Hello Kobus,
Baie dankie vir hierdie reaksie van jou kant af. Baie dankie vir hierdie reaksie van jou kant af.
Dit het my weemoedig gelaat en laat besef dalk bring debat werklik die slegste in ons uit en dat die aanhoudende debatvoering sonder insig tot die ander mens se bestaan in werklikheid die kloof tussen die deelnemers vergroot en hoe die uitdaging om te versoen as mense en tog die verskille te behou dalk onmoontlik is.
Maar die insigte uit jou skrywe word ter harte geneem en sal saamgedra word in die toekoms.
In my bestaan is dit sonder twyfel my ontmoeting en interaksie met jou via die internet wat ‘n daadwerklike verandering in my gemoed oor Godsdiens bewerkstellig het. Indien dit nie vir hierdie ontmoeting was nie dan sou my ateïsme nog rigied gewees het soos dit was in die begin toe ek hier begin het en ook voor dit toe ek die onderwerp tot vervelens debatteer het op Rapport se webwerf.
Maar die gesprekke hier met jou het my laat stop en weer laat wonder oor wat dit is wat die gelowige aan glo en ook so omrede dit nie altyd moontlik was om hierdie debatte met my gelowige pa te kon voer nie het ek het uitlating vir dit hier gekry en dan spesifiek met jou.
Soveel so dat ek huidiglik nie kan sien wat die werklike argument teen die bestaan van God kan wees nie. Evolusie, kosmologie, geskiedenis en vele ander dissiplines beskryf ‘n werklikheid en het nie as uiteindelike doelwit ‘n uitspraak oor die werklikheid van God nie en kan dit nie werklik aangevoer word dat dit die nie-bestaan van God bewys nie alhoewel dit stil is oor die onderwerp.
Die geloof in God kan dan soos volg opgesom word. “Dit word nie van my verlang dat ek in God glo nie, ek weet God bestaan, dit is hoe ek voel, daarom glo en weet ek sonder enige twyfel”.
Daardie temperament kan nie met argumente die hoof gebied word nie en nog meer so wanneer dit as ‘n redelike moontlikheid in my eie gemoed ook ervaar word.
Ek kan dus verstaan hoe dit moontlik is om God te ervaar, die emosionele aspek daarvan en nie die eindlose pogings om dit te probeer bewys nie aangesien die struikelblok van “intellektualisme” deur Henn voorheen teen my geopper is.
Ja, ek sien hoe dit moontlik is om in God te glo met Jesus as die weg. Daardie sin sou jy soveel beter kon skryf.
Baie dankie ook vir die takt getoon met die keuses van jou woorde, “gekose lewenstyl en geestesstyl”.
Dit was baie goed gekies en dankie daarvoor.
Nogmaals baie dankie vir die hele siklus van briewe en is dit jammer dat daar soveel persoonlike detail weer moes bespreek word op ‘n forum wat eintlik oor idees en argumente oor die stand van die werklikheid te behoort gaan.
Dit is seker maar wat elke deelnemer vir hom of haar moet uitklaar is dit beter om in stilte te lees weg van die forum af, wat ek gedoen het onlangs en te los om dit te bespreek op ‘n forum wat die ruimte skep vir sulke gesprekke maar verval in eindlose persoonlike aanvalle.
Hoe om debat los te maak van die persoonlike, wanneer die argumente so nou verweef is met die uitdrukking van die persoon se wese is die uitdaging en een waarvoor ek nie ‘n oplossing het.
Dankie dat ek en jy kon verskil maar tog ‘n vrede met mekaar kon bereik het.
Ek is opreg dankbaar daarvoor.
Baie dankie
Wouter.

