
Woordspel is Deborah Steinmair se werk en sy hou nie van wiskunde nie. Maar onlangs moes sy leer om haar woorde te tel.
Sy vertel vir Naomi Meyer van kykNET se realiteitsreeks Spieëlbeeld, waarvoor sy die oorbruggingsteks geskryf het.
Asseblief begin voor. Ek herfraseer: begin héél voor. Wanneer het alles vir jou begin?
Alles het begin toe ek baie klein en stapelgek oor letters en woorde was.
Boeke was my vriende, dit het ek aangevoel voor ek nog kon lees.
Ek het om die hoek weggekruip wanneer my tweelingboeties, wat twee jaar ouer as ek is, hulle lesse moes lees by die kombuistafel. Ek mag nie bygesit het nie, want spoedig het ek die lessies uit my kop geken en hulle reggehelp wanneer hulle vashaak, tot groot verontwaardiging van die seuns. Hulle het hul skoolboeke vir my weggesteek, maar daar was darem baie boeke in die huis.
Ek het my ma en pa gedwing om my te leer lees deur aanhoudend te vra hoe ’n mens elke letter sê, tot ek uithangborde, koerante en al wat Afrikaanse geskrif is, kon uitpluis. Wanneer daar ’n diftong was, het ek glo gehuil van frustrasie omdat dit nie reg wou uitspreek nie, tot ek dit ook onder die knie gekry het. Teen die tyd dat ek skool toe is, het ek al baie kinderboeke gelees, die gunstelinge soveel keer dat ek hulle kon voordra.
Vir die eerste twee maande van Graad een het ek amper ononderbroke gehuil, want my sosiale vaardighede was nul, die kinders het nie vir my lekker geruik nie, hulle het te hard gepraat, die neonligte was te skel en alles te lawaaierig en oorweldigend. Ek wou net alleen by die huis wees met my boeke en legkaarte. Ek dink my pa het vir die juffrou gefluister ek kan lees, en sy het gevra dat ek vir die klas ’n kinderboek voorlees. Dit het my vir ’n rukkie laat ophou grens. Sy het my toe na elke klas in die skool gevat om af te show. Ek onthou sy het gesê sy kan nie glo ek kan sulke groot woorde lees nie, en ek het by myself gedink: "Ha, groot is mos makliker om te sien as klein!" (ek was bysiende ook nog). In graad een het ek myself leer Engels lees ook – wat uiters frustrerend was omdat dit nie foneties is nie, maar algaande vlot dit wel. Toe raak ek verlief op Engels en stort regdeur my jeug net in Engels my hart op papier uit, tot ek by LitNet beland het en respek vir Afrikaanse skrywers gekry het.
En kykNET, toe is daar Spieëlbeeld. Wie het die konsep uitgedink en wat is dit?
Ek moet jou vertel van my vriend Jan Groenewald.
![]() |
|
Jan Groenewald
|
Hy is ’n nasaat van Paul Kruger en trek met die jare effens op sy voorsaat. Hy is oneindig kreatief en het altyd ’n skema, ’n projek en ’n storie. Hy en sy partner, Pieter de Vos, is dokumentêre rolprentmakers met ’n produksiemaatskappy, onder andere. Hy het die idee vir Spieëlbeeld aan kykNET gepitch: iets tussen werklikheidsdrama en kunsfliek, waar ses gewone mense se lewens gevolg word, met onderhoude en beeldmateriaal, maar ook nabetragting, besinning, met ’n liriese inslag, en hulle het dit gekoop. Hy sou aanvanklik die teks skryf en hy het besluit watter "storielyne" om te volg, maar vra my toe of ek teksskrywer sal wees. Ons koppe werk baie dieselfde.
Dis nogal ’n uitdaging om woorde vir beeldmateriaal te vind. Daar was aanvanklik heelwat probleme, aangesien die opdraggewende regisseur van kykNET nie ons visie gedeel het nie; sy dink meer in rand en sent en kykergetalle en is goud werd vir kykNET. Sy het gereeld vir my gesê, min of meer: "DOWN GIRL!", want ek en Jan raak graag poëties en diep en sy glo kykers wil bloot reality sien. Nou ja, hy is nogal hardkoppig en die projek het soms ’n bietjie in die turfgrond vasgesit. Toe kry ons ’n ander opdraggewende regisseur, Marida Swanepoel, met wie ons heerlik saamwerk. Dit sou vroeg in Januarie uitgesaai word, maar weens ’n hikkerigheid hier en daar word dit nou effens later gewys; ons wag nog vir die finale datum. Ek dink dit is iets heeltemal anders as die gewone kykspyskaart.
Dis fassinerend om te sien hoe dit gemix en die klank opgeneem word, uitdagend om in 'n span te werk, per voorskrif, en dan is daar nog 'n opdraggewende redakteur van kykNET wat insette lewer. Dis 'n gedurige gekoukus en geskaaf, maar interessant. Dis amper soos kopieskryf: 'n mens moenie te digterlik en liries raak nie, jy is bloot 'n woordsmid.
Wie is die akteurs – en is hulle akteurs, of wat behels die realiteitsdrama-aspek?
Die rolspelers – ’n mens moet hulle seker nie akteurs noem nie, want hulle is hulself en die kamera volg hulle – is Erik Holm, Angelique Pretorius, Marie Human, Melanie Gird-Le Roux, Amber Swartz en Carel-Pieter du Preez. Drie van hulle (die eerste drie genoem) is toevallig akteurs, onder andere. Melanie het ’n hartoorplanting gehad en lei nou ’n normale lewe, Amber glo hy is in die verkeerde lyf gebore, dra rokkies en wil gospel sing, Carel Pieter was ’n model, nou in sy vroeg-veertigs en is 'n entrepreneur met ’n kop vol planne.
Vanaf die Spieëlbeeld se Facebook-blad vir foto’s van die rolspelers.
Hier is die ses mense wie se lewens ons in Spieëlbeeld volg:






Half-realiteitsdrama. Dit klink soos Facebook, die plek waar ons almal mekaar se realiteitswitleuens glo. Of hoe is Spieëlbeeld anders?
Jy is so reg dat dit soos Facebook is, want wie kan nou natuurlik wees met die hele land en dele van die wêreld se oë op hulle? Die beste voetjie word maar voorgesit. En tog, soms, in weggooi-oomblikke, betrap die kamera en die onderhoudvoerder mense weerloos en hang ’n onderrok of ’n edelheid uit wat eg oorkom.

Jy skryf normaalweg boeke. Hoe visueel dink jy gewoonlik – of kom die woorde voor die prente by jou op?
Interessante vraag. Die hoender of die eier. Dis so moeilik om te weet. Ek dink hulle daag gewoonlik min of meer tegelyk by my op, die woorde en beelde. Maar nou sit ek met iemand anders se prente en ek moet woorde bydra. Makliker, maar ook meer beperkend.

Jy is ook lief vir mosaïek (van Facebook gepraat). Dus is dit reeds bekend dat jy visueel werk. Is dit anders om met iets konkreet (veelkleurige glas) te werk as met iets wat heeltemal verwyder is van die visuele (die ouditiewe simbole wat woorde is)?
Weer ’n uitklophou, om die kuns af te vra. ’n Vraag wat my laat kopkrap en my kop oopklap. Ek dink as ’n mens woorde liefhet, is hulle visueel, drie-dimensioneel, tasbaar, vol tekstuur, soos stukkies gekleurde glas. Ek het soms koorsdrome dat ’n enkele drie-dimensionele woord swel en al hoe groter word en die hele wêreld platdruk, dit kan enige woord wees. Ek speel graag Scrabble en doen altyd daardie woordraaisel in The Star waar jy ’n 9-letter-woord in geskommelde letters moet raaksien. Ek sien dit gewoonlik amper onmiddellik, die letters begin dans en val in ’n ry, dis magies.
Dis alles soos speel, soos droom as jy wakker is. Woorde is boublokke, net syfers laat my koud.

Maar om weg te beweeg van beeld en terug na die woord. Om vir televisie te skryf, vertel jy my, is meer soos kopieskryf. Vertel asseblief meer van jou ervaring: die voor- en nadele, die eb en vloed.
Om vir TV te skryf is soos kopieskryf in die sin dat dit minder kreatief is, dis eerder ’n vaardigheid, soos handwerk: jy moet bitter knap wees, maar jy is ’n woordsmid, ’n woord-mechanic. Jy moenie skiem jy’s ’n digter nie, hoor. Jou werk moet nommerpas wees, dit moenie uitstaan of aandag op sigself trek nie. Dit moet doelgerig wees, vaartbelyn en asof vanselfsprekend. Maak dit sin? Dis ook soos kopieskryf in die sin dat ’n mens ’n baie dik vel benodig: jy moenie precious wees nie, dit gaan nie oor jou skepping nie, maar oor die geheel. Nes jy uitermatig trots voel op iets, is daar iemand wat sê: hmmm, dink nog ’n bietjie, jy is amper daar … Jy is deel van ’n span, jy is ’n ratjie in die masjien. Dis so anders as tuis voor jou rekenaar, waar jy koning kraai en die toutjies trek, al boelie die karakters jou ook maar redelik, soos jy weet. Dit was vir my baie nuut om saam met ’n span voor ’n monitor te sit, na beelde te kyk, te sien hoe mense dit sny en meng en rangskik, en saam met die span te besluit watter voiceover benodig word vir die en daardie toneel. Dis nederigmakend. En om dan te sien hoe jou teks ingespan word: hoe dit trou met die beeldmateriaal, om te hoor hoe dit glad en met gevoel voorgelees word deur Richard van der Westhuizen: dit klink onmiddellik professioneel en vol gravitas.
Gestel mense wil in Januarie 2015 televisie kyk, speel-speel die krag is aan. Wat kan hulle verwag om tydens 'n episode van Spieëlbeeld te sien?
Tydens ’n episode van Spieëlbeeld gaan die kyker om die beurt grepe uit elk van die ses persone se lewens sien. Elkeen het ’n droom, ’n brandende begeerte: om weer te kan loop, om ’n baba te kry, om Hollywood te verower, om nooit op te hou reis nie, om ’n sakemagnaat te word, om armoede af te skud en ’n gospeldiva te wees. Daar is eindelose struikelblokke en die lewe pootjie hulle gedurig. En soms is daar vir ’n oomblik of wat van verwesenliking. Dis bittersoet en meesleurend, as jy my vra. Die reeks is sestien episodes en is oor ’n paar jaar geskiet.

Spieëlbeeld word vroeg in 2015 op kykNET uitgesaai. Hou die Spieëlbeeld-Facebookwerf dop vir inligting.
Foto's verskaf of met toestemming afkomstig uit Deborah Steinmair se Facebookalbums.
Moestas, Deborah se jongste roman wat op Die neus en Wenkbrou volg, verskyn in 2015.


