Die jong Stellenbosse rockgroep De Wallen het pas ’n nuwe enkelsnit vrygestel. Jeandré Swanepoel, voorsanger, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jeandré. Hoe’s dinge?

Hi Henry! Dit gaan goed! Dit raak nou koud hier in Stellies. Ek sien uit na ’n luilekker dag. Ons het nou twee weke af voor ons weer geraas maak. Ek gaan die geleentheid vat om bietjie te skryf.
Julle pas-vrygestelde enkelsnit, “Heart Rate Rocker”, lóóp behoorlik op die sosiale netwerke. Wel gedaan, dis ’n befokte track, lekker vuil en kliphard (en, as ’n side note, cool dat julle die local flavour behou deur na Stellenbosch te verwys in die lyrics en nie Detroit of LA of wat ook al nie). Wat was jul gedagtegang daarrondom om hierdie track nou vry te stel, pleks van te bou aan ’n volgende album of EP, veral aangesien jul debuutalbum so onlangs as verlede jaar vrygestel is?
Hahahaha! Ons hou daarvan om te skryf oor mense wat ons ontmoet en plekke waar ons speel. Stellenbosch beteken baie vir ons en mens kan nooit genoeg kry van die beeldskone dames nie. Die werk was my manier om vir Stellenbosch dankie te sê vir twee fantastiese jare. Jong, ons is ’n klomp arm studente. (Wel, Dawid wat nog swot, is. Die res het ongelukkig nie klaar gemaak nie en is tans besig om te werk.) Ons het nie nou die finansies gehad om ’n EP vry te stel nie en ons moes ook eers kyk of die mense van ons nuwe klank gaan hou. Ons het nou gesien dit werk en sal oor die volgende twee maande nog drie enkelsnitte vrystel. Ons wil nie onsself beperk op die oomblik nie. Wie weet? Dalk raak dit selfs ’n volgende album. Ons wil hierdie tyd gebruik om te eksperimenteer.
Gepraat van daai local flavour ding … Die plaaslike bedryf is ’n moeilike een om sommer net binne te stap – veral as jy Engelse rock doen, raak dit nogal mededingend. Wat is jou gevoel hieroor? Hoe benader julle opnames en live shows om dit oorspronklik te hou en onmiddellik ’n indruk te maak?
Ons hou van waarvandaan ons kom, so ons sing baie daaroor. Ons fokus baie op om dinge vars en oorspronklik te hou. Wanneer ons speel, wil ons hê almal moet wegloop met 'n glimlag en glo in hul hart dat rock ’n roll, alhoewel dit sy goue era gehad het, nog ver van irrelevant is. Ons kyk na wat ons helde doen en pas dit aan om ons gehoor te oortuig.
Die Engelse ding dink ons nie te veel oor nie. Dit is verskriklik moeilik vir ons om in Afrikaans te skryf. Toe die eerste lirieke natuurlik kom in Engels, het ons daarmee gehardloop!
Ek sien op Facebook julle beskryf jul styl as “Old school rock & roll”. Dis natuurlik nogal breed … maar daar’s ’n bepaalde oplewing in die soort musiek wat julle maak, wêreldwyd (Rival Sons, byvoorbeeld, wat vanjaar by Oppikoppi speel) en plaaslik, met ouens soos The Black Cat Bones wat die land platspeel. Waaraan is hierdie oplewing te danke? Waar kom julle liefde daarvoor vandaan, en hoe probeer julle dit op jul eie manier herinterpreteer?
Vir my kom dit uit angs – die gedagte dat rockmusiek eendag gaan uitsterf. Ons het grootgeword met Deep Purple, Led Zeppelin, Def Leppard en Black Sabbath. Die wêreld lewer nie meer bands met daardie klank op nie. Ons kort nuwe bands om in te glo. Al ons jong klomp wat ’n generasie laat gebore is. Ons voordeel is ons kan die old school smelt met nuwe idees om ons unieke klank te vorm en die musiek relevant te hou.
As mens hard genoeg soek, vind mens nog skatte soos The Darkness, Rival Sons, Foxy Schazam en Eagles of Death Metal. Plaaslik, Black Cat Bones, Van Coke Kartel, Fokof, Dead Lucky, The Ballistics ... Die lys is huge! Die dag wat ons besluit het om ’n rock band te begin het ons ook ’n ooreenkoms met mekaar aangegaan: ons sal dit doen tot die dag wat ons nie meer kan nie. Ek glo ons almal wat nog kopskud- en gatswaai-musiek maak, staan vir meer as net ouens wat in ’n band speel.
De Wallen is in Stellenbosch gebaseer ... daardie dorp het al geboorte gegee aan baie groot acts (die Seattle van Suid-Afrika, sê hulle mos), maar ook baie bands wat kort geleef het. Hoe is die scene daar deesdae in terme van diversiteit en gehalte, en hoe pas julle daar in? Hoe verskil dit van die res van die land?
Dit is baie lekker. Ons is ’n hele paar bands wat baie goeie vriende is en dit was nie daar gewees twee jaar terug nie. Almal het so half sy eie ding gedoen. Ons het bymekaar gekom en vasgestel geen band kan dit op sy eie "maak" nie. Tussen ons en Loveglove Pyrotechnics, Heroin, 3rd World Spectator, The Ballistics en vele meer het ons iets spesiaal gekry. Ons almal ondersteun mekaar se shows, alhoewel die musiek radikaal van mekaar verskil. Stellenbosch het nie ’n scene wat gebind is aan ’n bepaalde genre nie. Dit is ’n moerse familie-vaaib. Ek is baie bly, want ons was baie "starstruck" toe ons begin het. Die ou wat ek op ’n LMG poster in my kamer het, is nou my beste vriend. Ek dink ook De Wallen was op die regte plek op die regte tyd. Ons party rock vaaib en cartoon image inspireer hopelik eendag die volgende "new kids on the block"! Dit is wat Van Coke Kartel vir ons gedoen het.
Ek verneem tussen die band-lede het julle ’n hele paar musiekkwalifikasies en nogal baie opleiding – dit is nie alledaags nie – wat is die besonderhede daarvan? Watter rol speel hierdie opleiding in dit wat julle onderskeidelik en saam as band voortbring? Vind enige van julle dit moeilik om afstand te doen van “korrek” speel en net nat te gooi soos die gees lei?
Dit help baie met die skryfproses, maar ’n band sal altyd net so sterk wees soos sy swakste link. Vir ons gaan dit om die ou langs jou te laat cool lyk. Wees ’n "slave to the song". Dit sukkel soms, hahahaha. Dawid (drums) en Thomas (lead guitar) is die twee ouens wat baie sterk is. Hulle is meesters van hulle instrumente en pynlik netjies in hulle spel. Ek, Piet en Brandon is die manne wat die "vuil" klank na vore bring. Ons het gelukkig ’n sisteem gevind wat werk. Jy kort so bietjie van als!
Dis gewoonlik bietjie flou om vir ’n band te vra waar hul naam vandaan kom, maar in julle geval is dit geregverdig – veral aangesien julle op websites en Facebook duidelik stel dis die band De Wallen wat hier ter sprake is. So, wat is die storie daar?
Ek is in Nederland gebore en het gedink dit kan vars wees om iets daarvan af te vat. Ek het raakgelees dat die straat wat deur die rooiligdistrik loop, De Wallen is. Dit is gepas. Ek meen, wat is meer rock ’n roll as dit? Dit is ook waarvandaan die rooi baadjie kom.
De Wallen is nog nie lank op die toneel nie, maar watter hoogtepunte en laagtepunte het julle tot dusver beleef? Om Aandklas se Battle of the Bands te wen moes nogal ’n tree vorentoe gewees het, of hoe voel julle nou daaroor?
Hoogtepunte sal definitief wees RAMFest en die Aandklas Battle. Dit is dinge wat ons laat besef dat dit wat ons doen, werk, en dryf om aan te hou. Ek dink ons laagtepunt is die feit dat ons nog nie voltyds musiek kan maak nie, maar then again, wie kán nou eintlik van die plaaslike bands? Dit sal kom as dit kom. Ons werk maar net hard en maak seker ons gebruik elke geleentheid.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir De Wallen in?
In die verre toekoms? Who knows. Hopelik sit ons saam met die res van die cats wat so hard werk in die Stellenbosch scene on top of the mountain met ’n whiskey in die hand.
Ons beplan nou aan ons volgende paar toere en werk aan ’n musiekvideo vir "Heart Rate". Hopelik iewers maak ons naam en dan gesels ons weer, Henry! Vir nou fokus ons om elke ding voluit te doen. Ons moet ons musiek versprei en ons boodskap uit Stellenbosch kry. Alles gee by elke show en laat die mense weer glo in iets so na aan ons hart. Laat hulle weer glo in sex, drugs and rock ’n roll.
Wat is die sin van die lewe?
Koos du Plessis sê mos: "Leef holderstebolder, want die kis wag op die solder ..." Die sin van die lewe is om te lewe vir die mense om jou. Vir daai oomblik wanneer jou siel se glasie vol loop van vreugde. Wat anders het ons? Eendag wanneer ek in daardie graf lê, wil ek kan terug dink en kan sê dit was glad nie te kak nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Guys Im loving the tracks...you need to get a cd to me for my show
http://madbrad.podbean.com
PO BOX 630
PLETTENBERG BAY
6600
SOUTH AFRICA