The demon bride: ’n teaterresensie

  • 0

Foto’s: Daniel Rutland Manners

Louis Viljoen se The demon bride is tans by die Fugard-teater in Kaapstad te sien. Die kort opsomming van die storielyn is dat dit trouseisoen in die wynlande is en almal kom bymekaar om die troue van Amelia en Raymond te vier. Dinge verloop heel goed, tot die bruidspaartjie en twee vriende in ’n spookgastehuis op ’n wynplaas opgesluit word. Dinge ruk handuit toe ’n gewraakte gees die bruid oorneem en die vriende en bruidegom maar redelik gehawend anderkant uitkom.

Die toneelstuk is na afloop van vanjaar se US Woordfees benoem vir WoordTROfees in die kategorieë vir beste akteur (Bianca Flanders as Amelia), beste Woordfeesdebuut en beste tegniese prestasie (klank) deur James Webb.

Die program beskryf die stuk as ’n “boeiende gruwel-komedie, waarin Viljoen ’n nuwe rigting inslaan”.

Emma Kotze skryf drie jaar gelede in haar resensie op hierdie webwerf oor Louis Viljoen se The pervert Laura dat Suid-Afrika ’n groot tekort het aan nuwe dramaturge. "Dit is veral in die Engelse mark dat hierdie jare lange droogte werklik ’n bekommernis is. Louis Viljoen … blyk een van enkele fakkeldraers te wees in die kommerwekkende donkerte waarin moderne Suid-Afrikaanse teaterskryfwerk verkeer."

Sela.

Dit blyk duidelik uit sy toekennings. The eulogists, sy eerste toneelstuk as die Fugard se eie teksskrywer, is vir ’n Fleur du Cap Teater-toekenning genomineer vir beste nuwe Suid-Afrikaanse teks. Hy het twee Fleur du Caps gewen vir Champ (beste nuwe Suid-Afrikaanse teks) en The kingmakers. Hy ontvang ook die Rosalie van der Gucht-toekenning vir beste nuwe regisseur vir The kingmakers en The pervert Laura.

Ek het sy vorige werke terdeë geniet, juis vir sy skerp waarnemingsin en vermoë om met fyn nuanses vas te vang en weer te gee wat soveel van ons oor sekere “warmpatatte” in ons samelewing voel, maar soms nie by magte is om te verwoord nie. Sy onverskrokkenheid om die boodskap te laat seëvier, maak my beslis ’n Viljoen-aanhanger.

Ek kon dus nie wag vir ’n aand van vlymskerp humor in die gebruiklike Viljoen-styl nie. Ek het besef die stuk gaan aweregs wees in elke sin van die woord.

Maar ek moet erken dat ek met hierdie produksie heeltemal uit die bus geval het. Daar was snaakse oomblikke en daar was oomblikke waar ek saam met die gehoor op die punt van my stoel gesit het van spanning. Maar hulle was min en van korte duur.

Daar was ongelukkig meer oomblikke van geen-genot met ellelange frases waarin een kru woord na die ander ingeryg word om iemand sleg te sê, maar ongeslaagd is om sy doel te bereik. As jy slim beledigings wil uitdink, bly weg van geykte frases wat later so oordrewe word dat dit verveel. Sommige sêgoed wil-wil bekend klink uit ou flieks en iets soos "Who you gonna call" want die "Ghostbusters is nie beskikbaar nie" was regtig flou. Een of twee, dalk drie, gevatte goed wat inisiatief toon, sou die gehoor – en my – baie meer laat lag het. Niemand praat sulke – aanhoudende – mondevol nonsens nie.

Die onderliggende storielyn het potensiaal gehad: daardie onbeantwoorde liefde van ’n vrou wat moet toesien hoe die liefde van haar lewe met iemand anders voor die kansel gaan staan, is nie ’n vreemde begrip nie. Dit is egter net half ontgin en het gevoel of dit vergeefs probeer het om rigting aan die toneelstuk te gee, maar eintlik maar net ’n bysaak was.

Dis asof Viljoen iets moes produseer, maar uit verveling teruggeval het op skokdialoog, en jammerlik gefaal het.

Maar dit beteken nie dat ek nie saamstem met die WoordTROfees-toekennings nie: Bianca Flanders se vertolking van die bruid, Amelia, was uitstekend en só ‘n pynlik-bedorwe-brokkie-bruid dat ek nie anders kon as om te giggel nie. Ook die benoeming vir beste tegniese prestasie (klank) vir James Webb slaan die spyker op die kop. Sy vermoë om atmosfeer met die klank te skep, het waarlik uitgestaan.

Ek is beslis nie die teikengehoor vir hierdie stuk nie.

Neem kennis dat die stuk ’n 18-jaar-ouderdomsbeperking het en sterk taal, geweld, vooroordeel en seks bevat. Kruiesigarette en stroboskopiese ligte word deur die vertoning gebruik.

The demon bride

Met: Bianca Flanders, Sarah Potter, Craig Jackson, Carel Nel en Andrew Roux

Deur: Louis Viljoen

Regie: Louis Viljoen

Kostuums: Widaad Albertus

Die Fugard-teater

Van 8 Mei 2018

Kaartjies deur Computicket of kaartjieskantoor, 021 461 4554.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top