Deelnemers aan die tweede Week van de Afrikaanse roman bekend

  • 1

Die name van die deelnemende skrywers aan die Week van de Afrikaanse roman 2016 is pas bekend. Ingrid Glorie vertel vir Naomi Meyer van dié fees en wie in 2016 daar te siene sal wees.

Marlene van Niekerk
Etienne van Heerden
Francois Smith
Lien Botha
Simon Bruinders
Karin Hougaard

Hallo Ingrid, wat is en waarom die Week van de Afrikaanse roman?

Die Week van de Afrikaanse roman is bedoel om die Afrikaanse literatuur in die Lae Lande meer bekendheid te gee. Ons het gevind dat daar in die jare ’90 in die Lae Lande ’n geweldige belangstelling vir Afrikaanse literatuur was. Dit het te doen gehad met die einde van apartheid en die opheffing van die kulturele boikot. Skielik is die gordyn weggetrek en kon ons kennismaak met al hierdie uitmuntende skrywers, met ’n ryk literêre tradisie, ’n samelewing wat volop in beweging was én ’n taal wat vertroud en tegelyk ook verrassend en anders was. Maar in later jare het die spesifieke belangstelling vir boeke wat uit Suid-Afrika gekom het, ’n bietjie weggesak, en moes die Afrikaanse literatuur die kompetisie aangaan met ander boeke uit die wêreldliteratuur wat almal hier voor hande is – óf in vertaling, óf in die oorspronklike taal. Nederlanders lees wýd, en dis ook reg. Maar as Werkgroep Afrinetwerk het ons gevoel dit gaan ’n verrykende ondervinding vir almal wees – die lesers sowel as die skrywers – wanneer ons die Afrikaanse skrywers kan bekendstel aan ’n nuwe, breë Nederlandstalige leserspubliek. En dis hoe ons toe begin het met die idee van ’n roadshow, waarby die Afrikaanse skrywers dwarsdeur Nederland en Vlaandere trek om nuwe lesers met hulle werk te laat kennismaak.

Hoe het die vorige Week van de Afrikaanse roman afgeloop? Watter soort terugvoer het jy ontvang, wat was sinvol en wat uitdagend ten opsigte van die totstandbring van hierdie fees?

Ons het oor die algemeen wonderlike terugvoer gekry. Dit was mooi om nuwe mense te laat kennismaak met Afrikaans as ’n taal en met die wonderlike en baie keer aangrypende stories van Suid-Afrika. Op baie plekke het mense amper niks van Suid-Afrika, van Afrikaans of Afrikaanse letterkunde geweet nie, en daar het ’n nuwe wêreld vir hulle oopgegaan. Dan was ons ook gelukkig dat die skrywers wat by die eerste Week betrokke was – Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe en Marita van der Vyver – almal fantastiese storievertellers was, met die gevolg dat mense aan hulle lippe gehang het. Ook die ontmoetinge met vertalers en akademici het baie gedoen om die bande te versterk en die belangstelling vir die Afrikaanse literatuur in die Lae Lande ’n nuwe impuls te gee. En hoewel dit harde werk was – dit het partykeer maar rof gegaan langs die pad – het die skrywers die tien dae in Nederland en Vlaandere gelukkig ook baie geniet, én hulle het saam ’n baie lekker span gevorm. Dit was ook gewoon groot pret!

Wat is tot dusver die planne vir die volgende Week van de Afrikaanse Roman? Gaan die fees voort en, indien wel, wanneer en waar sal dit plaasvind?

Ek het al gedink jy gaan dit nooit vra nie, want daar is groot nuus! Na die sukses van die eerste Week van de Afrikaanse roman het ons besluit om dit ’n tweejaarlikse gebeurtenis te maak. Die volgende Week sal gehou word van 16 tot 25 September 2016. En die name van die vyf deelnemende skrywers is bekend:

  • Lien Botha (’n bekende fotograaf en beeldende kunstenaar wat later vanjaar as romanskrywer debuteer)
  • Simon Bruinders (die bekende akteur, wat in 2014 as ’n romanskrywer gedebuteer het met die aangrypende Die Sideboard)
  • Etienne van Heerden
  • Marlene van Niekerk
  • Francois Smith.

En omdat ons gevind het jy kan in Nederland eintlik geen boekbekendstelling meer hou as daar nie ook kos en/of musiek by is nie, is ons geweldig bly dat die sangeres Karin Hougaard die avontuur saam met ons wil aangaan.

Ek kan dink dat daar vrae is oor hoe so ’n groep saamgestel word, en ’n mens kan seker nooit almal tevrede stel nie. ’n Belangrike afweging is dat jy ’n paar bekende name moet hê, skrywers wie se boeke reeds in Nederlands vertaal is, omdat jy geen mense sal trek wanneer daar nét onbekende name op jou program staan nie. En die boekwinkels moet ook boeke hê om te verkoop om dit vir hulle die moeite werd te maak. Daar is enkele lesers in Nederland, en ’n paar meer in Vlaandere, wat vra vir die oorspronklike Afrikaanse tekste. Maar die meeste lesers soek tog maar vertaalde boeke. So ons is baie dankbaar dat Marlene, Etienne en Francois wil deelneem. Aan die ander kant wil jy ook nie nét vertroude name bring nie, daar moet ook ’n element van verrassing wees, en ons is dan ook trots om Lien en Simon by die Nederlandse en Vlaamse gehore te kan introduseer.

Indien ander Afrikaanstalige skrywers daardie tien dae in September 2016 toevallig in die Lae Lande is en hulle wil by die projek aanhaak, dan is hulle welkom om my te kontak, en ons sal kyk of ons hulle by die program kan betrek.  

Met Lien wat ook ’n beeldende kunstenaar is, Simon wat ook ’n akteur is én die teenwoordigheid van Karin daarby, lyk dit trouens asof dit ’n meer veelkantige projek gaan wees wat die Nederlanders en Vlaminge ’n idee kan gee van die rykdom en diepte van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur. Dit gaan geweldig opwindend wees as ons daarin slaag om aan al hierdie fasette reg te doen. Ons het met die eerste Week, in September 2014, baie geleer. Die uitdaging gaan wees om die projek in September 2016 na ’n volgende vlak te vat.

Wie, waar, hoe – en inligting soos wat dit opduik? Besoek: www.weekvandeafrikaanseroman.nl

www.weekvandeafrikaanseroman.nl

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top