
Skrywer: Pieter Duvenage
Titel: Bewegende denke: praktiese wysheid en kritiese hermeneutiek in onstuimige tye
ISBN: 9781067235093
Uitgewer: Naledi
Pieter Duvenage se Bewegende denke vra wat dit beteken om wys en verantwoordelik te leef in ’n wêreld van voortdurende verandering, historiese breuke en morele onsekerheid.1 Hy begin by Aristoteles se begrip van beweging en loop dan saam met Hegel, Heidegger, Arendt, Gadamer, Habermas en Ricoeur. Dit is ’n eerlike boek vir onstuimige tye.
Ek wil ’n ent saamloop en dan by een kruispad ’n ander rigting inslaan. My repliek konsentreer op die verhouding tussen bewegende verstaan en die grond van ons oordeel, met besondere aandag aan Heidegger se beskrywing van die mens en die gewete. Die vraag is hoe denke kan bly beweeg sonder dat die waarheid waaraan dit verantwoordelik is, deur daardie beweging bepaal word.
My rede vir hierdie gesprek is eenvoudig. Deur die eeue heen poog filosowe om die menslike kondisie te verklaar, oplossings te vind en die wêreld te verander. Aan Tolstoj word die opmerking toegeskryf dat almal die wêreld wil verander, maar niemand daaraan dink om homself te verander nie. Op my ouderdom het ek gesien dat baie die wêreld verander het, maar dat niemand nog daarin geslaag het om dit te verlos nie. Die wêreld het inherent verlossing nodig, want die gevalle menslike kondisie vra ingryping. Daardie ingryping het gekom: Jesus Christus het die antwoord geword wat die gestorwe menslike gees weer lewendig maak (Ef 2:1, 5). Die mens kan homself nie red nie. Ek voer hierdie gesprek vanuit my geloof in die onwrikbare, rotsvaste waarheid van die Woord, die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het (Joh 1:14).
Ek doen dit met een beeld in die hand: die spiraal. Dit verbeeld vir my ’n verstaan wat verdiep rondom ’n vaste middelpunt. Ek praat as getuie: Ek gee oor wat ek self ontvang het (1 Kor 15:3). Die middelpunt is Christus. Ons denke groei en moet reggestel word; die Woord waaraan ons dit toets, bly.
Die spiraal en praktiese wysheid
Die hermeneutiek wat Duvenage se boek dra, het ’n bekende vorm: die sirkel. Ons verstaan die deel uit die geheel en die geheel uit die deel. Heidegger het gesê die beslissende is om op die regte manier in die sirkel te kom.2 Dit is geen bose kringloop nie; daarin skuil ’n positiewe moontlikheid van die mees oorspronklike kennis.3 Gadamer bou die gedagte verder uit: Verstaan begin met ’n voorverstaan, wat in die gesprek met die teks hersien word.4
By Gadamer verander die gesprek ook die leser. Horisonne smelt saam en ’n mens kom nie eenvoudig terug waar jy begin het nie.5 Daarom gebruik ek die spiraal as beeld vir hierdie beweging. Elke draai bring ons weer by die bekende vrae oor die mens, die goeie en ons oorsprong, maar met iets wat ons intussen geleer, verloor of ontvang het. Hierin loop ek saam met Duvenage.
Die spiraal is ’n beeld van verstaan en geestelike groei. Sy meetkundige vorm bewys op sigself geen geloofswaarheid nie. Wanneer ek van ’n vaste middelpunt praat, bedoel ek die grond en rigting van hierdie groei. Die wendinge verbeeld ons veranderende insig; die middelpunt verbeeld Hom in wie ons lewe en denke gegrond is.
Duvenage se vraag na praktiese wysheid raak juis die vermoë om verantwoordelik te oordeel in konkrete omstandighede. Die Skrif ken hierdie gawe. Salomo het om ’n hart vol verstand gevra, in die Hebreeus ’n luisterende hart, om tussen goed en kwaad te onderskei (1 Kon 3:9). So ’n hart ontvang wysheid en moet daarmee handel.
Die lewe bring ons telkens terug by dieselfde soort keuses: vergewe of vergeld, praat of swyg, bly of gaan. Ons staan nooit weer presies waar ons gestaan het nie. Die pad van die regverdiges word al helderder, soos die môrelig tot die volle dag (Spr 4:18). Die Gees verander ons “van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor 3:18). Paulus het nie gemeen dat hy reeds die doel bereik het nie, maar het daarna gejaag (Fil 3:12–4). Dit is bewegende denke wat in ’n lewe gestalte kry.
Die Skrif benoem ook die oorsprong van daardie wysheid: Die vrees van die Here is die begin van die wysheid (Spr 9:10). Jakobus onderskei die aardse, sinlike en duiwelse wysheid van die wysheid van bo, wat rein, vredeliewend en vol barmhartigheid en goeie vrugte is (Jak 3:15–7). Wie wysheid kortkom, moet dit van God vra (Jak 1:5). Die groei van oordeel vind dus plaas binne ’n verhouding van ontvangs en gehoorsaamheid aan Hom.
Die Woord en die leser
Die Skrif noem die vaste grond by sy naam: “Die Here is my rots” (Ps 18:3), en: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Mal 3:6). Paulus skryf van die rots wat Israel in die woestyn gevolg het: “Die rots was Christus” (1 Kor 10:4). Die volk het beweeg en gedwaal, maar die Rots het saamgegaan. Dit is die beeld wat ek wil vashou: Denke wat groei in die teenwoordigheid van ’n Rots wat nie wankel nie.
Hierdie vastheid maak my eie verstaan nie onfeilbaar nie. God is Waarheid; Hy kan nie lieg nie (Num 23:19; Tit 1:2), en Sy Woord is die waarheid (Joh 17:17). Juis daarom moet ek my lesing daaraan laat toets. My vergissing word nie waarheid, omdat ek dit met oortuiging uitspreek nie.
“Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Tess 5:21). Die Bereërs het die Skrif elke dag ondersoek om te sien of die dinge wat aan hulle verkondig is, so was (Hand 17:11). Dit is vir my die inwaartse beweging van die spiraal: Elke dag terug na dieselfde Woord, met die bereidheid dat my verstaan reggestel en my lewe verander word. Die Woord bly; die leser moet luister.
Die Skrif is onuitputlik. Elke lees kan ’n nuwe draai wees, maar die waarheid en die verlossing waarvan dit getuig, wag nie om deur ons voltooi te word nie. Die Middelpunt het self gesê: “Dit is volbring” (Joh 19:30). Die voltooidheid van Sy werk en die groei van ons verstaan daarvan behoort bymekaar.
Die oorsprong en die rigting van twyfel
Die Skrif begin by ’n Hand: “In die begin het God” (Gen 1:1), en: “In die begin was die Woord [...]. Alle dinge het deur Hom ontstaan” (Joh 1:1, 3). In my gedig “Die Maker” staan dit so:
was reeds aan die Begin
profeet, digter, beeldhouer en musikant.
Skepper van ’n kosmos uit sy hand.
Uit alles woes en leeg –
roep die Woord: “Laat daar wees!”
Die eerste beweging weg van hierdie vertroue het nie by ’n eerlike ondersoek begin nie. Die slang het gevra: “Het God werklik gesê [...]?” (Gen 3:1, AV83). Op dié vraag volg die leuen dat hulle nie sal sterwe nie (Gen 3:4) en die belofte dat hulle soos God sal wees (Gen 3:5). Hier word twyfel aan God se Woord ’n versoeking om Sy gesag te verruil vir selfregering.
Helaas klim eie wil op die leer
teen die boom van kies en keur
en aan die lat van self regeer,
(in vrywil, onder eie beheer)
het bittersoet en wrang
die vervloekte vrug
van self gaan hang.
Die twyfel wat hier gesaai word, het ’n saaier. ’n Vyand het die onkruid gesaai (Matt 13:25, 28); die duiwel is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). Die mens se poging om beheer oor te neem maak hom nie onafhanklik nie. Dit lewer hom uit aan die misleiding wat God se waarskuwing oor die dood ontken. Ek lees hierdie dood ook as die geestelike dood waarvan die Skrif getuig (Gen 2:17; Ef 2:1).
Dit beteken nie dat elke vraag reeds afvalligheid is nie. Die Bereërs het juis ondersoek om die verkondiging aan die Skrif te toets. Die onderskeid lê in die gesag waaraan die vraag verantwoord word, en in die bereidheid om die waarheid te gehoorsaam wanneer dit ons aanspreek.
René Descartes gebruik twyfel anders. In sy onvoltooide dialoog oor die soeke na waarheid, waarvan hierdie gedeelte in Latynse vertaling bewaar is, sê Eudoxus: dubito, ergo sum, vel, quod idem est, cogito, ergo sum – ek twyfel, daarom is ek, of wat dieselfde is: Ek dink, daarom is ek.6 Twyfel is hier ’n handeling van denke wat die bestaan van die denkende persoon bevestig. Sy doel met metodiese twyfel is om sekerheid te vind, en hy probeer ook God se bestaan bewys.7
My beswaar is nie teen sy eerlikheid nie, maar teen sy vertrekpunt: Die twyfelende self word die eerste sekerheid, nie die sprekende God nie. Ek stel Descartes nie gelyk aan die slang nie. Die gevaar wat ek benoem, ontstaan waar ondersoek uitloop op die aanspraak dat die self die hoogste en finale gesag is. Denke wat by die self begin, keer nie vanself terug nie.
Gehoorsaamheid aan God is nie slawerny nie. Dit is die wyse waarop ons, ons liefde vir Hom bewys: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh 14:15; vgl 1 Joh 5:3). Daar is een Hoof, Christus (Ef 1:22–3; Kol 1:18), en ’n liggaam wat saam groei in liefde (Ef 4:15–6), waarin ons aan mekaar onderdanig is in die vrees van God (Ef 5:21).
Hier rig my kritiek op sekulêre selfregering hom op die aanspraak dat die mens self die hoogste maatstaf en wetgewer kan wees. In “Zeitgeist 4” kry hierdie selfgenoegsaamheid ’n taal:
eiebeheer
nou sekulêr deur kanale
waar die ingevoerde woord
openbarings versin
Geworpenheid en aanspreeklikheid
Heidegger beskryf die mens as Dasein, die wese vir wie sy eie bestaan op die spel is. Geworpenheid beteken dat ons onsself reeds in ’n wêreld en in omstandighede bevind wat ons nie self tot stand gebring het nie. Ons leef dikwels volgens die verwagtings van das Man, die onpersoonlike “mens”, en verloor onsself in wat almal doen en sê. Angs en die erkenning van ons sterflikheid kan ons uit hierdie verstrooiing losruk en ons voor die verantwoordelikheid vir ons eie bestaan stel.8
Geworpenheid beantwoord op sigself nie die vraag na skepping, sonde of verlossing nie. Dit beskryf ’n menslike bestaanswyse. Die Skrif gee aan die mens se oorsprong en huidige toestand ’n bepaalde inhoud: Ons is geskape, maar deur begeerte en ongehoorsaamheid gedompel in ’n wêreld wat onder die mag van die bose lê (1 Joh 5:19; Jak 1:14–5). Ons het die waarheid van God verruil vir die leuen (Rom 1:25), en selfregering dra die vrug van wat ons saai (Gal 6:7–8). Die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe (1 Joh 2:16) weerspieël die versoeking in die tuin (Gen 3:6). Distels en dorings merk hierdie menslike kondisie (Gen 3:17–8).
Die gewete bring die vraag na aanspreeklikheid na vore. Vir Heidegger is dit ’n stil roep. Hy skryf dat die roep uit my kom en tog oor my. Dasein is die roeper en die aangesprokene, maar die roep word nie deur die bewuste self beplan of na willekeur voortgebring nie.9 Sy ontleding is dus ingewikkelder as ’n self wat bloot sy eie bevele uitdink.
Ek is dit met hom eens dat die gewete stil roep. In “Woorde wat hang” skryf ek:
die gewete maak nie lawaai nie
dit kom soos ’n stil teenwoordigheid
wat nie padgee nie
nie as kennis nie
maar as aanspreeklikheid
My Christelike antwoord benoem voor Wie daardie aanspreeklikheid staan. Die werk van die wet is in die hart geskrywe, en die gewete getuig saam (Rom 2:15). Maar die gewete roep nie alleen nie. Christus belowe die Trooster, en sê van Hom: “En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh 16:8). Wat in die hart as stil aanspreeklikheid aanklop, nie as kennis nie, kry by die Gees sy volle gewig: Hy oortuig, en wie oortuig word, word nie net ingelig nie, maar aangespreek. “Ek, die Here, deursoek die hart” (Jer 17:10). “Deurgrond my, o God, en ken my hart” (Ps 139:23). Alles lê naak en oop voor die oë van Hom met wie ons te doen het (Heb 4:13). Daar is een Wetgewer en Regter (Jak 4:12).
Die verskil is dus dat Heidegger die roep binne die bestaansstruktuur van Dasein ontleed, terwyl ek dit uiteindelik voor God verantwoord. Hy ontleed die roep; ek noem die Roeper. Die Skrif se eerste vraag ná die val kom van Hom: “Waar is jy?” (Gen 3:9). Hierdie vraag ontbloot die mens se poging om hom weg te steek en roep hom tot verantwoording.
Duvenage wys self op die normatiewe probleem. Hy beskryf Heidegger se benadering as “monologies-ontologies”, teenoor die dialoog by Arendt en Gadamer, en vra of Heidegger se herlesing van Aristoteles nie die etiese rykheid van praxis prysgegee het nie.10 Hy merk ook op dat die gebrek aan duidelike, normatiewe riglyne die denke vir ideologiese misbruik oopgelaat het.11
Hier stem ek met sy kritiek saam. My verdere vraag is hoe die gesag van ’n morele aanspraak begrond word wanneer die gespreksgenote daaroor verskil. Vir die Christen rus die antwoord in God se Woord en oordeel. ’n Gesprek oor die goeie moet ook ons eie begeertes en selfregverdiging daaraan blootstel. Die waarskuwing oor die huis wat leeg staan en weer deur bose geeste ingeneem word (Matt 12:43–5), lees ek hier as ’n geestelike waarskuwing: Die afwesigheid van ’n erkende gesag bo die self laat ons nie vanself vry van ander magte nie.
Duvenage se voorkeur vir Arendt se dialogiese denke bo Heidegger se monoloog wys vir my in dieselfde rigting. In The human condition noem Arendt twee vermoëns wat menslike handeling uit sy vasgelooptheid red. Vergifnis breek die onomkeerbaarheid van wat reeds gedoen is, en die belofte bind die onsekerheid van wat kom. Sy erken openlik dat Jesus van Nasaret die een was wat die rol van vergifnis in menslike sake ontdek het. Dat Hy dit in ’n godsdienstige konteks gedoen het, is volgens haar geen rede om dit minder ernstig op te neem nie. Hier staan die filosofie op die drumpel van die evangelie. Arendt lees vergifnis as ’n mag wat tussen mense uitgeoefen word. Die Skrif hou albei kante vas: Ons moet mekaar vergewe (Matt 6:14–5), maar ons kán vergewe, omdat God ons in Christus vergewe het (Ef 4:32; Kol 3:13). En die belofte wat ons aan mekaar hou, rus op Hom wat getrou is, wat beloof het (Heb 10:23). Die keuse tussen vergewe en vergeld kom op elke draai van die spiraal terug. Dit word nie deur ons wilskrag besleg nie, maar by die kruis, waar die skuld reeds betaal is.
Die masjien wat nie kniel nie
Umberto Eco se Opera aperta, die oop werk, help ons om oor die veelheid van lesings na te dink.12 Oopheid beteken nie dat elke lesing ewe geldig is nie; Eco skryf ook oor die grense van interpretasie.13 Vir my lê die gevaar waar die vermeerdering van lesings ’n plaasvervanger word vir die onderskeiding en gehoorsaamheid wat die waarheid vra.
Vandag kan ’n taalmodel oor ’n onderwerp ’n oorweldigende hoeveelheid invalshoeke voortbring. Ek het dit eenkeer so probeer sê:
ChatGPT
woer woorde al wyer
wentelend met spoed
verklaar en verkondig vrae
maar die Gees wentel
die waarheid inwaarts
Yeats se “The second coming” gee aan die sentrifugale beweging ’n ontstellende gestalte: “Turning and turning in the widening gyre / The falcon cannot hear the falconer.” Dan volg: “Things fall apart; the centre cannot hold.”14 Sy gyre draai al wyer na buite, weg van die stem wat roep, totdat die valk die valkenier nie meer hoor nie. My spiraal draai inwaarts. My spiraal het ’n Iemand aan die binnekant. By Yeats kan die middelpunt nie hou nie; by my ís die middelpunt juis dít wat hou. ’n Toenemende hoeveelheid woorde bring nie vanself die wysheid mee om daarmee te leef nie.
Heidegger se begrip Gestell beskryf hoe die tegniek dinge en mense as beskikbare voorraad, Bestand, laat verskyn.15 Hy noem taal die huis van die syn.16 Wanneer taal hoofsaaklik as materiaal vir verwerking en produksie benader word, herken ek daarin ’n uitbreiding van hierdie gevaar. Heidegger kritiseer ook humanisme, omdat dit die mens se menslikheid volgens hom nie hoog genoeg ag nie,17 en sê in die latere Der Spiegel-onderhoud dat slegs ’n god ons nog kan red.18 Sy waarskuwing raak vir my aan ’n nood wat die Skrif by sy naam noem.
Die mens is gees, het ’n siel en woon in ’n liggaam. Só verstaan ek die menslike geheel waarvan 1 Tessalonisense 5:23 getuig; met siel bedoel ek hier “wil, emosie en verstand”. ’n Masjien se taaluitvoer kan die uitdrukking van emosie en oordeel naboots, maar ek skryf nie aan die masjien die geestelike lewe en aanspreeklikheid van die mens toe nie. Die gedig “Woorde wat hang” gaan voort:
’n masjien kan die goeie benoem
die taal van barmhartigheid rangskik
die vorm van skuld nadoen
berou grammatikaal verwoord
maar dit kniel nie
’n Taalmodel kan ’n korrekte mededeling oordra, selfs ’n Skrifwoord aanhaal. Die medium hoef nie self gees te wees om ’n ware sin te dra nie. Maar om die woorde van berou voort te bring is nie om berou te hê nie. ’n Masjien kan sy antwoord korrigeer, maar dit word nie verander nie. Die Gees oortuig van sonde (Joh 16:8); ’n masjien kan hoogstens oorreed. In “Skeppergees” staan dit so: “kunsmatige intelligensie robotkuns / die groei en gees ontbreek”.
Die onderskeid tussen versamelde kennis en ontvange insig kry vir my gestalte in Daniël. Die wyse manne van Babel kon die koning nie sy droom vertel nie (Dan 2:10–1). Daniël het die geheim in ’n naggesig ontvang (Dan 2:19). Sy opleiding het hom ’n plek in die paleis gegee, maar God het hom kennis en verstand gegee (Dan 1:17), en hy is oor die wyse manne aangestel (Dan 2:48). Die verhaal ontken nie die waarde van opleiding nie. Kennis kan versamel word. Insig word ontvang.
Die kruis en die oop graf
Die nood van die wêreld word nie deur verbetering alleen opgelos nie. Dit het verlossing nodig. God, wat liefde is (1 Joh 4:8), en Christus, die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6), is die grond van daardie verlossing.
God is buite tyd en ruimte. Sy Naam is Ek Is (Eks 3:14; Joh 8:58), en Hy is die Begin en die Einde (Op 22:13). In die taal van my gedig is Sy tyd nou. Hy staan nie op een van die wendinge van ons geskiedenis nie. Die Lam is vooruit geken voor die grondlegging van die wêreld (1 Pet 1:19–20). In “Tydloos” het ek dit so probeer sê:
buite tyd en ruimte
in die nou
het al my vrae oor
wat was
vrywillig
Sy besluit
oopgevou
God het self vlees geword (Joh 1:14). Sy Seun is uit ’n vrou gebore (Gal 4:4), het werklik onder ons kom woon en is in alle opsigte beproef soos ons, maar sonder sonde (Heb 4:15). Die onbeweeglike Kern het self ons geskiedenis binnegekom. Hy is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak (Op 5:9), en Hy hou die sleutels van die doderyk en van die dood (Op 1:18).
Heidegger se ontleding van die vooruitloop na die dood vra hoe ’n mens sy eindigheid kan aanvaar en sy bestaan verantwoordelik opneem.19 Die Skrif verkondig verder dat Christus deur die dood die een wat die mag van die dood het, tot niet gemaak het, en dié bevry wat uit vrees vir die dood in slawerny was (Heb 2:14–5). Die boom van selfregering is nie die laaste boom nie. “Die Maker” keer terug:
In die plek wat was
het ’n nuwe tak gegroei,
hang aan die boom
die wonder,
die balsem aan die bas,
die gom –
die Maker.
Hy het ons sondes in Sy liggaam op die hout gedra (1 Pet 2:24) en ’n vloek vir ons geword (Gal 3:13). Uit die stomp van Isai kom ’n loot (Jes 11:1). Op Jeremia se vraag: “Is daar geen balsem in Gílead nie?” (Jer 8:22), antwoord die bas van die kruis. En die gom: Alles hou in Hom stand (Kol 1:17). In “Gestroop” staan dieselfde hoop: “loot daar / tog uit die balk / hoop / wen ek dalk / ’n hele boom”.
Heidegger se mens leef tot die dood. Die Skrif se mens leef ná die oop graf. Die verlossing is nie die self se laaste prestasie nie; dit is wat die self ontvang wanneer hy hom aan Christus oorgee.
Bewegende denke rondom Christus
Duvenage begin by Aristoteles se beweging. Aristoteles se onbeweeglike beweger herinner ons daaraan dat beweging en ’n onveranderlike grond nie noodwendig teenstrydig is nie.20 Sy begrip bewys nie my Christelike belydenis nie. Die Middelpunt waarvan ek getuig, word in die Skrif geopenbaar.
Ons denke moet beweeg, want ons leef en oordeel in veranderende omstandighede. Dit is die waarde van Duvenage se uitnodiging tot praktiese wysheid. My Christelike antwoord grond hierdie beweging in Hom by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie (Jak 1:17), Jesus Christus, gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Heb 13:8). Wie op dié Rots bou, staan wanneer die reën val, die strome kom en die winde waai (Matt 7:24–5).
Die inwaartse beweging waarvan ek praat, gaan nie na ’n self wat hom afsluit nie. Dit gaan deur selfoorgawe na die Gees en na die nuwe lewe wat Hy gee (Joh 3:5–8). Daar is in niemand anders verlossing nie (Hand 4:12). Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom 8:16). In die sin van hierdie geestelike gemeenskap en getuienis: Net gees roep na gees.
Wanneer ek sê dat waarheid geopenbaar word, bedoel ek hier die waarheid wat ons voor God aanspreek en tot verlossing en gehoorsaamheid roep. Christus sê dat vlees en bloed dit nie aan Petrus geopenbaar het nie, maar Sy Vader in die hemele (Matt 16:17). Die voortbring van taal kan hierdie ontvangs nie vervang nie.
Die masjien is ’n werktuig. Die illusie ontstaan wanneer ons die voortbring van woorde vir geestelike lewe aansien. Laat ons die werktuig met onderskeiding gebruik en voortgaan om te doen wat dit nie kan nie: om te kniel en woorde te laat hang totdat hulle swaarder word.
- Skrifaanhalings volg die Afrikaanse vertaling van 1953, tensy anders aangedui. AV83 dui die 1983-vertaling aan. Parafrases en die toepassing van Skrifgedeeltes word in die lopende betoog onderskei van direkte aanhalings.
Notas:
1 Duvenage, P. 2025. Bewegende denke: praktiese wysheid en kritiese hermeneutiek in onstuimige tye. Gansbaai: Naledi.
2 Heidegger, M. Sein und Zeit (1927), §32, p. 153: “Das Entscheidende ist nicht, aus dem Zirkel heraus-, sondern in ihn nach der rechten Weise hineinzukommen.”
3 Heidegger, M. Sein und Zeit (1927), §32, p. 153: “In ihm verbirgt sich eine positive Möglichkeit ursprünglichsten Erkennens.”
4 Gadamer, H-G. Wahrheit und Methode (1960), deel II.
5 Gadamer, H-G. Wahrheit und Methode (1960), deel II (Horizontverschmelzung).
6 Descartes, R. Inquisitio veritatis per lumen naturale (1701), in Opuscula posthuma; AT X, 523.
7 Descartes, R. Discours de la méthode (1637), deel IV; Meditationes de prima philosophia (1641), meditasies III en V.
8 Heidegger, M. Sein und Zeit, §4 (Dasein), §27 (das Man), §29 (Geworfenheit), §40 (Angst), §§46–53 (Sein zum Tode).
9 Heidegger, M. Sein und Zeit, §56 (die gewete roep: “im Modus des Schweigens”, p. 273) en §57, p. 275: “Der Ruf wird ja gerade nicht und nie von uns selbst weder geplant, noch vorbereitet, noch willentlich vollzogen. ‘Es’ ruft, wider Erwarten und gar wider Willen. Andererseits kommt der Ruf zweifellos nicht von einem Anderen, der mit mir in der Welt ist. Der Ruf kommt aus mir und doch über mich.”
10 Duvenage 2025:129–30.
11 Duvenage 2025:129, met verwysing na Wolin 1990:67–72.
12 Eco, U. Opera aperta (1962).
13 Eco, U. I limiti dell’interpretazione (1990).
14 Yeats, W.B. “The second coming” (1920), reëls 1–3.
15 Heidegger, M. “Die Frage nach der Technik” (1954).
16 Heidegger, M. Brief über den Humanismus (1947): “Die Sprache ist das Haus des Seins.”
17 Heidegger, M. Brief über den Humanismus (1947).
18 Heidegger, M. “Nur noch ein Gott kann uns retten”, Der Spiegel, 31 Mei 1976. (Onderhoud gevoer op 23 September 1966.)
19 Heidegger, M. Sein und Zeit, §53 (Vorlaufen zum Tode).
20 Aristoteles. Metafisika XII (Λ), 7, 1072a–b.
Bronne
Arendt, H. 1958. The human condition. Chicago: University of Chicago Press. §33–4.
Aristoteles. Metafisika, boek XII (Λ), hfst. 7, 1072a–b.
Cordier-Biermann, M. 2021. Buigbreek. Pretoria: Cordis Trust. Gedig aangehaal: “Die Maker” (nr. 6); eerste verskyn in Gelykmaker, Cordis Trust, 2020.
Cordier-Biermann, M. 2026. Spiraal. Gansbaai: Naledi. Gedigte aangehaal: “Tydloos” (nr. 15), “Spiraal” (nr. 27), “Skeppergees” (nr. 29), “Woorde wat hang” (nr. 30), “Zeitgeist 4” (nr. 35), “Gestroop” (nr. 46).
Descartes, R. 1637. Discours de la méthode, dele III–IV. Leiden: Jan Maire.
Descartes, R. 1641. Meditationes de prima philosophia. Parys: Michel Soly.
Descartes, R. 1701. Inquisitio veritatis per lumen naturale. In Opuscula posthuma, physica et mathematica. Amsterdam. (Franse oorspronklike: La Recherche de la vérité par la lumière naturelle; AT X, 495–532.)
Die Bybel. 1953. Afrikaanse vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Die Bybel. 1983. Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Duvenage, P. 2025. Bewegende denke: praktiese wysheid en kritiese hermeneutiek in onstuimige tye. Gansbaai: Naledi.
Eco, U. 1962. Opera aperta: Forma e indeterminazione nelle poetiche contemporanee. Milaan: Bompiani.
Eco, U. 1990. I limiti dell’interpretazione. Milaan: Bompiani. (Engelse uitgawe: The limits of interpretation. Bloomington: Indiana University Press, 1990.)
Gadamer, H-G. 1960. Wahrheit und Methode. Tübingen: J.C.B. Mohr (Paul Siebeck).
Heidegger, M. 1927. Sein und Zeit. Halle: Niemeyer.
Heidegger, M. 1947. Brief über den Humanismus. In Platons Lehre von der Wahrheit. Mit einem Brief über den Humanismus. Bern: Francke.
Heidegger, M. 1954. Die Frage nach der Technik. In Vorträge und Aufsätze. Pfullingen: Neske.
Heidegger, M. 1976. Nur noch ein Gott kann uns retten. Der Spiegel, 30(23):193–219. (Onderhoud gevoer op 23 September 1966.)
Wolin, R. 1990. The politics of being: the political thought of Martin Heidegger. New York: Columbia University Press.
Yeats, W.B. 1920. The second coming. The Dial, November 1920.

