
Dans met die malmokkie
Vandag is die see ontsteld. Net soos sersant Trevor Fortuin se gemoed. Een moontlike body; vier moontlike suspects. En wie de fok het Mercia mee seks gehad?! Sy gedagtes wroeg.
Dit het alles begin met daai lastige dokter van Pretoria. So twee maande terug het sy en haar man ’n romantic stroll op die beach gehad. Die vrou kry dit toe in haar kop om ’n stuk been op te tel. Terug by die huis kyk sy in haar boeke en sien dat die beendere te veel na ’n human-rugwerwel lyk. Sy vat dit opsluit polisie toe en siedaar, ’n week gelede loop die email. DNA bevestig dit as dié van ene Roberto Carlos Apollis, bekende criminal vannie Kaap. 10 jaar gesit in Malmesbury-jail en nou net ’n stukkie been by die lab.
Springbok se kaptein Nortje het op die Port neergedaal en vuurgemaak hier by die stasie. Trevor het nog nooit so gewoel nie. Selfs nie toe daai diamant sy verskyning hier by die cop shop gemaak het nie. Ook opgetel op die strand deur ’n kind wat met vakansie was. Maar dit is ’n storie vir ’n ander dag.
Vir wie het Roberto, beter bekend as Rob, afgepis? Want dat hy sy vingers in baie paais gehad het, is nou eenmaal nie ’n pap snoek nie. Sy lysie van verdagtes het vinnig gekrimp toe hulle die data vanaf Roberto se foon getrek het. Hy het oproepe gehad op 2 November 2020 en is sedert daardie dag nog nooit weer gesien nie. Dit was ses maande terug.
Die eerste oproep was aan Annabelle Maree. Sy is die owner van Wi-Fi Delights, die local internet en coffee café, en Trevor sit tans en observasie hou by haar huis. Sover was daar nog net ’n klomp parcels wat The Courier Guy kom aflewer het. Trevor beplan om haar in te roep vir ondervraging, maar hy wil eers bietjie die lay of her land kry.
Observation is ’n helse boring job. Helse boring. Vandag is geen uitsondering nie. Die malmokkie het ook sterk in die dorp kom lê en dit maak alles net nog erger. Sy gedagtes is ook nie op die job nie. Daai verdomde gebruikte kondoom wat hy in Mercia se badkamer gesien het, het sy moer sommer nou in die rooi gestuur.
Mercia Malgas. Dit is nou al ses jaar wat hulle ’n aan-af-verhouding het. Alles het begin toe sy deur sy bevelvoerder gewerf is as ’n informant. As die enigste massage therapist in Port Nolloth, confess mense maklik hul sondes onder haar soepel vingers. Niemand weet van hulle twee nie; dit sal die hele informant-besigheid helemal uit die water skiet.
Hy skrik wakker uit sy gedagtegang en sien die son sit al hoog. Tyd om terug te gaan charge office toe. Dirkie kom hom sien. Hy was die tweede oproep op Rob se foon. Hul het ’n hele 32 minute gepraat. Dirk Snyman is die jong man wat al die strange art works elke maand by die ATKV-basaar verkoop. Sulke moon landscapes. Apparently het Dirkie se pa baie geld en is die siel in die dorp om homself te vind. Sover het hy nog net vir Romalia Davis gevind. Hul hang gereeld soos twee verliefde albatrosse by die hotel uit. Dirkie is vegan en eet altyd net ’n bord chips.
Terug by die stasie sit Dirkie al en wag vir hom.
“Middag, sersant Trevor, ek het vir jou ’n painting gebring. Ek sien jou kantoor lyk so valerig.”
“Hmm, dankie, meneer Snyman. Ek wil sommer met die deur in die huis val. Ken jy ’n Roberto Apollis?”
Trevor hou Dirkie fyn dop. Hy sien dat daar by die verdagte rooi gloed opkruip in sy keel.
“Nee, Sersant, nog nooit van hom gehoor nie.”
“Kom nou, meneer Snyman, ons albei weet dit is nie waar nie. Sal ons nou nie mekaar se tyd hier mors nie. Dalk ken jy hom beter as Rob?”
Dirkie skuif ongemaklik op die houtstoel rond. Hy vee heeltyd sy lang swart kuif uit sy oë, wat dan maar net weer soos ’n nat makou terugval.
“Waar was jy 2 November verlede jaar? En waaroor het jy 32 minute lank met Robert om 10:43 gepraat?”
“Oh, Rob, hoekom sê jy nie so nie, Sarge? Ja, ek en Rob het gepraat; hy wou van my kuns koop.”
“Watse nonsense praat jy nou, Dirk Snyman? Roberto Apollis het absoluut geen kunshaar op sy kop nie!”
“Nee, Sarge, dit was vir sy meisie wat hy ’n ietsie wou koop.”
“Hmm ... Ek is nie so seker daaroor nie. Maar kom ek sê ek glo jou vir nou.”
“Sarge, natuurlik sal ek nie vir jou lieg nie. In elk geval, ek was by my terapeut in Springbok. Jy kan met haar check. Vat my meeste van die dag om soontoe en terug te ry en dan het ek ’n uur se sessie met haar.”
“Okay, Dirk, ons praat binnekort weer.”
Trevor ry stadig huis toe. Sal hy nou vir Mercia confront oor daai bliksemse kondoom of net ’n tracker op haar kar sit? Miskien ’n hidden camera in haar huis? Hulle het nog nooit hul relationship official gemaak nie. Maar donner, hy het nog altyd gedink hulle is exclusive! Hy is so in gedagte dat hy amper in Albertus Brink vasry. Hy ry met sy wit trokkie al die pad van Springbok af om windscreens te repair.
Die Windskerm Man is ’n familiebesigheid wat Albertus by sy pa oorgeërf het. Hy was nooit invested nie, maar het met sy gat in die botter geval en ploeter nou voort met die minste moeite.
Albertus waai sy vinger by die venster uit en skree ’n paar skelwoorde.
“Ja, fok jou ook!” snou Trevor terug.
Op die ingewing van die oomblik draai hy om en besluit om agter Albertus aan te ry. Hy is per slot van rekening ook op die lysie. As oproep nommer 3, sal dit gaaf wees om te weet waar die knaap hom op daardie dag bevind het.
Trevor besef met ’n skok dat Albertus by Mercia se straat afdraai en dat hy nou ’n beeline vir haar huis maak. Wat de bleddie fok! Is hy die fokken bliksem wie se kondoom hy in die badkamer-dustbin gekry het?
Trevor behou sy teenwoordigheid van gees en ry verby die huis, parkeer om die volgende draai. Hy haal diep asem en bedink sy volgende move. Net toe hy besluit om die huis te gaan uitcheck, jaag ’n rooi Cortina op hom af, stop voor hom met skreeuende bande.
“Sersant Trevor, hoe bly is ek om jou nou te kry!”
Uit spring Romalia Davis, die manager by PEP.
“Juffrou Davis, wat jaag jou?”
Trevor wil so gou moontlik van haar ontslae raak sodat hy die donnerse Albertus kan beloer.
“Sersant, Dirkie sê jy het met hom gepraat oor Rob? Ek is hier om skuld te erken. Voor jy vra, ek was ook iemand met wie hy op 2 November gepraat het.”
“Romalia, jy dink nie ons moet hierdie gesprek in my kantoor hê nie?”
Trevor is ’n bietjie uit die veld geslaan. Wie confess nou innie middel van die straat?
“Nee, sersant Trevor, as dit moet uit, moet dit uit! Daai luislang van ’n Roberto Carlos Apollis het my geblackmail en ek kannie langer met die geheim saamlewe nie. Ek word elke aand in ’n koue sweet wakker as ek net aan hom dink, en toe ek hoor jy begin rondvra oor hom, toe weet ek: Vandag is die dag dat Romalia Davis met die sak roosterkoek vorendag kom.”
“Romalia, parkeer jou kar hier om die hoek, klim by my in, dan gaan ons stasie toe. Ek sal jou weer later kom aflaai.”
Trevor weet dat hy maar op ’n anner keer Albertus moet uitsort.
Terug op kantoor sit Trevor reg met pen en papier.
“Okay, Romalia, uit met jou storie.”
“Sersant Trevor, eers moet jy belowe dat alles wat ons hier praat, is net tussen ons?”
“Romalia, ek kan mos nou gods-onmoontlik nie dit doen nie. Niks wat jy hier sê, is confidential nie. Veral nie as dit ’n confession is dat jy Carlos vermoor het nie!”
“Waarvan praat jy, Sersant? Sien jy my nou as ’n murderer? Daai Carlos was ’n uitvaagsel en ek het hom telkemale witbene gemaak, maar moord! Ek is nie ’n criminal nie, of miskien is ek ’n bietjie van ’n opportunist, maar nie ’n skollie nie. Wat ek jou wel moet sê ...”
Trevor se deur vlieg oop.
“Sarge Fortuin, los alles waarmee jy besig is en kom dadelik saam met my.”
Kaptein Nortje het nog altyd vir Trevor geïntimideer. Hy spring op aandag en march agter die kaptein aan.
“Romalia, bly net hier; ek is nou terug!”
Trevor is op ’n drafstap agter Nortje aan. Toe hulle voor in die charge office kom, is daar ’n hoop paintings, wat verdag baie soos Dirkie s’n lyk, oor die vloer uitgestal.
“En nou, Captain, redecorate jy ons charge office?”
“As jou werk beter gedoen het, Fortuin, dan sou ons nie nou in hierdie bootjie gewees het nie!”
“Wat meen jy nou, Cappie?”
“Sersant Trevor Fortuin, gaan kyk gerus agter in die raam van een van die skilderye en dan kom jy terug na my toe.”
Trevor stap gedweë na die paintings toe, hy haal sy Buck-knipmes uit en sny die agterkant van die raam oop.
“My fok, shit, waar kry julle die paintings, Cappie?”
“Ons het Apollis se eiendomme geïdentifiseer en een van die pakhuise in Maitland in Kaapstad het hierdie opgelewer.”
“Maar dit is sowaar Dirk Snyman se artwork hierdie! Die bliksem, hy was tog kop in een mus met Carlos.”
Trevor buk weer af en kom op met ’n koevert vol dowwe steentjies. Hy haal sy jeweller’s loupe uit sy sak en bekyk hul van nader.
“Nes ek gedink het: rocks. Hier moet ’n paar miering lê.”
“Ja, Fortuin, dit lyk of Snyman die kuns voorsien het en Apollis het dan die ongeslypte diamante daarin gesmokkel. Hierdie stukke was almal bestem vir Nederland. Gaan tel Snyman so gou moontlik op vir ondervraging!”
Trevor se kop draai soos ’n ou stukkende wasmasjien. Hy moet nog terug gaan na Romalia om haar stories verder aan te hoor. Terug in sy kantoor, betrap hy haar in die middel van ’n phone conversation.
“Dirkie, ek gaan hom sê daar is geen keer meer nie. My hart moet skoon kom; genoeg is genoeg! Nee, ek gaan hom sê. Los dit nou ...”
“Romalia, wat moet jy vir my sê?”
Romalia het nie Trevor agter haar verwag nie, en sy hop duidelik van die skrik.
“Sersant Trevor, ek gaan dan nou net die beans spill. Carlos het my geblackmail en ek het elke maand geld aan hom betaal. Ek het laaste met hom gepraat op 2 November en daarna het ek nooit weer van hom gehoor nie. Ek wag nog elke dag dat hy weer iewers gaan uitpop en my lewe weer ’n hel maak.”
“Romalia, wat was die rede dat Carlos jou geblackmail het?”
“Sersant weet mos, ek werk by PEP. Eendag kom Carlos daar in terwyl ek besig is om op te cash en sien hy hoe ek ’n geldjie in my handsak sit. Sersant weet mos, my mammie was so siek daai tyd en pille is so duur. Ek kon dit nie bybring met my ou salarissie nie. Ek het geld uit die till gevat met die plan om dit later weer terug te sit. Maar Carlos het my daai aand gebel en my laat weet dat hy my baas sal sê en dat ek my werk sou verloor. Hy het vir my die geld voorgeskiet, maar ek moes hom elke maand met dure rente terugbetaal!”
Romalia neem ’n diep asem teug. Dit lyk of jare van haar afval met die bekentenis.
Trevor staan op agter sy lessenaar en toorn oor haar.
“En toe help jy hom uit die lewe om die terugbetalings te stop en sy mond stil te hou?”
“Nee, Sersant weet mos, ek sal nooit dit doen nie. Nooit! Daar is nie bloed op my hanne nie!”
Romalia storm uit die kantoor en gluur almal in die stasie aan op pad uit.
“Daar is nie bloed op my hanne nie!” skree sy in die algemene rigting van almal wat wil hoor.
***
Die volgende oggend staan Trevor voor Dirkie Snyman se garden apartment-deur. Dit is duidelik dat daar geen lewe binne die vertrek is nie, en op die koop toe is Dirkie se skorro skorro-karretjie ook weg. Trevor se gedagtes gaan terug na sy gesprek met Mercia die vorige aand. Hy is sommer op ’n knop sedertdien. Hy het so sylangs probeer uitvind waarom Albertus se kar dan by Mercia se huis opgemerk sou word. Haar antwoord was so ontwykend soos die reën hier in die Port. Sy het dit sonder skroom weggepraat en nou kan hy dit nie uit sy gedagtes kry nie. Is Mercia besig om hom te two time met Albertus?
Hy besluit om vir eers Dirkie se ondervraging vaarwel te roep. Miskien moet hy Springbok toe ry en Albertus gaan confront. Die trippie sal sy kop ook skoonkry. ’n Uur later stop hy voor die windscreen repair shop van ene Albertus Brink. Die uwe wag hom ook in soos ’n wafferse kapokhaantjie.
“Ja, ja, Trevor Fortuin, wat bring jou al die pad na Springbok op hierdie mooie dag?”
Albertus se bryery het nog altyd vir Trevor geirritate, maar vandag is dit soos naels op ’n swartbord op sy brose siel.
“Albertus, ek gaan sommer met die deur in die huis val: Hoe ken jy vir Roberto Carlos Apollis? En moenie dit eers probeer deny nie. Ons weet jy het kontak met hom gehad, in fact, jy was die laaste telefoonoproep voor hy van die aardbol af disappear het.”
“Jy het my, Trevor Fortuin, daar was niks vreemds of verdags aan die oproep nie. Rob het sy pierewaaier-BMW se voorruit beskadig tussen Kathu en Kakamas en hy wou hê ek moes die kraak kom regmaak terwyl hy in McDougallsbaai was. Ons het reëlings probeer tref vir ’n tyd. Ek wag nou nog dat hy vir my laat weet hoe laat ek moet kom. Dié dat ek die naam so goed onthou; hy het my juis ’n paar snoeke belowe. Jy sê hy het net verdwyn? Wel, dit maak nou soveel sin dat hy my nie gekontak het nie. Dankie tog ek het nie die ruit bestel nie. Dan het ek nou met ’n verlies gesit.”
Albertus praat een strook deur sonder om asem te skep. Voor Trevor nog kan bokkom sê, gaan hy aan.
“Maar jy kon my sommer net gebel het om dit te vra. Ek het niks om weg te steek nie, net mooi niks nie. En na al die tyd ... want as ek reg onthou was hierdie verlede jaar, so na die einde van die jaar toe. Ek het nog gehoop op ’n lekker wins op daai BMW-ruit. Jy weet ek het ’n kontak in die Kaap wat vir my goeie pryse gee, so ek kon lekker geskep het. Weet jy of die kar nog ’n stukkende ruit het? Dalk kan ek tog iewers nog ’n winsie maak. Maar dan sê jy Rob Apollis is weg. Dit is nou jammer!”
Vir die eerste keer haal Albertus asem. Trevor hou hom soos ’n valk dop. Hy lyk skalks bietjie nervous. Praat aaneen dat die spoeg so spat, en sy baard is nou al so glad gevryf soos ’n rooi snapper wat vars gevang is. Sy rooi hare word al rooier en dit lyk of hy enige oomblik gaan vlamvat.
“So, Albertus, hoe ken jy vir Apollis? Is julle ou gatgabbas?”
“Nee, nee, Trevor Fortuin, ek ken kom maar net van die versoek vir die ruitvervanging.”
“Jy het darem ’n moerse goeie geheue om so te onthou van iemand waarmee jy toe op die ou einde kwansuis niks verder te doen gehad het nie?”
“Ek sê mos dit was oor die belofte van snoek en ’n lekker wins dat dit by my vasgesteek het. Is daar iets anders waarmee ek te hulp kan wees, Trevor Fortuin?”
Trevor blaker amper sy frustrasie met Mercia en die kondoom uit, maar bedink hom.
“Ek het jou die week in die Port gesien ry; kom jy gereeld daar by ons?”
“Trevor Fortuin, ek kan seker kom en gaan soos ek wil, dan nie? Maar as jy moet weet, ek kom ten minste een maal per week om ’n lekker bier te drink en vis en skyfies te eet. Jy weet hul het gereeld ’n spesiale aanbieding op middagete.”
Trevor is sommer weer van voor af omgeëllie met die verwaande man. Maar hy moet nou katvoet trap as hy iewers wil kom.
“Goed, Albertus, dan groet ek maar weer. Dankie vir die info.”
Terug in die Port, besluit hy om weer sy fokus op Annabelle Maree te skuif. Hy weet die minste van haar en Roberto se connection. Hy stop sommer voor die coffee shop waar sy ook ’n internet café het. Sy sit juis agter die toonbank, besig om haar naels pienk te verf toe hy instap.
“Goeiemôre, mevrou Maree. Het jy asseblief ’n oomblik vir my tyd? Ek wil net ’n paar vragies kom vra.”
“Goeiedag, dierbare Sersant, waaraan het ek hierdie plesier te danke? Dit is nou ’n heerlike verrassing. Kan ek vir jou ’n koffie en ’n stukkie van my wortelkoek aanbied? Sit gerus; net ’n oomblik dat ek my naellak droogblaas.”
Trevor maak hom by ’n tafeltjie tuis en begin soos oudergewoonte met die suikersakkies op die tafel speel. Mercia haat dit as hy dit doen. Hulle het al vir ’n naweek Oranjemund toe gery en daar by die local pizzaplek het sy hom behoorlik uitgetrap oor sy suikerspelery. Hy moet seker vir haar sê hoe hy oor haar voel. Sy het hom al baie gepols, maar hy is mos maar ’n man, en emotions is nou eenmaal nie sy middelnaam nie.
“Sersantjie, hier is jou koffie en koek en ek het sommer ’n paar Romany Creams bygesit. Ek hoor by die dames jy is so lief daarvoor.”
Trevor is bietjie oorweldig deur Annabelle se gasvryheid. Haar perfume hang in die lug en as sy oor hom buk, is haar cleavage in sy oogveld. Sy dra al klaar so ’n stywe geel nommertjie wat mooi om die kurwes sit; haar lang donker hare in ’n ponytail hoog op haar kop.
“Hmm, mevrou Maree ...”
“Sersantjie, ek is Annabelle, Anna of Annie vir my vriende, asseblief. Ek was laas mevrou Maree op my troue en dit net uit die dominee se mond.”
“Annabelle dan, ek wou net kom hoor of jy ’n Roberto Apollis ken?”
“Oh, jinne nee, nie wat ek nou so op die punte van my vingers kan opnoem nie. Help jouself daar met ’n suikertjie; ek sien jy het al ’n paar pakkies beet.”
“Skies, skies, ou gewoonte. Meneer Apollis is ook bekend as Carlos? Dalk help dit jou onthou?”
Annabelle, Anna, Annie slaan haar oë op na die hemel. Sy speel met ’n donker haarpunt tussen die moerse pienk naels en kyk dan vir Trevor stip in die oë.
“Sersantjie, ek het geen idee van wie jy praat nie. Wat bring jou nou met hierdie vreemde vraag op so ’n mooi dag hier na my toe?”
“Annabelle, op 2 November verlede jaar het jy ’n telefoonoproep na meneer Apollis se foon gemaak. Onthou jy hom dalk nou?”
“My liefste Sersantjie, ek praat elke dag met baie mense. Ek haal gou my dagboek uit; dalk verfris dit my geheue. Eet maar solank ’n Romany Creamtjie.”
Annabelle wip haar stert en swaai om. Haar parfuum, soos ’n muishond se stink, hang oral rond. “Nou ja, hier is ons, Sersantjie. 2 November, sê jy. Lyk my ek was in Kathu daardie dag. Jy weet ek is mos daar gebore en getoë. My ou moedertjie is nog in die ouetehuis daar, so ek het vir haar gaan kuier. Ek weet werklik nie wie meneer Apollis is nie. Ek kan glad nie dink dat ek met hom sou praat terwyl ek by moeder kuier nie.
“Wel, Annabelle ... Annie, daar is ’n oproep van jou telefoon na Roberto gemaak. Jy was sy eerste oproep vir die dag.”
“Daar moet ’n fout wees. Ek ken glad nie die man nie. Glad nie.”
Annabelle se stemmetjie raak al dunner en sy klink ’n bietjie tranerig. Trevor leun in en vat aan haar arm.
“Annie, is jy doodseker? Is daar iemand wat dalk toegang tot jou foon kon gehad het?”
Annie is nou pienk en perse en rooi gelyk, haar onderlip bewe en sy haal swaar asem.
“O hemeltjie tog ...”
Trevor se foon lui. Dis nou lastig. Dis Nortje; hy sal moet antwoord.
“Ja, Cappie. Nee, dit is reg, Cappie. Ek is nou daar, Cappie.”
“Mevrou Maree, ek moet dringend gaan, maar hierdie gesprek is nie klaar nie.”
Terug by die station, staan kaptein Nortje met ’n bedroefde Dirkie, reeds geboei.
“Sarge Trevor, ek weet niks van moord nie. Ek het net my paintings aan Rob verkoop, wettig en sonder voorbehoud.”
“Vertel dit maar vir die hof, Snyman. Vir eers is dit selle toe met jou. Dat ek nog jou werk vir jou ook moet kom doen, Fortuin.” Kaptein Nortje gluur Trevor aan. Draai op sy hak om en marsjeer by die trappe af.
“Ek sweer, Sarge, ek het niks gedoen nie, op my ma en my tannie Annie se grafte, sweer ek. Daar waar hul in die begraafplaas lê in Kathu sal ek gaan sweer. Kry my niggie Annabelle hier; sy sal ook vir jou sê ek is ’n goeie mens. Hoe moes ek nou weet Rob gaan diamante smokkel met my paintings?!”
“Jou niggie, Annabelle? Anna, Annie? Mevrou Maree? Jy sê haar ma is jou tannie en is oorlede?”
“Ja, Sarge, sy en ma is 10 jaar gelede saam in ’n motorongeluk weggeruk uit ons lewens. Hulle was op pad Kleinzee toe en ’n trok het hul van voor getref; albei opslag dood. Hoekom vra jy nou daaroor?”
“Annabelle het nie iewers ’n tweede ma, skoonma of ouma op Kathu nie?”
“Nee, Sarge, ons ouma is al voor ons albei se geboorte oorlede, en mevrou Maree, haar skoonma, is innie Kaap, glo ’n fancy ou dame, hoor ek.”
“Sit hier in my kantoor, Dirk. Ek is nou terug. Constable Jacobs, die man is nou onder jou toesig. Moenie hom onder jou oë laat uitgaan nie!”
Trevor jaag terug coffee shop toe. Op die voorstoep wag ’n reus van ’n man hom in. Hy ken nie die gesig nie, maar hierdie man het spiere vir môre die heeldag. Hulle peul sommer by elke klereopening uit. Hy word ook summier trompop geloop deur die spiertier.
“Is jy sersant Trevor Fortuin? Laat ek jou nou mooi kom vertel, jy sal nie my Annie so ontstel nie, hoor jy my mooi!”
’n Massiewe vinger waai voor Trevor se neus. Dit lyk behoorlik soos ’n skouwortel.
“Wie is jy miskien as jy by die huis is?” vra Trevor sonder om oogkontak met die Viking te breek.
“Piet van Niekerk, van die plaas Spookfontein. Ek boer met skaap in Kathu se wêreld. Gelukkig is ek in die Port toe jy my Annie so teister. Laat ek sommer vir jou alles opklaar: Ek het Roberto gekontak van Annie se foon af.”
“Vir watse rede dan nou?”
“Ek het werk vir hom gehad en ons het dit bespreek.”
“Werk oppie skaapplaas?”
“Watse werk ek vir hom gehad het, het niks met jou uit te waai nie!”
Piet raak driftig en swaai nog wortelvingers voor Trevor se gesig.
“Voor jy begin idees kry, sersant Fortuin, ek en Annie is in ’n verhouding. Dit is by my wat sy gekuier het in Kathu en ek is tans hier om saam met haar daai verpoepte mannetjie van haar in te lig dat sy hom gaan skei en saam met my plaas toe kom. Nog iets?”
“Pietertjie, liefie, stadig nou. Die polisie doen net hulle werk.”
Annabelle loer om een van Pieter se bultende arms.
“Jammer, Sersantjie, ek het nie geweet Pietertjie het my foon gebruik nie. Jammer ek het ’n bietjie gejok oor my moedertjie, mag sy in vrede rus. Jy was bietjie vinnig op my, en ons was nog nie seker of ons aan almal ons liefde gaan openbaar nie. Jammer hoor.”
Trevor se foon lui weer.
“Ja, ja, ek kom kyk dadelik. Dankie, ons wag al lank vir daai SMS-data.”
In sy kantoor sit Trevor met pages en pages selfoondata.
Dit lees soos ’n cheap crime novel op ’n Sondagaand.
Die laaste text was van Rob na Albertus:
Dankie vir jou besigheid en dankie vir die beskuit. Ek doop dit nou juis in my koffie. Ek staan hier met my voete in die water en kyk vir die sunset op Hondeklipbaai se strand.
Die res van die inhoud is nie so vreedsaam nie.
Kom ons begin by Piet van Niekerk.
Roberto, ek wil hê jy moet vir my ’n job doen. Daai verdomde Maree-man raak ’n problem. Maak jou prys sodat ons van hom ontslae kan raak.
Nee, ek het weer daaroor gedink. Ek bel jou om te sê of die job nog moet loop.
Verskeie boodskappe tussen Dirkie en Roberto, maar die laaste een is die belangrikste.
Dirkman, as jy nie vir my nog paintings bring nie, sê ek vir Romalia jy fok rond agter haar rug met Albertus. Ek weet julle gebruik Mercia se huis vir jul lovers’ meetings.
Roberto aan Romalia:
Jou payment is ontvang, Romalia Davis, dankie vir jou besigheid.
Albertus aan Rob:
Carlos, daai second grade windscreens werk soos ’n bom. Stuur gerus vir my nog van hulle. Besigheid lyk goed. Ons praat wanneer jy kom aflewer in die Port, 2 November reg met jou?
Trevor lees nog intens toe sy deur oopswaai. Voor hom staan Romalia Davis.
“Sersant Trevor, ek moet nou heeltemal my hart skoonmaak. Ek het beplan om iemand te moor. Jy sien ek het geweet Dirkie bat ook vir die ander span. Ek het gedink ek kan saamleef met sy bisexual-geit. Maar die liefde is ’n ander ding. Ek het hom agtervolg en daar by Mercia se huis gesien hoe hy en Albertus verdwyn. Toe loop google ek hoe maak mens poison aan. En ek deliver toe mos vir hom daar in Springbok by sy windscreen-besigheid ’n pakkie beskuit. Maar my recipe moes dan nie gewerk het nie, want die twee is nog steeds aan die gang en ek kry net daai scraps van Dirkie op ’n Saterdagaand.”

