Deelfontein
Nicole Jaekel Strauss
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795802645
Romans waarin die Suid-Afrikaanse Oorlog (oftewel die Anglo-Boereoorlog) tematies figureer, is volop in die Afrikaanse letterkunde. Dié groeiende korpus sluit titels soos Dot Serfontein se Rang in der Staten Rij (1979), Karel Schoeman se Verliesfontein (1998), Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1999), Klaas Steytler se Ons oorlog (2000), PG du Plessis se Fees van die ongenooides (2008), Francois Smith se Kamphoer (2014), Alexander Strachan se Brandwaterkom (2015), asook Ingrid Winterbach se Belemmering (1990), Buller se plan (1999) en Niggie (2002) in. Ook Lien Roux-de Jager se Emma se oorlog (2009) en Jackie Grobler se Op soek na Salomé (2012) speel tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog af. Ek noem doelbewus hierdie (onvolledige) lys titels om te beklemtoon watter traumatiese effek enige oorlog op die menslike psige het en dat dit na meer as ’n eeu steeds naas historiese ook in literêre tekste aan bod kom. Dit is dan ook die geval met Nicole Jaekel Strauss se jongste roman, Deelfontein.
........
Jaekel Strauss is veral bekend as kortverhaalskrywer en het in 2010 met Maal gedebuteer wat met die Eugène Marais-prys en die UJ-debuutprys bekroon is.
........
Jaekel Strauss is veral bekend as kortverhaalskrywer en het in 2010 met Maal gedebuteer wat met die Eugène Marais-prys en die UJ-debuutprys bekroon is. In 2021 het haar debuutroman, Om alleen te gaan, verskyn waarin veral die impak van onder andere historiese asook sosiale faktore op die karakters ondersoek word. In Deelfontein bou die skrywer voort op hierdie temas en vorm die historiese gebeure en die impak daarvan op die karakters ’n belangrike komponent van die narratief.
Die roman bestaan struktureel uit twee dele, alhoewel die gebeure in drie tydvakke verdeel kan word, naamlik die begin van die 20ste eeu, die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu, en die meer onlangse tydperk rondom die Covid-pandemie.
Dr Oliver Glenville reis in Maart 1900 na die Kaapkolonie om aan te sluit by die Imperial Yeomanry Hospital – een van die Britse leër se mees gesofistikeerde veldhospitale geleë op Deelfontein sowat 700 km van Kaapstad af. Tydens sy dienstydperk daar ontmoet hy verskeie interessante karakters, soos die bekende dokter John Hall-Edwards wat beroemd is vir sy pionierswerk ten opsigte van die gebruik van x-strale vir mediese doeleindes, asook die (fiktiewe) vioolspeler Joel Adamstein. Sy paaie kruis ook met dié van Klara Grootboom, ’n skoonmaker by die veldhospitaal. Mettertyd ontwikkel ’n hegte band en liefdesverhouding tussen Oliver en Klara. Klara het egter ’n ongewone versoek wat Oliver se etiese en morele waardes as mediese dokter, maar ook sy liefde vir Klara, op die proef stel. In dié opsig word Oliver se romantiese gevoelens vir Klara die begin van ’n aantal onvoorspelbare gebeurtenisse waarvan die gevolge oor geslagte sal strek.
........
Soortgelyk aan die karakter Joey Drew in PG du Plessis se Fees van die ongenooides het Oliver ’n voorliefde vir fotografie en word talle tonele in en rondom Deelfontein deur die lens van sy splinternuwe Dollar Brownie op film verewig.
........
Soortgelyk aan die karakter Joey Drew in PG du Plessis se Fees van die ongenooides het Oliver ’n voorliefde vir fotografie en word talle tonele in en rondom Deelfontein deur die lens van sy splinternuwe Dollar Brownie op film verewig. Sy liefde vir fotografie asook fotografie as kunsmedium vorm ’n integrale deel van die narratief, aangesien dit in die tweede deel van die roman weer ter sprake kom deur middel van Klarissa se karakter wat ook ’n liefde vir kuns koester. Klarissa onderneem ’n reis terug in die verlede op soek na haar herkoms.
Die tweede deel van die roman fokus onder andere op meer onlangse gebeure soos die Covid-pandemie en die wyse waarop dit menslike interaksie geaffekteer het, maar ook menslike verganklikheid wat talle tot nadenke gestem het. Klarissa se installasie-uitstalling oor Deelfontein en die geskiedkundige gebeure waarvan haar voorsate deel was, word ondersoek te midde van ’n globale pandemie en beurtkrag wat sy as “een kakspul from beginning to end” beskryf.
........
Van Deelfontein na Sjanghai en weer terug na Londen onderneem die karakters ’n reis wat deur middel van ’n sirkelmotief twee karakters bymekaar bring om die trauma van die verlede te verwerk.
........
Op vernuftige wyse bring Jaekel Strauss die verskillende storielyne bymekaar en onderneem Klarissa nie slegs ’n reis op soek na haar familiegeskiedenis nie, maar ontdek sy geheime wat oor landsgrense en eeue heen strek. In dié opsig ondersoek Jaekel Strauss deur middel van die verteller verskeie aspekte van die verlede, insluitend kolonialisme, rassisme, oorlog, politiek, kuns en dwelmverslawing. Van Deelfontein na Sjanghai en weer terug na Londen onderneem die karakters ’n reis wat deur middel van ’n sirkelmotief twee karakters bymekaar bring om die trauma van die verlede te verwerk. Trauma is die belangrikste tema in die roman en vorm die kern van die gebeure oor kontinente en geslagte heen. Die trauma van oorlog, verlies, geweld, skuldgevoel, en die geskiedenis word stelselmatig ontbloot soortgelyk aan Klarissa se fiktiewe installasie-uitstalling gebaseer op die gebeure by Deelfontein tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog.
Die roman in sy geheel bied meer as een vertelperspektief waarin belangrike geskiedkundige gebeure vanuit verskillende invalshoeke bekyk word. Die tydvakke word ook deur middel van taalgebruik (en meer spesifiek taalvariëteit) verwoord, veral by Klarissa. Die onderhoudende narratief word op geloofbare en realistiese wyse aangebied. Jaekel Strauss se feitelike gegewens is deeglik nagevors en op geslaagde wyse met fiktiewe gebeure vervleg. Oliver Glenville en Klara Grootboom se verhaal kan figuurlik gesproke as die verhaal van Suid-Afrika se traumatiese verlede beskou word.
Deelfontein is ’n roman wat ’n unieke bydrae lewer tot die groter korpus fiksie rondom die Suid-Afrikaanse Oorlog. Met hierdie roman vestig Jaekal Strauss haarself stewig as vernuftige romansier. Ten tye van belangrike openbare gesprekke rondom dekolonisering, restitusie en gepolariseerde Suid-Afrikaanse, maar ook internasionale groeperinge, is Deelfontein ’n belangrike roman wat gelees moet word.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss
Om alleen te gaan deur Nicole Jaekel Strauss: ’n LitNet Akademies-resensie-essay