulle het in ’n huis ’n ent teen Pretoria se Magaliesberg gewoon. Daarvandaan het hulle ’n breë uitsig oor die Moot en Pretoria se paar wolkekrabbers.
Watter boeke het Derick se skryflus aangewakker? wou Danie Marais weet (Volksblad, 17 Maart 2012): “Ten spyte van die duisende boeke wat ek as volwassene gelees het, is daar boeke wat my pad op skool gekruis het wat my steeds bybly. Het hulle my aan die skryf gesit? Ek weet nie. Maar hulle het sekerlik ’n invloed op my gehad.
“Ek het Elsabe Steenberg op laerskool ontdek en ek onthou haar boeke steeds in besonderhede. Veral Bergpad na Eden. Die heldin sterf in ’n rotsstorting en die held plaas ’n wit roos tussen die klippe. Komaan, jy moet ’n hart van klip hê as jy dink dis corny.
“In graad 9 het ek lank in Van Schaiks rondgedwaal om ’n boekprys vir die prysuitdeling te kies, want ek wou nie weer die oë laat rek soos die vorige jaar met Konsalik se Spioene leef gevaarlik nie. Ek het ’n mooi stelletjie John Steinbecks in ’n mooi verpakking gekoop om te wys ek is darem nie van donker Afrika nie.
“Dan was daar Die son struikel van Dolf van Niekerk in matriek. Aanvanklik het Dolf se onderspeelde stem erg in my werk deurgeslaan.
“Iewers tussen Elsabe se hartroerende stories, John se verhale oor die klein triomfe van gewone mense en Dolf se stem sou my stories kon lê.”
In 2008 word Derick se eerste boek, Lien se lankstaanskoene, by Tafelberg uitgegee, en met die intrapslag maak Lien en haar skrywer hulle merk op die toneel van die Afrikaanse jeugboek. Nie alleen word Lien se lankstaanskoene bekroon met die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (goud) nie, maar palm Derick en Lien ook die MER-prys vir jeugboeke vir 2009 in. Lien beland ook op die IBBY-ererol.
Susanne Harper skryf in Beeld (22 Junie 2009) dat die swart paar plat skoene wat op die voorblad te sien is, ’n simbool word van die tienermeisie Lien se uithouvermoë – sy leer om uit te hou en aan te hou.
Harper vertel meer oor die verhaal: “Dit vertel die storie van ’n tiener wat in moeilike omstandighede moet deurdruk en oorleef. […] Lien, ’n matriekleerling, beland ná gelukkige kinderjare in uiters moeilike omstandighede, wanneer haar pa, ’n prokureur, in die tronk beland en haar ma ’n alkoholis word. Lien probeer vir haar jonger broer sorg.
“Uiteindelik raak die situasie so benard dat Lien ná skool haarself vermom en by ’n verkeerslig in ’n ander buurt bedel. Gou leer sy dat sy gemaklike skoene moet hê vir die lank staan. Sy wil wegvlug uit haar benarde omstandighede, droom van verre lande en wil spaar vir ’n eenrigting-vliegkaartjie. So maklik is dit egter nie vir haar nie … […]
“Behalwe aktuele sake soos armoede, bedelary, alkoholisme en tienerprobleme kry selfs sake soos vroueregte aandag wanneer Lien moet besin oor ’n moontlike loopbaan. […] Hoewel die verhaal ’n duidelike les vir die leser inhou, word dit nooit te stroperig en sentimenteel nie en verval dit ook nooit in prekerigheid nie. Die spanning word deurgaans volgehou. Hierdie tienerboek is voorwaar ’n moet-lees vir jonges, hul ouers en sommer vir enigeen in moeilike omstandighede.”
In Boeke-Insig (Januarie 2009) gee Coenraad Walters sy mening oor Lien se lankstaanskoene: “Christopher Booker beweer daar is slegs sewe basiese intriges beskikbaar aan alle storievertellers. Dus kan ’n mens Van der Walt nie verkwalik dat sy storie bekend klink nie: Die jongeling wat weens ’n verhoogrol persoonlike of gesinsprobleme beter kan hanteer, kom ook voor in Barrie Hough se Skilpoppe en rolprente soos Were the world mine en Dead poet’s society. Wat is dus nuut? Lien se geldmaakplanne, die karakters wat haar wêreld bevolk en die presiese aard van haar probleme. Daar is ook net soveel eindes vir ’n verhaal soos hierdie en Van der Walt slaag daarin om die slot te suggereer eerder as uit te spel. Die taalgebruik is knap; tienerslêng word meestal tot die dialoog beperk. Sommige temas word nie genoegsaam deurgevoer nie, soos haar pa se lot. Die toneelstuk kry ook relatief min aandag. Tog is die boeiende verhaal bevredigend en ’n mens gee om vir die karakters.”
Boeke-Insig sê: “Geniet die tuimelrit van Lien se ervarings. Haar vermoë om die lewe te takel, is inspirerend.”
Roekeloos skryf só oor Lien en haar probleme: “Vanaf die aangrypende openingstoneel word die aandag geboei met stilistiese vernuf, oortuigende karakterisering en geloofwaardige ruimte-beelding. Die skrywer het ’n oorspronklike aanslag wat gereflekteer word in die oorspronklike taalgebruik en skerp, vermaaklike dialoog. Respek vir die woord staan sentraal in hierdie manuskrip.
“Die gang van gebeure word so gestruktureer dat die leser meegevoer word en dit moeilik vind om die manuskrip neer te sit. Die narratief word effektief afgewissel met beskrywings van klanklose ou video-grepe. ’n Uitgebreide verwysingsraamwerk van musiek en ander motiewe word deurgaans gehandhaaf en uitgebou – so word die verhaal effektief gelaai met sekondêre betekenislae.
“Hierdie verhaal spreek ook van ’n maatskaplike gewete wat dit vierkantig plaas binne die konteks van ons sosio-politieke landskap. Dit is ’n verhaal wat die leser subtiel uitdaag om verantwoordelikheid te neem vir sy eie geluk en om die goeie in mense en situasies raak te sien, wat werklik ’n vars briesie is.”
In 2012 word Lien se storie verwerk tot ’n film vir kykNET. Die regisseur was André Odendaal, met Carmen Pretorius in die rol van Lien. Op besoek aan die stel by Hoërskool Garsfontein het Derick aan Elmari Rautenbach (Volksblad, 15 Februarie 2012) gesê hy het besef dat ’n fliek en ’n boek twee aparte genres is en dus het hy veranderings verwag. Carmen Pretorius het ook glad nie soos Lien gelyk nie, maar “toe sy haar mond oopmaak, het ek geweet sy is Lien.”
The Citizen (3 Mei 2013) se resensent het die rolprent as ’n “interesting and worthwhile experience” beskryf.
Oor die sukses van Lien se lankstaanskoene het Derick vir Maryke Roberts gesê dat die pryse nie net wonderlik was nie, maar ook iets waarop hy baie trots was: “As Lien nie so suksesvol was nie, sou ek waarskynlik skryf nie so ernstig opgeneem het soos nou nie. Ek dink die boeke is suksesvol omdat ek oor doodgewone mense en doodgewone dinge skryf. Lesers kan waarskynlik met die karakters identifiseer.” (Vrouekeur, 26 Januarie 2018)
Derick se tweede verhaal vir jong volwassenes is Willem Poprok wat in 2011 deur Tafelberg uitgegee is. Daar was in 2010 geen toekenning in die goudkategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur nie. Willem Poprok het egter die silwertoekenning verwerf en die beoordelaars het as volg oor die verhaal geskryf: “Dit is ’n opwindende en sterk pluspunt dat die verhaal ook, sonder enige opdringerigheid, ’n onderlinge tema dra van diversiteit tussen gender, rasse en tussen generasies.” (Beeld, 22 Maart 2010)
JB Roux was die resensent van Willem Poprok vir News24 (11 Desember 2010): “Dié verhaal speel hom in Pretoria af. Blou Bul-wêreld. Willem se pa is hoeka die trotse eienaar van die Blou Bul-slaghuis. Willem is die jongste van drie seuns. Dan is daar sy tweejarige sussie met wie hy gereeld in die parkie moet gaan stap. Franna, een van Willem se broers, knou hom voortdurend af. […]
“Willem sukkel met wiskunde en sy pa kom iets oor as Willem sou erken hy wil nie meer rugby speel nie. Om alles te kroon beland hy ‘per ongeluk’ in die kunsklas!
“Dis ’n boek vir die mánne hierdie. Meer spesifiek: manne in wording. Die Van Vuurens is doodgewone mense. Ámper ‘common’, maar nie heeltemal nie, al glo Willem se pa hoender is nie vleis nie en beplan hy om sy gesin met ’n tweedehandse woonwa op sleeptou te neem. […]
“Willem se ma laat haar nie deur ’n klomp mans onderkry nie. Die ander karakters is eweneens interessant en oortuigend. Juffrou Blom – die formidabele kunsjuffrou wat rugby afrig en The Beast waarskynlik in die grond sal skrum – is ’n persoonlike gunsteling.
“Dinge gebéúr toe Willem se broers dit in hulle koppe kry om hul pa – boepens, bleskop en al – te benoem vir Pa van die Jaar-toekenning. Willem se kunsprojek word boonop gekies vir ’n uitstalling.
“Ek het groot plesier gehad aan hierdie boek, aan die eerlikheid en eenvoud, die deernis-sonder-soetsappigheid. Vergeet van die silwerplakkertjie op die voorblad: Willem Poprok is goud werd.”
Christiaan du Plessis, ’n matriekseun (in 2011), het in Jip (17 Januarie 2011) geskryf dat Willem Poprok die onsekerheid van ’n graad 8-seun baie goed vasvang: “Die lewe van ’n tiener voel soos ’n warrelwind en dit lê soms soos ’n berg voor jou. En dit is nie altyd maklik om jouself te vind en rigting te kry in ’n gesin soos Willem s’n nie. Met al hierdie eienaardige karakters, ’n hele paar mal gebeurtenisse en ’n sterfte is Willem Poprok ’n opwindende boek wat jy sommer blitsvinnig deurlees. Jy gaan op ’n reis en jy groei saam met die karakters in ’n lewe wat so baie dieselfde maar tog so baie anders as jou eie is.”
Met Derick se volgende verhaal, Daan Dreyer se blou geranium, beweeg hy weg van die stories van jong volwassenes en verskyn sy eerste roman vir volwassenes in 2012 by Kwela.
Dit vertel die verhaal van Daan Dreyer, wie se vrou hom gelos het. Carien Kruger van Rapport (13 Mei 2012) het met Derick gesels oor Daan en sy blou geranium. Sy het die verhaal só opgesom: “Sy twee kinders rol hul oë vir sy musieksmaak en gee eenwoord-antwoorde op al sy vrae. By die werk gaan dit ook maar droewig – hy is immers ’n wit man van amper 50 jaar oud. Sy beste pel, Neels, se vrou gee vir hom ’n blou geranium om sy donker woonstelletjie mee op te kikker. Maar dit gaan veel meer as ’n malvaplant kos om weer vrolikheid en vreugde in sy ou lewetjie te bring. Dis die verhaal van ’n man op die rand van ’n nuwe lewe.”
Alta Cloete vertel op LitNet vir die lesers meer oor die boek: “As simbool van Daan se oorlewing en aanpassing slaag die malvaplantjie baie goed. Soos ’n blou geranium nie sommer enige malva is nie, is die vermoë om by so ’n traumatiese lewensverandering aan te pas, ook iets besonders. Aanvanklik wil Daan nie regtig die plantjie hê nie en gee hy dit basies geen kans op oorlewing in sy donker woonplekkie nie. Maar gaandeweg begin hy omgee of dit oorleef. En uiteindelik kyk hy ietwat verbaas na die eerste klein, blou blommetjie, net soos hy half verbaas besef hy het begin aanvaar sy huwelik is verby en daar is wel ’n manier om met sy lewe voort te gaan.
“Daan word op simpatieke, maar geloofwaardige manier uitgebeeld. Hy probeer strompelend voortgaan met sy lewe ten spyte van sy gevoel van algehele verlorenheid en ontworteling. Die karakter ondergaan merkwaardige persoonlike groei tydens die verhaal, wat ironies is, aangesien dit juis sy vrou se proses van persoonlike groei was wat hulle huwelik gekelder het. Sy groei word ook gedemonstreer deur sy aanvanklike agterdog en selfs aggressie teenoor sy vrou se terapeut, totdat hy besef sy is eintlik ’n aangename en besondere mens wat haar werk op professionele wyse benader.
“Daan se onmag om werklik met sy gesin te kommunikeer, gryp die leser aan die hart, maar laat ’n mens ook wens jy kan hom ’n slaggie hard skud. […]
“Die groot verskeidenheid newekarakters word oor die algemeen baie geloofwaardig uitgebeeld. Daar is sy vriend Neels, wie se grootste vaardigheid die reël van spanbougeleenthede is, die twaalfjarige Annerie, wat hom nog kinderlik-opreg liefhet, en sy studenteseun, Tollie, wat hy nou Marius moet noem. Daar is Vanessa, die gedrewe klimmer op die beroepsleer, Hendrina, die koopopmaker in die rolstoel, en Millie, die vaal meisie wat hom leer kook. Elkeen met sy of haar eie onvolmaakthede, vrese en verlangens. Enige leser (manlik of vroulik) wat al die pyn van ’n egskeiding ervaar of van naby aanskou het, sal waarskynlik met Daan se verhaal kan identifiseer. […]
“Van die sterkste oomblikke in die boek is die toneel wat voor Hoofstuk 1 geplaas word, waarin sy ontreddering met ’n enkele sin oorgedra word (‘Ek is eintlik maar net hier om te kyk hoe lyk die skeihof.’), asook dié waar Daan radeloos dronk word en ook waar hy die volgende oggend in sy vriend Neels se huis wakker word terwyl een van dié se stout kinders hom nuuskierig sit en beskou. Laasgenoemde twee tonele is oppervlakkig gesien wel skreeusnaaks, maar die onderliggende wanhoop kontrasteer juis skerp hiermee.
“Ten spyte van die bedrukkende onderwerp is dit geensins ’n somber boek nie. Daarvoor sorg die wonderlike humor wat deurgaans die teks verryk. Soms kru en eg manlik (‘Kry ek nog my hoer en my sigarette?’), soms meer subtiel en daarom dalk nog meer effektief. Daan kyk met ’n sterk ironiese oog na die wêreld om hom en sy waarnemingsvermoë is skerp.
“Die verhaal word in bedrieglik eenvoudige taal vertel, met die ekonomiese gebruik van woorde. Daan se intense verlange na sy vrou word dikwels net in enkele woorde uitgedruk (‘Karen, my lief, my lief, dink hy’) en word nooit soetsappig of oormatig sentimenteel nie. Hierin lê dikwels juis die krag van die hoofkarakter se belewing. […]
“Daan Dreyer se blou geranium is ’n ligte boek wat maklik lees, maar die leser tog agterna bybly. Want enigeen van ons kon ook maar Daan of sy vrou Karen of een van die randkarakters gewees het.”
Met Derick se volgende storie beweeg hy weer terug na die jong volwassenes. Hoopvol is die titel en weer palm hy die Sanlamprys vir Jeuglektuur (silwer) in. Hieroor het hy aan Riëtte Grobler gesê: “Ek is so geëerd om Sanlampryse te wen op mý ouderdom. Want terwyl my vriende nou die fynskrif van hul annuïteite lees, het ’n nuwe wêreld (deur jeuglektuur) vir my oopgegaan.” (Beeld, 18 Oktober 2012)
Aldu Duminy, een van JIP se joernaliste, het Hoopvol vir Beeld van 31 Desember 2012 bespreek, en volgens dié jongman het Hoopvol die kettings wat Afrikaanse jeugverhale eens ingeperk het, gebreek: “[Van der Walt] slaag uitstekend daarin om die wanhopige bestaan van jong mense op ’n aangrypende en boeiende wyse aan die leser voor te hou.”
In die eerste deel van die verhaal betree die leser twee uiteenlopende wêrelde. Daar word gefokus op ’n jong meisie, Nathalie, wat ’n hopelose lewe lei in die dorpie Hoopvol en wat wil wegbreek uit haar troostelose bestaan. Toe verskyn Bobby, ’n voormalige dwelmverslaafde, op die toneel en Nathalie sien die lig wat vir haar voor in die tonnel skyn.
In die ander wêreld ontmoet die leser vir die 16-jarige Ben. Sy ma en suster is beide dood in ’n brand en vanaf die eerste bladsy soek hy na die pa wat hy glad nie ken nie en ook nog nooit ontmoet het nie. Sy ma het ook aan Ben vertel dat sy pa voor Ben se geboorte oorlede is.
Aldu Duminy skryf voort: “Ben se swerwerslewe van dorp tot dorp is ingekleur met onafhanklikheid en ongekende deursettingsvermoë vir ’n jong seun. Hoopvol se tweede gedeelte begin waar bogenoemde twee wêrelde verweef word en die leser ervaar hoe Ben en Nathalie se lewe oorvleuel. Die unieke patroon waarop die 240 bladsye van Hoopvol saamgeweef is, verleen trefkrag aan die boek.
“Die sukses van die boek kan toegeskryf word aan die ongelooflike taalgebruik en woordkeuse. Die karakters se dialoog is gebalanseerd en realisties. Van der Walt sukkel nie, soos menige Afrikaanse skrywer, met oordrewe, onnatuurlike tienertaal en uitdrukkings nie. Die woordkeuse is keurig en verbreed die woordeskat van die lesers. […]
“Dis noodsaaklik dat die lesers fyn lees om nie die hoendervleis-oomblikke tydens die afloop van die verhaal te mis nie. Die teikenmark van hierdie boek is so uitgestrek soos Hoopvol se Karoovlaktes. Jong meisies sal hulle dalk intens kan inleef in Nathalie en Ben se onderskeie liefdesverhale. Seuns sal dalk veral die aksie van Ben se soektog en nuwe lewe in die tweede deel geniet. Ernstiger lesers wat op soek is na ’n spanningsverhaal sal baat kan vind by onderliggende temas: die lewe van mense op die platteland, dwelmverslawing, ware liefde en die toekoms van weeskinders. Hoopvol gee inderdaad nuwe hoop vir jeuglektuur.”
En hoewel Dineke Volschenk (Rapport, 3 Maart 2013) enkele voorbehoude het, soos dat daar te veel melodrama in die twee afdelings is en dat dit moeilik is om Hoopvol in ’n sekere kategorie te plaas, was die lees van Hoopvolvir haar ’n genoeglike leeservaring en “hoogs aan te beveel vir oud en jonk”.
’n Keurder vir Tafelberg Uitgewers het op Maroela Media só geskryf oor Hoopvol: “Die manuskrip is ’n volbloed-roman wat sy jong lesersmark nie onderskat nie. Die karakters is eg en die verhaal meesleurend en ontroerend. Plek-plek is die gegewens so aangrypend dat dit lesers tot trane sal roer.”
Bambaduze word in 2015 gepubliseer, en weer het Derick daarin geslaag om ’n uitstekende roman vir jong volwassenes te skryf, maar een wat ook aanklank by ouer lesers sal vind.
Lona Gericke (Rapport, 12 April 2015) vertel meer oor Bambaduze: “Jurie steel karre, nie om regtig te steel nie, maar vir die gevoel van bevryding wat hy geniet wanneer hy die motor vir ’n rukkie bestuur en dan weer terugbesorg na ’n nabye staanplek. […]
“Sy ma het vir ses maande padgegee Engeland toe ná sy ouer broer selfmoord gepleeg het. Hy neem haar kwalik dat sy hom en sy pa alleen agtergelaat het. Hy en sy pa sukkel om te kommunikeer […]. Sy vriende voel verwaarloos en sy isolasie neem net toe. […]
“Dan misluk sy poging om die meisie Nadi se Opel te steel toe hy ontdek dat sy nog in die motor is. Sy verloor haar beursie in haar haas om weg te kom en hy probeer haar opspoor. So begin ’n vriendskap waaruit albei baat vind.”
Dit was onvermydelik dat Jurie gevang sou word, en hy beland by ’n sielkundige en “word dit ’n suiweringsproses waardeur die verhoudings tussen die verskillende karakters verbeter en baie sake opgeklaar word.
“Vanaf die treffende inleidende paragraaf besef jy hierdie gaan ’n juweel van ’n jeugboek wees! Jurie is ’n werklike karakter en jy word toegelaat om hom behoorlik te leer ken. Dit gebeur in ’n teks deurtrek met fyn waarneming, treffende dialoog, verrassende voorvalle, goed gebalanseerde karakterisering en interaksie tussen die karakters wat deurgaans oortuig en ’n juiste aanslag verhaal word. […]
“Die skrywer se skryfstyl is deurspek met treffende beskrywings en raak kommentaar wat getuig van ’n bedrewe talent. Bambaduze is Derick van der Walt op sy beste. Mooigedaan.”
Elna van der Merwe (Huisgenoot, 24 September 2015) het vir Derick gevra wat hom laat besluit het om die gewigtige tema van selfdood in Bambaduze aan te pak. Hy het haar vertel dat sy suster, Sunél, in 2013 haar eie lewe geneem het: “Sy was my person in life, en hoewel ek aanvanklik heel oukei was daarmee, het dit ’n verskriklike invloed gehad op wat ek oor die lewe dink en voel. Ek was so de donner in vir haar.
“Maar ek het vreemd genoeg aan Bambaduze begin dink voor sy dood is. Ek moes een Saterdagoggend foto’s neem by ’n padwedloop wat deur een van my kliënte geborg is. Toe sien ek hoe ’n maer, bleek seun met ’n swart petjie op sy kop ’n motor steel. Dit was ontstellend en ek het gewonder wat sy storie is.
“’n Kennis se seun, die oudste van drie broers, het homself ’n paar jaar gelede om die lewe gebring toe hy op universiteit was. Ek het gewonder hoe die boeties voel. Hoe voel jy oor die lewe as jou ouboet, dalk jou held, nie meer lus het om te lewe nie? Dit het toe Bambaduze geword.
“Hoewel ek nog nooit iets outobiografies geskryf het nie, vermoed ek van die goed wat Jurie Viljoen oor sy ouboet se dood gevoel het, lê dalk naby my hart.”
Van der Merwe wou ook weet wie die persone is aan wie Derick Bambaduze opgedra het: “Naudé Eagleton is my oorlede sussie se seun (my vierde, sê ek gewoonlik). Chris Viljoen was ’n skoolpel. Hy was ’n prokureur en het vir my na die regsdinge in Bambaduze gekyk. Hy is een Saterdag verlede jaar (2014) onverwags dood nog voor die boek ’n rak kon haal.”
Van der Walt se tweede roman vir volwassenes, Tussen vriende, is in 2017 deur Queillerie uitgegee. Op die rugkant van Tussen vriende is geskryf: “’n Storie vir almal wat al ooit oor hul vriende gewonder het, mense nes ek en jy, almal met hul eie geheime.”
Die leser ontmoet in Tussen vriende drie getroude paartjies in hul vyftigs wat al jare lank vriende is, skryf Maryke Roberts in Vrouekeur (26 Januarie 2018): “Hulle is op die oog af almal gelukkig en suksesvol, maar tog het elkeen sy eie dinge wat krap en ’n mens kan so maklik daarmee identifiseer in hierdie tydperk in hul (en jou eie) lewe. Die karakters het uiteenlopende beroepe en belangstellings: Daar is onder andere ’n tandarts, ’n sakeman en tuisteskepper wie se ma haar minderwaardig laat voel.
“Derick se waarnemingsvermoë maak al die karakters so werklik,” skryf Roberts verder, “dat dit voel of jy vriende groet as jy die boek klaar gelees het. Die boeke getuig van iemand wat self met die kwessie van oudword worstel. Die verval van die menslike lyf en die belangrikheid om in die nou te leef, is sterk temas.”
Derick en sy familie het in die klompie jare wat die publikasie van Tussen vriende voorafgegaan het, ’n paar terugslae oorleef, het hy aan Roberts vertel: “My suster is oorlede, haar seun, ’n wonderlike vriend, en vriendin, my ma en ’n jonger broer. ’n Mens leer dat die lewe bitter kort is en dat jy dit moet waardeer en die beste daarvan maak.”
Die drie egpare is Soekie en Will, Ingrid en Adriaan, en Cassie en Phoebe. Will knoop ’n affair aan met ’n jonger vrou; Adriaan se broer wil die familieplaas verkoop; en Ingrid ontdek ’n knop in haar een bors; terwyl Cassie en Phoebe se seun in bedenklike nagklubs rondkuier.
In Huisgenoot (16 November 2017) wou Elna van der Merwe by Derick weet watter karakter sy gunsteling was: “Ek het van almal gehou,” het hy geantwoord. “Adriaan, die tandarts, was op ’n manier my verwysingskarakter, en ek het die storie met hom begin en geëindig. Van die drie mans het ek my die meeste met hom geïdentifiseer. Maar ek is glad nie hy nie. Ek is nie naastenby so ordentlik nie.
“Van die vrouekarakters het ek ’n sagte plekkie vir Phoebe. As ek haar dalk eendag raakloop, sal ek onmiddellik vir haar ’n glas wyn en ’n sny kaaskoek koop.”
Borskanker speel ook ’n belangrike rol in Tussen vriende, en Derick het die oorsprong van hierdie storielyn aan Van der Merwe verduidelik: “Ek het ’n vriendin wat ’n paar jaar gelede hierdeur is en het nogal gewonder hoe mans voel as hul vrou in so ’n soort situasie beland. Ek waardeer dit baie dat my vriendin absoluut openlik en in die fynste besonderhede met my hieroor gepraat.”
Ook is daar ’n jong karakter in die storie wat sy ouers se liefde toets: “Hy is nie deur iets of iemand spesifieks geïnspireer nie. Ek wou maar net die feit belig dat ouers dikwels met hul kinders se keuses moet vrede maak en al kan dit erg afwyk van wat jy dalk in jou geestesoog vir jou kroos beplan en voorsien het. En jy moet; dis hul lewe, en jy is lief vir hulle.”
Op LitNet wou Naomi Meyer by Derick weet of hy die verskillende temas wat in die boek aangespreek word, doelbewus gekies het. “Ek wou in die boek oor die sake skryf waaroor ek en my vriende deesdae praat en wat ons lewe geword het: kinders wat die nes verlaat, maar nog nie heeltemal op eie bene kan staan nie; kinders wat soms vreemde keuses maak wat jy moet respekteer, want dit is ná alles hulle lewe; die agteruitgang van die lyf; en veral die issues met ouers wat oud en siek word en die besluite oor ouetehuise en versorging; en so aan,” het hy verduidelik.
Phyllis Green het Tussen vriende vir Sarie (20 Oktober 2017) bespreek: “Tussen vriende is ’n realistiese skets van ’n vriendskap van mense in hul middeljare wat deur krisisse getref word. Almal het iets wat hul vir die ander wegsteek. Tog staan hulle mekaar by en probeer om mekaar nie te oordeel en te veroordeel nie. Die dilemmas wat hulle tref, is kwessies waarmee gewone mense gekonfronteer word. Van der Walt skryf met empatie oor karakters, mense met ’n verhaal waarmee almal van ons kan identifiseer. As jy al ooit gewonder het oor jou vriende en dit wat in hul lewe aangaan waaroor hulle nie praat nie, dan is hierdie ’n moet lees vir jou. Dis eg, snaaks en tragies in een. ’n Verhaal wat jou lank by bly.”
En Elbie Adendorff skryf só op LitNet: “Tussen vriende is ’n lekkerleesboek, maar enkele punte van kritiek kan tog daarteen genoem word, soos die laaste paar bladsye wat die roman vinnig tot ’n einde laat bring, die ontknoping van kernbesluite wat amper ongemotiveerd plaasvind, en die ‘gelukkige einde’ en ‘mooi slot’ vir twee van die paartjies wat tipies in romantiese verhale voorkom. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat mense gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vriendskap tussen vriende nie, maar verwoord veral die verhaal van ondersteuning en begrip vir die ‘foute’ wat vriende maak: ‘Maar as jy fyn luister, eintlik ’n mooi, diep, hartseer melodie, soos dié tussen vriende.’”
Derick se volgende storie (waarvan ook later geblyk het dat dit sy laaste sou wees) het in 2019 verskyn onder die titel Toring van jasmyn. Dit is weer ’n jeugroman en Derick het ook weer weggestap met die Sanlam-toekennings se eerste prys vir jeuglektuur in Afrikaans.
Hy het op LitNet aan Naomi Meyer vertel dat hy een nag in 2016 ’n droom gehad het oor ’n Afrikaanse gesin van Pretoria wat in Istanbul met vakansie is toe die dogter ontvoer word. Hy het verder uitgebrei: “Dit gaan behoorlik absurd klink, en as iemand anders dit vir my gesê het, het ek my oë gerol. […] Waar die droom vandaan gekom het, het ek nie ’n koekie se clue nie. Ek het nooit aan Istanbul as ’n moontlike vakansiebestemming gedink nie. Die plek was nie eers in my gedagtes nie. Maar ek het die volgende oggend gewonder of ek nie dalk iets beet het nie. Ek kyk deesdae met ander oë na drome!”
Oor sy navorsing vir Toring van jasmyn het hy vertel: “Ja, ons is ná die droom vir 10 dae Istanbul toe. Dis moeilik om oor ’n plek te skryf as jy nie weet hoe dit proe, ruik, klink en voel nie.
“Soos Murphy dit wou hê, het die staatsgreeppoging plaasgevind in Istanbul en Turkye se hoofstad, Ankara, die eerste nag toe ons in Istanbul oornag het. Ek het dwarsdeur al die drama geslaap en nie ’n helikopter of ’n masjiengeweerskoot gehoor nie. Mense is doodgeskiet op die brug naby ons hotel en daar was benoude Suid-Afrikaners wat nie kon land uit nie. Vlugte is gereeld gekanselleer en hulle was bang.
“Ons het die volgende oggend, soos die meeste ander toeriste, versigtig en onrustig om die blok gestap, nie seker wat om te verwag nie. Ons kon tog nie vir 10 dae in die hotel sit nie. Orals het mense soos gewoonlik rustig die sypaadjies voor hulle restaurante afgespuit en voorraad is uit afleweringsvoertuie die restaurante ingedra.
“Teen 12 die middag was dit business as usual in Istanbul. Die strate het gewemel, die restaurante was vol en die toeriste het gekoop dat die biesies bewe. Die mense van Istanbul beweeg duidelik vinnig aan. My mond het letterlik oopgehang. Maar dit was toe ’n heerlike vakansie. Dis ’n wonderlike stad en relatief goedkoop vir ons Suid-Afrikaners om in vakansie te hou.”
Willie Burger, resensent vir Vrouekeur, skryf só oor Toring van jasmyn: “Toring van jasmyn voldoen aan twee besonder belangrike vereistes vir ’n jeugboek: Uiteraard moet dit eerstens ’n boeiende, snellopende verhaal vertel, vol spanning en interessante wendings om jong lesers, wat aan opwindende TV-reeks en flieks gewoond is, se aandag te behou.
“Tweedens is dit belangrik dat lesers ook aan ’n ‘ander wêreld’ as hul eie bekende wêreld bekendgestel word: ’n wêreld wat hul wêreld en hul beskouing van die werklikheid kan verruim. In Toring van jasmyn sorg bomaanvalle en ’n ontvoering vir ’n boeiende verhaallyn. Omdat die gebeure in Istanbul afspeel, word ’n blik op ’n ander wêreld oopgemaak.
“Markus Combrink, sy suster, Nina en hul vriend Neil gaan vir ’n vakansie saam met hul ouers na Istanbul. Hul pa moet werk, maar die tieners kry die kans om die stad te verken. Juis hierdie verkenning van die stad bied ’n blik op ’n eksotiese wêreld wat vir die meeste Suid-Afrikaners onbekend en vreemd is.
“Die drie Suid-Afrikaanse tieners word vriende met Sahib en sy suster Meryem en hulle ervaar die stad met al die geur en kleur: die speserymark waar Sahib werk en die tradisionele kos wat Meryem berei. Dan raak Nina weg – moontlik ontvoer deur die geheimsinnige groep Yasemin Kulesi? Die verhaal hou mens aan die raai en omblaai.”
Op LitNet skryf Nadine Petrick: “Een aspek van die boek is egter nié volkome na wense nie. So hard soos wat die openingstoneel mens aanvanklik op die maag skop, so oorbluf laat dit jou terugskouend. Die toneel skep ’n besliste verwagting dat die leser iewers deur die loop van die boek ’n verlies gaan ly. Spesifieke karakters wat in die openingstoneel beskryf word, vra onmiddellike aandag en eis jou simpatie. Een van hulle sterf immers. Mens sou swéér hulle is die spil waarom die boek gaan draai. Maar dan blyk dit dat hulle niks meer as randfigure is wat die tafel dek vir die onstuimige omgewing waarin die boek afspeel nie. ’n Pertinente terugkeer na die toneel word ook geantisipeer, maar helaas. Dis asof die skrywer later in die verhaal wegskram van die impak van die boek se eerste drie blaaie. Van der Walt erken self dat hy van plan was om een van sy hoofkarakters te laat sterf, maar uiteindelik kleinkoppie getrek het. Dié toneel is waarskynlik herskryf nadat hy te geheg aan sy karakters begin raak het. Dis ’n jammerte, want ek voel effe mislei deur die skrywer se jammerhart. […]
“Die enkele punt van kritiek ten spyt, is Toring van jasmyn weer eens ’n wonderlike getuigskrif van Derick van der Walt se vermoë om in tieners se koppe in te klim en om sy karakters regte mense met regte probleme en versugtinge te maak. Die boek is ’n waardige wenner van die Sanlam-prys. Mag die skrywer net nóóit weer te bang wees om sy eie darlings dood te maak nie.”
En toe, vroeg in Maart 2022, het Derick van der Walt geval. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is in Montana-hospitaal opgeneem, waar hy op Donderdag 24 Maart 2022 oorlede is. Hy word oorleef deur sy vrou, Lenie, hulle drie seuns, Tjaart (38), Werner (34) en André (33), twee skoondogters, Jo-Maré en Biance, en twee kleinkinders, Lea en Daniel.
Huldeblyke
- Tjaart van der Walt, seun: “Die nalatenskap wat sy boeke betref, is baie kosbaar. Dis iets wat ons vir ons kinders kan wys. Die tweeling is vier jaar oud. Hulle het my pa nou eers ordentlik begin leer ken en vra oor hom. Dis vir ons baie sleg dat dit hier moes ophou en dat hulle mekaar nie verder sal leer ken nie.
“Hy het ons elkeen in ons verskillende belangstellings ondersteun. Hy het nie ’n rugbywedstryd misgeloop nie en ons sedert laerskool help opstelle skryf. As ons ’n swak punt kry, sê hy die juffrou weet nie waarvan sy praat nie … Hy was baie witty in daardie opsig. Hy het altyd ’n sêding gehad en was baie skerp.” (Netwerk24, 24 Maart 2022)
- Tjaart van der Walt: “My pa het van kindsbeen af ’n liefde vir lees en boeke gehad. Hy het nie sport beoefen nie en was meer akademies aangelê. Sy passie vir lees het later in sy lewe eers in die vorm van skryf uitgekom. Hy het een oggend wakker geword met ’n storie in sy kop en begin skryf. ’n Ruk later is Lien se lankstaanskoene gemaak.
“Hy was ’n ysterpa wat alles vir sy gesin gedoen het. Hy het hard gewerk om vir ons drie seuns te sorg. Hy het sy lewe aan sy gesin gewy. Hoewel ons nie in pa se skryfvoetspore gevolg het nie, het ons elkeen ’n liefde met ons pa gedeel. Ek en my pa was albei lief vir rugby, saam met Werner het my pa die liefde vir kosmaak gedeel en André was meer akademies soos my pa.” (Maroela Media, 24 Maart 2022)
- Henk Viljoen, streekbestuurder van NB Uitgewers: “Derick het dit geniet om met die kinders te werk en na hul vrae te luister. Ek onthou ’n geleentheid in Kempton Park (aan die Oos-Rand). Kinders het uit sy boeke voorgelees en hy het in trane daarna gesit en luister. Hy was ’n uiters talentvolle skrywer, veral vir ons kinders en jeug.
“Derick was ’n goeie vriend en kollega. Dit was ’n eer om met hom te werk. Altyd grappies gemaak. As ons getoer het, sou hy altyd sê: ‘Ekskuus, Henk, nou moet jy weer die storie hoor.” Maar ek het gesê die kind wat voor jou sit, hoor dit vir die eerste keer. Vir Derick het dit daaroor gegaan dat sy werk en sy boeke geniet word. Hy het trane gekry, want hy het nooit besef sy werk word soveel geniet nie.” (Netwerk24, 24 Maart 2022)
- Annerle Barnard, skrywer en wenner van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (silwer): “Ons het mekaar tydens die Sanlam-prysuitdeling in Johannesburg ontmoet. Daarna het ek hom weer ontmoet by die skool waar ons ’n draai gaan maak het. ’n Aangename mens. Ek het baie van sy skryfwerk gehou en al sy boeke gelees. Ons het so een of twee keer oor die foon gesels. En af en toe ’n e-pos aan mekaar gestuur.” (Netwerk24, 24 Maart 2022)
- Fanie Viljoen, skrywer: “Derick se jeugverhale is met geweldige deernis geskryf. Hy het die binnewêreld van jongmense geken, daardie soeke na die self. Elke boek het lesers aangegryp.” (Netwerk24, 24 Maart 2022)
- Henriëtte Loubser: “Hy kon sy drome vlerke gee, sy gedagtes omsit in woorde wat gryp en goël. Derick van der Walt is weg, maar sy stories bly. Dit is die skat wat hy agterlaat: die wonderlike boeke wat ons steeds sal kan lees en weer lees en die lekkerte daarvan sal kan geniet.
“Om totsiens te sê is sleg. Derick is hopeloos te vroeg weg. Op 63 het hierdie skrywer van aangrypende tekste soos Lien se lankstaanskoene (2008) en Toring van jasmyn (2019) nog soveel gehad om vir sy aanhangers te bied; soveel stories wat ons aan sy lippe sou laat hang. Tog is ’n mens dankbaar vir dit wat steeds daar is en wat behoue gebly het van hierdie bedrewe skrywer. […]
“Sy werk getuig van ’n vermoë om in die vel van sy jong karakters te klim, om hulle skoene vol te staan en van daardie verbeeldingskarakters werklike mense te maak. Hy kon weer tiener word en oortuigend en geloofwaardig die wêreld van jongmense weergee. Sy aanslag was vars en oorspronklik, sy taalgebruik vernuftig en sy dialoog skerp en treffend. So was dit telkens en met elkeen van sy werke.
“Wees gegroet, woordkunstenaar. Die Afrikaanse literêre wêreld het ’n waardevolle jeugskrywer verloor, een oor wie daar nog lank getreur gaan word, maar jou nalantenskap is oneindig kosbaar en sal voortgaan om lesers, jonk en oud, te vermaak en te boei.” (LitNet, 29 Maart 2022)
- Magdel Vorster: “Afrikaanse lesers, en veral jonges, het verlede week een van hulle grootste storieskeppers verloor. Hy het eers in sy middeljare begin skryf, maar uit die staanspoor was dit duidelik dat hy lesers met sy buitengewone stories oor gewone mense sou betower en pryse sou inpalm, wat dan ook keer op keer gebeur het.
“Derick van der Walt was meer geïnteresseerd in doodgewone mense wat ondanks alles wat die lewe opdis, bly oorleef, as in vername mense en belangrike gebeurtenisse. […] Hoewel hy nie geglo het dat boeke bewustelike boodskappe of lesse moet oordra nie, kom al sy lekkerleesstories met ’n takeaway. Wie sou ná die kennismaking met Lien ooit by ’n bedelaar langs ’n verkeerslig verbyry sonder om oor hulle omstandighede te wonder? Humor is dikwels meesterlik ingespan om lesers te help om deur uitdagende intriges te kom, maar nooit ten koste van die erns van hooftemas nie.
“Dis moeilik om ’n gunsteling-Derick van der Walt-titel te kies, maar Hoopvol is een van die boeke wat my die meeste geraak het. Hartseer- én lagtrane was aan die orde van die dag. Dis ongelooflik hoe hierdie skrywer dit reggekry het dat die leser gemaklik heen en weer tussen die skoene van ’n gebroke tienerseun en dié van ’n pas-klaar-met-skool tienermeisie in ’n godverlate Karoodorpie kon klim en hoe al die drade bymekaar gebring is.
“Derick van der Walt kon van ’n alledaagse storie ’n moet-lees-treffer maak. Hy’t sy karakters volrond ingekleur om dit vir sy lesers byna onmoontlik te maak om enige aweregse karakter af te skryf eerder as om optredes en reaksies te probeer verstaan. Lesers se houding teenoor die tipiese belhamel wat net aanhoudend droogmaak, terwyl almal voel dat hy homself gerus kan regruk, behoort ná die lees van Bambaduze te verander. Daar kan moontlik veral by Jurie se pa kers opgesteek word. […]
“Dis hartseer om te dink dat daar nie nog ’n Derick van der Walt-titel êrens in ’n pyplyn is nie. Hy laat ’n groot leemte in die Afrikaanse jeug- en jongvolwassenefiksiewêreld én breër. Hy kon vir almal skryf en het ook. Ek is wel baie dankbaar vir sy storienalatenskap en sal nie ophou om sy boeke wyd en syd aan te beveel nie.” (LitNet, 29 Maart 2022)
- SAPPO: “It is with extreme sadness that we announce the passing of Derick van der Walt, editor of SAPPO’s weekly and monthly newsletters and magazine, Porcus Prime Cuts, on Thursday 24 March 2022. Derick was admitted to ICU more than two weeks ago after sustaining serious head injuries. […] Derick’s family, colleagues, and friends have lost a remarkably talented but humble person. He was a kind and gentle soul, and his warm demeanour was infectious to everyone he met. The incredible body of work Derick had completed over his lifetime will leave a lasting legacy.” (SAPPO, 25 Maart 2022)
- Magda du Toit, Landbouskrywers SA: “Dit is met leedwese dat ons die nuus van die afsterwe van Derick van der Walt moet deel. Derick is op 24 Maart in Montana Hospitaal oorlede na ’n ongeluk wat tuis gebeur het sowat twee weke gelede. Ons gedagtes is met Derick se gesin, familie en vriende.
“Derick was gek oor alle soorte musiek, en hy het graag gaan fliek. Trouens, hy het nie sommer uitgemis op ’n fliekgeleentheid nie en het fliekresensies opgeslurp. Hy was ook baie lief vir lees. Soos enige goeie landboujoernalis betaam, was Derick lief vir lekker kos, wat hy ook graag self voorberei het. Derick was ’n lojale Blou Bul-ondersteuner en het graag oor ’n glasie wyn rugby gesels.
“Derick was die eienaar van Greenpepper Communication in Pretoria, ’n firma wat in die produksie van korporatiewe publikasies spesialiseer. Hy was bekend in landboukringe en was betrokke in die landbou sedert die vroeë tagtigerjare. Hy was vir jare redakteur van Porcus, die tydskrif wat deur SAPPO uitgegee is. Derick het ook elke Vrydag SAPPO se amptelik nuusbrief uitgegee.
“Sy slag met woorde en liefde vir taal het ook uitdrukking gevind in die boeke wat hy geskryf het. Derick was ’n bekroonde skrywer van jeugverhale en van sy boeke is as voorgeskrewe boeke by skole gebruik.
“Die landboubedryf het nie net ’n kundige verloor nie, maar die taal- en letterkunde het ook ’n begaafde skrywer verloor. Al was Derick nie ’n man van baie woorde nie, is die spasie wat hy agterlaat groot.
“Ek gaan Derick mis vir sy skerp sin vir humor, sy manier met woorde, en die manier waarop hy altyd ook ’n klein bietjie bekommerd oor alles was. Ek wens ek kon die geleentheid gehad het om nog een glas wyn saam met Derick te geniet.” (SAPPO, 25 Maart 2022)
Publikasies
|
Publikasie |
Lien se lankstaanskoene |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
9780624046684 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Willem Poprok |
|
Publikasiedatum |
2011 |
|
ISBN |
9780624049166 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Daan Dreyer se blou geranium |
|
Publikasiedatum |
2012 |
|
ISBN |
9780795704166 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kwela |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Hoopvol |
|
Publikasiedatum |
2012 |
|
ISBN |
9780624056256 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Bambaduze |
|
Publikasiedatum |
2015 |
|
ISBN |
9780624069294 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Benoem vir MER-prys vir Jeugboeke |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tussen vriende |
|
Publikasiedatum |
2017 |
|
ISBN |
9780795801419 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Toring van jasmyn |
|
Publikasiedatum |
2019 |
|
ISBN |
9780624087519 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Derick van der Walt
- 10 vrae aan Derick van der Walt, Vrouekeur, 22 Januarie 2018
- Derick van der Walt. Storiewerf
- Roberts, Maryke: Doen dit net. Vrouekeur, 26 Januarie 2018
- Van der Merwe, Elna: SA skrywers stel boeke voor wat jy die vakansie kan lees. Huisgenoot, 26 November 2020
- Van der Walt, Derick:
-
- As jy ’n ster sien verskiet [deur Maya Fowler]: Gewigtige sake word met ’n goeie skoot humor versag. LitNet, 20 Julie 2011
- Boekedag 2012: Derick van der Walt kies ’n karakter. LitNet, 18 April 2012
- Leeus met letsels [deur Fanie Viljoen] sit gemaklik op al die stoele. LitNet, 14 Desember 2012
- Vinnige Virus [deur Jaco Jacobs] welkome toevoeging tot arm wetenskapsfiksie-genre. LitNet, 6 April 2010
-
Artikels rondom Derick van der Walt se afsterwe
- Bekroonde skrywer oorlede. Pretoria FM, 24 Maart 2022
- Loubser, Henriëtte: In memoriam: Derick van der Walt. LitNet, 29 Maart 2022
- Obituary: Derick van der Walt. Sappo, 25 Maart 2022
- Opperman, AJ:
- Van der Merwe, Anja:
- Vorster, Magda: ’n Huldeblyk aan Derick van der Walt. LitNet, 5 April 2022
Derick van der Walt se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2026-06-04 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: In Oktober 2017 deur Jonathan Ball Uitgewers (toe NB-Uitgewers) aan LitNet verskaf