Deelbaarheid van grondwater

  • 0

Boormasjientoring  ter illustrasie | Foto: die skrywer

“The impact of drought can be managed and reduced by appropriate policies and actions.”
Van Zyl, Malherbe en Newby, 2011, p27

Die Kola-boorgat in Rusland is die diepste boorgat op aarde [met soliede staalwande sonder die invoeging van siwwe of dreineringspunte (strainers)] en strek vir 12 262 meter die aardkors in. Daar is in 1970 met die boorproses begin en die doel was suiwer wetenskaplik van aard. Water is op ongeveer 7 km-diepte raakgeboor, en die wetenskaplike hipotese was dat suurstof- en waterstofatome op hierdie diepte onder groot druk saam geforseer word met watermolekules as die eindproduk. In die Russiese volksmond het hierdie boorgat as die “put na die hel” bekend gestaan.

Dit is logies om te verwag dat tydens die huidige droogtekrisis die vraag na boorgate geweldig sal toeneem. Soms gebeur dit ook dat huiseienaars met aktiewe boorgate nalaat om boorgatkennisgewings op hul hekke aan te bring. Die aanbring van boorgatkennisgewings word tog immers deur munisipale regulasies voorgeskryf. Waarom werk sommige boorgat-eienaars nie altyd saam nie? Sielkundige eienaarskap is die oortuiging wat by ’n persoon ontstaan dat ’n bepaalde teiken vir eienaarskap, inderdaad syne is. In so ’n geval is die boorgat dus die teiken van eienaarskap. Dit is ook bekend dat die konstruk sielkundige eienaarskap op ’n skaal van hoog tot laag wissel. Dit mag wees dat ’n boorgat-eienaar met relatief laer sielkundige eienaarskap minder identifiseer met sy besittings omdat dit nie sterk aan sy selfidentiteit gekoppel is nie. Die gevolg is dat die aanbring van kennisgewings doodeenvoudig nie ’n belangrike kwessie vir so ’n boorgat-eienaar is nie.

Eienaars met sterk sielkundige eienaarskap teenoor besittings daarenteen, kan moontlik ’n ander soort reaksie toon soos byvoorbeeld: “Dit is my eiendom en my boorgat, indien ek ’n regulasie oortree is dit my saak, dit is my voorreg om te kan kies of ek ’n kennisgewing wil opsit of nie.” Dit is wel moontlik dat so ’n reaksie op ’n houding van eiegeregtigheid kan dui, met ander woorde ’n inherente en oormatige vertroue in eie oordeel om self te besluit. Dit kom neer op die selftoe-eiening (entitlement) van die reg om plaaslike boorgatregulasies te oortree. Daar behoort natuurlik gewaak te word teen veralgemening. Allerhande variasies op dié tema van sielkundige eienaarskap is moontlik, maar die kwessie skakel wel direk aan by die etiese bewussyn en etiese verantwoordelikhede van boorgat-eienaars.

In aansluiting by hierdie argument skryf Dylan Selterman in die nuutste uitgawe van National Geographic oor die balans tussen individuele gierigheid versus die voordeel/belange van ’n gemeenskap as ’n geheel (greed versus the common good). Hy verwys na Garret Hardin se konsep van die “tragedie van algemenebelang” wat impliseer dat wanneer ’n oorwig individue in terme van hulle eie selfbelange besluite sou neem en daarvolgens optree ten koste van gemeenskaplike belange, so ’n proses katastrofiese gevolge vir die samelewing kan inhou.

Die konflik tussen individuele belange en gemeenskaplike belange is ’n welbekende kwessie. Selterman se terminologie grens egter aan die oordrywing van individualisme deur daarna as “gierigheid” te verwys. Die beginsel kom doodeenvoudig neer op die opweging van individuele behoeftes teenoor gemeenskaplike behoeftes. By die oorweging van die bekendstelling van nuwe tegnologie of ’n nuwe fasiliteit is die eerste belangrike vraag wat gevra word: “Wat is die betekenis van die aanwins vir ons almal?” Hierop volg: “Wat is die betekenis daarvan vir die individu?” Dan volg verdere vrae naamlik: “Is die aanwins versoenbaar met die gemeenskaplike behoefte om die gebruik daarvan te verseker?” Indien die aanwins nie volkome versoenbaar is nie, ontstaan die vraag: “Behoort dit toegelaat te word in die gemeenskap, terwyl die risiko bestaan dat die gemeenskap van tyd tot tyd die nadelige gevolge daarvan kan ervaar, ter wille van akkommodering van die spesiale behoeftes van sekere individue?”

Tydens ’n onlangse gesprek met ’n boorman oor op watter diepte water in daardie omgewing normaalweg gekry word, was die antwoord dat water gewoonlik so tussen 70 en 100 meter in die granietrots raakgeboor word. So ’n boorgat kan so in die omgewing van R100 000 kos, afhangende van die diepte en indien die pompe en bykomstige toerusting bygereken word. Die boorman noem verder dat ongeveer 600 boormasjiene in Suid-Afrika elke dag aktief besig is om vir water te boor. Indien ’n mens sou redeneer dat 400 suksesvolle gate geboor word elke twee tot vier dae, dan is dit ’n groot getal nuwe boorgate wat jaarliks by die bestaande totaal gevoeg word. Die boorman weet egter nie presies hoeveel boorgate in totaal reeds in Suid-Afrika gesink is nie. Daar bestaan spesifieke regulasies oor die boor van boorgate en die regulasies verskil vir boorgate op plase en munisipale areas. Die hopies grond wat in netjiese rytjies op die sypaadjie lê (sien foto hier onder) is grondmonsters wat elke paar meter geneem word van die rotsskerwe wat tydens die boorproses uitgeblaas word. Die bruin hopies is gruis (maw ongekonsolideerde en verweerde rots), die bloues is graniet (vaste rots of bank) en dan die hopies modder (die struktuur of verskuiwing) wat die diepte aandui waarop water raakgeboor is. ’n Boorgat wat in sekere soorte ondergrondse rotsstrukture gesink word kan problematies wees weens die ontwatering van rotsopeninge en grotte. Die onbekende aard van die ondergrondse watervloei en die vibrasies van die boorproses kan dalk barste en krake in huise se mure en strukture veroorsaak. Die werklike effek van die ontginning van water sal eers gesien word lank nadat die boorgat geboor is. In so ’n geval kan die boorgat met sement opgevul word om die toevoer van water vanaf die boorgat af te sny, en die verdere implikasies is die eienaar se verantwoordelikheid.

Boorgatgrondmonsters ter illustrasie | Foto: die skrywer

Indien elke inwoner van ’n bepaalde dorp elkeen ’n eie boorgat op sy erf sou laat boor, dan gaan dit waarskynlik op ’n topografiese kaart lyk soos ’n deeglik geprikte makataanskil. Wat gaan die gevolge wees indien barste in die rotsformasies ondergronds ontstaan en sodoende omstandighede vir aardskuddings en insinkings skep? Wat die effek op die beskikbare ondergrondse waterbron sal wees, bly ’n ope vraag. Sal baie ou en groot bome met diep wortelstelsels nie dalk doodgaan nie? Wat sou die mikrobiologiese kwaliteit en die risiko vir gekontamineerde water (parasiete of selfs e-coli) wees? Souterige water kan mos ook hipertensie veroorsaak.

Betroubare verslae deur NASA en die Wêreldbank dui daarop dat die oormatige uitpomp van grondwater aanleiding gegee het tot ernstige grondinsakkings in stede soos Jakarta sowel as die San Joaquin-distrik in Kalifornië. Laasgenoemde het reeds 8,5 meter sedert 1920 gesak.

Dit is dalk ’n goeie oplossing indien bure boorgatwater deel, want wie se water vloei nou eintlik in ’n boorgat op? Water is na regte ’n nasionale bate. As water gedeel word sal die etiese beginsel van medemenslikheid en mededeelsaamheid in ons samelewing bevorder word. Dalk sal gevoelens van eensaamheid en isolasie ook afplat, want bure sal nou verplig word om oor die verdeling van die water te praat en op dié wyse word interpersoonlike kommunikasie bevorder. Daar word beweer dat derduisende Londenaars deesdae uiters eensaam is en nog nooit hulle bure ontmoet het nie. Nasionale statistiek toon aan dat 2,4 miljoen Britte aan kroniese eensaamheid lei. Indien dit daar só gaan kan baie van ons mense ook mos geïsoleerd voel.

Die vryemarkbeginsels werk natuurlik so dat dié wat vermoënd genoeg is hulself kan uitkoop uit die waterbeperkings, terwyl die res hul waterverbruik moet verminder. Dit is ook welbekend en prysenswaardig dat bure op verskeie dorpe en plase reeds boorgatwater deel tot die wedersydse voordeel van die verskillende partye wat betrokke is. Sommige verdeel die totale koste tussen hulle, maar daar is ook gevalle bekend waar boorgat-eienaars ten spyte van die koste aangegaan, aangebied het om water met die aanliggende bure te deel. Dit is werklik innoverende en gewaardeerde idees, maar sal boorgat-eiegeregtigheid en boorgatmededeelsaamheid oor die langtermyn werklik versoenbare en volhoubare bedmaats word in die alledaagse lewe? Dit is moontlik dat die algemenebelange-beginsel makliker laer af op die welvaartspiraal toepasbaar is as hoër op. Die netelige kwessie hier gaan ook nie noodwendig net oor die getal boorgate in ’n bepaalde gemeenskap nie. Dit gaan oor die langtermyneffekte van grondwater-onttrekking deur boorgate op die deurlopende beskikbaarheid en kwaliteit van grondwater in daardie gemeenskap.

Die argument kom dus op die “common good”-kwessie neer, wat verreken en doeltreffend aangespreek behoort te word. Die kern van die saak verwys direk na die risiko’s en nadelige gevolge wat die oorbenutting van grondwater vir die breë gemeenskap inhou, ter wille van die akkommodering van die spesiale behoeftes van individue. Dit is waarskynlik ’n aangeleentheid waaroor verdere navorsing gedoen kan word met aksie-stappe wat aansluit by bestaande prosedures om die impak van die droogte doeltreffend te bestuur en verminder.

Bronne

Callahan D,  2003. Individual good and common good: a communitarian approach to bioethics. Perspectives in Biology and Medicine, 46(4), 496–507.

Kings S, 2016. South Africa’s borehole crisis. Mail & Guardian. https://mg.co.za/article/2016-02-04-borehole-crisis-this-is-not-a-drill (18 April 2018 geraadpleeg).

Lötter C, privaat praktiserende geofisikus en geohidroloog, Stellenbosch. Persoonlike kommunikasie, 24/4/2018.

Paundra, J,  L Rook, J van Dalen en W Ketter.2017. Preferences for car sharing services: Effects of instrumental attributes and psychological ownership. Journal of Environmental Psychology, 53, November, 121-130.

Richardson, PE. 2016. Hunting the Kola superdeep borehole. Russian Life, Mei/Junie, 40–44. http://web.b.ebscohost.com.ez.sun.ac.za/ehost/pdfviewer/pdfviewer?vid=4&sid=0d6a83a8-2f25-420c-91c8-6b99b0b825c4%40pdc-v-sessmgr01 (22 April 2018 geraadpleeg).

Selterman, D. 2018. Greed versus the common good. National Geographic, 233(6), 15–18.

The National Academics of Sciences, Engineering and Medicine. Stability, failure and measurements of boreholes and other circular openings. Chapter: Conclusions. Washington: NAS. https://nap.edu/read/9177/chapter/8#74 (18 April 2018 geraadpleeg)

Van Zyl, D,   J Malherbe en TS Newby. 2011. Living with drought. Adaptation, alleviation and monitoring, pp 26–36 in HL Zietsman (Red). 2011. Observations on environmental change in South Africa. Stellenbosch: Sun Press.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top