Deesdae word opkomende skrywers met Brad Thor vergelyk, ’n lesersindruk van Near dark

  • 0

Titel: Near dark
Skrywer: Brad Thor
Uitgewer: Emily Bestler Books, New York

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ná 19 boeke in ’n reeks dink ’n mens maklik jy het al alles gelees wat Brad Thor na jou kant toe kan gooi (veral ná Spymaster (boek 17) se “cliffhanger”-einde), maar Scot Harvath pronk nie verniet gereeld op #1 op die New York Times se blitsverkoperslys nie.

Die jong Navy SEAL-operateur wat ’n VSA Geheime Dienste-agent geword het, stap as ’n gebroke man uit Backlash (boek 18) nadat sy vrou, mentor en boesemvriend vermoor is. In Near dark is hy nie meer die jagter wat ons twee dekades terug in The Lions of Lucerne (boek 1) leer ken het nie, maar ’n gewonde “lone wolf” wat alle bande met die Carlton Group afgesny het. Dit lyk ook of hy sy lewe as ’n chroniese alkoholis gaan afsluit, totdat elke liewe sluipmoordenaar regoor die wêreld sy bloed soek.

Nie die Carlton Group of CIA weet wie het op die donkerweb ’n $100 miljoen-kontrak op sy lewe uitgeneem nie. Terwyl hy die sluipmoordenaars probeer ontduik, probeer hy vasstel wie die mistieke aartsvyand is wat hom wil dood hê. Ek blaai na die eerste hoofstuk van Black Ice (boek 20) agter in die boek net om seker te maak hy ry aan die einde van die boek soos Louis L’Amour se cowboys op ’n perd weg.

Ou bekendes soos Nicholas “die Trol” en sy honde, Argos en Draco, maak saam met ’n paar ander bekende gesigte ’n draai, terwyl die Noorweegse intelligensieoperateur Sølvi Kolstad nie net Harvath se hart steel nie, maar ook ons s’n.

In Thor se vroeë boeke het resensieskrywers gereeld geskryf: “As good as Vince Flynn...” maar deesdae word opkomende skrywers met Brad Thor vergelyk en as jy wonder hoekom – lees Near dark.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top