Deon Meiring, bekend as voorman van Glaskas en ook lid van Dans Dans Lisa, het onlangs sy eerste solo-EP uitgereik, gebaseer op sy videoreeks Die Slaapkamer Sessies. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Deon. Hoe's dinge?
Hi Henry! Dit gaan baie goed dankie, lekker klomp dinge om te doen, want ek's onder andere ook besig met troureëlings en dan natuurlik om op te tree met my EP en so aan, maar dis alles darem lekker opwindend.
Geluk met die vrystelling van jou eerste solo-EP, Die Slaapkamer Sessies. Hoe is die terugvoer daarop tot dusver vir jou? Die EP het gevloei uit jou videoreeks met dieselfde naam – hoe het jy op die ou end besluit watter van die liedjies wat vir die videoreeks geskep is, moet op die EP beland, en hoekom moes die res gly? Het jy ’n algemene benadering gehad met hoe jy diés wat dit wel gemaak het, wou uitbou vir die EP, of was dit ’n lied-vir-lied-geval?
Dankie, die terugvoer verbaas my nog steeds. Ek het van die begin af geweet die projek is nie noodwendig wat mens op die oomblik as hoofstroom sal bestempel nie, maar ek het gehoop mense vind dit darem toeganklik. Ek glo dit is nogal die geval sover. Ek het gefokus op eenvoud en lirieke waaroor mense hopelik kan dink. Mense reageer sover darem oor hoe die lirieke hulle interesseer en hoe hulle ook voel dat die musiek vir hulle iets vars bied. Ek's baie dankbaar daarvoor. Ek is deeglik bewus daarvan dat ek op baie maniere hiermee iets doen wat nog moet groei, maar die lekker ding is om te sien hoe daar stelselmatig al meer mense is wat saam met my die musiek ontdek.
Wat die liedjiekeuses vir die EP-opname betref: ’n deel daarvan is regtig nie so romanties nie – dit was eerstens ’n finansiële besluit. Toe ek begin opneem het, het ek net begroting gehad vir vyf liedjies. As geld nie ’n kwessie was daai tyd nie, het ek al tien opgeneem. Ek dink dit sou interessant wees om al tien se ontwikkeling van die aanvanklike video's af tot in die ateljee te sien. Tog moes ek toe uitwerk watter die beste sou wees om op die EP in te sluit. Ek het saam met die vervaardiger, Eugene van Potch (hy bly in Pretoria), gesit en ons het eers so twee liedjies uitgewys wat ek sonder twyfel wou opsit. Die res het ons gekies na aanleiding van wat ons gevoel het volgende goed sou wees vir die EP. So dit was ’n deurdagte proses, maar ons het nie die heeltyd met vasgestelde kriteria gewerk nie.
Die liedjies wat nie op die EP is nie, kry darem steeds die geleentheid om op die verhoog gehoor te word en te ontwikkel.
Dit moet nogal ’n ander soort ervaring wees om ’n soloprojek aan te pak as om saam met ’n band ’n album op te neem. Suiwer in terme van die opneemproses en alles wat daarmee saamgaan, hoe het hierdie projek anders verloop as jou vorige opneem-ervarings? Is ’n mens makliker of moeiliker tevrede met iets in die ateljee as jy dit alleen doen? Wat is die voor- en nadele van die verskillende prosesse in hierdie opsig?
Ja, ek dink in die band leer ken mens mekaar so goed en vertrou jy mekaar se oordeel na jare se saamspeel. Nou was dit net ek en Eugene in die ateljee en dit was boonop die eerste keer dat ons op dié manier saamgewerk het. Die lekker ding van ’n band is dat jy talle insette het as mens twyfel oor iets. Nou moes ek en Eugene dit tussen die twee van ons uitwerk. So daar is minder gedeelde verantwoordelikheid. Ek probeer egter al van lankal af om myself so oop as moontlik te hou met opnames, omdat ek weet mens het baie blinde kolle as dit kom by jou eie werk. Daar is natuurlik ook ’n ander soort vryheid. Ek het heeltyd eenvoud in gedagte gehad, en aangesien daar geen verwagting was om ’n groot rock-klank of so iets te skep nie, was ek redelik vry om dit so te doen.
Wat die aanvanklike skryf betref, is dit natuurlik ook ’n ander saak om die ding alleen aan te pak as saam met ’n band. Sover ek verstaan, het die videoreeks ten doel gehad om weekliks ’n liedjie te skryf, op te neem en via YouTube vry te stel – is dit wel so? Hoe het hierdie tydsdruk jou skryfproses beïnvloed of verander? Hoe verskil die liedjieskryfproses vir jou van wanneer jy dit alleen tot vervolmaking bring teenoor ’n hele groep wat insette lewer? Watter aanslag verkies jy?
Tot ’n mate skryf ek nog altyd alleen. ’n Deel daarvan is bloot omdat ek baie skaam is wanneer ek eers begin met ’n liedjie. Ek sou nog altyd eers baie afrond en skaaf voor ek ’n liedjie voorstel vir opname. Daarna sou die vervaardiging meer samewerkend met ander wees. Dit is juis daar waar die slaapkamer inkom. Ek wou my slaapkamer (waar ek gewoonlik ietwat geheimsinnig skryf) bietjie oopmaak vir die res van die wêreld. So met die weeklikse skryf en vrystel van ’n liedjie (dit is hoe dit gebeur het) moes ek myself dwing om baie vinniger iets met mense te deel. Dit was vreesaanjaend, maar ook ’n adrenalieninspuiting. Ek het myself verbaas oor waarmee ek soms in so ’n beperkte tyd kon opkom. Die meeste van alles was dit lekker oefening om gedurig te skryf van week tot week, aangesien jy weet daai deadline kom. Elke liedjie was dalk nie so sterk soos die ander nie, maar die proses het my gelei na vars idees toe, juis omdat ek soms amper noodgedwonge bietjie harder moes werk aan idees in so ’n kort tydjie. Mens los soms iets wanneer jy voel jy haak vas en hoop daar kom later ’n deurbraak. Hier was die tyd so min, mens moes óf baie vinnig los en oor begin, óf meer dringend soek vir die deurbraak.
Dis sekerlik ’n uitdaging om in ’n EP van vyf snitte ’n mate van diversiteit daar te stel, en ook ’n deurlopende goue draad of storie te skep – moeiliker as met ’n album van sê maar dubbel soveel snitte. Tog voel dit of daar tematies heelwat ooreenkomste is tussen die snitte, en daar's ook ’n groot verskil in "sound" tussen byvoorbeeld die stadiger "vergelykingspel" en "Hoe om te oorleef", en dan die rustiger (reeds suksesvolle) "Voetganger" en "Vingerafdrukke". Het jy ’n doel voor oë gehad om diversiteit aan die snitte te verleen, of hoe het dié deel van die proses gewerk? In hoe ’n mate het die "arrangements" hierdie soort rol vervul, of hoe belangrik is die verskillende arrangements vir jou, in ag genome dat dit ’n redelik gestroopte EP is in daardie opsig?
Ja, ek dink die feit dat die liedjies in dieselfde tydperk ontstaan het, help om ’n sekere mate van ’n goue draad te skep. Ek het nie doelbewus geskryf rondom sekere temas nie, maar na die tyd ontdek mens tog die verbindings wat onbewustelik gevorm het. Met die liedjiekeuses het ons beslis ook diversiteit in ag geneem. Die gestroopte aspek het in sommige gevalle juis verwerking bietjie meer van ’n kopseer gemaak, want mens word uitgedaag om met so min as moontlik soveel as moontlik te doen. "Hoe om te oorleef" is die mees gestroopte liedjie op die EP en ons het waarskynlik die langste met hom gesit. Ons moes mooi luister en versigtig oorweeg wat ons gaan doen met die klavier en kitaar en die versoeking vermy om te veel te wil doen. Die rol van "vocals" word in so ’n proses ook baie belangrik, om noukeurig met die stemverwerkings iets te probeer oordra wat jy dalk andersins met ’n instrument sou doen.
Luidens ’n mediaverklaring het die idee van Slaapkamer Sessies veral te make met die intimiteit van dit wat jy doen met dié liedjies. As ’n mens na die lirieke luister, klink dit inderdaad of jy kwessies verken wat na aan die hart lê – en ook dat daar soms ’n effense verslaentheid of moedeloosheid tussen die algemene positiewe aanslag van die lirieke deurskemer (veral op "Hoe om te oorleef"). Voel dit of jy met hierdie projek meer ruimte het om eerlikheid en intimiteit aan te wakker in jou lirieke, of het dit bloot nou ’n ander soort gestalte as voorheen? Hoe dink jy het jou liriekskepping oor die jare gegroei en verander? Hoe belangrik is gehalte van lirieke in die algemeen vir jou, en hoe beskou jy die standaard daarvan in die huidige Afrikaanse musiektoneel (hoofstroom en andersins)?
Die Slaapkamer Sessies het in baie opsigte berus op beperking: die tydsraamwerk, die ruimtes waarin video's opgeneem is, die hulpbronne tot my beskikking, ens. Tog het ek vooraf oor een ding vir myself doelbewus nie ’n beperking gestel nie en dit was die lirieke en die inhoud. Ek het gesê ek sal regtig skryf waaroor ek die dag of die week lus is om te skryf. Dalk is dit hoekom ek dalk soms bietjie meer reguit gepraat het. Tog is daar al van Glaskas se dae af ’n mate van bevraagtekening en iets melankolies wat mense sê hulle in my lirieke vind. Ek was juis bly en verbaas dat heelwat van die liedjies, soos "As ek ooit", "Voetganger" en selfs "Vingerafdrukke", oor die algemeen ’n positiewe gevolgtrekking het. Ek hou daarvan om oor goed na te dink en te wonder en ek glo dit hoef nie die heeltyd op ’n somber noot te gebeur nie.
Hoe my liriekskepping verander het? Ek voel asof ek nooit ophou leer hoe om beter te skryf nie. Dit was ook ’n motivering met hierdie projek. Ek dink toe ek jonger was het ek soms min genoeg geweet dat ek sommer net geskryf het. Nou lag ek vir sommige van die goed waarmee ek vroeër vorendag gekom het, maar ek voel ek het darem al ’n paar lesse geleer langs die pad. Van die begin af het ek gehou daarvan dat skryfwerk mense kan prikkel om soms tot hulle eie gevolgtrekkings te kom. Ek is mal daaroor as iemand na my toe kom met húlle verklaring van een van my liedjies. Dit is steeds vir my lekker, maar ek probeer om nie slegs dubbelsinnig te wees nie, maar om ook meer prentjies te teken met die lirieke.
Ek spits my nog altyd daarop toe om nie sinnelose lirieke te skryf nie. Ek dink mens mag maar speels wees, en mens hoef nie die heeltyd "diep" te wees nie, maar ek dink selfs as mens speel moet mens ’n mate van integriteit probeer behou. Ek is een van daai mense wat nogal geïrriteerd raak met voor die hand liggende taalfoute. Tog vang ek myself ook gereeld uit en glo ek aan die ander kant dat mens die taal se grense ook moet verbreed. Mens kan dit juis doen deur van die reëls bietjie te buig of selfs te breek. Ondeurdagte, onnodige verarming van die taal se moontlikhede pla my egter. Ek weet dat dit soms harde werk is om te soek vir die regte woord, of die regte beeld. Tog is dit so bevredigend wanneer mens weet jy het nou regtig gesê wat jy wou sê. Ek dink mens moet waak daarteen om lui te raak om te soek vir dit wat jy wil sê. Mens sien dit nogal in ons bedryf. Gelukkig voel dit nie vir my so erg soos ’n paar jaar gelede nie. Ek dink ons musikante sal baat daarby om net ’n krummeltjie van die energie wat in lekker "hooks" ingaan te belê in redigeerders vir lirieke. Dalk is die meerderheid mense nie te erg gepla daaroor nie, maar ek glo dit sal vir hulle ook goed voel wanneer die woorde bietjie meer sin maak of net gemakliker pas. Ek wys nie net vingers nie; ek sal nie omgee om saam met iemand wat regtig taalvaardig is, te sit en skaaf aan my lirieke nie. Ek speel wel soms ’n speletjie waar ek luister na wat op die radio gebeur en probeer dink: "Hoe sou ek dit beter sê?" Dis goeie oefening en die ergste van alles is dat die oplossings en moontlikhede daar is. Mense ontgin dit net nie altyd nie.
Gepraat van die plaaslike musiektoneel, in alle tale: Dis beslis ’n interessante bedryf hier; sommiges vind dit onmoontlik om deur te breek, andere maak vinnig ’n groot sukses daarvan. Hoe beskou jy, as iemand wat nou al jare daarin betrokke is (en veral sedert die jare van MK en die gepaardgaande veranderinge), dit wat op die oomblik op die toneel gebeur? Wat suig daaromtrent, en wat is kief? Hoe sou jy dit nog wou sien verander en groei in die volgende paar jaar (en daarna)?
Wat suig, is die tekort aan verbeelding. Daar is ’n neiging om bestaande modelle wat werk na te boots en na te jaag. Ek verstaan ’n sekere deel daarvan. Dit was byvoorbeeld ook goed vir my om ’n rock band te hê in die tyd van MK, maar ons het darem nie probeer om presies soos ons vriende in die "scene" te klink nie. Het ons by hulle geleer? Beslis! Mense in die bedryf mag maar by mekaar leer en ons hoef nie selfsugtig te wees nie. Dit is net kommerwekkend dat daar min dryfkrag is om iets anders te probeer. Elke kunstefees en venue moet darem sy eie besonderse karakter hê, nie waar nie? Maar mens moet braaf wees daarvoor en dit is dikwels om finansiële redes moeilik.
Dit bring my wel by die positiewe. Ek sien stadig maar seker nuwe inisiatiewe en venues wat ook ’n alternatief probeer bied. Ek dink dit is wat mense mis as hulle vir my vra: "Wat het geword van MK?" Dalk was MK as TV-kanaal nie volmaak nie (wie of wat is?), maar dit het ’n alternatiewe opsie reg langs die hoofstroom gebied. Nou moet dit op ’n nuwe manier ontdek word. Ek hoop ek is deel daarvan. Ek probeer iets doen wat nie noodwendig oral deurbreek nie, maar ek wil uitwerk hoe dit ook kan werk. Ek glo daar is ’n verantwoordelikheid om te kyk waar daar ander moontlikhede is, sonder om noodwendig alles omver te gooi.
As lid van Glaskas, Dans Dans Lisa en ook as solo-kunstenaar het jy nou al ’n hele rits gigs, toere en die ervarings wat daarmee saamgaan, agter die rug. Enige herinneringe wat vir jou as hoogtepunte uitstaan? Enige agter-die-skerms-staaltjies wat jy nie sommer sal vergeet nie, of gebeure wat jy dalk eerder sal wíl vergeet?
Toere is die lekkerste herinneringe. Daar kan altyd iets buitengewoon gebeur op die pad. Na ’n optrede in Aliwal-Noord het die ys in die kroeg opgeraak, en ek het gesien hoe ’n ou die ys uit ’n vreemde meisie langs hom se glas haal en in syne sit terwyl sy wegkyk.
Toe ek net op Potch begin studeer het, het ons ’n gig op die Joolplaas gedoen. In die middel van een van ons liedjies, "Vrede", het daar ’n bakleiery uitgebreek in die gehoor tussen mense van die koshuis waarin ek was en ’n ander koshuis. Dit alles terwyl ek my hart uitsing oor "vrede".
By Innibos het die polisie een jaar in die middel van een van ons liedjies op die verhoog gekom om ons stil te maak, want ek wou nie eintlik ophou speel nie, want dit was te lekker, maar blykbaar het hulle ’n reëling in die dorp dat dit stil moet wees na ’n sekere tyd.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Deon Meiring in, in so verre jy dit kan beheer?
Ek wil minstens nog een musiekvideo maak vir een van die EP se liedjies. "Vingerafdrukke" is wel redelik onlangs bekendgestel, dus kan mense daarna gaan kyk. Dan is daar heelwat optredes en ek is klaar weer besig om liedjies te skryf, vir kameras te sing op interessante plekke en op YouTube te laai. Ek het ook onlangs ’n kinderstorie geskryf wat my verloofde (sy's ’n kinderboekillustreerder) geïllustreer het. Dit vorm deel van ’n projek genaamd Byderhand, oor plekspesifieke literatuur. Dit is by Aardklop te sien en stel mense in staat om met selfone of tablette die stories in die projek te ontdek wanneer hulle spesifieke dele van die feesterrein besoek. Die projek word gedoen onder leiding van Franci Greyling. Ek skryf dus ook die laaste ruk nie net liedjies nie en ek hoop daar is meer daarvan ook in die toekoms.
Wat is die sin van die lewe?
Baie maklik – dit is om op Facebook te gaan en jou te verwonder oor ander mense se vakansies.



