Délicieux (Delicious): op iTunes
Met Grégory Gadebois en Isabelle Carré
Regisseur: Eric Bresnard
Die publiek aanvaar soveel luukshede vandag as vanselfsprekend. Voeg hierby artistieke veronderstellings wat moontlik sy oorsprong by die draaiboekskrywer(s) het, en die kyker vind dat hy of sy na hierdie pragtige rolprent uit Frankryk kyk en onwrikbaar glo dat dit waar is. (Dit ís skynbaar.) Want dit verduidelik hoe die eerste volwaardige restaurant in die wêreld per ongeluk ontstaan het net voor die bestorming van die Bastille. Ook wat daartoe aanleiding gegee het – eintlik goeie, gesonde verstand gebore uit reuseprobleme. Maar dit is met soveel fyn nuanses en so ’n weldeurdagte, skerp draaiboek gemaak dat jy dit pens en pootjies insluk. (Dit sal interessant wees om na te vors oor die waarheid al dan nie hiervan, maar die produksieleiers verklap nie die geheim nie.)
........
Waar anders sou die wêreld se eerste restaurant sy tafeldoek oopgegooi het as in Frankryk? Iewers op die platteland, nie te ver van Parys af nie. Sonder om iets te verklap: Bewonderaars van die meesterlike Babette’s Feast (1987) sal so ’n sprankie daarvan iewers in die briljante draaiboek ontdek. En mens sou hoop dat die verhaal op die waarheid gegrond is.
...........
Waar anders sou die wêreld se eerste restaurant sy tafeldoek oopgegooi het as in Frankryk? Iewers op die platteland, nie te ver van Parys af nie. Sonder om iets te verklap: Bewonderaars van die meesterlike Babette’s Feast (1987) sal so ’n sprankie daarvan iewers in die briljante draaiboek ontdek. En mens sou hoop dat die verhaal op die waarheid gegrond is.
Eintlik is hierdie rolprent ’n aanval op die klassesisteem en die verwaandheid van die koninklikes of landhere wat die mense wat op hul grond gewoon het, misbruik het. Of die superrykes wat hul personeel emosioneel mishandel en verneder het en byna al die boere se inkomste as “belasting” ingesamel het. Hulle het ook gedreig om hulle van hul grond af te sit terwyl hulle agter gepoeierde pruike geskuil het.
Dit is die een been van die storie.

Foto-erkenning: lokprent, https://www.youtube.com/watch?v=O4dhX3P4M3I
Die ander gaan oor fynproewerskos, soos die titel aandui, en hoe sekere resepte ontstaan het.
’n Meestersjef word uit die huis van ’n landheer/adellike geskop omdat ’n lid van die dom, ryk gespuis nie van die korsie van ’n broodjie gehou het nie. Nie alleen verloor hy sy woonplek nie, maar sy selfbeeld word geknak. Die lojale siel trek ’n ent daarvandaan in ’n herberg in. Eensklaps daag ’n vrou op wat pleit dat hy haar in diens moet neem en moet leer kook, maar hy weier. (Koppigheid en stiksienigheid is twee nare karaktertrekke.) Stadiger as harmansdrup en bitterder as kasterolie dring sy tot hom deur en begin uiteindelik leer watter bestanddele om te gebruik.
.........
Meer wil ’n mens nie verklap nie, behalwe om te sê dat hierdie film ’n besonderse rolprent is (wat jy nie op ’n leë maag moet kyk nie!) en al kos dit ongeveer R75 om op iTunes te huur, is dit absoluut die moeite werd. Ook vir kunsfilmliefhebbers wat lanklaas ’n ordentlike kunsrolprent gesien het. Mense kla hulle soek tevergeefs by Cinema Nouveau na eweknieë hiervan waar hierdie film eintlik tuishoort!
............
Meer wil ’n mens nie verklap nie, behalwe om te sê dat hierdie film ’n besonderse rolprent is (wat jy nie op ’n leë maag moet kyk nie!) en al kos dit ongeveer R75 om op iTunes te huur, is dit absoluut die moeite werd. Ook vir kunsfilmliefhebbers wat lanklaas ’n ordentlike kunsrolprent gesien het. Mense kla hulle soek tevergeefs by Cinema Nouveau na eweknieë hiervan waar hierdie film eintlik tuishoort!
Die stelinkleding, van die kasteel waarin die rykes woon, tot die eenvoudige maar warm herberg, tot die restaurant wat daar ontstaan, is meesterlik. Elke stukkie detail is nie bloot vir lipstiek daar geplaas of om die skerm te verfraai nie. Dit dra by tot die storie. Die kostuums is foutloos, en die spel, veral van die befoeterde Grégory Gedebois en die sagmoedig-dappere Isabelle Carré as Louise is onverbeterlik.
Verplaas jouself na ’n ander era digby die einde van die 18de eeu; neem deel aan ’n fees wat selfs Babette twee keer sou laat opkyk; wees ’n toeskouer van die stadige pad wat ’n restaurant geloop het en hoe sekere elemente toevallig bymekaargekom het om die eerste buffet en later spyskaart te vorm wat sou aanleiding gee tot duisende restaurante wat sou ontstaan; en kyk hoe die skeppers daarvan die resep (kos) en bestuur daarvan uitgedink het.
Verder gaan dit om twee mense wat deur mishandeling byna na die dood gedryf is en wat mekaar stadigaan vind en begin respekteer. Moet ook nie sentiment verwag nie (wel, tot die laaste vyf minute), en raak verryk deur ’n besonderse rolprent wat werklik ons land op een of ander manier moes bereik het, maar nêrens op enige aankooplys voorkom na die beste van my wete nie. iTunes is die enigste manier om dit te siene te kry, maar vir die prys van ’n Big Mac kan jy na ’n fynproewersrolprent kyk wat jou siel sal verryk.
En probeer om nie na die lokprent te kyk of te veel oor die film te lees nie. Hierdie resensie poog doelbewus om nie te veel te verklap nie, want die sjarme daarvan en die fynbeplande regie (veral in een van die laaste skote) sal jou lank bybly en laat besef: Daar is sekere stories wat net rolprente kan vertel en reg aan kan laat geskied.
Dit is verruklik.

