Deon Opperman en Eden, who Else?

  • 0

En hier sit ek op my nugter maag en loer oor my koppie koffie na LitNet se briewe. Sal ek mos amper die pragtige Jackie vol in die gesig met 'n mond koffie spoeg toe ek sien 'n opportunistiese snuiter soos Sean Else (en sy verwaande Opperman-vriend) probeer een van Afrikaans se grootste seuns aanvat met briewe wat ten beste 'n deurmekaar gebrabbel blyk te wees.

Partykeer weet ek nie so lekker nie. Sean, voor jy Koos se Bloedrivier-album met jou en Bok se armsalige (of sal ons dit eerder noem ryksalige?) AWB-treffer vergelyk, dink mooi. Die lettervaardigheid van 'n Koos Kombuis op 'n inklusiewe (weet jy, Johan en julle tjommie Opperman ooit wat daardie woordjie beteken?) protes-album is iets wat nie een van jul in hierdie leeftyd sal regkry nie. Dit verg ongelukkig meer as 'n brannas en Coke koor wat brannas op die hart in 'n teater saamwieg. Dit verg 'n deurdagte effort om die woorde so (skynbaar effort-loos) gemaklik langs mekaar te laat staan. As voormalige lid van Eden sal jy dit seker nie weet nie. En ek hou dit nie teen jou nie. Hey, dis 'n boyband; nie 'n kunspoging nie.

Dis een ding om met 'n woordeboek (Opperman) voor jou te sit en skryf, en inderdaad heeltemal iets anders om woorde as't ware vanself te laat vloei. Iets wat Koos dekades al doen. Skrywers noem dit flow. Ek is seker jy is bewus van die konsep.

Ek het verlede jaar saam met my vriend Niel van Deventer (van die band Radio Suid-Afrika) 'n Koos-show gaan kyk by die Blue Crane in Pretoria. By bogenoemde show het ek oopmond gestaan en kyk hoe vier swart Tukkie-studente elke woord saam met Koos sing. Verduidelik nou vir my, meneer Sean "Ek blaas karre en sweep boere op" Else, presies hoe jy hierdie kloutjie by jou oor bring.

En meneer Opperman: Was dit die verlies wat jy gely het met jou stuk oor die hedendaagse Boere-veggeneraal (Dis hoe dit was) wat jou tot hierdie hoogtes aangespoor het? Ek wonder net. Dalk moet jy liewer, in plaas daarvan om jou viermiljoen ten koste van die res van ons in agt te probeer verander, weer teruggaan na die begin. En dink hoekom jy destyds begin doen het wat jy doen. Skep liewer viermiljoen se nuwe beurse by jou geliefde AFDA en doen iets konstruktief. Eerder as wat jy probeer incash op jou "bende" en hulle “De la Rey”-waansin.

Dalk moet Eden (en oud-lede) hulle maar bepaal by tienerpoppies in skrapse kleertjies en vuurwerke by shows (in plek van inhoud) eerder as om die geskiedenis tot eie gewin te probeer gebruik.

Sien, as julle klompie aan ons geskiedenis doen wat julle aan Afrikaanse musiek gedoen het, gril ek my dood. En neem ek as vreedsame Afrikaanse straks die wapen op.

Vriendelike dog waarskuwende groete.

Kabous Verwoed

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top